Daar speel ’n grimmige glimlag om Anton se mond.
“Die moontlikheid dat jóú nek gebreek gaan word, is veel groter. Maar as jy nie na my wil luister nie, dan moet jy maar die gevolge dra. Ek kan jou net waarsku. Ek wil gaan slaap. Dis al amper oggend.”
“Nie so haastig nie. Daar is ’n hele paar puntjies waaroor ek eers helderheid wil kry, soos …”
“Ek is nie van plan om vrae te beantwoord nie, Faure. Jy kan maar jou asem spaar.”
Die twee mans meet mekaar. Dan staan Carlyle opsy, met ’n vasberade lig in sy oë.
“Goed, De Woud. Maar daar is ander maniere om jou te dwing om my vrae te beantwoord. Ons praat môre verder. Goeienag.”
Dieselfde vasberade trek is nog om sy mond toe Carlyle die volgende oggend sy plek aan ontbyttafel inneem. ’n Oomblik ontmoet sy oë dié van Anton, maar dan kyk hy na Emerit en Jan. Emerit is effens bleek, en hy merk op dat Jan ook nie te vrolik is nie. Irma hou haar oë neergeslaan en vroetel net haar kos deurmekaar sonder om iets te eet.
“Jy is bleek, Emerit. Wat makeer?” vra hy reguit.
“Ek het ’n dowwe hoofpyn. Weet nie hoekom nie.”
“En jy, Jan? Hoe het jy geslaap?”
“Baie lekker. Nie een keer wakker geword nie. Maar ek voel ook dof in die kop.”
Irma en Carlyle se oë ontmoet oor die tafel. Die tee wat hulle gisteraand gekry het, wás dus gedokter …
“Julle … het nie miskien … verlede nag iets gehoor nie?” vra Carlyle versigtig en Jan skud sy kop.
“Nee. Geen geluid nie. Het jý iets gehoor?”
“Nee. Nee, niks. Ek vra sommer maar.”
Carlyle eet verder, maar daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue, en dis duidelik dat hy nie bewus is van wat hy eet nie. Anton het tot dusver nog geen woord gepraat nie, en Irma voel koud en ongelukkig omdat hy skaars vir haar môre gesê het. Sy voel vererg dat die man se onverskillige houding so ’n uitwerking op haar het. Maar sy weet ook dat sy hom nie durf vertrou nie, nou nog minder ná gisternag se gebeure.
Toe almal klaar geëet het, kyk Carlyle hulle beurtelings aan en sê: “Kom ons gaan stap ’n bietjie buite rond. Dis ’n lieflike oggend.”
“Ek wil liewer ’n hoofpynpoeier drink en weer in die bed klim. My kop voel regtig nie lekker nie,” sê Emerit, maar Carlyle kyk haar gebiedend aan.
“Waar sal jy die hoofpynpoeier vandaan kry? Nee, kom stap maar liewer saam met ons. Die vars lug sal jou goed doen.”
“Dis waar. Ons gasheer het al my poeiers afgeneem. Nou ja, goed dan maar. Wie stap nog saam?”
“Almal stap saam.” Carlyle lê nadruk op die almal en dit klink na ’n bevel. Irma kyk hom ietwat verbaas aan en merk op dat hy reguit na Anton kyk. ’n Oomblik kyk die twee mans mekaar vas in die oë. Dan staan Anton op, sy lippe strak.
Swyend volg die ander, en toe hulle die eerste bosse bereik, gaan Carlyle staan.
“Dis ver genoeg. Ons kan die konferensie hier hou.”
“Waarvan praat jy?” vra Jan en kyk hom verbaas aan.
“Jy sal nou weet. Ons vriend, Anton de Woud, sal jou alles daarvan kan vertel.”
“Anton! Wat …?” Jan swyg en draai vraend na Anton, wat op sy gemak teen ’n kokerboom aanleun, hande in die sakke, terwyl hy hulle kalm in die oë kyk.
“Het daar gisteraand iets gebeur?” vra Jan onrustig.
