Jo kan dit nie tussen die bedompige asems uithou nie. “Juffrou, mag ek gaan piepie?” Nederiger as ’n invertebraat.
Die primaria wuif haar weg.
Jo sluip by die voordeur uit, in Prospectstraat af. Sy is nie gepla oor hoe sy haar ontsnapping gaan verduidelik nie. Haar oë soek na die kunsstudent. Muriel klim in ’n afgeleefde wit Fiat. Jo diep die sleutel van haar motorfiets uit haar sak, draf parkeerterrein toe. Sy druk haar lang hare onder die valhelm in, skop die motorfiets aan die brand, koers agter die Fiat aan. Die son is in haar oë. Sy weet nie wat haar besiel nie, maar sy hou aan ry. By die Skip langs, Sunnyside se kant toe, verby Magnoliadal. Die Fiat se enjin mis ’n paar slae. Die rookwolke uit die uitlaatpyp laat Jo stik.
Met Koningin Wilhelmina langs oor George Storrar sukkel die Italiaanse motor met sy enigmatiese insittende, vermoedelik op pad Groenkloof toe. By Langestraat draai Muriel sonder waarskuwing links, Nieuw Muckleneuk toe. Wie de fok gebruik ’n flikkerlig? Die motorfiets se agterwiel gly in die gruis. Jo kry dit met moeite onder beheer. Betyds om die Fiat by die oprit van ’n huis met reusevensters te sien indraai.
Die voorstad lê stil in die voormiddagspits. Eers ry Jo verby die moderne wit huis. By ’n oop stuk veld draai sy in en los die motorfiets op die staander, haak die valhelm oor die spieël. Hair by Kawasaki. Sy kam die kraaines met haar vingers plat, slenter in die sypaadjie af. Iets dryf haar, iets wat sy moet weet, al weet sy nie wat sy moet weet nie. Die aansig van die huis lyk verlate. Niks roer in die straat nie. Jo loop verby die ingang. Met die terugloop glip sy by die oop motorhek in. Sy koes agter die leë motor langs na die voorkant.
Stemme uit die huis laat Jo agter ’n stoeppilaar wegduik. Sy wag tot die stemme wegsterf voor sy by die dubbelglasdeure inloer. Die ruim ontvangsvertrek is gevul met art deco-meubels. Massiewe abstrakte skilderye hang teen die mure. Op ’n verweerde houtdeur met bokpote staan kunsvoorwerpe wat uit hout gesny is, ander wat in brons gegiet is. Beelde wat uit marmer gekap is, vorm deel van die ingangspilare. Sy kry die reuk van terpentyn. Dit laat haar dink aan die kunsstudent wat haar kop kaal geskeer het. Sy (of een van haar medestudente?) het rooi skedelnate op die eierkop ingeskilder. Die koshuismoeder het afgelei die kop is ’n kaart van Rusland of (nog erger) ’n hamer en sekel, en ’n stokkie voor dié kommunistiese twak gesteek. Die student moes die kaartwerk afwas en ’n kopdoek dra tot die hare teruggegroei het.
Jo loop gebukkend verder om die huis. Platgedruk teen die gepleisterde wit muur wag sy dat die hartgesuis in haar ore bedaar. Sy voel muurlangs tot by die volgende venster, waag dit om in te kyk. Lig uit twee dakvensters omgewe die jong vrou in die middel van die vertrek. Muriel knoop die kaasdoekhemp los. ’n Manstem wat naby die venster opklink, laat Jo op haar hurke terugsak.
Ná ’n ruk waag sy dit om weer te kyk. Die wit hemp gly oor Muriel se kaal skouers, oor die vol, gepunte borste. Sy glip uit die Levi’s. Geen las van onderklere nie. Netjiese donker vag waar die dye bymekaar kom.
’n Ouerige man met ’n bokbaardjie en ’n poniestert hou ’n glas rooiwyn na Muriel toe uit. Hy draai haar na die lig, bevoel die nek en ruggraat. Muriel draai terug, haar borste rus gemaklik in die man se hande. Sy neem ’n teug uit die langsteelglas, draai om en gaan op die dagbed sit-lê. Haar lang bene ’n aks uit mekaar geposeer. Oor haar linkerbors val ’n dik string hare.
Dit is of die tyd stol, asof Jo per ongeluk op ’n wêreld afgekom het wat sy nie vermoed het bestaan nie, asof sy soos Alice agter die wit haas aan in die haasgat ondertoe geval het. Dit is klam op haar bolip, sy kry moeilik asem. Sy knyp haar hande tussen haar bene vas.
Toe dit skemer word, draai sy terug, sluip weg. Die afloerdery suig haar in. Dit plaas haar in ’n omwenteling waaruit sy haar nie kan loswikkel nie.
