Michael sê niks hierop nie, maar stap uit en is byna dadelik weer terug met ’n naelknippertjie in die hand.
“Gee hier,” beveel hy kortaf.
Sy kyk hom fronsend aan. “Wat wil jy doen?”
“Ongelukkig het al jou naels nie afgebreek nie, en ek wil nie môre lang, rooi vingernaels in my boontjiebredie kry nie.”
“Dis nie rooi nie. Dis pienk!”
“Dis rooi! En moenie die onderwerp verander nie. Dis my bestelling vir môremiddag, hoor? Lekker boereboontjiebredie, van vars boontjies gemaak. Ek sal dit môreoggend vroeg laat pluk.”
Hy gryp weer haar hand vas en teen wil en dank moet Marista toekyk hoe haar pragtige naels – of die stuk of vier wat nog oor is – die een ná die ander verdwyn. Johan kyk maar stilswyend toe. Michael, in hierdie bui, word liefs alleen gelaat.
Hy sien die stormagtige blou oë en die saamgeperste lippies, en hy gryp na die eerste ding waaraan hy kan dink om die aandag van die naelknippery af te kry.
“Wat skryf Lettie alles?”
“Die ou storie. Wouter Malan dit en Marista Minnaar dat. Jy weet mos. Ek wonder of daardie wonderlike Marista ooit ’n goeie invloed op Lettie het. Daardie soort meisie is nie juis my idee van ’n goeie vriendin vir haar nie. Hulle het gewoonlik net ’n mooi geboude figuur, en verder is hulle hol van binne. Nie dat ’n model se liggaamsbou juis vir mý mooi is nie. Die goed is te plankdun. Maar Lettie dink die son skyn uit hierdie vroumens. Ek keur hierdie vriendskap glad nie goed nie. Dan stel sy nogal voor dat sy haar een naweek saam huis toe bring. Dit sal ek nie toelaat nie. Ek het nie tyd vir prikkelpoppe en leeghoofde nie. Sy moet liewer maar bly waar sy is.”
Marista ruk haar hand los toe hy klaar is met haar pienk naels en draai vinnig terug na die wasbak. Johan frons.
“Hoe kan jy so sê, Michael? Jy het die meisie nog nie eens ontmoet nie.”
“Ek het haar klaar deur Lettie se briewe opgesom. Al wat sy kan doen, is om klere aan en uit te trek, niks meer nie. Sy beteken verder ’n ronde nul.”
Gorrr, sê die aflooppyp toe Marista die prop hardhandig uitruk.
Dit voel vir haar asof sy nog skaars haar oë toegemaak het toe ’n stem langs haar bed haar wakker maak.
“Hier is jou koffie, juffrou Greyling.”
Sy worstel om haar ooglede van mekaar af te kry. Dis kompleet asof dit met gom vasgeplak is. Dan sit sy sukkelend regop.
“Wat?” vra sy verward en knip haar oë.
Michael de Beer se wenkbroue skiet omhoog.
“Jou koffie, sê ek. Dis opstaantyd.”
Sy kyk hom met slaapdeurdrenkte, ongelowige blou oë aan, en besef nie dat sy, met haar blonde hare nou loshangend oor haar half ontblote skouers en die sagte roospienk nagrokkie allesbehalwe na ’n huishoudster lyk nie. Sy is nog gans te aan die slaap om op te merk hoe sy skerp oë opsommend oor haar gaan.
“Wat sê jy?” wil sy weer met ’n vae stem weet, en die koffie word hard, ongeduldig op die kassie langs haar bed neergeplak.
“Ek sê dis opstaantyd!”
“Opstaantyd! Dit kan nie wees nie!” Haar oë is nou wawyd oop en gaan vinnig na die venster waar net ’n vae skemering die aankoms van ’n nuwe daeraad verraai. “Maar dis nog nag!” protesteer sy luid.
“Dis vyfuur in die oggend – ten minste, amper vyfuur. Op Duiwelskloof slaap ons nie totdat die son ons uitbak nie, juffrou. Ek eet ontbyt gewoonlik om halfsewe.”
By die deur draai hy terug en kyk na haar waar sy hom nog met dikgeslaapte ooglede en deurmekaar hare op en af sit en beskou asof hy nooit reg wys kan wees nie. “Ja, terloops, ou Sabien het laat weet dat sy nie vandag kom nie. Die rumatiek vreet haar deesdae op. Jy … en Johan sal dus maar vandag alleen moet regkom.”
