Jan bal sy vuiste en stap dan vinnig tot by die twee hekke. Soos ’n vorige keer beur hy met al sy mag, maar moet maar weer ná ’n rukkie onverrigter sake omdraai.
“As ek net hierdie hekke kan oopkry!” roep hy uit, en hy en Emerit kyk mekaar stil aan terwyl magteloosheid hulle oorweldig.
Hulle merk nie die man op wat ’n paar treë van hulle af tot stilstand kom en hulle staan en bekyk nie. Ook sien hulle nie die tevrede lig in Anton de Woud se oë toe hy weer net so onopgemerk omdraai en om die hoek van die huis verdwyn nie.
Toe Irma van Jan en Emerit af wegdraai, is haar oë verblind deur trane. Sonder dat sy besef waarheen sy gaan, dra haar voete haar terug na haar kamer. Sy val op die bed neer.
Die besef dat sy Anton de Woud liefhet, skroei soos ’n vlam in haar. Maar dis nie ’n vlam van vreugde en ekstase nie; dis ’n vuur van skuld en skaamte. Hoe kan haar verraderlike hart ’n man soos Anton de Woud liefhê? Watter soort meisie is sy dat sy ’n man kan bemin wat met die lewens van mense speel? Hoe is dit moontlik dat sy so sterk aangetrokke voel tot ’n man vir wie sy net veragting en afsku behoort te hê? Maar hoewel sy hierdie vrae met ’n stille woede tot haarself rig, bly haar hart haar ’n antwoord skuldig.
Haar oë staar droog en branderig voor haar uit. Is dit moontlik dat Anton de Woud ’n gesplete persoonlikheid het? Sy weet dat daar wel sulke mense bestaan, maar dis of sy maar net nie wil aanvaar dat Anton een van hulle is nie. En tog weet sy dat hy twee mense is – die een wat sy liefhet en die ander wat sy vrees … Anton de Woud speel ’n rol, maar dis vir haar onmoontlik om vas te stel watter een van die twee die regte, die werklike een is. Is dit die een wat sy liefhet of … is dit die ander?
’n Gespanne stilte het oor die eiland neergedaal. Dis of niemand meer lus het om iets te sê nie. Die angs en bekommernis in hul harte probeer hulle nie meer verberg nie. Dit lê openlik in hul oë, duidelik vir elkeen om te sien. En wanneer hulle per toeval in mekaar se oë kyk, lê die naam Carlyle onuitgesproke tussen hulle. Maar hulle vermy mekaar se oë, bevrees vir wat hulle daarin sal lees. Die dag draal langsaam verby. Wanneer daar ’n voetstap opklink, kom Emerit onwillekeurig orent. Maar wanneer Jan of Anton dan sy verskyning maak, sak sy weer terug in haar stoel, net ’n bietjie bleker as ’n paar sekondes tevore.
Dit raak middagete. Die kos word lusteloos in hul borde rondgekrap.
Daar is ’n koue band wat Irma se keel toetrek terwyl sy sien hoe Anton kalm sit en eet. Sy wonder met ontsetting hoe hy dit regkry. Die feit dat hy so kalm is en optree asof daar niks gebeur het nie, is klaar beskuldiging genoeg teen hom. Sy moet die drang onderdruk om die bord kos voor hom weg te ruk. Sy klem dus haar mes en vurk so styf vas dat haar kneukels wit deur haar vel skyn.
Dan is dit of die spanning te veel word vir Emerit. Sy spring op en gryp Anton aan sy baadjielapelle, haar oë groot en rond en bang. “Waar is Carlyle? Wat het julle met hom gemaak?” vra sy skor, haar stem rou en bang.
Anton kyk haar stil aan. Daar is nie ’n greintjie gevoel op sy gesig nie, en sy oë is uitdrukkingloos. Irma en Jan sit ademloos. Die sekondes tik verby. Dan, eindelik, ontspan Emerit se klouende vingers en sy sak bewend van hom af weg. Met ’n sidderende snik gee haar bene onder haar mee en vou sy in ’n klein bondeltjie op die vloer neer, terwyl haar rou snikke deur die stilte skeur. Dan staan Anton op en ’n siniese glimlag speel om sy lippe toe sy oë vlugtig op Irma rus. Sonder ’n woord verlaat hy die vertrek.
Met diepe bejammering help sy die half histeriese Emerit na haar kamer. Toe Jan oomblikke later daar inloer, vra sy hom of hy nie net ’n kort rukkie by Emerit sal bly nie. Dan stap sy vinnig die gang af, deur die woonvertrek, en by die voordeur uit. Daar is ’n doelgerigtheid in haar stap. Hoewel haar gesiggie bleek en gespanne is, is die bruin oë hard, die mond ferm en die kennetjie vasbeslote na vore uitgesteek. Sy pyl sonder enige huiwering ’n sekere rigting in, en toe sy voor Anton tot stilstand kom, waar hy rustig langs die draad staan en rook, kyk sy hom vas aan, haar stem laag en woedend.
