Uit die Beek 2017. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319357
Скачать книгу
Hoe wys ons vir die Here hoe dankbaar ons is?

      “Daardie perde is darem goeie Christene.” “Hoekom sê jy so, Hennie?” vra sy ma. “Kyk net hoe lank is hul gesigte.” Ek wonder soms of daar nie waarheid in hierdie storie sit nie wanneer ek die gemeente se gesigte sien terwyl hulle in die kerk lofgesange sing, of dalk nie eens saamsing nie.

      Deuteronomium wil ons vandag daaraan herinner dat die Here wil hê dat ons sy gawes geniet. Ons moet Hom met vreugde dien. Interessant genoeg sê hy dit in ’n gedeelte wat oor tiendes handel. Gee jy jou tiende met blydskap, of met ’n lang gesig? Of vertrou jy nie eens die Here genoeg om ’n volle tiende aan Hom terug te gee nie? Moses leer ons dat ons al die goeie dinge moet geniet wat die Here aan ons en ons gesin gee. Maar ons moet dit ook deel met die “Leviete” – dié wat voltyds in die Here se diens is – en met vreemdelinge – die mense wat nie werk het of in ons land versorg word nie. God het ’n hart vir armes. Hy gebruik sy kinders om vir hulle te sorg. Hy het nie self daardie dankoffers nodig nie.

      Kom ons maak seker dat ons die Here met blydskap dien, ook deur die tiendes wat ons vir Hom bring.

      GEBED: Baie dankie vir al die gawes wat U aan ons toevertrou, Here. Ons wil as u bestuurders ook daarvan belê waar dit die nodigste is.

      Lees vanaand in Deuteronomium 26:12-19 hoe ons dankoffers wys of ons werklik aan die Here behoort.

      VRYDAG 10 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 27:1-10

      OORGANG

      Moses en die leiers van Israel het die volk beveel: “Jy moet al die gebooie gehoorsaam wat ek jou vandag beveel” (27:1).

      GESELSVRAAG: Hoe verander ons sinvol van leiers?

      “Groot leiers omring hulle met goeie mense. Dan is die geskikte kandidate dadelik gereed wanneer die tyd kom om van leier te verwissel,” verduidelik ’n kommentator. In Afrika probeer die leiers alle moontlike kandidate vir leierskap uitwerk, want hulle word as ’n bedreiging gesien. Hulle omring hulleself dus met jabroers wat nie sal waag om self te dink nie. Die gevolg is dat die oorgang van leierskap meestal met geweld gepaardgaan.

      Tot dusver het Moses al die praatwerk gedoen. Vanaf Deuteronomium 27 lees ons Moses se derde en laaste toespraak. Hy het reeds geweet dat hy nie self die beloofde land sou binnegaan nie. Daarom het hy die leiers van Israel ingespan om verantwoordelikheid vir die leiding oor te neem. Hulle sou die volk saam met Moses se opvolger verder moet lei. Die leiers van die volk moes verseker dat elke burger die wet goed verstaan en dit persoonlik aanvaar deur hardop “amen” daarop te sê (vgl. v. 15 e.v.).

      Sou dit nie wonderlik wees as ons politieke leiers die volk ook op die pad van gehoorsaamheid aan God kan lei nie? Hulle moet die Here self ken en sy wil soek. Dan moet hulle sy leiding volg. Kom ons bid vandag spesiaal daarvoor.

      GEBED: Here, ons bid vir al ons leiers. Help hulle om u Woord te ken en gewillig te wees om voluit vir U te leef.

      Lees vanaand in Deuteronomium 27:11-26 die dramatiese aankondiging van die vloeke wat op ongehoorsaamheid volg.

      SATERDAG 11 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 28:1-14

      AS JY LUISTER

      As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk (28:2).

      GESELSVRAAG: Hoe kan ons ons land en sy mense opbou?

      “Wette verander nie mense se hart nie. Dit wys net wat verkeerd is.” Ons land het ’n uitstekende grondwet, maar misdaad kom algemeen voor. Ons het meer as net goeie wette nodig. Ons het veranderde mense nodig. Net die Heilige Gees kan ons verander sodat ons uit vrye wil volgens God se wil kan leef (vgl. Eseg 36:26-27).

