Met die wanpraktyksaak wat boonop vir haar lê en gryns … As sy nie kan babas vang nie, is sy in haar moer.
Ligdag is haar lyf deurgelê, haar kop suf gedink. Dis ’n verligting toe sy kan opstaan om Skyla na haar speelmaatjie te neem. Soos gewoonlik moet sy haar soebat om ontbyt te eet, om klere aan te trek wat by mekaar en die weer pas, om haar te roer sodat hulle nie laat is nie. Die kind babbel een stryk deur oor haar pa, en Anouk is stokflou toe sy eindelik by klein Mia se huis wegry.
Op pad terug moet sy haar dwing om na die see en die berge te kyk, régtig te kyk. Selfs al woon sy van altyd af hier, neem sy gereeld ’n wilsbesluit dat die natuurskoon nooit vir haar sommer-net sal word nie. Elke dag drink sy die uitsig in, voed sy haar siel. Lewe in die oomblik, dis haar motto, want dis al waarvan ’n mens seker kan wees. Veral as jou pa aan lewerversaking dood is omdat hy wou ontvlug, en jou ma langs die kombuistafel neergeslaan het weens ’n massiewe beroerte.
Vanoggend ontglip die oomblik haar. As haar gedagtes nie terugloop op die paadjies van haar agtiende jaar nie, knoop haar derms oor die toekoms. So ingedagte is sy dat haar hart omtrent oor haar diafragma struikel toe sy die blink sportmotor voor haar woonwa sien. Rossouw rus teen die enjinkap, die sondige sex appeal self. Hy dra jeans met ’n toeknoophemp, die presiese kleur van sy kykers agter sy designer shades. Teen sy donkerblou baadjie steek die tannies in hul kamerjaponne en die ooms in sweetpakke sleg af.
Haal diep asem, Anouk. Sy klim met wankelrige bene uit, slaan die Chevy se deur onnodig hard toe. Sy klop die kar verskonend op die dak en voel soos ’n idioot toe Rossouw se een mondhoek lig.
“Môre,” sê sy, haar stem dapperder as wat sy voel. “Jy’s vroeg op.”
“Laat wakker. Ek het nooit gaan slaap nie.”
“Dit maak twee van ons.”
Hy bring ’n kartonhouer met vier wegneembekertjies te voorskyn van agter sy rug.
“Seker dis genoeg koffie om jou ’n buzz te gee?”
“Dit is joune. Ek het klaar gedrink.” Hy hou die houer na haar uit. “Ek het nie geweet waarvan jy hou nie. Vanilla latté, hazelnut latté, gewone cappuccino of mocha. Pick your poison.”
Sy weifel ’n oomblik.
“Vat, toe. Dis ’n olyftakkie.”
’n Van der Linde met ’n vredeoffer? Interessant. “Watter een is vanilla?”
Hy soek die regte bekertjie uit en vat die houer terug.
“Jy wil dit dalk in die mikrogolf sit, ek het ver daarmee gery.”
“Ek het nie ’n mikrogolf nie. Die strale gee kanker,” sê sy met ’n ophaal van haar skouers.
“Dan moet jy maar koue koffie drink.” Hy knik in die rigting van haar tuinstoeltjies. “Kan ons gesels? Sommer hier buite, dis ’n lekker oggend.” Hy draai sy kop skeef. “Ek sal nie hard praat nie, ek belowe.”
“Môre, Anouk!” roep tannie Hendrien, wat al terugkom van die see met haar visstok en blou koelboks. “Lekker geslaap?”
Anouk waai terug sonder om oogkontak te maak. “Kan ons eerder langs die strand gaan stap?”
Rossouw kyk na sy skoene, wat waarskynlik meer kos as wat sy in maande verdien. “Ek’s nie juis aangetrek daarvoor nie.”
“Ag, trek die dêm goed uit.” ’n Vlaag irritasie trek deur haar. “Live a little.”
Hy kyk ’n paar sekondes stip na haar. Dis onmoontlik om seker te wees wat in sy kykers – of sy kop – aangaan agter daai gitswart lense.
