“Nou toe. Donner af poort toe! Daar sal jy groener as groen kak, jou kleinkoppie-gemors!”
“Genade toggie,” sê Ralie. Sy wil haar ore weer toefrommel, maar sy wil Marja nie laat los nie.
“Vrek in jou moer in!”
“Ag genade toggie.”
Die hele volstruiskamp is nou onder water. Oral dryf volstruise soos bootjies, hulle lang nekke soos maste sonder seil. Rustig en onbesorg dryf hulle, pik net af en toe na stukkies skuim en stokke in die water.
“Toe maar, Kindjie,” sê Ralie, asof sy Marja oor haar seun se voorspelling moet gerusstel. “’n Volstruis swem beter as ’n eend. Moet jou nie bekommer nie. Die poort is ver. Die meeste van die struise sal betyds uit die water stap.”
Maar Marja se gedagtes is nie by die volstruise nie. “Hoe noem Antie-hulle haar?” vra sy wat sy die middag op die stoep al wou vra.
Ralie antwoord haar nie. Sy vra hardop wat sy self wonder. “Ai, hoe oorleef ’n kind so, sonder ’n ma?” ’n Rukkie lank is hulle al twee stil. Dan praat Ralie asof sy haastig is. “Die oom het haar gister nog maar werf toe laat kom. Sy is nou groot genoeg, sy kan innie kombuis help. Die bruin mense kan tog mos ook nie vir altyd na haar kyk nie, sy kan innie waenhuis slaap. Haar oorle’ ma se huis, die een daar agter die bult, dié het die oom mos lankal vir die draadmaker gegee.”
“En haar pa dan?” vra Marja.
Maar nou is Ralie weer stil. Haar kop is by haar seun, daar waar hy halflyf in die vloedwater die volstruise nou sommer kaalhand aan die nek vang. Die bamboeshaak het hy vir Victoria gegee.
By tye maak Ralie haar oë toe en bid hardop. Elke keer wanneer sy hulle oopmaak, kyk sy hoopvol na die berg, of God al die wolke afgevee het, soos sy haar kombuistafel skoonvee.
Tog betrap dit haar onkant toe die opgehewe some van die bergskeur skielik tussen die wolke deur om Vrede oopvou. ’n Gebed verhoor; ’n gebed onbeantwoord, want haar kop maak sy eie skeure oop. Dit neem haar terug na ’n dag toe haar klein seuntjie vir haar sê: “Kyk, Mamma, die berg het lippe.”
“Jou pa sê dissie plek waar die Skepper sy byl ingekap het toe Hy met hierie stukkie wêreld klaar was.” Sy was trots op haar slim kind. Met sy lippies wat hy probeer omkrul het soos dié van die berg, het hy haar ’n nat soen gegee.
Ma-Ria was by, sy het kom koffie drink. “Watse lippe? Waar sien jy tog die lippe, Kind?” het sy gevra. Vir Ralie het sy byna benoud geklink.
“Da. Daa. Daaa,” het almal vergeefs beduie.
En haar man, Ralie onthou, het opgestaan en hom styf teen hulle buurvrou aangedruk. Langs sy wysende arm af het hy vir Ma-Ria laat aanlê, reguit na die gleuf en . . . “Kaboem!” het hy berg se kant toe geroep en uit sy onderlyf teen Ma-Ria se boude vasgeskiet. ’n Oomblik het hy so bly staan, toe lekker gelag. “Ek sê vir julle! Vir een bok is daar net te veel koeëls in hierdie voorvadergeweer.”
Daar waar sy staan, voel Ralie weer die seerkry, hoe die vae vermoede sekerheid word. Sy wou haar buurvrou van haar stoep afvloek, daardie dag, maar sy het stilgebly. Waarom weet sy nie. Sy het na haar kind toe gedraai, asof hý haar sou kon help. En Klein-Sarel, so klein soos hy was, het na haar gekyk en iets probeer vra: “Ag, donner tog, Ma?”
Sy pa het uitgebars van die lag. Ma-Ria het saamgelag. Skielik was die woord “donner” snaaks. Elke keer dat haar kind dit gesê het, het hulle harder gelag. Totdat Klein-Sarel begin huil het, en sy wat Ralie is, het haar hart soos ’n ou lap voel skeur.
Hoe anders kon dinge vandag dalk vir haar seun gewees het? As sy destyds haar eie vloekwerk gedoen het, of as sy dit maar net kon regkry om saam met hulle te lag. Só kon sy dalk nog die angel uit “donner” gehaal het. Maar al die jare bly sy luister hoe haar seun namens haar vloek, selfs nou, daar waar hy in die vloedstroom teen die hemele staan en roep.
