“Teken asseblief vir my in wanneer dit laat raak,” vra sy vir Lara Cloete, die huishoudkundestudent wat haar met vriendskap teister, wat ongenooid by haar koshuiskamer in en uit.
“Is jy nog by die huis?” vra Lara.
“Nuuskierige agies hoort in die wolwehok.”
Die situasie met die Fransman raak buite haar beheer. Dalk moet sy ’n huurmotor Pretoria toe ontbied. En waarmee betaal? Hoe kry sy haar bagasie uit die kattebak?
Die concierge, aangevuur deur ’n fooitjie, vergesel Jo na waar Antoine in die Three Ships-restaurant vir haar sit en wag. Nadat hy die prooi uitgelewer het, verdwyn hy diskreet.
Jo proe nie die keurig bereide châteaubriand nie. Haar aandag is by die glimmende vleuelklavier, die wit damastafeldoek, die vergulde silwermessegoed, die fluitglas Dom Pérignon 1973, die beeld van ’n fontein met springende bokke uit botter gekerf. Die gestyfde, fronsende kelner.
Gaan die welgestelde buitelander en sy jong metgesel oorslaap? Ontbyt benodig? Antoine lyk slu. Soos Raka.
Jo ril. Die wit rose herken sy uit haar ma se tuin. Hibrides. Die borrels in die glas kielie haar verhemelte. Gejag sit sy deur ’n jagse.
Dit laat haar bloed bruis om aan die dampkring van die alledaagse te ontsnap.
“Hoe lank vlieg mens Parys toe?” vra sy vir die Fransman.
“I take you with me? You want to come?”
Sy ignoreer die vrae, vou die gestyfde servet oor haar skoot oop. Eendag gaan sy nog in Parys woon.
Oor die Johannesburgse nageinder verskiet daar ’n ster.
Jo bêre die porseleingeskenkbordjie met die drie blou skepe daarop in haar handsak en raak smoordronk op Moët & Chandon.
“Please, could you take me back now?” vra sy ná ete. Haar lippe dik en rubberig, soos fietsbinnebande, asof sy by die tandarts was.
Die Fransman gee ’n jakkalslag. “My tank is empty. Remember, no fuel after seven. Sorry, chérie.”
Ja, sure. Die bliksem het geweet sy sou moes gaan lê van die sjampanje, geweet die petrolpompe sluit om seweuur die aand.
Hy kan absoluut niks doen aan die wêreldwye brandstofkrisis nie, sê die Fransman. Hulle sal moet oorslaap.
“I want my own room, please.”
“Only double rooms available.”
Jo se kop suis en klop, sy is te moeg om te redeneer. “It’s OK, let’s have quick sex. I don’t like sex, though. And you don’t lie on top of me, I’ll lie on top of you.”
“You lie on me, it’s nice,” steun die Fransman. “I like woman on top.”
Toe Jo opklim, vind sy om bo te sit is makliker as perdry. Sy knyp haar oë toe en dink aan Parys.
Skutter Kobus de Lange se sweetlyf lê in oorlogsgebied, uitgestuur as kanonvoer, waar iemand hom in die hol kan skiet.
Sy hoef net te konsentreer op haar ontvlugting.
6
Pretoria, 1977
Jo sluip laat by die geografieklas in. Hoe kan ’n mens een dag niks weet nie en die volgende dag te veel? Waarom lyk almal nog dieselfde? Die lokaal is volgepak. Sy moet in die tweede ry van voor af skuins agter die tweelingsusters inskuif. Toe hulle in gelid omkyk, sien sy die haartjies gooi dieselfde skaduwee bo hul identies saamgeperste lippe. Sy het vergeet om papier in haar lêer te sit.
Die dosent hou ’n versteende swart klip in die hand, dit lyk vir Jo na ’n stuk graniet. Hy bespreek gesteentes uit die Prekambriese tyd: “Die dagsome van die Bosveldstollingskompleks strek ten suide van die Waterberge en Potgietersrus, en ten noorde van Middelburg, Pretoria en Rustenburg, dames en here, maar die gesteentes hier by ons rond word deur jonger lae bedek. Seker van die rykste ertsneerslae op aarde, platinaerts . . .”
