Sy langtermyn-geheue, veral sy kinder- en studentejare, is ongeskonde. Vir die res het hy sulke eilandjies van onthou.
“Ek weet: hy’s net ’n dop van die man wat hy was. Maar vir my is hy honderd persent. Ek’s liewer vir hom as ooit. Hy’s sag en dierbaar.”
’n Traanstrepie blink oor haar wang.
Die borrelende, sorgelose Jackie wat almal geken het, is óók daardie aand weg. Sy kon net sowel ook ’n koeël in die kop gekry het.
“Ek sal nooit weer daardie Jackie wees nie.”
Sy’t bykans g’n sosiale lewe nie. As sy ’n rukkie van hom weg is, kry sy onttrekkingsimptome.
Kom haar vriendinne kuier, braai hulle, want Kobus kan met sy regterhand (hy kan dit effens gebruik) ’n tjop vashou.
Alles draai om Kobus. Al wat tel, is Kobus.
“Maar dit was mý besluit, amper sewe jaar gelede. Dís die belofte wat ek voor die kansel gemaak het, amper 13 jaar gelede: in sickness and in health.”
Sy reël sy wêreld, die twee versorgers bedags, die fisioterapie, die oudio-boeke, als, soos ’n militêre kamp, vreesbevange hy kom iets oor.
“Daar’s nie ’n merkie aan sy lyf nie,” sê sy amper trots. “Hy sal mý kan oorleef.”
Kobus se familie is daar vir hom, sy ma bring elke Woensdag by hom deur, maar sy vriende het almal verdwyn. Aanvanklik het hulle nog kom kuier, maar later in trane gebel en gesê hulle kán hom nie so aanskou nie.
Om geldelik te oorleef, bly ’n tuimelrit. Sy, die toppresteerder, moes toekyk hoe haar werkprestasie gly en bevorderingskanse verdwyn.
“Dis net onmoontlik om vir almal honderd persent te gee.”
Ten spyte daarvan het die arme Jackie nog nie ’n enkele dag van die werk af weggebly nie. Hulle ondersteun haar wonderlik, sê sy, maar sy voel skuldig en bang dat sy ’n las vir die maatskappy kan word.
“En wat dan? Kobus het nie polisse nie, hy’s totaal van my afhanklik. Ons toekoms is in God se hande. En … ons is nog altyd voor gesorg.”
Die onkoste om ’n kwadrupleeg te versorg, is astronomies.
Daar’s lánkal nie meer geld vir ligstrepies in haar hare nie. ’n Vriend vertel hoe kreatief sy planne beraam, soos die doeke wat sy kon koop met die R10 000 wat sy in ’n tydskrif-kompetisie gewen het, met haar en Kobus se eie liefdesverhaal.
“Wanhopige tye vra desperate dade,” sê dié vrou wat nog nooit voor iemand bakhand gestaan het nie.
Iewers tussen die doeke, die nagte waarin sy hom twee-uurliks omdraai, die skommeling tussen sy woedebuie en sy liefde, die gestoei met rekeninge – iewers is Jackie van Zyl.
Haar dokter het haar gediagnoseer met “uitbranding”. Dalk help die vier dae wat sy in Desember saam met ’n vriendin Ramsgate toe gaan. Maar of sy dit wel gaan regkry om te gaan, weet sy nie, erken sy senuagtig. In die amper sewe jaar was sy nog net één nag weg van hom.
“My dokter sê as ek myself hier kan wegskeur, breek die naelstring dalk … Kobus het nou ook mý gemaksone geword.”
Ses maande ná die aanval het sy probeer swanger raak, maar die fertiliteitskliniek kon nie help nie: ná Kobus se beserings is sy sperm onbruikbaar.
“My suster het nou ’n baba gekry. Ek was oukei daarmee. Tot sy die baba kom wys het. Joe. Ek was vir dae stukkend. Ek besef nou, die gemis is steeds daar.”
Maar kóm, sê sy en trek my aan die hand. Kóm, ontmoet my man.
Kobus is pas klaar aandete gevoer. Langs sy bed lê John Smit se nuwe boek. Sy lees dit vir hom, want hy onthou die ’95-Wêreldbeker-spelers goed. Hy korrigeer my grammatika in sy diep, sexy stem. Terg: Is jy blond? Jy sien so skrefie van die ou, sterk Kobus.
