Verlorenkop. Celesté Fritze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Celesté Fritze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795801075
Скачать книгу
Maak seker u doen daagliks hersiening.

      Dit verg kophou om die realiteit van die koevert in te haal.

      Haar pa is nie bereid om geld voor te skiet vir die weggeslyte motorfietsbande nie. “Jy kan klas toe loop, Johanna. Waarheen wil jy ry? Jy mors petrol,” ongeduldig oor die plaaslyn. “Die boerdery vat baie geld.”

      Jo beskou haar finansiële krisis as ’n vingerwysing na die smalle weg. Die pad na die kunstenaar se glashuis lê met dubbeltjies besaai.

      Sy hoor en sien niks van Muriel Weber nie. Dis of Muriel van die aardbol weggevee is. Gerugte doen die ronde dat die huiskomiteelid vir kuns en kultuur uit die koshuis geskors is. Niemand weet waarom nie.

      Party dae bly Jo heeldag in die bed, met die handboeke om haar uitgepak. Teen aandete staan sy op om sente bymekaar te skraap, sigarette te gaan koop.

      Sy slaag nie daarin om die huishoudkundestudent te ontduik nie. Dit is Lara Cloete se gewoonte om by ’n kamer in te stap sonder om te klop, om sigaretwalms weg te waai asof sy radioaktiewe wolke by die venster wil uithelp, om ongenooid te gaan sit. Lara is rasend van selfvertroue en selde in ’n slegte bui. Aan haar polse klingel armbande.

      “Wat dink jy eet ons vanaand?”

      Die gedagte aan kos wil Jo laat braak. “Wat kom maak jy hier as jy rook so verpes?”

      “Seker jou magnetiese persoonlikheid.” Stikkend.

      Jo suig die sigaretrook dieper in. “Het jy nie ’n werkopdrag of ’n eksperiment om te doen nie?”

      “Wil jy môre saamkom rioolplaas toe?” vra Lara ongesteurd.

      “Om te wat?”

      “Die lesing gaan oor watersuiwering. Daar dryf vieslike goed in die water rond, tussen die drolle.”

      “Jy wou dit nie dalk ’n bietjie kruer stel nie?”

      Lara tuit haar lippe. “Jy moet my nog sê waarheen jy in die groot wit kar verdwyn.”

      “Ek verdwyn nie meer nie.”

      “Ek wonder.”

      “Jo du Plooy, telefoon in hokkie vier, oosgang,” onderbreek die interkomstem.

      Jo vlieg orent, gretig om aan die interrogasie te ontsnap.

      “Jy beter die sigaret dooddruk. Jy weet jy mag nie in die telefoonhokkie rook nie!” skree Lara agterna.

      Anna wil hoor hoe dit gaan. Hoe vorder die studies? Leer jy darem hard, my kind? Jy moenie jou pa nou met motorfietsbande pla nie.

      “Pa sê so, ja. Wat is nuus, Ma?”

      “Die koeël is deur die kerk,” sê Anna ná ’n kort stilte.

      “Wat bedoel Ma die koeël is deur die kerk?” aap Jo agterna. “Is die koster gekwes?”

      “Ai, kind, watse nonsens praat jy?”

      “Nou vir wat praat Ma nie reguit nie?”

      Anna se sug sidder met die telefoonlyn langs. “Dis Hendrik. Hy het vir Bokkie van ta’ Riana en oom Thys de Beer swanger gemaak.”

      Jo beleef ’n duiwelse drang om hardop te lag. Sy het Hendrik en Buurplaasbokkie met ’n paar weke geklop. Die aweregse drang vra dat sy haar gemoed van ’n kant af opruim. Wie verwag ’n weermagman van drie en twintig, om presies te wees adjudant-offisier Hendrik du Plooy, een van sy bataljon se bestes, gaan sy meisie op die paal sit? Visgraat behoort te geweet het wat jy kry van blindelings skiet. Met hul pa se Cessna in die mielieland neergestort die aand voor haar matriekafskeid. Lê ylend in die waaksaal, die ouers om sy bed geskaar, terwyl sy die aand met verlepte Barend en ’n stywe haredos moet deurwroeg. Klokslag gereed vir drama.

      “Ma jok,” wurg sy.

      “Johanna? Hierdie verbrande plaaslyn.”

      Jo gooi in die oop telefoonboek op, by die letter S. Sy besef die situasie is benard. Hendrik se krisis is van familiebelang, indien nie van landsbelang nie. Die Du Plooys se eer is op die spel. Haar pa sal die manlike linie tot orde moet roep. Oor haar eie swanger staat sal sy moet swyg. Sy sukkel om op die werklikheid te fokus. Wat gaan ’n ongehude studentemeisie met ’n kind doen?

