Ena Murray
KEUR 8
Gasheer van Drakeneiland • Droster van Doringbaai • Net ná middernag
Jasmyn
1
Die prokureur glimlag vriendelik. “Sit gerus, juffrou Bruwer.”
Irma sak op die aangebode stoel neer, en haar vingers tas senuagtig oor haar handsak. Die man is baie vriendelik en gaaf – miskien ’n bietjie te gaaf – maar tog kan sy haar senuagtigheid nie afskud nie. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy in ’n prokureurskantoor kom. Sy martel haar verstand nou al van die oggend vroeg af: hoekom sou sy so uit die bloute ’n oproep van ’n prokureursfirma kry met die versoek dat sy prokureur Berks so gou moontlik moet kom spreek? Maar tot dusver kon sy nog aan geen moontlike of onmoontlike rede dink nie.
Terwyl sy nou onseker na die ouerige man in die netjiese grys pak agter die embuia-lessenaar hier voor haar staar, wonder sy meteens benoud of sy nie dalk êrens onwetend iets verkeerds gedoen het nie. Dalk is dit die rede hoekom sy nou hier sit. Maar wat kan dit wees? In die jaar en ’n half wat sy nou al in die stad op kollege is, het sy nog altyd probeer om haar paadjie skoon te hou. Hoewel haar ouers maar sukkelende, arm boere in Namakwaland is, is sy streng grootgemaak. Haar opvoeding hoef geensins agteruit te staan vir dié van die meer gegoedes nie.
In der waarheid was daar gedurende die agttien maande hier in Pretoria maar min tyd en geld vir plesier en soortgelyke dinge wat haar so maklik op die verkeerde pad kon bring. Sy het nou wel ’n beurs met haar topsimbole aan die einde van haar skoolloopbaan ontvang. Dit dek haar losies- en klasgeld vir twee jaar op kollege. Maar dis steeds nie voldoende nie. Haar pa moet nog heelwat van sy kant af bydra om ’n kollege-opleiding vir haar moontlik te maak – iets wat hy beswaarlik kan bybring. Daarom is daar gewoonlik geen geld oor vir allerlei weelde en tierlantyntjies nadat die noodsaaklike betaal is nie.
Die prokureur maak keel skoon. Irma laat haar dwalende gedagtes terugkeer na die oomblik en bloos effens toe sy besef dat die man haar die hele tyd ondersoekend gesit en beskou het. Sy roer ongemaklik en hy verbreek die stilte: “Jy wonder seker hoekom ek jou hierheen laat kom het, nie waar nie, juffrou?” Hy glimlag toe sy bevestigend knik. “Jy lyk bekommerd, maar daar is geen rede tot ontsteltenis nie. Inteendeel. Jy sal binne ’n maand ’n ryk nooientjie wees. Hoe sal jy daarvan hou om soveel geld te besit dat jy jou nie meer oor geldsake hoef te bekommer nie?”
Hy noem ’n reusebedrag met soveel nulle aan die einde dat die jong meisie se oë net groot kan rek. Dit lyk asof haar mond wil-wil oopval. Haar gedagtes is ’n warboel. Effens kortasem vra sy: “Is jy ernstig, meneer Berks? Waar sal daardie geld vandaan kom?”
Die prokureur se gesig raak ernstig.
“Dis heeltemal waar wat ek jou vertel, mits jy bereid is om van jou kant af ’n geringe opofferinkie te maak. Ek noem dit ’n opoffering, maar eintlik is dit die verkeerde woord. Dit hang in elk geval alles net van jouself af. Maar wag, laat ek eers verduidelik.”
Irma lag senuagtig, en die ongeloof lê duidelik in haar oë. “Asseblief, meneer Berks. Dit klink so … fantasties!”
Hy knik en begin dan verduidelik: “Ken jy miskien daardie wêrelddeel om Keimoes en Kakamas?”
“Nee.”
“Wel, soos jy seker self weet, kronkel die groot Oranjerivier deur daardie deel. Dis ’n groot rivier, en oral in die rivier is daar eilande, veral waar dit deur die distrik Keimoes en Kakamas vloei. Daar is byvoorbeeld Kanoneiland, wat so groot is dat daar ’n selfstandige gemeenskappie is, ook ’n kerk en gemeente. Nou, dis maar net ’n voorbeeld. Daar is baie ander eilande waarop die mense plasies het en hul bestaan daarop maak. Dit is natuurlik baie mooi groen daarlangs, en die aarde is vrugbaar.”
Irma luister met belangstelling en raak meer op haar gemak. Sy glimlag nou, en haar blou oë blink terglustig.
“Meneer Berks, jy wil my tog nie vertel dat iemand daar ’n plaas of selfs ’n eilandjie aan my nagelaat het nie?”