      Nadat die volk oor die Jordaan getrek het, moes hulle eers ’n nasionale monument van witgeverfde klippe oprig waarop die hele wet van God geskryf is. Elkeen sou dit kon lees. Tog kon nie almal lees nie. Daarom moes die volk in groepe op die verskillende berge (dalk vir die akoestiek?) bymekaarkom en luister na al die vloeke en seëninge wat sou volg indien hulle die wet verontagsaam of gehoorsaam. Vandag lees ons van sommige van die seëninge wat sou volg as die volk gehoorsaam sou wees. Maar vanaand sal ons lees wat gebeur as iemand kies om sy eie pad te volg.

      Ons almal verlang na sukses en voorspoed. Ons is egter geneig om net aan geld en besittings te dink. Dit is alles dinge wat verbygaan. Ons moet ons kinders eerder help om hulle toe te spits op die dinge wat werklik saak maak: die ontwikkeling van hul karakter, om Godvresende mense te wees wat vir ander tot seën is.

      GEBED: Here, dankie dat U ons wil help om vanjaar aan onsself te werk sodat ons ’n verskil ten goede kan maak.

      Lees vanaand in Deuteronomium 28:15-24 wat die gevolge sou wees as hulle nie na God wou luister nie.

      SONDAG 12 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:97-104

      DIE WOORD GEE WYSHEID

      U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by (119:98-99).

      GESELSVRAAG: Hoe kan ons ons kinders wysheid leer?

      “Ek kan dit nie mooi verklaar nie, maar sedert ek begin het om die Woord van God te memoriseer soos ek in die Bybelkor-kursus geleer het, het my lewe begin verander. Ek was nie meer skaam om oor die Here te praat of in die openbaar te bid nie,” skryf ’n ouderling se vrou uit Natal. Die digter van ons psalm sou glimlag, want dit is presies wat hy ook ondervind het.

      Hoe kan die gebooie van die Here altyd by ons wees? Moet ons met die Bybel onder die arm loop? Nee, dit is nie prakties nie en kan mense afskrik. Maar as ons die Woord memoriseer, is dit altyd by ons wanneer ons dit nodig het. Ek vind dat die tekse wat ek as jong seun geleer het, steeds dié is wat ek elke dag nodig het. (Ek haal hulle nog in die woorde van die 1953/1933-vertaling aan, want dié het ek destyds geleer.)

      Hoe kan ons ons kinders wysheid leer? Is dit nie om hulle te help om elke dag, of minstens elke week, verse uit die Bybel te memoriseer nie? Dit is die beste wapen waarmee ons hulle die wêreld kan instuur. Al is ons nie meer daar om hulle te lei nie, is God se Woord steeds daar. Kyk na elke dag se kernvers.

      GEBED: Here, baie dankie vir u kosbare Woord wat ons elke dag wil lei om die regte keuses te maak.

      Lees vanaand in Psalm 119:105-112 hoe die Woord van God vir ons lig wil gee in die week wat voorlê.

      MAANDAG 13 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 28:25-46

      DIE WARE REDE

      Al hierdie strawwe sal oor jou kom … omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie …(28:45).

      GESELSVRAAG: Hoekom gaan so baie dinge in ons land agteruit?

      “Alle godsdiens moet verbied word, want kyk net watter ellende word in elke land veroorsaak deur mense wat in die naam van hul godsdiens optree,” skryf iemand op die Internet. Wat hy vergeet, is dat dit niks beter gegaan het toe ateïsme in sommige lande afgedwing is nie. Die probleem lê nie by godsdiens nie, maar by die sondige natuur van elke mens. Dít is wat verander moet word.

      Lees jy vandag se dramatiese beskrywings voel jy dit is mos die tradisionele wortel-en-stok-benadering. As jou donkie luister, beloon jy hom met ’n wortel. As hy koppig is, straf jy hom met die stok. Só wil jy die donkie dwing om na jou te luister. Is dit wat Moses in hierdie toespraak probeer doen? Nee, hy probeer bloot wys wat die logiese gevolge is as ’n mens die Here se pad verlaat. Deur die Here se genade gebeur dit nie altyd dadelik nie. Soms gaan dit goed met goddelose mense en gaan dit sleg met toegewyde gelowiges.

      Paulus herinner ons daaraan dat die kinders van God nie moedeloos word wanneer dinge swaar gaan nie. Al gebeur wat ook al, dit kan ons nie skei van God se liefde skei nie (vgl. Rom 8:31-39). Ons moet dus klem lê op ons verhouding met die lewende Here.

      GEBED: Here, ek verstaan nie altyd wat met my gebeur nie, maar ek vertrou U omdat U my so liefhet.

      Lees