Anderkant uit
Stories oor trauma en hoop
Hanlie Retief, met Louis Awerbuck
en Lise Swart
Tafelberg
Voorwoord
Hanlie Retief handel nie in spookasem en goedkoop sentiment nie. Sy’s nie ’n one-liner girl nie. As jy ge-Hanlie word, word régtig met jou gedans.
Week ná week oorreed Hanlie doodgewone én beroemde Suid-Afrikaners om Rapport-lesers nie net in hul binnekamers in te nooi nie, maar hul harte behoorlik oop te maak, en meer te gee as net die gemeenplase wat baie van ons bereid is om oor onsself met die wêreld te deel. Hanlie boor dieper as die oppervlak, stel wanopvattings vreesloos aan die kaak, en skryf eerlik en krities sonder om ooit empatie te verloor. Sy weet mense is kompleks, en broos, en vol hunkering.
In hierdie keur van onderhoude met mense wat deur trauma getref is en besluit het om weer op te staan, wys Hanlie in die mooiste taal dat ons nie kan kies wat met ons gebeur nie, maar wel hoe ons daarop reageer, en dat daar inderdaad net een ding is waarsonder geeneen van ons kan leef nie, en dit is hoop.
Waldimar Pelser, Rapport redakteur
In ’n onderhoud laat iemand jou vir ’n kort rukkie in sy of haar lewe toe. Vir die onderhoudvoerder is dit dus ’n enorme verantwoordelikheid om dit wat gesien en gehoor en gevoel word rég oor te dra. In die onderhoude wat hier opgeneem is, gaan dit bowendien om lewens vol pyn, hartseer en trauma. Dit maak die verantwoordelikheid soveel groter – in ’n sin betree jy ’n ongelooflik private domein, heilige grond, eintlik.
Dit was ’n voorreg om ’n blik te kry in elkeen van hierdie mense se lewens. Elkeen van hulle léwe in die ten-spyte-van, in die nieteenstaande, in die desnietemin. En dit, in my boek, is die sekerste definisie van ’n held.
Hanlie Retief
Inleiding
As kliniese sielkundige is ek gewoond daaraan om blootgestel te wees aan ander se lyding en emosionele swaarkry. Na 25 jaar in private praktyk gebeur dit noodwendig dat mens by tye ’n eksklusiewe deel word van die moeilikste tye in ander se lewens.
Meer gereeld as wat ek wil, het ek soos Hanlie ’n private blik op die emosionele pyn waardeur mense soms moet worstel. Lise voer verder weekliks onderhoude op radio met mense wat dikwels ’n swaar pad gestap het, en soms aan die ander kant uitgekom het. Ons het onsself dus as emosioneel “bestand” genoeg beskou om met Hanlie in gesprek te tree oor die temas wat in haar onderhoude weerspieël word. Min het ons besef hoe diep die gesprekke met Hanlie, asook die lees en herlees van haar op-die-man-af onderhoude, ’n blywende bewustheid sou laat.
Ek, Hanlie en Lise het tydens ons gesprekke doelbewus daarvan weggeskram om oor die motivering of sielkundige samestelling van die spesifieke persone in die onderhoude te spekuleer. Afgesien daarvan dat ons nie feitelike of akademiese inhoud wou beklemtoon nie, sou dit bloot minagtend wees teenoor die unieke paaie wat die mense in Hanlie se onderhoude moes stap.
Ek voel byvoorbeeld gemaklik om ’n vakgerigte opinie oor posttraumatiese stres uit te spreek, maar dink nie dat enige iemand werklik bevoeg is om die trauma te verstaan wat Quinton Taylor of die Morris-gesin deurgemaak het nie. Dit is een ding om objektief te gesels oor gesinsmoord of eensaamheid, maar wie is regtig bevoeg om ’n bespreking te voer oor die ervaring van Grace Boltney of Charlotte van der Westhuizen?
Ek en Lise was bevoorreg om vir ’n rukkie blootgestel te kon wees aan unieke gebeure en mense deur Hanlie se oë.
Hiermee bring ons hulde aan almal wat moedig veg om anderkant uit te kom.
Louis Awerbuck
Eensaamheid
Ant Stienie met die bokke en haar alleengeit
Aan die einde van Junie 2013 was pres. Jacob Zuma besig om die regering se gebruiklike beloftes oor armoedeverligting tydens sy staatsrede in die parlement te herhaal terwyl die Kaapse stormwind en reën buite woed. Grace Boltney – wat al meer as ’n dekade van haar 60 jaar in die Malawi-plakkerskamp in Bishop Lavis bly – vertel wat dit régtig beteken om brandarm te wees in Suid-Afrika.