Sy vryf sy hare, kyk na hom met soveel liefde, dit maak die hele kamer vol.
Die liefde oorwin alles.
Dís die verhaal van hierdie dapper, gebroke vrou ná húl koerantplakkate: haar volgende dag, volgende maand, haar stukkende leeftyd daarna.
Later, terug op die bank, druk Jackie haar gesig in haar hande. Sy’s só moeg, só klaar. Haar vingers is naderhand nat van die trane.
“Gee my ’n alternatief … as dit jy was, wat sou jý gedoen het?” vra sy my, amper pleitend.
“As ek my rug op hom draai, hom in ’n inrigting sit, hoe sal ek óóit met myself kan saamleef … hóé?”
November 2009
Post scriptum
Sewe jaar ná die onderhoud – en dertien jaar ná die aanval – het nie veel in Jackie en Kobus se lewens verander nie. Hy is gemaklik en gelukkig en vir die afgelope dekade reeds is Jackie sy versorger. Alles is stabiel rondom hom en hy kry twee keer ’n week fisioterapie.
Sy sê die eerste tien jaar ná die aanval het sy net van dag tot dag geleef. Die keerpunt was in Desember 2015 toe sy vir die eerste keer in 13 jaar die kans gekry het om weer op haar eie in die see te gaan swem.
“Daar in die branders het ek vir die eerste keer vrede in my gemoed gekry. Dis ons lewe, Kobus is rustig, en ek ook. Ek voel ek leef nou weer.”
As sy weer voor die keuse gelaat word of sy Kobus in ’n inrigting moet sit of hom self versorg is daar vir haar geen twyfel nie: “Ek sal Kobus versorg tot sy dood. Sy ouers het albei baie oud geword. Sy gene is goed. Die feit dat hy bedlêend is, verkort sy lewensverwagting. Maar daar lê nog jare voor saam. Ek en hy is saam vir altyd.
“En weet jy,” sê sy deur die trane, “daar’s tóg steeds ’n bietjie van die ou Kobus.”
Januarie 2016
Die moorde by no. 7
Quinton Taylor was die enigste oorlewende van die aanval op ’n Seepuntse gay masseur-salon, Sizzlers, op 20 Januarie 2003, waar nege rentboys en die salonbaas keelaf gesny en met kopskote tereggestel is. Vir jare het hy met niemand daaroor gepraat nie, maar in 2013 het hy ingestem om terug te keer na die huis waar sy lewe, op die ouderdom van 26, onherroeplik verander het.
Ons stap Grahamweg af na die Sizzlers-moordhuis in Seepunt. Terug die verlede in, terug tot ’n reënerige nag. 20 Januarie 2003. Toe nege rentboys en hul salonbaas se kele oopgesny, petrol oor hulle gegooi en hulle met twee kopskote elk tereggestel is.
Quinton Taylor kyk vir my, skielik onseker. Dis die eerste keer in jare dat hy weer hier kom, by dié eertydse gaymasseersalon waaruit hy daardie nag bebloed gestrompel het, die enigste oorlewende.
Dis nou tien jaar later, en hy’s terug om sy storie te vertel.
Ons voete klap op die teer.
Seemeeue krys op die promenade, ’n straatblok weg. Dan’s ons by nommer sewe, ’n gewone huis tussen hoë woonstelblokke, rêrig soos iemand se ouma se huis.
Ons staan en huiwer voor die hek. Sal ons ingaan? Sal hy oukei wees?
Hy druk die klokkie, stel hom voor, die hek klik oop. ’n Bejaarde vrou kom uitgestap, val hom om die nek en vertel hoe gereeld sy aan hom dink (“Well done! Jy’t oorleef!”), dat hulle kerse in die huis vir almal brand.
Ons stap binne. Quinton kyk skrams links na die eerste kamerdeur, en almal raak stil. Dis waar die slagoffers dood is. Die baba slaap op die oomblik daar, sê die vrou, maar wil ons ingaan?
Hy skud sy kop heen en weer, ontsteld.
Hy was besig om ’n daggazol te rol op die boonste bunkbed in daardie einste kamer waar die babatjie nou slaap, vertel hy later oor koffie op die La Perla-restaurant se diep leerbank.
Dit was kort ná middernag.
Besigheid was