Tannie Pompie se oorlog. Deon Lamprecht. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Lamprecht
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624054207
Скачать книгу
section>

      

      TANNIE POMPIE SE OORLOG

      in die Driehoek van die Dood

      Deon Lamprecht

      Tafelberg

      Vir my seun, Sebastian

      Voorwoord

      Hierdie boek is ’n unieke vertelling oor ’n verskeidenheid mense wat direk en diep deur die Grensoorlog geraak is. Tydens dié konflik het daar in die sogenaamde Driehoek van die Dood in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika baie bloed gevloei.

      Teen 1979 het die South West Africa People’s Organisation (SWAPO) besluit om sy militêre operasies te verskerp en het hy daarin geslaag om jaarliks in die reënseisoen operasies in die plaasgebiede in Tsumeb, Otavi en Grootfontein uit te voer. ’n Paar SWAPO-vegters het in 1980 selfs daarin geslaag om die buitewyke van Windhoek te bereik.

      Hierdie operasies het as die Winterspele bekend gestaan en is uitgevoer deur die sogenaamde Special Unit van SWAPO se People’s Liberation Army of Namibia (PLAN). Hulle was goed opgeleide vryheidsvegters, maar het nietemin elke keer op hul herrie gekry. Tog het hulle daarin geslaag om groot ontwrigting met van hul terreurdade te saai. Talle lede van die veiligheidsmagte en plaaslike inwoners het in die proses die hoogste prys betaal.

      Deon Lamprecht vertel onder meer van twee operasies wat in die kommersiële­plaasgebiede plaasgevind het – operasies Carrot en Yahoo – wat nie alombekend is in Suid-Afrika nie.

      Hy het ’n uitsonderlike aanvoeling vir die menslike emosie agter elke verhaal. Hy vertel die verhale van gewone mense wat geen ander keuse gehad het as om deel te word van die oorlog wat hom binne die Driehoek van die Dood afgespeel het nie. Deon herskep die gebeure van daardie tyd op ’n dramatiese en aangrypende wyse, maar hy doen dit ook met groot omsigtigheid, begrip vir menswees en met deernis.

      Ek kan die geleentheid goed onthou toe die idee om hierdie boek te skryf hom die eerste keer by Deon aangemeld het. Dit was op ’n besoek wat ek en ’n groepie militêre veterane in Oktober 2010 aan Tsumeb gebring het. Dit was deel van ’n slagveldtoer wat ons na Namibië en Suid-Angola onderneem het om ou vriende en basisse te besoek en herinneringe te deel. Deon het saamgekom as joernalis en het later ’n paar artikels oor ons besoek geskryf.

      Ons het die aand om die kampvuur al die oudstrydrosse van die kontrei onthaal. Almal was oudkollegas en vriende van my: Lukas Nel, Ockert Brits, Alex Britz, Dave Keyser en Andy Weyand. Daar het ons met ontsag geluister na hul uitsonderlike verhale, wat die fondament van Tannie Pompie se Oorlog vorm.

      Van die bloedigste gevegte tussen die Suid-Afrikaanse Weermag en die PLAN-vegters is ook in herinnering geroep, soos die hinderlaag waarin ’n Ratel-vegvoertuig op 15 April 1982 betrokke was naby Tsintsabis. Ek sal dié dag nooit vergeet nie, want ek was toe in bevel van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (oftewel 61 Meg), wat die leidende rol in die operasie gespeel het. Deon is as dienspligtige self by 61 Meg aangewend, slegs maande nadat die operasie in 1982 ten einde geloop het.

      Agt van ons soldate is daardie dag deur ’n vlammehel verswelg toe die Ratel deur verskeie tenkafweergranate getref is. Oom Daan van der Westhuizen, tannie Pompie se man, hul skoonseun, Hendrik Potgieter, en hul Boesman-spoorsnyer Jan Kaka was onder die burgerlike vrywilligers wat in dieselfde Ratel gesterf het.

      Tannie Pompie het self vir my oor haar radio die berigte oor die sterftes oorgedra na ons taktiese hoofkwartier, wat deur die nag by Tsintsabis gevestig was. Dit is een van die hartroerendste verhale in die boek.

      Vir sy heldedade tydens die infiltrasies van 1981 en 1982 het Daan van der Westhuizen ’n Honoris Crux vir dapperheid gekry. Ek het die aanbeveling vir sy medalje tydens Operasie Yahoo in Mei 1982 geskryf. Ek het gereeld gewonder of tannie Pompie nie ’n soortgelyke dekorasie vir dapperheid en uitsonderlike diens moes gekry het nie – en nie net die sertifikate vir uitmuntende diens wat sy wel ontvang het nie.

      Ek kon daardie aand in 2010 om die kampvuur vertel hoe ek Tsumeb, Otavi en Grootfontein se mense onthou het. Nie net as gerespekteerde militêre kollegas nie, maar ook as gewone huisvriende. Van die hegte band wat daar tussen die soldate en die plaaslike gemeenskap bestaan het.

