SPLIT
Debbie Loots
Queillerie
Die woordverklarings boaan hoofstukke is afkomstig van etymonline.com, ’n aanlyn-etimologiebron, met die uitsondering van dié vooraan hoofstuk 1 en hoofstuk 7, wat onderskeidelik van Google se ingeboude soekfunksie en urbandictionary.com afkomstig is.
Vir Sirk
Nostalgie is nie meer wat dit was nie.
Peter de Vries
Split (n.)
A tear, crack, or fissure in something, especially down the middle or along the grain.
1
Party Saterdae, as die wind nie oor die mynhoop opkom en sand in die oord se swembad waai nie, dan gaan swem Vera.
Die oord is net buite Randfontein en het laas jaar nuwe eienaars gekry, ’n man en vrou van Cradock af. Hulle het nie geweet die mynhoop is so naby die swembad nie. Die dorp se mense het gespot en gesê toe die myn jare terug bankrot gespeel het, het die eienaars in plaas van om die gat toe te gooi ’n swembad gebou, en toe die plek verkoop as ’n oord.
Vera dink die nuwe eienaars was dom om nie snuf in die neus te gekry het oor die naam alleen nie, Dunes Holiday Resort. Die matrieks het elke jaar vir die snaaksigheid die Dunes op die bord langs die pad met spuitverf verander na Dust. En party jare het die munisipaliteit dit nie kom skoonmaak nie, en so het die dorp se mense gewoond geraak om te praat van die Dust Holiday Resort. En die kinders van Dusty’s.
Die Cradock-eienaars het plante bo-op en rondom die hoop geplant om die sand uit die swembad te probeer hou, selfs ou visnette van Durban af opgekoop, die goed met toue aanmekaargewerk en oor die hoop probeer trek. Maar dit het nie veel gehelp nie. Mens kon nooit swem as die wind waai nie, maak nie saak hoe warm dit was nie.
Dis die Saterdag voor die einde van die maand. Vera was dorp toe om geld te gaan trek vir haar board en lodging by haar ma-hulle, en sy het amper nie daarna gaan swem nie. Dis laatoggend en baie warm. In die son lê en tan was nog nooit haar ding nie, sy’s blas genoeg. Maar sy is klaar met die bietjie leerwerk vir haar verpleegkursus en nie lus om by die huis rond te lê nie.
Haar broer Ivan skiet duiwe in die tuin halfdood met haar pa se windbuks en sy kan die verskillende klanke en reuke van die slagting nie meer vat nie – dit terwyl haar ma, wat in die kombuis besig is, soos gewoonlik maak asof sy niks sien of hoor nie.
Dis toe dat Vera ’n lift vat oord toe saam met tannie Martie van langsaan wat op pad Krugersdorp toe is om by haar dogter te gaan braai.
“Jy moet oppas vir die manne by die swembad, hoor jy, Vera,” sê tannie Martie toe hulle ry. Sy kyk haar op en af. Vera het haar minirokkie aan wat sy laas maand by Uniewinkels op rekening gekoop het, die een wat sy net dra as haar pa werk toe is.
Vera kyk by die groen Datsun se vuil venster uit. Sy weet waarvan tannie Martie praat. Die Krugersdorp- en Fochville-ouens wat altyd skelm bier drink by die oord en ogies maak vir die Randfontein-meisies, of enige ander mooi, nuwe gesiggies. En dis veral die klomp wie se meisies swanger is en wat een van die dae moet trou wat op Saterdae soos vlieë om die swembad uitsak.
“Ek’s nie dom nie, tannie Martie,” sê sy, al voel sy so. “Ek ken hulle soort. Ek het ander planne vir my lewe.”
“O. Nogaals, nè?” sê tannie Martie. Vera weet van haar dogter Sara wat laas jaar met ’n appey op die myn moes trou. “En watse planne nogaals, as ek mag vra?”
Vera probeer haar rok oor haar knieë trek. Die helderpers blommetjies lyk skielik vir haar goedkoop.
“Ek wil by Joburg General gaan verpleeg, tannie,” sê sy sag. “As ek volgende jaar klaar is met my kursus op die dorp.”
“Nogaals, nè?” sê tannie Martie. Sy knik haar kop stadig, so asof sy iets weet wat Vera nie weet nie.
Hulle draai regs oor die brug, uit op die ou pad tussen Randfontein en Krugersdorp. Dis nou nie meer ver oord toe nie.
“En waar gaan jy bly in Johannesburg, as ek mag vra?”
