Toe die plaasmense Fourie die huis indra, staan Ralie met haar arms styf om Marja. Marja hoor hoe die antie beduie hulle moet reguit deur voorhuis toe hou. By die voordeur probeer een van die jonges sy hoed afhaal. Marja sien hoe hy haar pa amper by die kopkant laat val. Sy laat sak haar kop in Ralie se nek.
Tóé begin dit reën.
Dit reën soos wat dit net ná ’n droogte kan reën. Dis asof die voorbeeld van die wolke Marja laat verstaan dat sy maar mág huil, saggies en versigtig, soos die eerste druppels. Dit voel vir haar asof sy nooit weer sal kan dink nie. Al wat sy sien, is Ralie se bleek hande om die swart koppie, Ralie wat heen en weer wieg, Ralie wat die koffie tot by haar lippe bring en sê: “Ook hierdie dag is die Here s’n, ook hierdie dag.”
Haar eie koffie kry Marja nie gesluk nie. Die reuk van die suiker wat Ou-Sarel op koerantpapier by haar pa se lyk brand, kom ál sterker deur die oop vensters. Dit maak haar naar. Voor vandag het sy nie die dood geken nie. Toe die oom die eerste vuurhoutjie trek, het sy ’n oomblik lank gedink hy wil haar pa aan die brand steek!
“Dis beter om te keer. Dood is ’n reuk wat intrek,” het Ou-Sarel gesê. “Nes pie in ’n oumenskamer, en laventel is duur.”
Later, toe dit giet soos dit reën, sê Ralie vir haar man: “Die kind het haar ma nodig. Vergeet nou eers jou volstruise, Klein-Sarel sal hulle versorg. Jy sal iemand moet stuur.”
Ou-Sarel roep sy regterhand – sy naam is Phillip Steyn, maar almal noem hom Filstyn. Dis gróót reën dié,” sê Ou-Sarel vir hom. “As dit só aanhou, sien ons vandag nog ’n vloed net van die waters uit die klowe diékant van die berg; dan moet die Groot-Karoo se afloop ook nog bykom. Jy sal die tyding tot annerkant die rivier, tot by mies Ma-Ria moet neem. Sorg net dat jy dadelik terugkom, gehoor? Vat jou koeie, die twee wat gekalf het, saam. En twee rieme. Maak die kalwers duskant aan ’n boom vas.”
Ou-Sarel praat hard en stadig, soos dit sy manier is wanneer hy ’n opdrag gee. Met elke woord wat hy beklemtoon, leun hy nader aan Filstyn.
“Het jy vir my gehoor, Filstyn?”
“Here, Baas.”
“Jy moet kan terug, al is die rivier ook hoe vol. Die koeie sal jou deur die water sleep. ’n Koei los nóóit haar kalf nie. Hier kom groot gemors, ek het al die hande hier nodig.”
“Heretjie tog, Baas.”
“Jy kan maar soveel heretjies as wat jy wil. Dit staan so in die Bybel: As jy om ’n koei met ’n kalf se horings ’n riem vasmaak, swem sy met jou deur enige vloed. Niks keer ’n koei wat haar kalf soek nie. As jy twee koeie vat, maak jy dubbeld seker – Ou en Nuwe Testament-seker. Al twee sal nie versuip nie. Ek het jou hier nodig.”
Filstyn se lippe vorm nog ’n “Heretjie tog”, maar Ou-Sarel gee hom nie kans om dit te sê nie.
“Vat my sweep saam. En sê vir mies Ma-Ria sy moet wag tot die water eers góéd afgeloop het. Ek wil nie nóg ’n begrafnis op my hê nie.”
Dis nie lank nie of Marja sien deur die kombuisvenster hoe Filstyn en sy koeie deur die rivier aansukkel. Die stroom vloei al sterk. Sy wens sy het saam met hom gegaan, maar dan flits ’n weerligstraal oor die water en sy knyp haar oë styf toe.
Ou-Sarel het reg voorspel. Filstyn is skaars anderkant uit, toe is Vrede ’n eiland in ’n see van vloedwater. Marja tel elke bliksemstraal en donderslag. Ook die tellings tussen straal en slag. Dan trek sy dit af van die vorige getal, maal, tel weer by, deel. Die onewe getalle laat haar banger voel as die ewe slae. Maar geen som of getal laat haar vandag beter voel nie. Kort-kort kyk sy af in die gang. En eindelik kom die woorde.
“Ek verjaar.”
“Ag, my kind, Kindjie-kind, genade tog, genade toggie.” Oor en oor sê Ralie die woorde terwyl sy Marja styf, styf vashou.