Toe hy ouer was, het sy hom eenkeer oor daardie dag uitgevra, of hy kan onthou wat hy vir haar wou gesê het.
“Ma weet mos,” het hy gesê. “Ek’s nie lief vir Pa nie, Ma.”
Ná daardie eerste “donner” het Klein-Sarel nooit weer weggesteek hoe hy oor Ou-Sarel voel nie. Ralie het dit gesien, maar niks daaraan probeer doen nie. In die stilligheid was sy bly dat haar kind háár bo sy pa verkies. Maar sy het ook geweet: Haar man sou sulke uitdagendheid nie ongestraf laat bly nie. En daaroor voel sy skuldig.
Gou het dit ál erger geraak. Dit was soos onweer wat opsteek. Eers het Ou-Sarel net gemor en gebrom. “Ek sal met sy gal werk soos wat mý pa met mýne gewerk het. In hierdie wêreld kan dit nie anders nie. Ek soek nog die wildeperd wat ek nie kan inbreek nie.”
“Ag, my man, jou kind is mossie ’n perd nie, met ’n kind moet mens sagkens werk,” het Ralie probeer keer.
Maar oor dae heen het die pa se toorn oor sy seun net ál verder ontsteek. “Ek sal die mannetjie mak maak,” het Ou-Sarel gedreig. “Ek sal doen wat ’n vader se plig is. As die klong hom soos ’n wilde dier wil gedra, moet hy soos ’n wilde dier ingebreek word. Hoe anders dink jy gaan ek hom laat luister as hy nie wil hoor nie? Die temmer moet doen wat die temmer moet doen. As hy hom dan so groot wil hou, moet hy uit my huis uit. Sorg jý dat die rondawel reggemaak word, hy’s mos nou jóú kind.”
Met ’n digbye bliksemslag het Ou-Sarel sy kind en vrou tesame getref. Ralie het haar man se inbrekery van hul seun probeer versag, maar sy het gefaal. Die skuldgevoel het aan haar geknaag, dat sy haar seun in die steek laat, en so was dit, want in daardie eerste donker nagte was Klein-Sarel buite homself van angs. In die pikdonkerte van die rondawel het hy na sy ma geroep, maar al antwoord wat na hom toe teruggekom het, was die stilte. Soms het hy homself geknyp om te voel of hy nog daar was.
Hy vra ’n kers, maar Ralie sê hy sal die plek afbrand, dat sy te bang is hy vergeet om dit dood te blaas. Een nag kruip die kat by hom in, en toe is dit beter, maar sy ma ontneem hom onwetend ook dié troos. “’n Kat suig jou kop leeg,” sê Ralie. “Dit het my ma my geleer.”
Kort voor lank begin Klein-Sarel bednatmaak, sy ma kan skaars voorbly met die lakens.
Ná die eerste paar dae kom vra Ou-Sarel by die wasgoeddraad: “Wil jy ’n man grootmaak, Vrou?”
Sy het na hom gekyk, niks gesê nie, net geknik.
“Dan moet jy onthou: ’n Man móét meester van sy peester wees,” het Ou-Sarel gesê.
Hier waar sy voor die kombuisvenster staan, kom Ralie agter dat sy wrang glimlag. Oor sy selfs dokter toe was met haar kind, asof medisyne sou help. Oor die dokter wat gesê het: “Dis die gevolg van selfbevlekking.” Sy kry ook lag vir haarself, toe sy onthou hoe sy halsoorkop uitgeblaker het: “Die kind was noggie uit die kot nie, toe speel hy al met sy tottie, Dokter. En sy pa bly sê hy issie van God nie.”
Ralie draai terug na die tafel om die versiersuiker aan te maak. Terwyl sy die suiker en botter meng, wonder sy wat dokter Rens oor Ou-Sarel se uiteindelike plan sou gesê het, want kort daarna het sy haar man een nag hoor opstaan. Hy het vir Klein-Sarel gaan wakker maak, en sy het gelê en luister hoe pa en seun buite voor die venster water afslaan.
“Pa is ’n man. Pa is ’n meester. Pa sal jou help,” het sy Ou-Sarel in kort sinne hoor belowe. Toe kom loer sy deur hierdie einste kombuisvenster. Op die maanverligte werf het hulle daardie nag langs mekaar gestaan. Vandag dink sy dit was seker die naaste wat Ou-Sarel ooit aan pa wees gekom het, en dat haar seun daardie nag verder as ooit van sy pa was.
Toe hulle klaar afgeskud het, het sy gesien hoe haar man vir Klein-Sarel ’n toutjie gee om vir die res van die nag sy voorvelletjie mee toe te bind.
“Onthou,