Met die verskoning dat sy net die brediepot wil gaan dophou, stap sy vinnig na binne en Johan se oë rus lank en peinsend op die werf. Wie en wat hierdie geheimsinnige huishoudster ook al mag wees … hy dank die gode dat sy na Duiwelskloof gevlug het. Hy kan hom kwalik iets beters voorstel wat met Duiwelskloof kon gebeur het.
Die boontjiebredie is honderd persent en hierdie keer sê Michael iets daaroor. Dis ’n onwillige glimlaggie wat om sy mond huiwer toe hy van die tafel opstaan.
“Ek het lank laas sulke bredie geëet, juffrou. Dit was nie sleg nie. Seker ook maar meer geluk as wysheid, nè?”
Sy stem is darem nie sarkasties nie, en Marista voel hoe haar eie mond plooi.
“Moontlik, meneer. Baie moontlik!”
Sy voel haar hart van warmte gloei … ’n warmte wat heeltemal buite verhouding met die kompliment is. ’n Mens voel nie so ekstaties gelukkig oor ’n boontjiebredie-sukses nie. Maar vir Marista is die dag skielik volmaak. Al haar moegheid verdwyn soos mis voor die son. Dit voel meteens vir haar asof sy berge kan versit – ook daardie halsstarrige vlek op die mat wat al Lientjie se pogings nie uitgewis kon kry nie. Net vanmiddag gaan sy dit self pak, neem sy haarself ywerig voor.
Marista se skielike lewensdrif verwater egter daardie aand toe hulle ná ete in die sitkamer ontspan en Michael doodluiters ’n bondel sokkies langs haar op die bank neersit.
“Dis die ideale werkie vóór slapenstyd,” laat hy hoor.
Hy gaan sit eenkant en tel sy koerant op. Marista kyk met groot oë hulpsoekend na Johan wat natuurlik weer teen wil en dank wil uitbars van die lag. Sy gee hom ’n moorddadige kyk omdat hy haar so in die steek laat, en laat haar blik mismoedig na die bondel sokkies afsak.
As sy net weet hoe om te begin! Hierdie keer staan sy alleen in die verdrukking. Haar troue kollega en vriendin in nood, Die Bruid, het geen afdeling vir lap- en stopwerk nie. Blykbaar lap en stop die hedendaagse bruid nie meer nie. As ’n ding stukkend raak, gooi jy dit weg – soos sy ook nog maar altyd gemaak het. Maar nie op Duiwelskloof nie! Waarom moet Michael de Beer tog ook so uit die oue doos wees?
Desperaat keer haar blik weer na Johan. Michael het sy koerant laat sak om die nuus oor die radio aan te skakel, en hoewel hy diep belangstellend daarna luister, het sy oë al ’n paar keer in haar rigting gedraai asof hy wonder wanneer sy dan aanstaltes wil begin maak. Kort voor lank sal hy wel iets in daardie rigting begin kwytraak.
Die blou oë roep luid om hulp en Johan doen sy bes om sy gesig op ’n sedige plooi te kry voordat hy opmerk: “Jy het seker nie die regte kleure stopwol nie. Jy sal maar eers moet wag totdat ons weer op die dorp kom.”
Marista sukkel om nie die verligting binne-in haar op haar gesig te wys nie. Ewe sedig beaam sy, nogal met ’n klankie van spyt in haar stem: “Ja. Ek vrees ek het nie hierdie kleure nie. Dis jammer. Dan kon ek dit al vanaand klaargemaak het.”
Michael se lippe dra ’n sweem van ’n fyn glimlaggie, maar hy lewer geen kommentaar nie. Dus is ook hierdie probleem tydelik die hoof gebied.
Toe sy later die stukkende sokkies in ’n laai in haar kamer gaan bêre tot tyd en wyl sy die nodige het, werp sy dit egter ’n nydige blik toe. Iemand sal haar moet leer om sokkies te stop … en gou ook. Maar wie?
Terwyl Marista met hierdie groot probleem worstel, is daar ook ander mense wat ver daarvandaan bekommerd is.
Die eerste is tant Miemie. Noudat Marista weg is en sy Duiwelskloof teen hierdie tyd al bereik het, begin Ouma se gewete haar ry, hoewel dit ietwat laat in die dag is daarvoor, soos sy ook aan haarself erken. Subtiel en baie versigtig het sy Lettie weer oor haar broer Michael gepols en wat sy gehoor het, het haar geensins geruster laat voel nie. As daardie Michael-mens agter die kap van die byl moet kom …
Ook Lettie is om meer as een rede diep bekommerd. Ten eerste natuurlik oor Marista. Waar in die wye wêreld sou sy haar bevind? En wat as sy iets oorkom in die vreemde? Wat as sy iets onverantwoordeliks aanvang?
