Die dag ná die diens het haar pa nog vir die dominee gaan vra of hy nie eendag oor populiere ook wil preek nie. Hy dink langpopuliere is God se eie kerktorings, het haar pa vir die dominee gesê, maar sy kon sien dominee Vos het nie daarvan gehou nie. En toe hulle vanoggend, op pad hierheen, al langs die laning op die slootwal stap, sê haar pa die nuwe baas van die plaas gaan die populiere seker almal laat afkap. Hoekom dan? het sy gevra. Want die oom glo ’n boom is net ’n boom as hy vrugte dra, het haar pa geantwoord. Nou is die moerbei ook nie meer vir Marja mooi nie.
Voor sy haar kom kry, praat sy kliphard, heeltemal te hard vir ’n kind in grootmensgeselskap. “Populiere vat nie leiwater nie. Hulle staan maar net daar op die walle rond.”
Sy kyk na haar pa, probeer agterkom of hy sien sy probeer hom help. Maar Fourie het klaar sy populiere prysgegee. Hy, wat altyd gesê het populiere groei in trappe van vergelyking – mooi, mooier, mooiste – kla vandag dat bankrotskap alle vergelykings oortref.
Toe Ou-Sarel weer praat, hoor Marja die baklei is terug in sy stem. “Nee wat, Fourietjie, jy moet maar net jouself blameer,” sê hy. “Die Bybel waarsku tog duidelik teen prosedeer. Hoe op aarde jy kon gedink het jy kan ’n saak teen mý maak, en dit oor mý water . . . Dit gaan tot vandag toe nog my verstand te bowe! Ek sê weer: Jy’t self jou geld in die water loop smyt, ou Vuurhoutjie. Geld wat jy nie gehad het nie. Net jy selwers, Buurman. Jy self.”
Marja was nog klein, maar sy onthou die hofsaak goed, destyds, oor Vrede se nuwe dam. Hoe kan sy dit vergeet? Haar ma en pa baklei nog amper elke dag daaroor. Voor die dam gebou is, kon haar pa Sondae Vrede se verbyloopwater lei. Wanneer Ou-Sarelgodvresend, soos haar pa partykeer sê, op die sewende dag gerus het. Maar toe slurp die nuwe dam dié Sondagleksel rus-rus op. Hulle plaas het verdor.
Op die dag van die landdros se uitspraak was daar boonop die gedoente in hulle huis. Die koerantman het vooraf kom vra of hy van hulle, as gesin, ’n foto kon neem. Sommer daar op die hof se trap. En haar ma besluit toe om hulle twee daarvoor eenders aan te trek.
“Hoe lyk ons?” het haar ma vir haar pa gevra.
“Soos ’n tweeling waarvan die grote voor geboorte die kleintjie se bloed steel,” het haar pa geantwoord, onthou sy. Sy kon sien hy was dronk.
Haar ma was so omgekrap dat haar pa op die ou end nie eens in die foto was nie, al was dit sý hofsaak. Op die knipsel in die sideboard staan sy en haar ma alleen op die voorblad van Die Oudtshoorn Courant. Onder die foto staan geskryf: Mev. Ma-Ria Fourie en haar dogter, Marja, op die trap van die landdroshof. Mevrou Fourie het gesê hulle aanvaar die uitspraak en dat die reg sy loop moet neem.
Marja kon dit daardie tyd nog nie self lees nie. Haar ma het vir haar hulle name onder die foto gewys: hier en daar eenders, hier en daar anders. “Kyk, Marja, ons name begin met dieselfde letter. M.” Toe het ’n les gevolg oor die koppelteken tussen Ma en Ria, oor hoe die koppelteken die uitspraak verander. “Die koppelteken beklemtoon Ma is ’n má,” het Ma-Ria gesê.
“Jy sal nog leer: Als beklem jou ma, my kind. Al waaraan sy haar koppel, is haarself.” Marja hoor haar pa dit duidelik sê, al sit hy tjoepstil hier langs haar op Vrede se stoep.
Sy skrik toe Ou-Sarel se plathand op sy bobeen klap.
“Nee kyk, Fourietjie, daai landdros het geweet waarvan hy praat. Voorwaar, in die Klein-Karoo het water meer regte as mense. En waarlikwaar, Buurman, ek lag vandag nog net so lekker vir jou kostelikhede soos toe.”
Marja verstaan nie wat so kostelik is nie, maar Ou-Sarel druk ’n vuis voor sy mond en lag eers gie-gie klaar. “Onthou jy, Fourietjie? Hoe jy vir die edelagbare gesê het die afkeersluis op Vrede is nes ’n oumansklier? Dat die ou watertjies wat ek laat verbykom, niks meer is as ’n ou na-pissie nie!”
“Droogte. Droogte, tot in die murg van die siel. Niks is erger as wanneer reën te laat is.”
Sonder ’n verdere woord staan haar pa op. Marja sien hoe hy sy broek hoër oor sy groot maag trek; dadelik vou die borand terug, krul om soos ’n hartseer onderlip. Sy wil opspring. Sy dink hard aan haar pa se eie sêgoed; sy wil vir hom een sê: Son onder rood, môre water in die sloot. Sy wil vir hom sê: Dalk bring die skemer hoop. Maar sy bly sit. Toe hy afbuk en haar op die kop soen, bid hulle al twee stil-stil die Here se naam – eenders, maar tog anders.
