Verlorenkop. Celesté Fritze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Celesté Fritze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795801075
Скачать книгу
haar in. In Kobus Jongbees se oë is ’n wilde trek. Johanna verstaan dit nie. Hy ruk haar teen hom vas. Sy probeer losruk, opkom, haar kop op ’n plek indruk.

      “Los my. Hendrik kom eers vanaand.”

      Pleit verniet.

      Hy skeur die haltertoppie af, pluk die broek van sy verbleikte armybrowns los. “Never mind jou broer. Ek soek vir jou!”

      Johanna walg aan die dikgeswolle knop in sy onderbroek, die suur alkoholasem.

      “Vat jou pote van my af!”

      Sy kon netsowel met ’n klipsteen gepraat het.

      Johanna probeer loskom onder die loodarm wat haar vasklem, van die vrank smaak wat aan hom kleef, die aanhoudende seer. Dit voel of hy haar oopskeur, met elke stoot sny die pyn skerper. Sy ruk soos ’n kalf onder haar pa se slagmes. Bid dat hy in vadersnaam moet klaarkry.

      Uiteindelik is dit verby, met sy kreun wat teen haar keel stol. Sy kom agter dat sy kermend huil. Die logge gewig pen haar vas.

      Hy vee die trane met ’n harige voorarm weg. “Jy was lus, Johanna. Soos ’n teef op hitte. Met die kastige vroom ogies, maar die wipboude vra, smeek. Nè, my pop?”

      Sy kom orent, spoeg hom in die gesig. “Ek gaan my pa sê.”

      Hy spook om die swaar weermagstewels af te skil. Johanna gil toe hy haar gryp, in die swembad stamp, agterna spring. Die asem plof uit haar. Soos in ’n droom sien sy die water om hulle verkleur. Dit kring in ’n vlinderrooi klad uit. Hy staar daarna. Johanna vee die slymstrepe onder haar neus met die rugkant van haar hand weg. Wag klappertand dat die vlek wegraak.

      “Jy beter shaddap, Jo-han-na, of jy kry nog.” Hy gryp haar wange in sy een hand vas, soen haar hard, sny haar bolip teen haar voortande oop. “Sê vir Visgraat hy moet my bel.”

      Die indringer sukkel sy lyf oor die kant van die swembad, gaan pluk sy browns se broek aan. Hy beur die weermagstewels aan sy nat voete. Nog ’n waarskuwende kyk voor hy verdwyn soos hy gekom het: om die huishoek, deur die heklose opening in die lae sementmuurtjie tussen hulle en die bure.

      “Dis beter dat jy nie die naweek hier kom leer nie,” sê sy vir Martha oor die foon. “Ek gaan nooit geleer kry met mense om my nie.

      “En nee, ek weet nie waar Kobus of Hendrik is nie.”

      Who the hell cares?

      Laatmiddag kook en bak Anna soos net ’n dankbare boervrou kan. Die skroeiende Laeveldse hitte, vererger deur die oondwalms, laat sweethalfmane onder die pofmoue van haar popelienbloes uitslaan. Sy klad die krale vog op haar bolip met haar voorskoot weg.

      “Dis ’n genade dat jou broer se lewe gespaar is, Johanna. Pa sê dit raak bloedig op die Grens. Dek vir Ma die lapservette en die langsteelglase.”

      Johanna vryf die glase blink en poets die silwerware tot sy haar strak gesig in die meslemme gewaar. Vryf, poets. Vryf, poets.

      “Ek is so bly Visgraat is hier,” sê Anna vrolik. Sy gebruik twee bypassende vatlappies om die kasserol uit die oond te haal. Snuif behaaglik. Anna sit die bak op die tafel, prik die blindevinke met ’n vurk. “Gaaf, die kalf is murgsag. Die hoenderpasteie is amper reg. Bêre vir Ma die groenteskottels in die warmtrollie, my skat.”

      Anna plaas die glasdeksel op die kasserol, maak haar voorskoot los en gooi vir oulaas ’n oog deur die geurige kombuis.

      “Ai, Johanna. Wat sukkel jy nou met ’n plastiekbak vir die slaai, my kind? Gebruik Oumagroot se glasbak. Waar is jou kop? Hou vir Ma die pasteie dop. Ek gaan gou bad. Die hitte laat mens taai voel. En sny bietjie brood, asseblief. Ek is lus vir brood en sous.”

      Isak du Plooy doen die tafelgebed stiptelik om seweuur, soos die gewoonte is. Op die swoel aand het haar pa ’n spesiale versoek: “Vader God, seën ons onverskrokke seun, behoed en bewaar hom. Hou hom asseblief in u hand.”