“Ja. Dis skaars ondenkbaar dat julle dit nie gehoor het nie,” vertel Irma kortliks van haar grusame ervaring.
“Hoe is dit dan moontlik dat ons dit nie gehoor het nie?” wil Emerit weet.
“Julle het ’n verdowingsmiddel ingehad. Dit moet ’n baie sterk slaapmiddel gewees het om julle so vas te laat slaap. Die tee wat julle gisteraand gedrink het voordat ons kamers toe is, was gedokter,” antwoord Carlyle, en daar gaan ’n lig vir Jan op.
“Dis nooit anders nie. Daarom dat ek en Emerit vanoggend albei hoofpyn het. Maar julle … Ek weet Anton het sy tee uitgestort. Maar het jy en Irma dan nie ook daarvan gedrink nie?”
“Nee. Ek het my koppie tee by die venster uitgegooi en Irma s’n terug in die teepot. Maar ek moes seker maak of die tee wel gedokter was of nie, en daarom het ek julle twee nie gewaarsku nie.”
“Dankie,” antwoord Jan effens sarkasties. “En wat was dit wat voor Irma se venster gebeur het?”
“Dit sal meneer De Woud ons kan vertel. Hy was heel toevallig buite toe dit plaasvind,” sê Carlyle, en die insinuasie is duidelik in sy stem.
“Ek weet net so min as julle. Die maan het later eers opgekom. Dit was te donker. Ek kon nie sien nie,” antwoord Anton kalm en Emerit kyk hom agterdogtig aan.
“Hoe het jy uit jou kamer gekom? Of het jou deur nie ook ’n slot aan nie?”
“O ja, dit het. Maar wéér toevallig is sy slot buite werking.”
“Dis nie so toevallig nie. Ek het dit self buite werking gestel – net soos jy gedoen het toe jy jou bril gaan soek het.”
“Het julle nie die vaagste benul wat dit was nie? Kon dit nie ’n roofdier gewees het nie?”
“Nee. Dit was beslis geen roofdier nie. Ek sal jou aanraai om na die ystertralies voor Irma se venster te gaan kyk.”
“Hoekom?”
“Dis byna heeltemal oopgebuig.”
Jan kyk hom skerp aan.
“Dáárdie sterk tralies?”
“Dáárdie sterk tralies, vriend. Gaan kyk en oortuig jouself. Maar dis nog nie al nie. Die interessantste volg. De Woud sal julle inlig.”
Anton kyk na Carlyle en frons.
“Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
“Nie?” Carlyle gee ’n kortaf laggie. “Jou geheue is baie kort. Sal ek jou dit help verfris? Ontken jy dat jy gisteraand uit die kamer was?”
“Nee. Dis waar. Ek was buite. Maar dit weet julle tog al.”
“Ja, maar vertel nou vir ons waar jy was toe jy jou kamer die tweede keer verlaat het.”
Anton kyk na Irma.
“Ek het na Irma se kamer gegaan en haar gerusgestel. Sy kan getuig dat dit so is, nie waar nie, Irma?”
“Ja, dis waar,” fluister Irma en kyk onrustig na Carlyle. Wat voer hy in die mou?
“Goed. Die tweede keer het jy na Irma se kamer gegaan. Maar die derde keer …”
“Ek was nie weer uit my kamer nie.”
“Jy was.”
Die twee mans staan teenoor mekaar en Anton trek sy hande stadig uit sy sakke.
“Ek was nie! En ek begin nou moeg raak vir hierdie kruisondervraery …”
“Dit traak my nie wat en hoe jy raak nie, maar ek sê jou jy het jou kamer verlede nag drie keer verlaat, en ek het jou die derde keer gevolg …”
“Jy praat onsin.”
Anton se stem is net so beslis, en die ander drie kyk hulle beurtelings onseker aan.
Carlyle vervolg sissend: “Dan ontken jy natuurlik ook dat jy weet hoe om die hekke oop te maak.”
“Beslis.”