      Lara kom haar soek. “Ek is seker jy verwag. Jy sal nie so kan aanhou rook nie, Jo. Dis sleg vir ’n baba.”

      Tot haar ergernis gaan Jo aan die tjank. ’n Plaasmeisie weet, jy hoef dit nie uit te spel nie. As sy ’n keuse gehad het, sou sy ’n seun verkies. Nicolas Antoine de Cessart die Vierde. Niks van die dogtertjie-kak, die gemoedskommelings, die emosionele uitbarstings nie.

      Lara borduur voort. “Jy weet, my ma het net so aangegaan toe sy swanger was met my kleinsus. Die hele dag op die bed gelê. As sy die keer opstaan, was dit om my pa se lewe te vergal. Pa het ons vir drie maande eiers en witbrood gevoer terwyl Ma haar depressie lê en uitsnik het. Almal was galgeel en verstop, ek moes iets doen. Toe leer ek kook.”

      Jo sluk. “Roep vir Lettie, seblief. Ek het gesien sy vee die vierkant. Hoor of sy sal kom skoonmaak. Sê ek is jammer, ek wil ’n voedoe-pop by haar koop. Toe nou, man, ek gaan weer kots as ek daar moet ingaan.”

      “Ek ken van kots opvee,” sê die optimis.

      “Sterkte. Dis kots van ’n Klein Japies-pastei.”

      “Jy moet wegbly van daai kafeetjie. Hulle kos is te vetterig vir jou delikate toestand.”

      Op ’n manier het sy haar in die lakens vasgedraai. Sy lê in iets warms en taai. Die neongroen wysers van die wekker op die bedkassie staan op tien oor twee. Jo sit regop, voel rond na die bedlamp. Op die wit skakelaar bly ’n bebloede duimafdruk agter. Die eerste gedagte wat by haar opkom, is hoe sy die bloed uit die groen-en-wit strepe van die koshuismatras gaan kry. Goddank, Sonja Kamermaat is op ’n koorkamp.

      Sy draai die badhanddoek om haar lyf, skuifel die gang af om die huishoudkundestudent met enkelkamerregte te gaan opklop.

      Lara neem beheer oor van haar skede: “Ek gaan die huismoeder haal, hou vas.”

      “Not a hell. Oor ’n paar dae is ek agtien. Ek sal self regkom. Gaan bel vir Kerneels Pieterse, die lang een wat medies swot. Kamermaat se nuutste spyker.”

      “Jy moet by ’n regte dokter uitkom,” protesteer Lara.

      “Die universiteit sal my skors, asseblief. Bel vir Kerneels. Hy kan my by die waskamer se venster kry. Dè, hier is die nommer. Ek weet hy sal kom, maak gou.”

      Jo skuifel terug kamer toe, die handdoek tussen haar bene vasgeknyp. “Ek gaan aantrek!” roep sy agterna.

      Oor die geheime reddingspoging raak sy sag met Lara en met Kerneels. Minder bestand teen hulle aansprake op haar tyd.

      Kerneels Pieterse het sy oog op haar. Dit weet sy met die instink van ’n uitverkorene.

      Jo se vingers is rou gevryf aan die bloedkol in die matras. Sy moet van die gevlekte handdoek ontslae raak.

      Lara bring ’n leë Saint Germain-skoendoos wat sy in ’n pakkamer opgespoor het.

      “Moenie so aanhou nie, man. Die matrones sal dink jy het gelek, van jou period.”

      “Los my.”

      Jo sit die slangvelstewels eenkant, haal die horlosie en die bottel parfuum uit die kas. Sy knip ’n stuk van die handdoek af en pak dit saam met die geskenkbordjie met die drie blou skepe daarop in die skoendoos. Die res van die handdoek draai sy in ’n plastieksak toe en gaan gooi dit in die koshuis se grootmaatvullishouer.

      Haar eie diep betreurde, liefs vergete tydkapsule los sy op die bed. Sy voel na drama, maar dis als hormone, beweer Kerneels Pieterse.

      Die aand ná studietyd gaan haal sy vir Lara. Lara sit agter op die motorfiets, knyp die skoendoos onder haar arm vas. Jo koers sportterrein toe. Vroeër die dag het sy dit in haar kop gekry om die skoendoos in ’n oopte onder die sterre te gaan begrawe. ’n Wydingsdiens