“Dit kan nie langer so aanhou nie, Anton. Emerit sal ’n ineenstorting kry. Watter bevrediging kan julle daaruit put om haar so te martel?”
“Julle? Wie is julle?” Sy stem is koud.
“Jy en ons gasheer, natuurlik. Of wil jy vir my kom vertel dat jy nie weet waar Carlyle is nie, en wat met hom gebeur het nie? Toe hy aan jou geslaan het, het jy hom mos belowe dat dit hom sou berou. Jou vriend, ons gasheer, het hom na die toring ontbied en hy het nog nie teruggekeer nie. Jy weet waar Carlyle is, Anton!” sê sy uitdagend, haar hande in vuisies gebal.
Dieselfde siniese glimlaggie van netnou raak weer aan sy mondhoeke, maar sy oë is staalgrys van hardheid toe hy sarkasties buig. “Jy doen my ’n groot eer aan om my daarvan te beskuldig dat ek die vertroue van ons gasheer het, Irma.”
Sy pers haar lippe saam, terwyl die woede hoër in haar oplaai. “Kan jy dit ontken?” Hy antwoord nie en haar stem verander skielik. Dit raak smekend, sag pleitend. “Anton, as jy dalk besig is om toneel te speel, kan jy dit nie los wanneer ons twee alleen is nie? Hier is niemand naby wat jou sal hoor nie. Vertel my asseblief waar Carlyle is en wat met hom gebeur het! En hoekom is jy soms so heeltemal anders as die man …”
“Ja?”
“As die man wat ek gedink het jy is,” voltooi sy haar sin fluisterend.
’n Skaars merkbare stuwing gaan deur sy liggaam, maar andersins bly sy gesig onpeilbaar. Hy antwoord haar egter nie, en sy vervolg sag, steeds pleitend: “Is hierdie … hierdie vreemdeling wat nou voor my staan die werklike Anton de Woud?”
Hy keer sy rug skielik op haar en sê dan oor sy skouer: “Ek kan jou ongelukkig nie help nie, Irma. Ek kan jou die inligting wat jy verlang, nie gee nie.”
Hy begin wegstap, en terwyl sy roerloos na die breë rug staar, flits die beeld van Emerit voor haar verby. Dan kom daar skielik lewe in haar lam ledemate, en sy hardloop agter die verdwynende gestalte aan. Haar oë gloei toe sy hom bereik en reg voor hom tot stilstand kom. Haar vuisies slaan teen sy breë bors en die trane stroom oor haar wange, terwyl sy wild uitroep: “Jy weet wat van Carlyle geword het! Jy weet, maar jy wil nie sê nie! Julle het hom vir ’n proefkonyn gebruik! Julle het die een of ander afgryslike eksperiment op hom uitgevoer!”
“Bly stil!” Sy vingers sny in haar boarms in, en sy oë klief soos twee dolke deur haar.
Maar Irma is buite haarself.
“Dis waar! Ek kan in jou oë sien dis waar! En jy, jy het dit gedoen! Ek … ek dink ek … haat jou!”
Anton verbleek, en dis of haar woorde hom lamslaan. Sy hande gly van haar arms af en val slap terug langs sy sye. ’n Oomblik staar hulle mekaar in geskokte swye aan, terwyl haar laaste woorde soos ’n swaard tussen hulle hang. Dan breek ’n rou snik oor haar lippe, en sy swaai om en begin in die rigting van die huis terughardloop sonder om een keer om te kyk.
Toe Irma eindelik haarself tot so ’n mate reggeruk het dat sy dit kan waag om na Emerit se kamer te gaan, voel sy opnuut geskok oor die ouer meisie se toestand wanneer sy langs die bed tot stilstand kom en op die bleek gesig afkyk. Emerit huil nie meer nie, maar dis of daar skielik ’n belangeloosheid oor haar neergesak het. Sy lê en staar na die plafon asof sy nie van Jan en Irma se teenwoordigheid bewus is nie. Jan wink woordeloos, en Irma volg hom die kamer uit. “Ek het opgemerk dat sy sterk tot Carlyle aangetrokke voel, maar ek het nie besef dat sy hom werklik so liefhet nie,” merk hy op toe hulle die gang afstap.
Irma knik.
“Ja. Ek dink Emerit het die eerste keer in haar lewe iemand werklik lief. Ek voel vir haar so innig jammer.”
En ek voel vir jou ook jammer, kindjie – baie jammer, dink Jan in sy enigheid, maar ag dit wyslik om dit nie hardop uit te spreek nie. “Laat ons maar hoop dat Carlyle terugkeer – en dat alles reg is,” sê hy dan net stil, en Irma swyg.
Dit het tyd geword vir aandete, tyd ook om bed toe te gaan. In die nag het Irma rusteloos gelê en rondrol, haar ore vir elke moontlike geluidjie gespits, totdat sy later vermoeid ingesluimer het. ’n Nuwe môre begin dan oor die eiland