Sy mondhoeke krul agterdogtig, hoewel sy stem heeltemal ongeërg bly. “En ou Freek is besig om die vuilgoedblik leeg te maak vir die dag se … e … voorraad.”
Marista gee op hierdie oomblik nie ’n duit om of hy die sagte plof van haar kamerjas teen die deur hoor wat hy agter hom toetrek nie. Dis die eerste ding wat sy in die hande kon kry.
Sukkel-sukkel klim sy uit die bed. Om Johan se woorde te gebruik – so ’n dekselse ou Sabien! En is sy nie bevoorreg nie! Kan bekostig om siek te voel. En wat van háár? Sy voel miserabel! Ontstoke! Vaak! Ergerlik! Sy voel siek! Iets is besig om háár ook op te vreet – senuwees! O, sy wens die despoot van Duiwelskloof kry ’n … ’n kramp!
Maar die despoot van Duiwelskloof lyk heel fris en gesond – reg vir die dagtaak – toe hy ’n rukkie later die kombuis binnestap en Marista by die stoof aantref waar sy haar bes doen om te probeer dink wat sy hom vir ontbyt kan gee – of liewer, wat sy in staat is om gaar te maak. Hy plak die groot mandjie groenbone op die tafelblad neer.
“Boontjiebredie vandag, onthou? Hier is die boontjies,” en hy wys met ’n vinger na die mandjie. “Onder in is die uie en aartappels. Roep my as jy ontbyt wil voorsit. Ek is net hier om die draai by die trekker.”
Haar vingers kriewel om weer na ’n gooiding te soek. Die enigste ding in haar onmiddellike bereik is egter net die emmer, vars, warm melk wat ou Freek enkele oomblikke gelede hier aangedra het. Dit was nadat sy duidelik gehoor het toe hy die leë vuilgoedblik weer op sy plek langs die agterdeur neersit – vir die dag se “voorraad”, soos meneer Michael gesê het.
Maar sy het nie tyd om haar ergernis jeens hierdie meneer te staan en vertroetel nie. Daar moet ontbyt gemaak word. Maar wat?
Op die kop halfsewe word Lientjie, die huishulp wat die huis aan die kant moet hou, gestuur om die baas van die plaas te gaan roep. Johan het ook intussen sy verskyning gemaak en laat verbaas hoor: “Maar jy is vroeg op.”
Marista ontwikkel so ’n soet-suur glimlaggie. “Van vyfuur af. Dis glo die gewone opstaantyd op Duiwelskloof. Hier lê ’n mens nie totdat die son jou uitbak nie. Jy behoort jou te skaam!”
Johan moet onwillekeurig lag vir die uitdrukking op haar gesig. “Hy het jou tog seker nie kom wakker maak nie!”
“Alte seker het hy, my jonge vriend. En só galant – met ’n koppie koffie daarby! ’n Regte ridder van weleer!”
Die ontbyt is nie so ’n sukses soos die vorige aand se ete nie. Daar is iets met die pap verkeerd. Dis al asof dit ’n jellerige draad wil trek nes jy dit na jou mond bring. Sodra jy dink dis veilig in die mond, gly dit weer terug na die bord. Johan wend ’n paar moedige pogings aan, maar ná die tweede probeerslag stoot Michael sy bord terug.
“Ons hou van ons pap droog en styf, juffrou. Gee vir my die eiers aan, asseblief.”
Dis doodstil totdat Johan en Marista weer alleen is, en dan vra eersgenoemde vol lag: “Miemie, moenie snaaks dink nie, maar ek is eerlik nuuskierig. Wat het jy in die pap gegooi?”
Dis ’n moedelose, na aan wanhopige Marista wat verduidelik: “Die goed wou nie styf word nie, toe roer ek mielieblom in. Dit maak mos iets styf wat nie wil styf word nie, nie waar nie?”
Johan gooi sy kop agteroor en lag hartlik. “Ja, maar nie by pap nie! Jy moes net nog ’n bietjie meel bygeroer het!”
Marista glimlag maar flou saam. “O, dankie. Môreoggend sal jou ouboet stywe, droë pap kry wat ek hoop in sy keelgat sal vassit. Terloops, hy het ’n hele mandjie groenbone op die kombuistafel kom neerplak. Boontjiebredie vandag. Weet jy iets daarvan af?”
“So vaagweg. Die Bruid sal ons darem seker kan vertel. Ek sal dit vir jou afhaar en sny. Ek weet darem dit. Ek het dit dikwels vir my ma as kind gedoen.”
Die Bruid – soos hulle hul resepteboek gedoop het – verskaf die verlangde inligting