“Wil jy gou die ander koffies gaan uitdeel? Soos ek jou ken, is jy pêlle met almal.”
“Gaan jy nie nog een drink nie?”
Hy laat sak sy lang lyf op ’n tuinstoel en trek sy skoenveters los. “Ek drink nie koue koffie nie.”
Sy wag nie vir Mollie om die deur oop te maak nie, klop net en sit die koffie op die draadtafeltjie neer. Later sal sy verduidelik. Sy drafstap terug na haar woonwa. Albei Rossouw se skoene is uit, sy kouse pyn-in-die-gat netjies opgerol. Eina-eina stap hy oor die klippies om alles in sy sportmotor te bêre.
“As jou voetsole marshmallows is, hoef ons nie te gaan nie.”
“Kom.”
Sy skop haar plakkies halfpad onder die karavaan in, en hulle stap met die voetpad af strand toe.
“Waar’s sy?” vra hy.
“By ’n maatjie gaan speel. Ek gaan haar laatmiddag haal.”
Emosie flits oor sy gesig. Verligting? Teleurstelling? Sy weet nie.
Anouk gooi haar leë bekertjie in ’n groen drom en loop voor hom uit tot in die skuim, waar die branders aan haar tone lek.
“Sjoe, maar die water is koud,” kla hy toe hy langs haar inval. “My tande pyn eintlik.”
“Wimp.”
Hy lag saggies en haar maag rol op die ander sy.
“Ek het dit verloor gisteraand,” sê hy. “Ek’s jammer.”
“Dis ék wat om verskoning moet vra. Ek weet nie wat ek destyds gedink het nie.”
“Kyk, ek sal nie vir jou lieg nie, ek wens ons kon die horlosie terugdraai. Maar jou redes is nie onmoontlik om te verstaan nie.”
“Dankie,” sê sy sag.
“Wat het jy vir haar gesê? Dink sy dis ek wat nie deel van haar lewe wou wees nie?”
“Natuurlik nie. Ek het haar die waarheid vertel: dat jy nie van haar geweet het nie.”
Die oggendluggie is koel en sy vryf oor haar boarms. Rossouw glip sy baadjie af en hang dit oor haar skouers.
Sy glimlag vir hom, dankbaar dat die atmosfeer vanoggend ligter is. “Altyd die gentleman.”
“Jy gee my te veel krediet.” Hy haal sy sonbril af en haak dit oor sy hempsak. “’n Gentleman sou nie gelieg het om sy pa van sy nek af te kry nie.”
“Water onder die brug,” sê sy.
“’n Gentleman sou sekerder gemaak het van kontrasepsie ook. Wat kan ek sê? Ek was jonk en oorhaastig en wanneer ek by jou was –”
Sy wil haar ore toedruk, wil nie dink aan hoe dit tussen hulle was nie. “It takes two to tango,” onderbreek sy hom. “Sorry, nog een van daai clichés wat jy so haat.”
“Hei –”
“Daar’s iets wat jy mooi moet verstaan voor jy jou verder verwyt. Ek was nog nie een oomblik spyt oor Skyla nie.” Sy skop na ’n stuk seebamboes. “In elk geval nie vandat sy gebore is nie.”
“Love at first sight, soos mense sê?”
“Vir my was dit.”
Hy rus sy hand tussen haar blaaie. Lig, vlugtig, sodat sy wonder of sy haar verbeel het. “Vertel my van haar. Ek het soveel gemis, ek wil als weet.”
Sy byt die binnekant van haar wang. “Jy hét baie misgeloop. Ek het my gisteraand vir die eerste keer behoorlik in jou skoene geplaas.” Sy draai na hom. Hiervoor moet hy haar in die oë kyk. “Jy’s reg, jammer is nie genoeg nie. Al wat ek nou kan doen, is om te belowe jy kan voortaan so betrokke wees soos jy wil.” Solank jy haar nie van my wegvat nie.
“Dankie, ek gaan nie nee sê nie.” Hy vee oor sy glad geskeerde ken en die begeerte om sy gebeitelde onderkaak na te trek, om haar voorvinger in die duikie in sy ken te doop is amper onweerstaanbaar.
“Ek