Hy lag.
“Nee, ongelukkig nie. Maar dis amper so goed. Luister mooi, juffrou, om daardie bedrag te ‘erf’, sal ons dit maar noem, is ál vereiste wat gestel word dat jy ’n maand lank op een van daardie eilande moet gaan kuier. Nadat die maand lange vakansie verstryk het en jy hierheen terugkeer, sal ek jou tjek vir jou gee. Daarmee kan jy maak wat jy wil.”
Irma kyk die man voor haar ernstig aan. Skeer hy dalk die gek met haar? Nee, tog nie! Hy is heeltemal ernstig, en sy skud haar kop verward. Van so iets het sy nog nooit gehoor nie.
“Meneer Berks, verstaan ek jou heeltemal reg? As ek ’n maand lank op ’n sekere eiland in die Oranjerivier gaan kuier, sal ek daardie ongelooflike bedrag betaal word?”
Die prokureur knik. “Heeltemal reg.”
“Maar … maar wie is die mens wat sy geld so rondstrooi?” vra Irma verbaas, amper verbysterd. Want van kleins af het sy ’n groot ontsag vir geld, juis omdat sy dit nooit in oorvloed geken het nie.
“Ek neem jou nie kwalik dat jy dink so ’n mens moet van lotjie getik wees nie. Maar, nou ja, ons ou wêreld is saamgestel uit allerhande soorte mense. Onder ons kry ’n mens die eksentrieke karakters, en ons het nou met een van hulle te doen.
“My kliënt besit die hele Drakeneiland, soos die eiland genoem word. Dit lê taamlik eenkant, nie juis naby die ander eilande nie. Hy moet skatryk wees, te oordeel na sy rojale aanbod. Ek is al jare lank sy prokureur maar het hom nog nooit persoonlik ontmoet nie. Hy doen al sy sake per korrespondensie. Sover ek kon aflei, is hy nie getroud nie. Heel moontlik voel hy dat hy aan iemand sy besittings en geld wil bemaak – en daarom nooi hy nou ’n paar mense vir ’n maand lange vakansie na sy eiland, sodat hy hulle darem eers ’n bietjie kan deurkyk voordat hy hulle sy erfgename maak.”
“’n Paar mense?”
“Ja. Jy is nie die enigste een wat so ’n fantastiese aanbod gekry het nie. Daar is nog vier ander. Julle sal dus vyf wees wat teen ’n wonderlike vergoeding op Drakeneiland gaan vakansie hou. Wel, juffrou Bruwer, wat dink jy daarvan?”
Sy kyk hom fronsend aan.
“Jou verduideliking klink heeltemal aanneemlik, meneer Berks. Maar waar kom hy aan my naam? Hoekom het hy juis vir mý as een van sy gaste gekies?”
Hy trek sy skouers op.
“Dit kan ek jou nie sê nie. Feit bly dat jy wel gekies is en, juffrou, as jy my voorbarigheid om jou ongevraag raad te gee sal verskoon, sal ek jou aanraai om hierdie wonderlike aanbod met albei hande aan te gryp. Jy sal nooit weer so ’n kans kry nie.”
Sy laat sak haar kop en kyk onseker op haar hande af. Alles het so skielik op haar afgekom dat sy nie dadelik tot ’n besluit kan kom nie.
“Wanneer moet ons daar gaan kuier?”
“Die begin van aanstaande maand, dus oor twee dae.”
“Maar die kollege sluit eers oor tien dae.”
“Ek is seker dat daardie paar dae nie veel verskil aan jou studie sal maak nie, juffrou. Dink net watter beloning daar op jou wag.”
“Wel, ek weet nie,” antwoord sy onseker. “Ek wil eers die saak met my ouers bespreek. Ek sal hulle vanaand bel en môre my antwoord …”
“Dit mag jy ongelukkig nie doen nie,” val meneer Berks haar vinnig in die rede. “Dis een van die vereistes wat ek vergeet het om te noem. Jy mag niemand vertel waarheen jy gaan nie.”
Sy kyk hom verbaas aan, en daar kruip skielik ’n skaduwee van agterdog in haar oë. “Hoekom nie?”
Maar die prokureur glimlag gerusstellend. “Dit klink geheimsinnig en agterdogwekkend, maar my kliënt het ’n baie goeie rede daarvoor. As hierdie vreemde aanbod van hom eers rugbaar word, sal hy eerlank oorval word deur mense wat almal op Drakeneiland wil gaan vakansie hou. Jy weet tog hoe die mens is. Daarom het hy uitdruklik geëis dat die vyf uitverkorenes aan niemand, niémand iets hiervan mag vertel nie. Hy het dit uitdruklik in sy brief aan my gestel. En as daar van julle vyf is wat hierdie