Julle moet hier in, skerp regs, beduie Grace Boltney ons die Malawi-plakkerskamp, digby die Kaapstad-lughawe, binne.
“Ek bly langsaan die stukkende karre. Moenie alleen hier ingaan nie, nè. Even hierdie kamp het ’n klomp rowers en skelms en drug-koppe.”
Ons karring verby los stormwaterpype vol graffiti, verby skarrelaars (“hulle skarrel by die dromme vir ’n living”), Rastas onder daggawalms, poele reënwater en gemors en brandsiek honde en dáár bly ’n schizophrenic, wys sy met ’n lang vingernael by die venster uit.
“My ma kon nie schizophrenic sê nie, hoe sê mens…” haak haar tong ook vas, “schizo, schezo… toe sê my ma sommer skiet-my-vriend.”
Dan hou ons stil. F2, staan die adres in kokipen gemerk teen die plankhut.
“My jaart lyk maar bietjie horrible, maar ek kannie worrie nie.”
Kulula.com skuur oor ons koppe.
Ons klim uit. Oral waar jy kyk, lê oopgerolde kondome.
“Die gowwerment deel honderde van die goed hier uit. Die kinders maak ballonne daarvan en die mans wil’it mos nie gebruik nie; al wat hulle met die lubricated soort doen, is om hulle se skoene mee te politoer.”
Sy bly al 14 jaar hier. Sy vang die vroue se babas, knip die mense se hare, help die siekes, toi-toi vir toilette.
Noem my maar ’n jack-of-all-trades, sê sy. Sy rangskik blomme ook. ’n Rebel with a cause vir enige mens wat swaar kry.
“Hulle kom roep my: ‘Ant Grace, kom vang die baby!’ Baie keer as die ambulans kom, lê die kind klaar op die ma se bors. Dan sê ek: ‘Vat julle mens. Ek het haar klaar uitgehaal – die nageboorte ook.’”
Grace se hart is goud, sê haar vriendin Patricia – soos daai stukkie in haar voorste ondertand. “Sy’s lieflik, maar lonely.”
En vir wat moet sy altyd so suffer? vra sy – dié Ant Stienie van die plakkerskamp. Maar eintlik is dit ’n sê, nie ’n vraag nie – daai vraag is lankal by die stormwaterpyp af.
“Laas week, toe’s ek benoud, want dis nat en dit vloed om my en ek sit hier soos ’n hoendertjie. Toe SMS ek maar vir die Son: “Hemelse Vader, ek weet U’t winter gemaak, maar sal U die hemelse kraan klein bietjie toeër draai oor ons wat in die plakkershokkies sit en krepeer?”
Sy weet nie of die Son dit geplaas het nie. Koop hom net sometimes as daar ’n sentjie oor is. Maar sy laaik van lees, google op haar selfountjie, veilig gebêre in ’n plastieksakkie. “Mens kan maar sê dis een van my hobbies.”
Kyk my stip. Kyk my uit. Katriena, haar een bok, ook. Met geel oë. Bê.
“Julle wat huise het, moet dit waardeer en nie neersien op ons plakkers nie. As ek geld gehad het, was ek môre in Plattekloof.”
Skielik vang dit haar, soos ’n koue wind. Sy druk haar gesig in die pers breiserp, linkerhand swaar op haar kierie, rug leunend teen ’n groot hout-kabelroller wat nou die buurhut se een muur is.
Deur die hout hoor jy ’n kind se onophoudelike kroephoes.
“Want ons hier is ook maar net mens…” dep sy die trane.
Gisteraand, toe Zuma oor die rooi tapyt stap, het Grace Boltney die twee kilometer “walk gevat” om haar selfoon te gaan laai “in die Bishop” (Lavis).
Die R5 neergesit vir die “bunny” (sleng vir gay), al bring sy haar eie laaier.
Terwyl die president gepraat het van die “triple challenges of poverty”, het sy ’n vuurtjie in haar konka aangesteek vir ’n beker swart tee.
Sy’t in die donker gesit en droë bruinbrood eet toe Zuma se “many households go through difficulties” weerklink het.
Tienuur is sy kooi toe.
Ingrams op haar skurwe plekke,