“Ja. Dis pitte wat oupa Knol by ’n Vrystaatse boer gekry het. Ta’ Christine het dit vir jou gebêre. Hulle het nooit die pitte geplant nie. Sy het gesê jy moet die jas saamvat Amerika toe en die pitte daar gaan plant. Jy moet die Amerikaners gaan wys hoe mielies lyk. Vrystaatse mielies, dis mos mielies,” sê Anna met ’n skewe glimlag.
“Hoe lank kan mens ’n mieliepit bêre, Ma?” terwyl sy die pitte van naderby bekyk.
Anna klad vars trane droog. Dink ’n ruk: “Ag, tot lank ná die mens vergaan het. As ’n pit nog nooit ontkiem het nie, kan ek nie sien waarom dit nie ná honderd jaar nog kan ontkiem nie. Daar is ’n storie oor mielies wat die Inkas geplant het. Ek kan dit nie nou onthou nie, maar die saad het ’n eeu lank gehou. Dis soos ’n houthanger.”
Haar ma spreek die woord houthanger uit soos Christine Retief dit uitgespreek het: houthênger.
“Ta’ Christine is dood en hier hang die houthangers in die kas. Christine Retief leef voort in haar klerekas. Kyk hier, in haar skrif met blou ink op die hout. Christine Retief,” beduie Anna. “Hoe gering is ’n menselewe, my kind. Geringer as ’n houthanger.”
Jo trek die blou jas stywer om haar vas.
Ná ta’ Christine se “afskeidsaffêre” in die verstikkende Natalse middaghitte bring Anna vir Jo ’n pakkie wat in bruinpapier toegedraai is. Onder die tou kan Jo haar naam in groottante Christine Retief se hoekige skrif uitmaak: Vir Jo.
“Los dit eers. Gee vir my jou hand,” sê Anna. Sy laat ’n sleutelvormige hanger aan ’n kettinkie in Jo se handpalm val. “Dit was vir haar kosbaar. Sy wou hê jy moet dit kry.”
Jo knip die fyn ketting om haar nek vas. “Dankie, Ma. Ek onthou dit goed.”
“Daar is drie verseëlde bokse in die sinkstoor op Verlorenkoppe wat jy glo moet deurgaan wanneer jy eers in Amerika is,” sê Anna, haar stemtoon meer gelate as nuuskierig. “Dit staan so in haar opdragbrief.” Anna dink na, vat die pakkie terug. “Laat ek dit liewer môre in die boks loop bêre. Sover het ons nog als reg gedoen,” asof sy deur haar tante se gees aangespreek is.
“Ek sal die bokse gaan oplaai op Verlorenkoppe voor ek terugry stad toe, Ma.”
Anna stap ketel toe om tee te maak. Draai om asof sy iets vergeet het. “Nee, wag. Klein-Knol kan dit later vir jou aanry. Ek wou jou nog sê.”
“Ja?”
“Jy onthou daardie skoolmaat van Hendrik? Kobus de Lange? Kobus Jongbees?”
Jo loop venster toe, suig die warm lug in. “Wat van hom, Ma?”
“Kobus het ’n ruk terug probeer selfmoord pleeg. Hom aan die papierbasboom op die werf opgehang. Sy pa het glo net betyds op hom afgekom. Ek dag jy sou belangstel om dit te hoor, my kind. Klink my hy het breinskade. Glo net verstand oor vir los werkies op die plaas. Wou mos vir prokureur loop leer. Ai, Kobus is ’n goeie vriend vir Hendrik. Wat sou hom besiel het om dit te doen?”
Jo draai van die venster weg, haal haar skouers op. Sy moet ophou vir wonderwerke vra. Dit het sy nou van spelde in voedoe-poppe se oë steek. Die uiteinde is meer as waarop ’n mens sou kon reken. Sy verstaan buitendien niks van wonderwerke nie.
“Hoe sal mens weet, Ma?”
3
Die Du Plooys se dorpshuis, Laeveld, 1975
Johanna se pa gebruik ’n burgerbandradio om op die spoor van veediewe te bly. ’n Draagbare transistorradio met ’n verlengde lugdraad help Isak du Plooy soggens flink uit die vere, tensy Anna vergeet het om batterye te koop. Dan bly hulle ’n rukkie langer in die kamer, met die deur toegetrek. Partymaal, wanneer Johanna vroeg gaan perdry, kan sy haar ma agter die kamerdeur hoor giggel. Anna giggel nie só voor ander mense nie. Haar pa kla nie eintlik wanneer haar ma vergeet om batterye vir die radio te koop nie.
Die Suid-Afrikaanse radiodiens praat met die rigtende stem van die regering. Julle jongelinge moet julle pad suiwer hou deur dit te hou na Gods woord. Luister na goeie, opbouende musiek. Boeremusiek, maar ligte Afrikaanse musiek (of iets vroliks soos “I love you, Timothy” van Carike Keuzenkamp) is darem ook mooi, sê Anna.
