Die jaar toe Emma begin kook het
Ilse de Korte
Tafelberg
Proloog: Maanskyn en merlot
Die mes tref die muur langs Marius se kop en val met ’n gekletter op die teëlvloer. Emma sien hoe hy geskok afkyk na die mes by sy voete en toe met koue oë na haar wat agter die vlekvryestaaltoonbank staan.
“Loop! Nóú. En jy sit nie weer jou voete hier nie.”
“Geen probleem,” kap sy koud terug en gryp die sak messe wat voor haar lê. Sy storm om die toonbank en moet ongelukkig by die deur aan die man se voete neersak om haar mes op te tel. Sy oorweeg dit vir ’n oomblik om die ding net daar te los, maar dit gaan geheel en al teen haar grein in om ’n Wüsthof van eenduisend rand in hierdie walglike man se kombuis agter te laat.
Sy gryp die mes, strek haar tot haar volle lengte uit en baan haar pad driftig maar statig deur toe. ’n Geskokte stilte het oor die kombuis neergedaal. Sy kan aanvoel hoe al die personeellede haar net staan en aanstaar. Die bloed suis in haar ore.
Emma loop teen so ’n spoed uit dat sy amper haar balans verloor toe sy op ’n olierige kol gly. Nie dít ook nog nie. Hierdie dramatiese exit van haar is veronderstel om ’n stelling te maak, nie te veroorsaak dat sy op haar alie beland nie.
Die ent na haar kar toe voel soos ’n kilometer onder al die oë wat op haar gerig is. Sy pluk die deur van haar Golfie oop, gooi die sak messe op die passasiersitplek neer en is sommer lus en steek iets stukkend met die los mes wat steeds in haar hand is. Sy plak dit maar eerder ook langs haar neer en trek in ’n vlaag modderreën daar weg.
Sy ry gans te vinnig op die nat grondpad, maar is te kwaad om nou te let op veiligheid en spoedbeperkings. Mag sy maar van die pad af ry en ’n einde bring aan hierdie pyniging wat haar lewe pas geword het!
Dis eers toe sy die teerpad terug na Upington haal en amper voor ’n vragmotor vol skape in ry dat sy weer gedeeltelik bewus raak van wat om haar aangaan. Die uitgerekte getoet van die lorrie ruk haar uit haar woededwaal uit. Toe sy van die pad af uit die baan van die lorrie uit swaai, ruk die kar dood en vir ’n paar oomblikke kan sy net sit en staar.
Haar hande bewe op die stuurwiel toe sy uiteindelik wel die draai op die hoofpad vat. Namate die adrenalien in haar liggaam afneem, dring die besef deur van wat pas gebeur het, en daarmee saam kom die trane. Sy begin tjank dat die pad voor haar swem.
Haar lewe is verby. Sy sal haar tuinwoonstel op die dorp moet prysgee. Sy sal weer by haar ma-hulle op die plaas moet gaan bly. Sy sal van nuuts af moet begin werk soek. Sy sal vrae moet aanhoor oor hoekom sy nie meer soos haar perfekte broer kan wees wat alles net reg doen nie. Hy is dan al getroud en het ’n kleinkind vir die ouers gebied. En sy? Sy maak net moles by die een werk ná die ander.
Tannie Grieta staan in die tuin en blomme pluk toe Emma die blou Golfie by die oprit intrek. Sy val omtrent by die kar se deur uit en strompel na die sydeur van haar blyplek.
“Jy’s vroeg terug, hartjie. Hoe was die troue?”
Dis net mooi genoeg om haar weer aan die grens te sit. “Ek kan nie nou met tannie praat nie. Sal môre als vertel.”
Haar ma sal seker vir haar sê sy was pas ongeskik, maar daaroor kan sy haar regtig nie nou bekommer nie. Sy wil net in haar kamer kom. Stil en veilig en uit die oog uit. Sy wil ’n bottel wyn oopmaak en op die bank gaan sit en vergeet van hierdie diaboliese dag.
Sy sluit die deur agter haar toe en pluk die sjefbaadjie oor haar kop. Sy slinger die kledingstuk weg en skop met ewe veel irritasie haar Birkenstocks uit. Die een tref die kitaar in die hoek dat dié met ’n getwêng omslaan.
Sy loop na die kombuistoonbank, haal ’n wynglas uit die kas en soek die kurktrekker. Die eerste bottel waarop sy haar hand sit, is ’n merlot, en sy trek dit uit die wynrakkie. Haar geruite broek trap-trap sy sommer net daar in die kombuishoekie van haar lyf af terwyl sy die kurk uittrek.
