“Ek dink jy moet kom sit.” Anouk se stem flip ’n switch in sy kop. Suur vreet aan sy maagwand en ’n rooi blerts ontplof voor sy oë.
“En ek dink jy moet verduidelik.”
“Rossouw.” Sy raak aan sy elmboog, maar hy ruk weg.
“Ek wag.”
Sy plak haar hande op haar heupe. “Wel, jy gaan lank wag as jy dink ek gaan hier buite praat. Karavaanparke word met skinderstories aanmekaar gehou. Kom in, dan gesels ons soos grootmense.”
Die lag wat oor sy lippe breek, proe bitter. “Soos grootmense? Is dit nie bietjie laat nie? Sewe jaar, om presies te wees?”
Sy vee oor haar oë. “Ek wou nooit gehad het jy moes só uitvind nie.”
“Jy wou nie gehad het ek moes uitvind nie, punt.”
“Dis nie waar nie. Ek het Skyla belowe ons kan jou gaan opsoek.”
“Wanneer?”
“Ek het gedink, um, wanneer sy agtien is …”
“Agtien?” Hy druk sy hande in sy sakke, want hulle jeuk om haar aan haar smal skouers te gryp en te skud. “Dis oor twaalf jaar!”
“Ek kan somme maak,” sug sy. “Oor twaalf jaar sal Skyla oud genoeg wees om …”
“Te stem en te bestuur en drank te koop.” Hy snork. “Is dit nie erg genoeg dat jy ses jaar gesteel het nie? Ek het haar eerste tree gemis. Haar eerste Krismis. Haar eerste glimlag en …”
Sy druk hare agter haar oor in. “Ek’s jammer.”
“Jammer is boggherôl werd, dit kan daai jare nie terugbring nie.” Hy voel of hy kan skreeu … of hy die deur uit die kosyn kan ruk. “Hoe kón jy? Haat jy my soveel dat –”
“Natuurlik haat ek jou nie. Kom seblief in voor die hele karavaanpark jou hoor.”
Die karavaanpark? Wetter, daaraan het hy nie eens gedink nie. Sy maak sy kind – sý kind – in ’n trailer groot.
Hy druk by haar verby en stamp die deur toe. “Verduidelik, ek luister.”
“Wil jy iets drink?”
“Dit is nie ’n tea party nie.”
“Iets uit die bottel, nie die ketel nie. Lyk of jy dit nodig het.”
“Van wanneer af het jy drank in die huis?” Haar pa het hom doodgedrink kort na hulle mekaar leer ken het. Sy was nog nie eens sestien nie. Het nooit haar mond aan alkohol gesit nie, nie eens ’n slukkie sjampanje nie. Net altyd gesê sy is bang dis in haar bloed.
“Moenie maak of jy my ken nie. Daar het baie water in die see geloop.”
“Sê sy vir mý!”
Sy ignoreer die verwyt en haal twee wynglase uit. “Rooi of wit?”
“Gee maar wit.” Niks is slegter as rubbish rooiwyn nie, maar as hy nie nou iets doen nie, gaan sy kop ontplof. “As dit koud is. Moet om vadersnaam net nie ys daarin neuk nie.”
“Toemaar, ek onthou. Net paloekas gooi ys in hul wyn.”
Sy pa se woorde. Sy haal ’n boks witwyn uit die antieke blou yskas. Rossouw se oog val op ’n pakkie jogurtbakkies met Barbie-prente op. Skyla s’n. Sy kind s’n. Die idee wil nie insink nie.
Hy gooi die eerste glas in sy keel af sonder om te proe. Hou sy glas uit vir nog. Anouk lig haar wenkbroue, skink dan weer.
“Kom.” Sy loop voor hom uit na die ander kant van die woonwa. Die ding lyk anders as die een waarin sy en haar ma gebly het. Dis klein, maar dit voel na huis. Skoon, netjies, sonder die oorvol asbakkies of koolreuk wat hy so verpes het. Kyk, dis als ou goed, maar selfs hy, met sy minimalistiese penthouse, kan sien dis nie gemors nie. Dis retro. Vintage. Eenhonderd persent Anouk.
