Ou-Sarel brom net. “Ag, Vrou, sit tog nou stil. Jy bekommer jou verniet. Daai klong van jou is ’n taai klein naai.”
Marja kyk af na haar skoenpunte. Sy voel hoe haar gesig weer warm word. Sy wens sy kon agter haar pa se stoel wegkruip. Sy weet wat “naai” is. Sy onthou hoe sy eers gedink het dis Engels, toe haar ma eenkeer in ’n konsert ’n gedig moes opsê: “The end is nigh.”
“Nee kyk, ou meisiekind, met daardie klong van ons sal jy jou storie moet ken. Oom sweer vandag vir jou op die antie se lewe: ’n Kraai het die klein bliksempie gebring en hom langs die pad kant en klaar geleer. Toe hy ’n baba was, het hy al gehuil soos een wat vloek.”
Ou-Sarel lag so gie-gie-gie en maak ’n vuis voor sy neus, asof hy wil nies. Met sy ander hand tel hy eindelik die koevert op.
Marja weet wat nou gebeur. Sy weet wat in die brief staan. Sy weet dat hier nou meer gebeur as wat op daardie klam stukkie papier geskryf is. Haar ma en pa stry al dae aaneen daaroor. Haar pa sê haar ma is verniet so bly Sarel Blanckenberg wil koop; besef sy dan nie haar dogter gaan saam met die grond nie? Haar ma sê dit kon erger gewees het: Die Blanckenbergs is dalk streng met hulle vroue, maar kaalgat is hulle nie, en Klein-Sarel is ’n mooi seun; wil hy dan eendag lelike kleinkinders hê?
Al kyk Marja steeds stip na haar voete, verbeel sy haar sy voel Ou-Sarel se oë op haar. Sy dink aan die dag van die veiling, aan hoe hy na die beeste gekyk en vir hom die mooiste vers uitgesoek het. Sy druk haar kniekoppe styf teen mekaar en draai haar heupe skuins, weg van hom, waag dit eers om op te kyk wanneer sy hom in ’n ander rigting hoor praat.
Marja volg Ou-Sarel se blik oor die werf, af tot by die volstruiskamp en verder, verby sy seun, tot doer by die rivier, daar waar hulle plaas aan die ander kant lê, die plaas wat saam met die brief in die koevert nou syne gaan word, en sy probeer die bewe in haar pa se hand stil druk.
Onder in die land vloek Klein-Sarel nog eenstryk deur: “Kak! Jou slap kák van ’n donnerse voël!”
En Ou-Sarel begin van voor af: “Nou hoor nou net ’n bietjie daar.”
En haar pa sug: “Ja, Swaer.”
En Ralie sê: “Swaar, ja.”
Marja weet haar pa sug oor sy plaas nie meer sy plaas is nie, oor Vrede se nuwe dam, wat sy water weggekeer het. Sy wonder of haar pa weet dat die mense hom Swaar Fourietjie noem, nie Swaer, soos hy seker dink nie. Swáár, soos antie Ralie sê.
Marja skrik. Sê nou sy sê al hierdie dinge wat sommerso by haar opkom, hardop? Om haar gedagtes te keer, begin sy Ou-Sarel se volstruise tel. As daar iets is om te tel, voel sy altyd rustiger.
Op veertig wonder Marja of die oom weet dat die mense oor hom ook skinder. By die veiling het sy iemand hoor sê hy is mal om met hierdie voëls te wil boer. ’n Antie het vir haar ma gesê volstruisvleis het ’n wildheid wat ’n hele hand vol naeltjies nie eens kan afkook nie. In daardie klein koppie is daar niks plek vir verstand nie, nie eens ’n afval om van te praat nie. Haar ma het gegril. Die ou velletjies is ook so klein en vol knoppe, lyk asof die bosluise hulle voos gebyt het. En ag, die ou veertjies. Hoeveel stoffers het ’n mens dan nou nodig? Die goed vrek ook sommer vir niks, het ’n oom gesê. Skop mekaar vrek. Ou-Sarel moet oppas, hulle skop hom ook nog vrek.
Op negentig onthou sy hoe Mister Katz eendag, toe sy weer so oor die volstruise se onbruikbaarheid aangaan, vir haar ma sê: “Og, miesies Fourie, ek dink, ja, ek dink ek weet, dit was mos Moses wat gesê het die volstruis is dalk boonop ’n onreine dier.”
Haar ma het die Jood betig, omrede hy van alles altyd so oortuig is, maar wanneer dit kom by wat in sy Bybel staan, altyd so onseker. “Mister Katz, skáám jy vir jou. ’n Mens moet jou God van binne én buite ken, Mister. Die Bybel is nie ’n volstruiseier wat jy net af en toe uitskud nie.” Toe sy hom klaar vermaan het, het haar ma Mister Katz se baadjie liggies op die skouers afgestof, asof sy hom daardeur sy onkunde wou verskoon.