Vera kyk vir haar. Vir haar geteasde rooi hare en haar rooi wange. Tannie Martie dra altyd oranje of geel crimplene-rokke wat Vera se ma sê nie by haar vel pas nie. Dit laat haar nog rooier lyk as wat sy alreeds is. Sy’t ’n vetrolletjie om haar maag en haar boarms met hulle puisies dril as sy ratte verander of oor ’n slegte deel van die pad ry.
“By my ma se suster, Brenda, in Triomf, tannie,” sê Vera. “Net totdat ek op my eie voete kan staan en blyplek naby die hospitaal kan kry. As ek eers een-en-twintig is.”
Tannie Martie frons. “Triomf is mos daar waar die polisie die swartes en kleurlinge se huise platgeslaan het, nè?”
“My ma sê so, tannie.”
“Is daai vrou nie skeef nie? Brenda? Jou pa kan haar nie vat nie, soos ek dit onthou.”
“Ek weet nie, tannie.”
“En wat het jou pa nogaals te sê, oor al jou grand planne nou?” vra sy toe hulle uiteindelik voor die oord se bord langs die hoofpad stop. Sy kyk vir Vera.
“Niks nie, tannie,” sê sy en klim uit. “Baai, tannie.”
“Ek kom so vyfuur se kant weer hier verby, Vera. Ek sal jou ’n lift gee as jy voor die bord wag,” roep tannie Martie agterna. “En onthou om te pasop, hoor!” skree sy toe sy wegtrek.
Behalwe vir ’n paar vreemde kinders is dit stil by die swembad. Nie een van die dorp se mooi blonde meisies is daar nie, die klomp wat by Foschini en Edgars werk en altyd daar aankom in hulle bikini’s wat hulle op appro huis toe vat vir die naweek en Maandag weer terughang in die winkel. Vera weet, want hulle swem nooit. Hulle lê net en smeer sonneblomolie oor hulle lywe, druk tissues reg rondom die rande van die costumes in en tan dan die hele dag. Hulle maak altyd asof hulle haar nie sien nie.
Vera dink hulle is jaloers op haar. Nie omdat sy mooi is nie, want sy is nie, hoewel sy mooi gebou is – haar ma sê so, en sy gee nie eintlik komplimente nie – maar omdat sy swem terwyl hulle hulle gemakeupde gesigte met tissues moet druk-druk om die sweet te probeer uithou uit hulle oë, dik van die eyeliner en mascara. Hulle is jaloers omdat sy induik, lengtes swem, haar lang swart hare skud dat die druppels oraloor spat as sy uitklim, haar gesig sonder make-up hard afdroog, en dan in die warm waterplasse op die leiklip rondom die swembad gaan lê sonder om te worry dat haar costume iets gaan oorkom. En sy het self ’n mooi een, ’n swart-en-wit bikini met rooi aarbeitjies op wat sy met haar eerste double-pay gekoop het toe die hospitaal al die leerlingverpleegsters eenkeer vir ’n noodgeval ingeroep het. ’n Massiewe sinkgat het in ’n agterpad tussen Randfontein en Krugersdorp geval en ’n paar mense was dood en ’n klomp beseer. Die helfte van ’n huis langs die pad was weg en twee karre was binne-in. Sy het nog nooit so iets gesien nie. Dit was vir ’n week daarna in die koerant.
Vera skud haar handdoek oor die gras oop en duik in. Sy swem tot sy moeg raak, hang dan oor die rand terwyl sy met haar hande plas-plas in die lou water voor haar. Net toe sy weer wil swem, sien sy hom. Hy lê reg langs haar handdoek, haar uitgewaste blou handdoek, op sy goudgele wat helder afsteek teen die groen van die gras: op sy elmboë lê hy en kyk rond met sy donkerbrille voor sy oë.
Sy sien dadelik hy is nie van die dorp af nie, ook nie van Westonaria of Fochville nie. Hy is maer en seningrig en baie witter as die ander lot ouens wat ná skool lekker vet geraak het van baie braaivleis eet en nie meer rugby speel nie. En wat almal gitswart gebrand is van heelnaweek se rondlê langs die swembad.
Toe doen sy iets wat sy nog nooit in haar lewe gedoen het of wou doen nie, nie eers met Hendrik vir wie sy laas jaar afgesê het nie. Sy doen iets wat haar laat skrik vir haarself. Sy tjaaf hom. Sommer so asof dit ’n alledaagse ding is.
Sy wag eers om sy oog te vang, trek haarself stadig uit die swembad, gaan staan op die rand en trippel so asof die leiklip haar voete brand terwyl sy die water in haar hare van bo tot onder op die gras langsaan uitdruk. En toe swaai sy haar nat slierte heen en weer en