HOOFSTUK 2
Ai, Sarel. Wat weet ek wat Victoria is, nog in hierdie dae? Wat sou ’n ou swart vrou met ’n nat doek buitendien nog wóú weet? Hier waar ek tussen die koel lakens in doodsweet lê. Sekerlik tog nie dat ek my lewe lank maar net die meidjie in jou volstruiskamp was nie, hè, Sarel? Foei tog! Kamstig veilig teen die voël daar agter haar kleinbaas se doringtak. Dalk was dit al die tyd ek wat aan die verkeerde kant van die tak was. Want geskop, is ek geskop. Of wat sê ek?
Hoor ek jou lag, Sarel? Jy was mos nooit een vir lag nie.
Jy moenie dink ek kla nie. Dit voel vir my ek leef maar altyd in ’n ander tyd. Seker maar van al die dinkery. Ek het agtergekom as ’n mens so dink, so sonder stem met jouself geselskap hou, dan klink jy anders. Amper soos dominee Vos altyd wanneer hy gebid het. Onthou jy? Jy’t altoos gesê jy vertrou nie mense wat met jou in hulle bidstem praat nie.
Met myself praat ek deesdae met so ’n bidstem, Sarel. Ek dink ek bid tot myself. Daarom vertrou ek myself nie meer nie. Daarom behoort jy my ook nie te vertrou nie, Sarel. Hotnotsgot wat ek is.
Ek weet jy hou nie van sulke praatjies nie, maar bly nog ’n rukkie. Moet nou nie weer so gou loop soos altyd nie. Dis vir my lekker as jy hier is, al luister jy dan ook net. Toe ek nog kón praat, was meeste van my gesels met jou in elk geval ook maar net in my kop.
Maar vandag moet jy my hoor, Sarel. Hier waar ek lê, in hierdie bed, is ek in die nood. Wee’ jy hoe voel ek? Soos toe ons kleintyd vir jou pa se volstruise koekepanblomme van die garingbome afgekap het. Die voëls het mos heeltemal jags geword van snoep agter daai blomme aan! Brom-brom, al bronstig in die rondte. Nes mens word van malpitte. Onthou jy?
Ek weet nie of ek banger was met jou daar bo op die leer en ek wat vashou, of andersom nie. Wanneer ék die slag bo was, hoog in die lug bo die spiesblare van die garingboom, het jy mos alte graag die leer gewikkel. Andersom het ek weer nooit geweet waar jy van daar bo af die volgende blom gaan afgooi nie. As die koekepan hier onder digby my bene land, sou die volstruise daarop afstorm, op mý afstorm. Was jy nooit bang ek laat los die leer nie, Sarel? Of het jy maar altyd geweet ek sou my lewe lank so aan jou bly vasklou?
Só rof het dit party dae gegaan, daar by die garingbos, dat ek gedink het ons speel Watter-dood-kies-jy? – ’n volstruis se skop, of ’n garingboomblaar deur jou krop? Vandag, hier in my bed, is ek weer doer in die lug, hoog bo die garingboomblare, Sarel. En ek weet jy het klaar die leer laat los. Want my kop val. Vandaar my nood.
Maar genoeg eers van dié swarigheid. Ek wonder wat Katrien en kroos sal sê, hulle wat Marja so duur betaal om hier by my te waak, as hulle hoor hierdie antietjie dink nog aan naai!
Ai, Marja, ’skuus. Ek sien nou eers jy’s ook hier. Ek weet jy hou nie van growwighede nie, maar voor jy nou weer vir my begin preek, onthou: ’n Stom tong is glad; hy gly sonder swarigheid oor sulke ou woordjies. En kyk, het jy vir my en Sarel darem lekker laat lag! Ai. Daardie dag toe ons hoor jy dog eers naai is Engels!
Ag, hoor hoe roggel die ou bors – is mos nie meer lag gewoond nie. Klink dit nie vir jou ook kompleet soos Sarel se long nie, Marja? Asof ek saam met hom in die nat streepsak was daai dag. En dit oor naai.
Nee wat, ek sê weer: Deesdae is ek elke woord gewoond. Of amper elkeen. Dis net my eie naam wat nog ongemaklik lê, op my tong én in my kop. Verbeel jou! Victoria Regina. Mierkoningin. Ga!
Sien jy, Marja? Hier, in hierdie wit kooi, waar jy jou bediendes my lewend laat uitlê het, hierso lê ek nog altyd – die lakens gevlek met als wat uit ’n oumenslyf kan lek. Alles behalwe woorde. Ek sóú seker nog iets kon gesê het, as ek wou. Ek is die eerste om dit te erken. Maar ek bly liewerster stil. Ek is stil omdat ek stil wíl wees. Ek het lankal ophou praat net om te wys ek haal nog asem. Jy sal dit verstaan, Marja, dalk die beste van almal. Het jy dan nie self so geskryf nie, in een van daardie boekies van jou? Niks sê, issie niks weet nie; niks sê, issie als weet nie – maar niks sê laat ’n mens allerhande anderste gedagtes uitsweet.
En hier sweet ek nou – op jóú matras en jóú kombers. En dáár lê die ding, Marja. Dáár lê die ding.