      Deon se verhaal oor burgerlikes en soldate se belewenis van die oorlog roer telkens die hartsnare en laat ’n mens se gemoed volskiet. Wie was hulle? Hulle was boere, vaders, moeders, kinders, burgermaglede van Suidwes-Afrika se plaaslike areamag-eenhede, ’n paar staandemaglede van die Suid-Afrikaanse Weermag en dienspligtiges wat nog bitter jonk was.

      Wees gewaarsku, Deon se boek ontketen groot emosie! Dit laat jou onwillekeurig dink aan ’n ander stryd wat gewone mense – oud en jonk, wit en swart – tans in Suid-Afrika voer: die stryd teen geweldsmisdaad, ’n oorlog van terreur in ’n ander gedaante.

      ’n Mens kan nie anders as om diep na te dink as jy hierdie boek lees nie, ook oor die mense van Namibië wat destyds aan die stryd teen terreur deelgeneem het en vandag vrede kan beleef.

      Wie het uiteindelik die Grensoorlog gewen?

      Ek glo dis die mense wat vandag nog in plekke soos Tsumeb, Otavi en Grootfontein woon. Diegene wat uiteindelik die waarheid, bevryding en verligting beleef het soos wat dit in hierdie besonderse verhaal aan ons vertel word. Baie van hulle was destyds geswore vyande, maar vandag nie meer nie. ’n Oorlog van langer as 23 jaar het vir alle landsburgers van ons buurstaat ’n beter vorm van vrede geskep.

      Hierin lê vir my ’n boodskap van hoop, ook vir ander lande in Afrika!

      Roland de Vries

      Generaal-majoor Roland de Vries (afgetree) is die voormalige bevelvoerder van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (1981–1982) en voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër.

      Inleiding

      Een dag in Desember 1982 het ’n groot ystervoël my in ’n vreemde, nuwe wêreld uitgespoeg.

      Soldate is vir min dinge so lief soos slaap, enige tyd, enige plek. Maak jou oë toe en kosbare minute of ure lank ontvlug jy uit die meedoënlose roetine van dril, opleiding om dood te maak, onderhoudswerk en inspeksies. Dié dag se drie uur lange vlug vanaf Pretoria na Suidwes-Afrika se operasionele gebied was ’n geskenk soos min. In die skemerdonker maag van die Hercules-vragvliegtuig, gesus deur die eentonige dreunsang van die motore, was dit soos om jou terug in die baarmoeder te bevind. Selfs die vliegtuig se bynaam, Flossie, het moederlik en gerusstellend geklink. Boetie gaan Border toe, al snorkende …

      Maar die drome van koue biere en warm meisies is alte gou onderbreek deur die harde stamp van die vliegtuig se wiele op die aanloopbaan. Die ystervoël se stert het oopgeknak om die verblindende lig van ’n woedende son binne te laat. Half aan die slaap en gebuk onder die gewig van gewere en rugsakke en webbing swaar gelaai met die bykomstighede van oorlog het ons ’n warm, wit landskap binnegesteier. Ons was hier: Grootfontein, die Suid-Afrikaanse Weermag se deurgangskamp vir vars troepe – “rowe” in die voertaal – onderweg na die arena van die Bosoorlog. En ook die vertrekpunt vir die oumanne op pad terug States toe ná ’n staatsvakansie in die bos, met komplimente van PW, Magnus en kie.

      Daardie eerste nag nog, in ons bruin slaapsakke onder die blinkvet sterre van Suidwes, het ons met die waansin van die Grens kennis gemaak. ’n Kompanie oumanne, vol goedkoop army-bier en euforie omdat hulle huis toe gaan, het besluit die nuwelinge moet gedonner word om hulle behoorlik welkom te laat voel. ’n Gedruis van aanstormende stewels in die donker, krete en vloeke en vuiste wat klap teen vlees. Wie de hel is vriend en wie’s vyand in hierdie plek? Maar ons was die seuns van Vrystaatse mynwerkers en Wes-Transvaalse boere en het uitgedeel so goed ons kry totdat die Militêre Polisie – meat pies in ons taal – die pret kom bederf het.

      Die volgende oggend was daar seer koppe en blou kolle en ná roll call is pleisters en pille aan albei kante uitgedeel. Ons nou bedeesde aanvallers word deur die Flossie ingesluk vir die vlug suidwaarts en ons klouter agterop die oop metaalbakke van vragmotors vir die lang rit verder noord na Ovamboland.

      Dié nuwe landskap was g’n tjoklitboksprentjie nie. Die reguit, skynbaar eindelose pad het soos ’n geweerloop na Angola se kwesbare buik gemik, omsoom met digte, vaalgroen doringbos reg om repe uit onverskillige arms te skeur. Dik, wit sand het