En benewens hierdie kommer knaag ’n ander een ook aan haar. Dis reeds ’n paar maande al dat Lettie besef sy koester nie net bloot bewondering vir modeontwerper Wouter Malan nie. Tot dusver was dit baie maklik om ’n demper op hierdie groeiende gevoel vir hom te plaas. Lettie was nog altyd baie verstandig vir haar ouderdom, en sy het van die begin af besef dat sy haarself net belaglik sal maak as sy iets meer as professionele bewondering vir Wouter koester.
Om mee te begin is hy verloof, volgens haar persoonlike mening, aan een van die mooiste meisies in die land. Dan ook was Marista vir hom van onskatbare waarde in die opbou van sy modeonderneming. Niemand anders kan werklik Marista se plek in Wouter se lewe inneem nie. Dan: met eerlike, kritiese oë het sy haarself in die spieël beskou en geweet geen man sal haar opmerk en as mens raaksien solank daar ’n Marista of selfs van die ander modelle in die omtrek is nie.
Lettie het gelukkig reeds aanvaar dat sy, soos sy dit self stel, so gemaak en laat staan is. Sy is effens aan die mollige kant, met ’n doodgewone, hoewel vriendelike gesiggie en daar is niks uitsonderliks aan haar nie, soos sy haarself dikwels probeer wysmaak. Al voordeel wat sy het, is dat sy uiters bekwaam is in haar werk en Wouter weet dat hy enige reëling, hoe belangrik ook al, met ’n geruste hart aan haar kan oorlaat in die wete dat dit presies uitgevoer sal word soos hy dit wil hê.
Die vae gevoel wat diep in haar hart gehuiwer het, het sy dus nie vertroetel nie en die saadjie wat tot iets diepers kon ontwikkel, is nie gevoed nie. Maar skielik het alles sedert Marista se verdwyning verander. Skielik leer sy Wouter nie net as werkgewer ken nie, maar ook as metgesel. Meteens is hulle nie net gedurende werktyd in mekaar se geselskap nie, maar ook in hul ontspanningsure … en word dit vir Lettie ál swaarder om te onthou dat sy ’n gek sal wees om hierdie man as meer as net haar werkgewer te beskou.
Hy was nog steeds stil en stroef toe hy haar daardie aand vir die onthaal kom haal het. Sy was seker hy het nie eens opgemerk wat sy aanhet nie. Later in die aand het hy darem begin ontdooi en tot haar eie verwondering het sy ook die aand begin geniet.
Lettie het nou wel nie ’n besonderse uiterlike nie, maar sy het ’n knap brein. Telkens die aand het die een of ander gevatte kwinkslag van haar kant af hom verwonderd na haar laat kyk, so asof hy die eerste keer besef dat daar meer as net ’n bekwame sekretaresse in haar skuil. Hulle het in ’n gemoedelike stemming huiswaarts gekeer en toe hulle voor die deur van haar woonstel kom, het sy hom binnegenooi vir ’n laaste koppie koffie. Hy het skeef geglimlag.
“Dit sal baie lekker wees, Lettie – as jy nie bang is vir jou reputasie nie.” Toe hy sien hoe haar gesiggie dadelik versober, het hy haar hand vinnig geneem. “Ek is jammer. Dit was ongevraag. Ek kan soms nie die versoeking weerstaan om jou te terg nie. Jy moenie my altyd so ernstig opneem nie.”
Hulle het ingestap en hy het aangenaam verras om hom rondgekyk. Weliswaar was hier nie die weelde wat geld kan koop soos in sy eie woonstel nie, maar die woonstelletjie het ’n warm, huislike atmosfeer, en hy het behaaglik in ’n diep leunstoel neergesak en vir die koffie gewag. Hulle het dit in stilte gedrink en hy het duidelik onwillig gelyk om ná ’n rukkie te vertrek.
“Wouter …” het sy onseker begin. “Ek … wil jou om verskoning vra vir wat ek vir jou gesê het. Ek … het seker nie die reg gehad om sulke dinge aan jou te sê nie. Jou private lewe is jou eie. Dit het niks met my te doen nie. Dit was net bekommernis oor Marista …” Haar stem het weggedraal en hy het haar ’n rukkie in stilte beskou, ernstig, asof hy diep dink.
“Lettie, sê my eerlik: Glo jy werklik in jou hart ek is daardie soort man?”
Haar oë was ontwykend. “Ek … weet nie.”
Hy het haar uit die stoel opgetrek en haar hande in syne geneem. Wouter is self nie ’n lang man nie, maar hy moes op haar neerkyk. Sy oë was peinsend, half verward.
“Ek durf jou seker nie kwalik neem nie. Jy ken my net in die werk. Maar jy gaan my nou ook buite die werk leer ken en eendag