Jo bied haar dienste as dekorskilder vir die ienkdans aan, al het sy in standerd agt laas ’n kwas in haar hand gehou. Op ’n keer loop Muriel tot vlak by Jo. Sy bekyk die boom en die verwronge takke wat Jo op die wit laken skilder, tik op ’n plek wat Jo oorgeslaan het. Geur van sandelhout en naeltjiesolie. Welgevormde vingers. Kort, ronde met verfbevlekte naels.
“Jy kom goed reg.”
“Dankie, juffrou Muriel,” uit die diep droogte van haar keel. Verder kan Jo nie kwiek of kwaak nie.
Wanneer Muriel gaan bad, sorg Jo dat sy in die koshuis se gemeenskaplike badkamer is. Die intieme kennis van die kunsmodel se lyf, die detail wat sy by die loervenster oplet, hou haar fantasie bloedwarm.
5
Laeveld, 1977
Jo waai ’n rukkie tot haar ma en die vliegveldgebou van die Laeveldse dorpie uit sig van die Dakota se venstersitplek verdwyn voor sy die leersak op haar skoot ooprits. Ná die Paasnaweek is die universiteit se toetsreeks op hande.
“I sit with you?”
Jo bemoei haar nie met die uitlander wat langs haar inskuif nie. Met die instap het die ouerige Fransman hom voorgestel as Antoine de Cessart, die derde. Konsultantingenieur, fosfaat- en koperprospektering, Northern Mining Company.
Die bedrewenheid waarmee die loods die vliegtuig in die opstyg hanteer, word met ’n sarsie applous van die passasiers begroet. Daarna flikker die kajuitliggies aan. Jo hoor Antoine se sitplekgordel losklik.
“What are you reading, you want to have sex?”
Twee vlieë met een klap. Soos dit ’n Fransman betaam. Sy betrag die vreemdeling langtand terwyl hy beduie die vyftigverdiepinghotel van sy eindbestemming het ’n wêreldbekende restaurant en ses honderd slaapkamers.
“I’m studying for my geography exams, and I’d like to have dinner with you if you could get me back to Pretoria by nine.” Sy dink aan wanneer die universiteitskoshuis op ’n Sondagaand sluit. Dalk kan sy nog ’n uur of drie aan die gedeelde koshuiskamer ontsnap.
“Okay, we don’t have sex, I just feed you nice, chérie,” onderneem die Fransman. “Then I take you back to your place.”
“Noem my Jo,” sê sy in haar grootmensstem. Die vorige bewoner van haar lyf het op Allemansfontein agtergebly.
Sy moet nog gewoond raak aan die uitspraak van die aangenome naam.
Ná die vlug loop sy haar in Barend Viljoen vas. Hy bly roerloos in die vliegtuiggangetjie staan, skynbaar onwillig om haar te eien. Verlepte Barend, matriekafskeidmaat. Sy wil hom vra om haar uit die kloue van die Fransman te red, maar sy weet nie hoe nie.
Dis nie of sy seuns begryp nie. Dalk het Barend lankal die donkerte in haar raakgekyk, want toe sy weer sien, is Barend weg.
’n Somber geklede lakei hou vir Jo die motordeur oop, wag dat sy haar uit die gerief van die luukse kajuit bevry. Antoine klim ook uit en oorhandig die sleutel aan die lakei. Dié se dun skouerknoppe lyk vir haar soos kapstokhake. Namate die lug uit sy ingeduikte borskas ontsnap, vibreer die goudkleurige tossels aan die knoppe.
Die Fransman wys na sy horlosie en weer na die kattebak. Die lakei wink ’n motorbestuurder nader wat flink inspring en die Duitse motor deur die hotel se bedakte ingang bestuur. Jo hou die motor dop tot die remligte deur die donker bek van die parkeergarage ingesluk is.
Sy nader die draaideur met sy vier kruisvormige vleuels teen ’n onseker pas. Die deur draai net in een rigting, kan sy uitmaak. Wanneer een vleuel oopgestoot word, sluit die volgende vleuel die deuropening af. In haar lewe het Jo nog nooit ’n draaiende deur gesien nie, beslis nie so ’n grote nie. Sy besluit om die eerste draai uit te sit, soos ’n perd wat voor ’n hindernis vassteek. Voor sy by ’n sydeur kan ingaan, word sy en Antoine in die kruin van ’n golf Amerikaanse toeriste opgeneem en in ’n stadig tollende breekslag op ’n rooi tapyt in die voorportaal uitgespoel. Jo se bene bewe. Sy beduie vir Antoine dat sy ’n foon gaan soek.
Die concierge help haar tot by die tiekiehokkie in die Carlton-hotel se portaal. Dit is nie ’n gewone tiekieboks nie. Jo moet aanleun en stoot om die swaar hout-en-glasdeur met sy versierde geelkoperhandvatsel oop te kry. Binne ruik die donkerhoutpanele na ou geld. Haar