Marja onthou hoe lank dit haar geneem het om daarna die Bybel deur te werk. Nêrens het Moses gesê die volstruis is ’n onreine dier nie. Job het wel gedink volstruise is dom.
By honderd, klaar getel, sug sy saam met haar pa. “Hel, my kind,” sê hy vir haar, “vandag is dit warmer as in Die Hel én die hel.”
Anders as toe sy klein was, wonder Marja nie meer oor dié dubbele hel waarvan haar pa so graag praat nie. In die hoofletter-Hel, daardie diep kloof aan Prins Albert se kant van die berg, was sy al. Sy luister hoe die grootmense oor die droogte praat, die swaarkry, die afgesonderdheid, die introuery, die gebreklikheid, en sy verstaan. Op veertien is sy oud genoeg om ook van die ander hel te weet: dié hel wat enige tyd, enige plek, enigiets kan wees, selfs ’n stukkie papier in ’n klam koevert, of ’n “nie” wat nie kom nie.
Marja onthou steeds die eerste “nie” waarvoor sy gewag het. Sy dink haar beheptheid met woorde het daardie nag begin. Sy was nog klein, klein genoeg om by haar ma-hulle in die kamer te slaap. Sy onthou haar pa se stem. Hy het vir haar ma gevra of hy maar mag. Mag hy wat? het sy gewonder. Toe hoor sy hom blaas en blaas, sjoe, maar dis warm. En haar ma sê dis warmer as die hel, kry tog nou klaar, en sssjt, moenie die kind wákker maak! Daar. Net daar het die weggelate “nie” die eerste keer op haar gespring. Nie, nie, nie, nie . . . Moenie die kind wakker maak nié. Daar, weet sy, het haar stryd met woorde begin. Met baie woorde. Nie net met “nie” nie.
Marja verstaan dis nie net die hitte wat haar pa so baie sweet met sy sakdoek laat afvee nie. Sy is op die punt om te vra of sy vir hom die sakdoek onder die tenk se kraan kan gaan natmaak, toe Ou-Sarel direk met haar praat.
“Nee kyk, ou kinta, as jou pa dink Die Hel is erg, het hy nog niks gesien nie. Ek sê vir jou, ánderkant Die Hel, daar lyk dit nog tien maal erger.”
Ou-Sarel is die enigste een van hulle wat al verder as Die Hel was, en hy weet dit goed. Verder as die Klein-Karoo se koppies en berge, tot diep in die Groot-Karoo, tot by Drie Susters was hy al.
“In die Groot-Karoo,” vertel hy, “is daar minder as niks. Net kale vlaktes.”
Toe hy stilbly, wonder Marja of die oom verwag sy moet iets sê oor dié niks, wat tog sekerlik ook iets is. Sy maak haar mond oop – amper sê sy iets verkeerds vir ’n grootmens! Maar genadiglik spring die antie haar voor.
“Jy vergeet, ou man, Prins Albert het tog darem mos olywe.”
Ou-Sarel spoeg tot in antie Ralie se malvabos.
’n Lang ruk sê nie een van hulle iets nie. Hulle sit net só en kyk oor die werf. Kyk vir die berg. Marja dink daaraan dat sy nog nooit iemand iets goeds oor olywe hoor sê het nie. Self het sy nog nooit eens aan een geproe nie. Haar ma sê ’n olyf is slegter as die slegste sleg. Sy probeer onthou wat die slegste ding was wat sy al geproe het, maar vandag dink haar kop net aan soetgoed. As Ma onthou . . . Dalk bak sy nou ’n verjaarsdagkoek.
In omtrent elke gesprek in dié halfwoestyn is daar ’n mikstokwoord wat die stilte breek, sê Marja se ma altyd. Dié keer kom dit eerste uit haar pa se mond. “Droogte soos vanjaar s’n behoort g’n mens of dier te aanskou nie. Wie sou nou kon dink mens kan verlang na ou meide met knopkieries?”
Marja sien die trekkie om haar pa se mond. ’n Oomblik dink sy hy gaan glimlag, maar dan is dit weg. Sy weet nie hoe sy hom vandag kan help nie.
Dis asof Ralie die nood op haar stoep aanvoel. “Kyk, doer, sien julle? Die wolkies maak klaar sulke bankies-bankies oor die berg, sekerlik kom dit nog reën vandag, maar laat ek eers nog koffie gaan haal, dalk is daar nog ’n stukkie melktert oor. Ko’ ons gaan kyk, kom, Kindjie-kind, kom jy saam?” Dis asof Ralie hulle met haar langasemsinne probeer troos.
In die kombuis vra Ralie of sy ’n snytjie brood wil eet, maar Marja kry geen dooie woord uit nie. Sy onthou die oggend, sy en haar pa en ma aan die kombuistafel. Toe haar pa bid en dankie sê vir hulle daaglikse brood . . . Sy sien in haar gedagtes hoe haar ma sy koffiebeker van die tafel klap.
“Bróód!