Anchien Troskie as Elbie Lötter
Dis ek, Anna
Die volle verhaal
Dis ek, Anna
Die staat teen Anna Bruwer
KWELA
Voorwoord
Soos soveel ander Suid-Afrikaners het ek in 2004 kennis gemaak met Anna en haar storie het my so ontnugter dat dit my byna ontneem het van my oorblywende geloof in die goedheid van mense. Ek was kwaad en hartseer en uiteindelik saam bly.
Skaars agt jaar later, in 2012, loop ek en my meisie, wat ook in die filmbedryf werk, in Johannesburg se Rosebank Mall. Ek sien plakkate adverteer Die staat teen Anna Bruwer as ’n opvolg op Dis ek, Anna en ek noem so half in die verbygaan dat ek dit graag wil lees.
Twee weke later gee my meisie die boek vir my as verjaarsdagpresent. Ek lees dit in een middag deur, strompel teen skemer grootoog uit die kamer en sê vasberade aan haar: “Hierdie storie móét ’n film word!”
Afrikaanse gehaltefilms het tot in daardie stadium meestal iewers in die verlede afgespeel; ons het gevoel die tyd en plek is reg vir hedendaagse stories met ’n universele aanslag ten einde die beperkings van Afrikaanse films uit te daag en die grense te verskuif.
Ons het nie die perd geken wat ons met die koop van die filmregte opgesaal het nie, maar slegs geweet dat ons hom sou inbreek al kos dit ook wat.
Vir die manier waarop alles in die afgelope byna drie en ’n half jaar uiteindelik uitgewerk het, sal ek as vervaardiger altyd dankbaar wees. Besonderse mense het bymekaargekom: die bekroonde en talentvolle Tertius Kapp wat sy gewig agter die projek ingegooi het; die Engelse regisseur Sara Blecher wat films tot nog toe net in isiZulu en Sesotho maar nou ook in Afrikaans gemaak het; gerekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Marius Weyers, Elize Cawood, Nicola Hanekom en Dawid Minnaar; en ook van die mees begaafde talent wat agter die skerms werk. Almal het ’n doelwit gedeel: “Ons vertel iemand se storie en dis ’n storie van hartseer, pyn en oplaas hoop en verlossing en ons durf nie met enige iets anders as respek en deernis hiermee omgaan nie.”
Anna se storie het nou ’n film geword. ’n Film waarop ek as vervaardiger baie trots is. ’n Film wat ook meegebring het dat die boek soos jy hom hier vashou, herdruk kon word. Soos die storie in die twee boeke mense wêreldwyd aangegryp het, hoop ons die film sal dit ook doen en nog meer mense sal deur Anna se storie ontdek dit wat met hulle gebeur, is nie die norm of die normale nie. Ons sal hopelik die gesprek harder en duideliker aan die gang kan kry en al hoe meer mense wat alleen met die monster van molestering worstel, kan help om hulp te kry.
Ek salueer elkeen wat deel is en was van hierdie proses.
Kom ons verbreek die stilte, kom ons sit voet neer!
NIEL VAN DEVENTER
Vervaardiger
Dis ek, Anna – Die film
Hermanus, 2015
Vir Lovey en C.J.
Ek was agt jaar oud toe my ma oom Danie huis toe gebring het. Agt jaar. Vandat ek agt was, tot met sestien jaar, was my lewe … anders. Dis al woord waaraan ek kan dink om my lewe te beskryf. Anders. Daarom sit ek vandag, nou, in my motor, op die pad vir agt uur, sodat ek agt jaar van onreg, van hel kan uitwis. As alles goed gaan, staan ek môreoggend drie-uur voor hulle deur. Drie-uur op ’n weeksoggend in Bloemfontein. Dis goed. Hulle sal nog vas aan die slaap wees. Is dit nie so dat die meeste misdaad in hierdie dooie uur plaasvind nie? Maar voor ek daar kom, voor ek iets kan doen, moet ek dít wat ek so lank onderdruk en uit my geheue gewil het, voor my sien. Dan, wanneer ek die pyn onthou, dit vóél, sal ek die moed hê om te doen wat ek moet. Ek moet dit weer kan sien, ek moet dit kan voel. Soos ek hom gaan sien, soos ek sy vrees gaan ruik.
My vroegste herinnering dat alles tussen my pa en ma nie goed was nie, kom uit my sesde jaar. Ek was in die kleuterskool, terwyl my ouers bedags gewerk het. My pa was ’n sersant in die SA Polisie, my ma het by Bantoe Administrasie gewerk. Ons het op ’n plattelandse dorpie in die Oos-Kaap gewoon.
Ek en my ma was in die sitkamer. Die radio het saggies in die agtergrond gespeel. Ek was besig om ’n toring van my houtblokkies te bou, my ma het net gesit. Soos een wat dood was. Of dood wou gaan. Toe stap my pa in, en daar kom lewe in my ma.