Marja kyk hoe haar pa, Fourietjie, die een wat net sy vrou Vuurhoutjie mag noem, met die trap af wegloop van Vrede se stoep. Sy kyk hom agterna. Sy broek hang klaar weer laag. Hy het nie gegroet nie. Hy mik ook nie huis toe nie; daarom loop sy nie saam nie. Sy bly op die stoep sit; dink: Pa gaan seker eers kleinhuisie toe. Pa, met sy blaas.
“’n Boer mag arm wees, maar hy hoef darem waaragtig waar nie só armoedig te lyk nie,” sê Ou-Sarel. “Die Engelse raak maerder van swaarkry; die arm Boere raak vet. Ek wonder hoekom vet Boere altyd sulke niks-stêre het.” Hy gie-gie weer agter sy vuis.
Marja hoor nie wat hy sê nie. Iets is nie reg nie. Sy voel die rekkie weer hard binne-in haar skiet, voel hoe sy ineenkrimp. Sy wil agter haar pa aanhardloop. Sy wil agter hom aan roep. Sy wil vir hom sê dat sy al amper halfpad klaar verjaar het. Sy wil hom ’n drukkie gee. Maar sy bly sit op die stoep, hus met lang ore, en kyk hoe hy met die wegstap al hoe kleiner word.
Haar pa gaan nie kleinhuisie toe nie. Sy broek sak laer met elke tree. Sy gleufie wys al. Marja wag dat die oom moet sê, soos hy altyd sê: Fourie se hele halwe hol wys al weer. Sy wens sy kan sy broek vir hom optrek. Of sy hemp af. Op of af. Op of af. Sy kan nie wegkyk nie. Haar oë bly vasgenael op haar pa se verdeelde boude. Dan is hy by die kampdraad. Hy raak nog kleiner. Hy krimp weg, onderdeur die draad. Die volstruis is kwaai.
Pa. Waar’s Pa se doringtak, Pa? Pa!
Marja spring op. Sy voel nie hoe die antie haar vasgryp, haar half oplig sodat haar voete nie meer aan die grond raak nie. Sy snak na asem in die voue van Ralie se nek.
“My kind, my kind, ag Here tog, Liewe Jesus tog, ag tog, ag toggie, my kind, Kindjie-kind! Moet toggie kyk –”
Marja ruk los. Sy hardloop. Sy hardloop na waar sy haar pa laas onderdeur die draad sien klim het. Al waaraan sy dink, is of sy onderdeur of bo-oor moet klim. Onderdeur? Bo-oor? Sy sien nie hoe Klein-Sarel sukkel om die volstruis te verwilder nie. Sy soek haar pa.
Sy kry hom tussen die groen lusern. Hy lê met sy kop op ’n klip. Sy dink aan Jakob van die Bybel, hý het met sy kop op ’n klip geslaap. Vir ’n oomblik soek haar oë na ’n leer uit die hemel, ’n engel wat daarteen af- of opklim. Maar dis net sy en haar pa. Sy wil die klip sagter maak. Sy druk haar hand onder sy kop in, hoor hom vir oulaas sug: “Sssswaaa . . .”
Sy kyk eers op toe Klein-Sarel haar op die kop tik. Sy gesig is reg bokant hare. Hy is mooi, dink sy. Hy lyk mooi hier oor my pa se lyk. Ons kinders sal mooi lyk. Lyk. “Lyk” en “lyk” kan tog nie dieselfde wees nie, kan hulle? dink sy deurmekaar. Sy spring op. Dan vlieg sy om en hardloop. Heelpad dam toe hou sy haar kop vas, asof sy bang is sy verloor dit.
My ore kan net nog binne-toe hoor, dink sy by haarself. Klop-klop, klop-klop. Ek glo nie wat ek sien nie. Klop-klop, klop-klop. Ek glo nie wat ek dink nie. Klop-klop, klop-klop. Gelukkig pomp my hart ’n ewe getal, twee-twee op ’n slag. Doef-doef, doef-doef.
Dit het nog nie begin reën nie.
Later kom staan Klein-Sarel langs haar op die damwal. “Dè,” sê hy. Hy sit een van sy mooiste klippe in haar hand.
Marja kyk na die klip. Sy voel die gewig daarvan. Sy vryf daaroor. Sy vryf dit soos sy oor haar pa se kop gevryf het. Sy tel ses afgedrukte varingblaartjies daarop. Ses. Die enigste ewe getal wat nié vir haar ewe is nie. Sy gee vinnig die klip vir hom terug.
Klein-Sarel verstaan nie hoekom Marja die klip nie wil hê nie. Dis sy mooiste een; Victoria wou baie rosyne daarvoor hê. Nou weet hy nie wat om daarmee te maak nie. Hy kyk na die klip in sy hand. Dan skiet hy dit plat oor die water van sy pa se dam. Dit hop, hop, hop, hop. Een, twee, drie, vier. Klein-Sarel weet nie dat die