Die res gaan verlore, sy onthou net die klank. In haar kop vorm die eerste reël van ’n gedig. Sy het nie papier vir aantekeninge afneem of vir ’n gedig nie. Sy staar na die tweelingsusters se geboë koppe. Die stywe swart vlegsels stem simmetries ooreen. Albei konsentreer daarop om die woorde wat by die dosent se mond uitpeul so vinnig as moontlik te onderskep en dit op die blanko reëls van hulle skryfblokke neer te vel. Die meisie regs skryf meer verbete as die een links. Gaan hulle vanaand hul aantekeninge vergelyk en mekaar se ontbrekende woorde invul?
Sy leun vorentoe en tik die een links op die skouer, fluister: “Kan jy asseblief vir my twee bladsye leen? Ek sal môre vir jou vier bladsye teruggee.”
Die meisie draai om, haar swart oë vererg. “Nee,” sê sy hard. Dit klink of die stem deur die lesingsaal eggo, met die trappies op, verby die houtkateder en deur die ertsgange van die Bosveldstollingskompleks wat die dosent intussen op die truprojektorskerm vertoon. Die meisie lê verder vooroor, oor haar skryfblok.
Jo raak paniekerig. Van ’n vorige keer se vergeet is die bladsye in haar lêer aan albei kante vol geskryf. Die dosent praat te vinnig, sy het reeds die vorige sin wat met “harzburgiet” begin het, vergeet. Sy verwyder die doppie van haar pen en trek die plastiekinkbuisie uit. Die inkbuisie druk sy in haar klasdrafsak. Met die leë pen skryf sy op die volgeskrewe bladsye.
Daar is ’n skeur in die bladsy soos sy skryf.
In die nag het sy haar verbeel die hotelkamer is in ’n digte woud. ’n Stormwind het opgesteek en die naaldagtige blare en skubberige keëls teen die vensters vasgevee. Sy het die vosperd aangevuur en die runnikende dier het met sy hoewe teen die kamerdeur gekap. Die deur is uit die kosyn geruk en sy kon met vrye teuels deur die opening jaag. Krakende takke is deur weerlig neergeslaan. Sy het die teuels ingetrek, dit kort gehou en weer laat skiet. Die dier het met dawerende hoewe voortgalop, deur die storm wat algaande bedaar het, totdat sy hom weer onder die teuels kon kry. Sy het afgeklim en op haar rug langs die perd gaan lê en gebid die storm steek nie weer op nie.
Jo moes hom hardhandig wakker skud. “You need to take me back. I have a class at ten.”
Daarna het sy die badkamerdeur agter haar toegesluit. Opgegooi. In die bad geklim. Die koue porselein het haar boude gebrand. Sy het die vergulde spuitkraan oopgedraai. Die water het by haar ingespuit en die hoefspore het by haar uitgespoel.
Selfs toe die Duitse motor in die daaropvolgende dae in die straat voor Huis Witklawer op en af luier, bly die ander dieselfde.
Raka kom snuffel aan die kraalhek wanneer sy hom die minste verwag. Op ’n keer wag hy vir haar op die trap voor die Afrikaanspoësieklas. Seker ’n besoekende dosent, besluit haar klasmaats.
Jo volg ’n ompad om die biblioteek, deur Ou Lettere. Kry hom tydelik afgeskud.
Haar pogings is verniet.
“I’ve come for my girlfriend,” eis die Fransman van die student op voordeurdiens.
Die primaria gee haar ’n waarskuwende kyk.
Jo is te bang om voor die koshuisdeur met hom te redekawel. Sê nou dit kom by haar ma uit? Sy gee toe aan sy eise. Net sy weet wat sy aan hom doen en wat hy aan haar doen.
Sy probeer sy bellery en eksotiese geskenke ignoreer: die ingevoerde slangvelstewels, die eksklusiewe parfuum, die goue horlosie. Hy hou die voordeur dop, laat die geskenke persoonlik aflewer deur ’n medestudent wat hy met sjokolade omkoop.
Mettertyd leer Jo in beheer van die storm kom. Totdat hy met die verloop van weke nie langer sy vlug kan uitstel nie en oor die einder na ’n ander kontinent verdwyn en sy nie meer op die plek hoef te wees waar sy was wanneer die storm woed nie.
7
Pretoria, 1977
Die inhoud van die bruin vensterkoevert wat deur die pos arriveer, waarsku dat mejuffrou J.C.