Die beddens is opgemaak om ook as banke te dien. Sy gaan sit oorkant hom, sit twee glasmatjies op ’n tafeltjie tussen hulle neer. Nie ’n tafel nie, sien hy, dis ’n ou laai wat geverf en op sy kant gedraai is om ’n kinderboekrakkie te maak.
Hy trek ’n kussing agter sy rug uit en gooi dit eenkant. Daar is ’n hele werpsel van die verpestelike goed: langes en kortes en kleintjies en grotes. “Vat jou tyd.” Hy klink soos ’n poephol, hy weet, maar hy wíl vere voel. Hy wens hy kon iets sê wat haar so diep sou sny as dit wat sy nié vir hom gesê het nie. Gedagtes val in sy kop soos domino’s. “Hoekom?”
Haar mondhoeke krul in ’n bittersoet glimlag. “Is dit nie obvious nie?”
“Nee.”
Sy draai die stukkie hare, wat weer ontsnap het, om haar vinger. “Wat het jou pa nou weer oor my gesê, Rossouw?”
“My pa? Waddehel het hy met hierdie hele êf-op te doen?”
“Haar naam is Skyla.” Sy druk haar hande tussen haar knieë in, maar haar oë blits. “En as jy weer na haar as ’n êf-op verwys, kan jy in jou kar klim en ry.”
“Man, ek het dit nie so bedoel nie. Ek’s de moer in en met goeie rede.” Hy drink van sy wyn. “Sk …” Die naam haak agter sy gorrel vas. “Skyla. Wat het sy met my pa uit te waai?”
Anouk skud haar kop en staar na die matjie onder haar voete. “Dink bietjie, toe. Hoekom was hy so teen my?”
“Julle was nie ryk nie.”
“Bingo. En jy weet mos wat enige arm meisie se lewensideaal is.”
“Wat?”
“Om ’n ryk ou soos jy met ’n slappe te vang.”
Verdomp, sy’s reg. Só reg dat hy sy vuis deur die agterruit met die kantgordyn wil slaan. Hoeveel keer het Pa hom gewaarsku om weg te bly van Anouk om dié einste rede? En toe hy nie wou luister nie, het hy ’n preek gekry oor “trailerterte” en “vermorste geleenthede” en ’n testament wat verander kon word. ’n Preek en ’n voorraad kondome. Wat hy obviously nie behoorlik gebruik het nie.
“Fine.” Hy steek sy hande op. “Hy hét so gesê. Maar boggher hom, wie gee om wat hy dink? Ek’s nie my pa nie, ek het die reg gehad om te weet.”
“En ek sou jou vertel het.” Sy tel haar wynglas op, draai die steel om en om tussen haar vingers. “Ek was op pad om dit te doen, toe hoor ek met my eie ore hoe jy oor my voel.”
“Waarvan praat jy?”
“Kan jy regtig nie onthou nie?”
“Al wat ek onthou, is dat jy mysteriously jou gat gewip het. Ek het jou gebel en ge-SMS tot jou nommer ophou werk het. Ek was hoeveel keer by julle, maar jou ma het gesê jy wil my nie sien nie.” Hy kan nou nog nie aan daardie tyd dink sonder ’n hol kol in sy maag nie. Eers het hy hom wysgemaak dis net sy ego wat ’n knou gekry het, maar selfs die serial dating in sy tweede jaar kon die gat nie toestop nie.
“Jy onthou regtig nie?” Sy skud haar kop. “Kom ek help jou bietjie. Wat het daardie laaste dag gebeur waarop ons mekaar gesien het?”
Sy harsings pyn soos hy dink. Niks.
“Ag, jimmel tog!” Sy plak haar wynglas so hard neer dat dit ’n wonder is die steel breek nie morsaf nie. “Ek het julle hoor praat, oukei? Vir jou en jou pa. Ek het nie bedoel om af te luister nie, maar julle kombuisdeur was oop en julle het op mekaar geskreeu.”
Sy buig vooroor asof sy miltsteek het.
Sy bors trek toe. Hy’s de bliksem in vir haar, maar hy wil haar nie ontsteld sien nie. Moet hy langs haar gaan sit? Sal sy hom toelaat? Liewer nie. “Ek’s jammer, ek onthou nie.”
“En ek’s jammer ek kan nie vergeet nie!” Haar stem klim. “ ‘Chill, Pa, dis nie ernstig nie. Dis net ’n jol.’ ”
Begrip