In net haar broekie en T-hemp, met die glas in die een hand, die bottel in die ander en die punt van die duvet onder haar arm vasgeknyp, gaan klim sy op die bank en gooi haar toe. Dis eintlik te warm vir die duvet, maar sy het die beskerming nodig. Sy wil haarself in ’n kokon toetjank.
Ná die eerste glas grens sy behoorlik. Sommer oor alles: Oor haar werk wat nou nie meer is nie, oor honger kinders in Afrika, oor haar ouma wat drie jaar gelede al oorlede is en oor haar kat wat dood is toe sy twaalf was. Alles waaroor sy al vir jare wou huil, kom in groot, onelegante, snotterig snikke uit.
Sy tjank haar pad deur die bottel wyn en raak op die ou end net daar op die bank aan die slaap.
Desember: Die hoenders in …
“A nee a, genoeg is ook nou genoeg,” praat Diana kliphard langs Emma terwyl sy die gordyne onseremonieel ooppluk, vensters oopmaak en omdraai sodat sy, hande op die heupe, na haar dogter kan staan en kyk.
Emma maak fronsend een oog oop en sien haar ma in silhoeët teen die venster staan. Sy kreun en trek die laken oor haar kop teen die aanslag van die helder oggendson en die herinneringe aan daardie ellendige dag. Sy is terug in haar kamer op die plaas, weer ’n kind in die huis, wat haarself nie eens in vrede kan lê en jammer kry nie.
Haar ma stroop die laken met een beweging van haar af.
“Ma!”
“Jy het jou nou lank genoeg hier lê en verknies. Ek sou sê twee weke is oorgenoeg van dié melodrama. Vandag staan jy uit hierdie bed uit op, klim uit daai vieslike nagklere, stort, was jou hare en sit grimering aan.”
Dis ook haar ma se antwoord op alles. Grimering. Jou pantser teen die lewe, of so iets.
“Die wêreld gaan nog ongesteurd daar buite aan terwyl jy jouself hier binne lê en jammer kry. Gaan maak jou respektabel. Hierdie verslonstheid kom nóú tot ’n einde! En wanneer jy klaar is, bel jy hierdie mense en maak jy ’n afspraak vir ’n onderhoud.”
Haar ma druk ’n stuk koerant tussen Emma se arms in waar sy haar nog in ’n fetusposisie teen die aanslag so vroeg in die oggend probeer verweer.
Die deur klap hard agter haar ma toe, en skielik is Emma helder wakker. Net haar ma kan ’n vertrek verlaat sodat dit lyk asof sy ná ’n encore van ’n verhoog af stap. Die grys hoekie van die koerantuitknipsel steek tussen haar arms uit. Sy wikkel dit vorentoe, maar sien nog nie wat haar ma so op hol het nie.
Uiteindelik sleep sy haar op in ’n halfsittende posisie en gryp die koerant. Waarna moet sy kyk? Waarom wil haar ma al weer haar lewe vir haar probeer reël? Toe sien sy dit raak:
Hoofsjef met bestuursvaardighede gesoek, Chantilly
Restaurant, Hermanus. Aanvang so spoedig moontlik. Kontak Henry by (028) 312 8284.
Hermanus. Dis nie ’n slegte idee nie. Dis ten minste so ver van Oranjedrif af dat sy nie weer vir Marius sal raakloop nie. En sy is van kleins af mal oor die dorp waar sy altyd vakansies by haar oom gaan kuier het.
Dan kry sy haarself eers weer jammer. ’n Paar weke gelede sou sy nog enige uitdaging aanvaar het. Sy wat Emma Lategan is, was een van die land se jong, opkomende sjefs met uitstekende kwalifikasies. En sy het gedink haar loopbaan het uiteindelik op die eksklusiewe wildsplaas Oranjedrif op dreef gekom. Sy sou daar kon naam maak, maar toe loop sleep sy haar naam deur die modder. Sy moes die troue van die jaar in ’n sprokie omskep. En toe omskep sy dit in ’n nagmerrie. Met ’n hele kameraspan om die ramp op film vas te lê.
“Urgh.”
Emma val terug op die kussing. Dis alles eintlik daardie verdomde modelletjie en haar moeilike ma se skuld. Wou mos als na húl goeddunke doen vir die model se troue met haar Springbokrugbyspeler. Wou mos die wie’s wie van die land beïndruk. Sý is die een met die kwalifikasies, maar het enigeen na haar geluister? O, nee.
Mejuffrou Model en haar ma stap eendag by Oranjedrif in asof hulle die plek gaan koop. Die Benades is natuurlik vroeg vir hul afspraak, want hulle hou daarvan om mense onkant te vang. Emma is egter gereed vir hulle