“Kyk mooi na hom, jou pa!” skree sy. “Hy is nie meer lief vir jou nie, Anna. Ook nie meer vir my nie.”
“Johanna!” waarsku my pa, maar my ma was buite haarself.
“Wil jy die waarheid vir jou kind wegsteek?” Sy snak na asem, skree nog harder: “Hy is liewer vir ’n ander vrou met drie kinders as vir ons. ’n Slet! Dis by háár wat hy wil wees, Anna. Alta die slet en haar drie kinders!”
Alta. Tot vandag toe haat ek daardie naam met ’n passie. Ek kan ook nie onderskeid tref tussen daardie Alta en ander Altas nie. As ek een ontmoet, word sy dadelik die vrou wat my pa van my gesteel het, die een met die drie kinders vir wie my pa liewer was as vir my. Ek is dadelik antagonisties teenoor die draer van die naam.
My pa het sonder ’n woord verbygestap en gaan stort, ná die tyd op die dubbelbed gelê en rook. Ma het opgestaan, uitgestap. Ek gaan lê by my pa, styf in sy arms, soos altyd. Toe stap sy in met Pa se dienspistool in haar hand.
“Vark! Jou fokken vark! Ek sal jou doodskiet. Dis wat ’n man verdien wat sy vrou en kind eenkant toe stoot vir ’n ander vrou!”
Ek was nie bang nie, miskien omdat ek nie geweet het mens moet bang wees as jou ma dreig om jou pa te skiet en hy trek jou oor sy bors en sê: “Skiet maar!” nie. Later jare, elke keer wanneer ek die toneel weer onthou het, het ek gewonder wie was lief vir my. My ma wat toe nie geskiet het nie, of my pa wat my gebruik het om my ma daarvan te weerhou om hom soos … ’n vark … dood te skiet.
My pa was die vriendelike een in ons gesin. Die een wat graag vir my tyd gemaak het. Wat my saamgesleep het, soms teen my wil, na rugby- en krieketwedstryde. Hy het kort-kort by sulke wedstryde lemoene uitgehaal en gerol tot hulle sag van binne was. Die lemoene was in twee aparte houers verpak. Myne was pure lemoen, die sap het taai teen my ken afgeloop, my vingers aan mekaar laat vassit. My pa het syne die vorige aand in die geheim met spuitnaalde vol brandewyn gedokter sodat hy ná die wedstryd nog vroliker was. As ons ná die wedstryd by die huis opdaag, vol lag, veral as ons span gewen het, sou my ma soos ’n dreigende donker donderwolk oor ons uittroon. Sy sou niks sê nie. My net kamer toe stuur ná ete. Haar woorde sou sy laat opbou tot sy so barstens toe vol van woorde was dat sy nie anders kon as om te skree nie. Op my pa. Nie op my nie. Nie toe nie. Terwyl ek in my bed opgekrul lê, toegerol in my komberse om die snerpende koue af te weer, het woorde, frases deur die mure gesyfer. “Hoe kan jy? Kan jy nie meer verantwoordelik wees nie? Hoe bang dink jy is sy as jy só lyk? Kar omgooi … ongeluk … Jy is veronderstel om die pa te wees, iemand na wie sy kan opkyk!”
Aan en aan tot ek van skone uitputting aan die slaap raak. Wat my altyd sal bybly, is dat ek nooit my pa se stem gehoor het nie. Asof hy nie daar was nie. Asof hy homself toe al onttrek het.
Een Sondagoggend ná kerk het ek die moed bymekaar geskraap om met my ma te praat.
“Mamma, Pappa kyk mooi na my as ons gaan rugby kyk, ek is nie bang nie.”
“Anna,” en toe kom sit sy voor my op haar knieë sodat sy my in die oë kan kyk, “ek weet dis vir jou lekker, ek weet jy het pret, maar dit is nie die regte manier van doen nie. Jou pa is veronderstel om jou te beskerm, met sy lewe as dit moet, nie jou lewe op die spel te plaas nie. Dit is ongelukkig wat gebeur wanneer hy drink en bestuur. Dan kan hy oordeelsfoute begaan. Dan raak dit gevaarlik. Verstaan jy?”
Ek het nie, maar ek het geknik: ja.
Ek kon nie verstaan hoe dit gevaarlik kan wees om pret saam met jou pa te hê nie. Ek is ná daardie dag verbied om saam met my pa te gaan rugby kyk. Ek moes op die stoep staan en vir hom waai, terwyl hy wegry.
Die Saterdag ná my ma met my pa geraas het omdat hy drink en bestuur, het ek en hy gaan visvang. Ek weet nie hoe my