Daar gooi Ma die kaal malvastingel weg. She loves me? She loves me not? Tel die stingel ook? Of net die blare? Dan ís ek Ma se baster, Ma. Hoe’t die kinders gespot? Maleierbloed. Mal eierbloed. Ek weet eier is nie altyd eier nie. Ek’s veertien, Ma. Die Maleiers het van plaas tot plaas getrek, bouwerk gedoen, sê die mense. Ek weet van mans se eiers, Ma. My pa was glo amper wit, Ma.
Daar lê die stingel nou op die grond. Moer. Moerse moer. Makmoer, malmoer, doodmoer, opmoer, moerskont, moerskont se moerskontjie. Ons verskil te veel, Ma. Daarom is ons altyd verbaas eerder as bly om mekaar te sien. Dit is dit. Kyk hoe mooi, die “ditte” weerskante van “is”.
Vier-en-sestig.
Die treë is op. Hoekom hou die pad dan aan? Eindes is nooit end nie. Ek is jammer die suurlemoensop help nie, Ma. Ek was my hare, elke dag, dit bleik nie. Ek rol my moue af in die son. Kyk, ek trek my hande in my moue in, soos ’n skilpad. Skilpaaie groei stadig, bly lank klein. Ek wil nie buite gesit word nie, Ma. Ek wil by Ma wees Ma. Ek wil in.
“Hallo! Ag, hallo, julle mense, mensies. Gelúkkig het die Jood darem nog so ’n ou ietsietjie gehad. Dinge kom tog altyd so skiélik op mens af. Soos ’n dief in die nag. Twéé swart rokkies, dis al wat ek kon kry.”
Die oom druk-druk Ma se skouer. Ma is mooi. Ma huil mooi. Elke keer as die oom vat, rol ’n nuwe traan onder Ma se kuif uit. Ek wens ek kon my gedagtes aan- en afdraai, Ma, soos Ma Ma se trane laat loop en ophou. Hoe kry Ma dit reg om die traan so lank op die rand van Ma se ken te laat hang? Pa s’n het sommer net afgeval.
Dominee Vos is nou rooier as rooi. Dalk is hy jaloers omdat Ma mooier oor die dood praat as wat hy daaroor preek. Hef Ma al weer Hooglied aan? Hoeveel keer nóg? Ma jok, Ma. Pa was nie Ma se lelie nie. Pa was mos ma se vuurhoutjie. Ek dink en dink te veel. Ek dink ek dink te ver. Liewerster weer tel. Een vers, twee verse, drie . . .
Ek gaan netnou die skottelgoed kombuis toe neem. Dan sal dit stop.
Daar was netnou ’n servet op my kop. Was ek bedek voor God?
Die antie frommel my ore op, soos mens maak met ’n brief met slegte nuus. Dit lyk asof sy wens sy kan hulle weggooi.
Die skinkbord is swaar. Daar is baie skottelgoed. Dit sal makliker wees as ek die onderdeur met my boude oopdruk.
“Dè. Die antie sê ek moet dit vir jou gee. Wat is jou naam nou weer? Jy lyk glo soos jou ma.”
“Victoria. Victoria Regina.”
Swart is swarter van ver af.
Nou moet ek nog net by Klein-Sarel verby. Vir wat tik-tik-tik hy so op die tafel? As hy maar geweet het hoe moeg ek is vir tel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.