      Woorde soos bosoorlog, terro’s, landmyne, ratels en rebellemagte ontsnap uit die harwar in Johanna se kop.

      Hendrik trek vir haar ’n komieklike gesig, lammie haar speels teen die boarm. “En wat sê jy, my sussie?”

      Die vraag klink vir haar neerhalend. Sy spring op: “Los my! Ek is nie een van jou bleddie Grensgabbas nie.” Sy hardloop kamer toe. Smyt die deur toe. Die deur sidder in die raam. Johanna hou dit byna die hele naweek gesluit.

      “Wil jy nie iets eet nie?” probeer haar ma ’n keer of wat.

      “Nee. Los julle my bleddie uit.”

      “Die perde moet oefening kry, Johanna,” kom praat haar pa Sondag voor kerk.

      “Maak oop die deur,” sê Anna. “Jy moet tog eet. Wat makeer jou?”

      “Dis eksamenspanning,” sê Isak. “Los haar.”

      “Ek het trifle gemaak, Johanna. Daar is ’n bakkie vir jou in die yskas. Ons het gemeente-ete, Hendrik kom saam. Leer jy nou mooi, my skat.”

      Deur die kamervenster hou Johanna die gesin se wit Chevelle dop waar dit stadig straataf verdwyn.

      Sy gaan grendel die deure. Sorg dat die vensters op knip is.

      Johanna loop te vroeg uit die eksamenlokaal. Die bloedige son kom seer op en gaan seer onder, dit struikel nie. Waar het jy in elk geval gehoor van ’n son wat struikel, behalwe in boeke? Sy skryf tot sy weet daar is genoeg punte om haar deur die eksamen te kry.

      “Dis Martha op die foon. Sy wil met jou praat,” roep Anna ná die Afrikaansletterkundevraestel deur die toe slaapkamerdeur.

      “I need you / I don’t need you / I need you / I don’t need you / And all of that jiving around,” prewel sy agter Cohen aan.

      “Johanna, sit af daardie aaklige musiek!”

      “Ek is moeg vir Martha, Ma. Sy gaan Kovsies toe. Ek wil haar nooit weer sien nie. Nie vir haar of daai vieslike trens van ’n Kobus-broer van haar nie!” skree sy terug.

      My naam is Jo, skryf sy in haar dagboek. Ek is verdomp niemand se dienende Johanna nie.

      Die jong Boerperdhings Ysterberg voel aan daar is fout. Soggens staan hy vir haar en wag buite die stal. Hy gaan wei nie saam met die ander perde nie. Wanneer sy nader kom, laat hy sy kop sak. Sy klim op, lê vooroor met haar wang in die growwe swart maanhare. Haar hande oor die sagte plek op sy gespierde bors tussen die voorbene, waar sy van ’n gevoel van warmte en veiligheid bewus word.

      4

      Pretoria, 1977

      In haar eerste jaar, op sewentienjarige ouderdom, sien Jo vir die eerste maal ’n televisiestel. Dit lyk anders as die monitor in die eetkamer van die Laeveld-motel op haar Laeveldse dorpie. Eerstejaars word toegelaat om die Woensdagaand van ontgroeningsweek die aandnuusprogram op die kabinet-TV in die sitkamer van Huis Witklawer te kyk. Hulle mag kyk tot die aandgodsdiens afgehandel is, die Driekleur wapper, “Die Stem” speel, en die SAUK se toetspatroon op die skerm verskyn.

      Niemand kan glo dit is al nie. Jo wag ’n rukkie om te kyk of daar nie dalk nog iets gaan gebeur nie, maar niks versteur die uitsaaikorporasie se programskedule nie. Nog ’n week se wag. Dis al.

      Op die Donderdagoggend van ontgroeningsweek val Jo se oog op Huis Witklawer se komiteelid vir kuns en kultuur. Muriel Weber lyk boheems en afwesig. Daar is iets verborge aan die derdejaarkunsstudent se skoonheid. Iets abstraks, wat op Jo se sensors registreer. Muriel verwyder ’n opgevoude bladsy uit die dubbelgestikte sak van haar wit kaasdoekhemp. Die beweging laat die hempsak teen haar kaal bors opry. Skrams glimp van ’n borsronding onder dun materiaal. Jo voel benoud. Onder die ienks se huisgesange skuif sy haar stoel oor die blink houtblokkiesvloer nader aan die saaluitgang.

      Die ouer student vroetel met die opgevoude bladsy. Teen die tyd dat haar beurt aanbreek om kuns- en kultuursake te bespreek het Muriel die bladsy platgestryk gekry.

      “Môre, ienks.”

      “Môre, juffrou Muriel.”