Johanna hou die meeste van die naskoolklas in klassieke musiek wat die mooi, jong musiekjuffrou uit die stad aanbied.
Sondagaande luister Johanna en broer Hendrik skelm na LM-radio se Hit Parade wat op AM uit Mosambiek uitsaai. LM is ’n kommunistiese radiostasie wat met die duiwel se osse ploeg, waarsku die skoolhoof op ’n Maandagmôre.
Die stem van die duiwel verdwyn in Johanna se standerdnegejaar.
Teen 1976 is daar nog geen televisieontvangs op die Du Plooys se plaas Allemansfontein in die Laeveld nie, ook nie by die gesin se huis op die dorp nie. Die rondreisende tandarts bring een maal ’n week ’n kasset van die SAUK se toetsprogramme uit Johannesburg saam en vertoon dit op ’n monitor in die Laeveld-motel se eetkamer. Meer kinders en volwassenes besoek die tandarts se spreekkamer in ruil vir die voorreg om op ’n Woensdagaand in rye op die motel se kiaateetkamerstoele te sit en na die monitor te staar. Die oues vergeet om te eet.
Gerugte van skoolopstande bereik die gesin via die radio en die Afrikaanse Sondagkoerant. Dit is ’n onvergeeflike sonde om ’n Sondagkoerant te koop, preek die dominee wat (wanneer die lus hom pak) die NG-gemeentesang op ’n saag begelei. Toe die landwye protesoptogte teen Afrikaans in swart skole uitbreek, is Johanna gereed om te glo die oormag van duisende opgeruide skoolkinders sou die paar wit polisiemanne vermoor wat hulle op die gedoemde Juniedag in toom moes hou. Daarom is tientalle skoolkinders doodgeskiet. Die kinders het hulle teen Gods woord en die Afrikaanse taal verset. ’n Mens moet aan die gevolge dink voor jy jou God, die gereg en die regering uitdaag. Wat jy saai, sal jy maai, spoeg doom Saag van die kansel af. Johanna is te bang om asem te haal. Dit gebeur wanneer mense teen Gods woord in opstand kom en met die kommuniste heul, sê Doom.
Haar pa sê dis twak. Saag moet sê of hy nog die bees vir die kerkbasaar wil hê, want van koerantlees en self dink, kan niemand in die hel beland nie.
Johanna wonder hoe dit sou wees as haar onderwysers almal op ’n dag Zoeloe moet praat. Die Zoeloe wat sy by Nomvula op Verlorenkoppe leer praat het, gaan haar dan niks help nie. Die Zoeloes skryf als aanmekaar. Jy weet nie waar ’n woord begin en waar dit eindig nie. Dit het Nomvula vir haar in die Zoeloe-bybel gewys. Nie een van haar onderwysers kan Zoeloe praat of skryf nie. Sy sal elke liewe vak van haar matriekjaar dop as almal skielik moet Zoeloe praat. Op Allemansfontein praat die werkers Afrikaans, behalwe wanneer hulle groet; dan groet hulle op die Sotho van die verre noorde. Op Johanna se tweetalige rapport staan daar geskryf: Johanna has an excellent command of the English language. Sy moet net leer om nie teë te praat nie.
Met haar ma en pa op die plaas is die erf van die dorpshuis verlate. Vroeër die week is daar kalf geslag op Allemansfontein. Elke bloederige kriesel vleis word bewerk, gerook en ryp gemaak: die kop, die binnegoed, die stert en die tong (in sy mosterd-en-rosyntjiesous), stom genoeg om ’n orgaaneter se mond te laat water.
In die stilte langs die swembad is Johanna veronderstel om vir die matriekeindeksamen te leer.
Die hitte druk teen haar keel. Sweet gly in ’n voor tussen haar borste deur, dit laat ’n donker kol op die halternektop van haar bikini. Haar maagvel gloei. Johanna ignoreer dit en fikseer op die hande in haar fantasie, die fyn hande met die ronde naels wat sirkelbewegings om haar naeltjie trek, laer af na haar dye toe stryk, die klamte in haar onderlyf ontdek.
Oor die platespeler kreun Cohen: “I remember you well in the Chelsea Hotel / You were talking so brave and so sweet / Giving me head on the unmade bed / While the limousines wait in the street.”
Broer Hendrik is op pad van die Grens af, of dalk van die valskermskool? Niemand weet presies watter grens dit is of waarheen Hendrik môre weer op pad is nie. Die troepe se briewe word met breë swart hale gesensor. Haar vriendin Martha kom later die middag om saam te blok. Sal sy vandag ’n kans kry om Martha se lang donker hare te kan uitkam? Haar hand huiwer oor haar bobene.
Dit neem ’n