“Ek kan maar net vir jou sê wat nie regtig ’n geheim is nie. Dalk weet jy dit al: Roux se vrou was Dawie se dogter.”
Sy is stomverbaas. “Ek verstaan nie. Is dit ingewikkeld, of is ek dom?”
“Roux en sy vrou, Luna, was ’n skoolkys, afkomstig van buurplase. Na skool het hulle gaan studeer. Hulle is eers getroud nadat Roux terug plaas toe gekom het. En daarna is haar pa, Dawie, getroud met Roux se ma, Lammie. So ’n oorkruis familieknoop.”
“Ideale teelaarde vir familievetes,” reken sy. En genoeg rede vir die grootouers om self ’n tweede vrou vir hulle seun te soek, snap sy verder, bly oor die bietjie lig wat uiteindelik op die groot raaisel skyn; ’n vrou wat self moeder is en dalk nog enetjie in haar sorg sal wil opneem. Die rede seker ook hoekom hulle so teen Nerida Nel is. Sy sal waarskynlik nie kans sien om ’n ander vrou se kind groot te maak nie.
“Ja. Dit was voor my tyd. Maar toe ek hier kom, was Roux swaar in rou, oor sy vrou se dood.” Dis al wat Johan Jonker sê, terwyl hy haar steeds nie nooi om te sit of ’n koppie tee te drink nie. Meteens besef Berna die waarheid: haar besoek stel hom in die verleentheid. Vrou-alleen, en daarby ’n jong weduwee. Die ou koster verrek dalk sy nek. Wat ’n sensitiewe situasie vir iemand in sy posisie.
Byna oorhaastig neem sy afskeid, en hy keer haar nie. Eers toe sy op pad is na die groot sinkdakhuis tussen die vrugtebome, dink sy: Hy weet nie eens wat ek by hom kom doen het nie. En om die waarheid te sê, weet sy self ook nie meer mooi nie . Sy onthou net dat sy, om die een of ander rede, opreg gefnuik en diep weemoedig voel, asof ’n veilige toevlug haar ontsê is.
7
Dinge kan soms absoluut gelyktydig in ’n mens se lewe gebeur. Nooit het Berna dit so sterk besef as met die ontvangs van die twee tydings gelyk nie. Eers bel Julia. En huil.
“Ek wil jou graag troos, Julia, maar ek weet nie waaroor jy huil nie,” paai Berna. Daar is weer die absoluut onsinnige ingewing dat dit oor Ronald kan gaan. Ronald wat dood is.
“Hoe kan ek nou oor die foon vir jou sê?” Julia huil harder. “Daar waar jy is, kan almal mos nog inluister na wat ’n mens praat.”
“Dit is nie so nie, Julia. Die dorp het ’n outomatiese sentrale. Jy kan regtig maar praat.”
“Ek het net gedink om te vra as jy dalk stad toe kom, moet jy hier aankom.”
“Maar ek sal julle mos nie oorslaan nie, Julia. Hoewel, ek was nie van plan om gou te kom nie. Ek het my hande baie vol hier met die nuwe werk. Maar sê my, is dit ’n saak van dood en lewe?”
“Daar is meer dinge op aarde as dood of lewe.” Dis die eerste diepsinnige ding wat Berna nog ooit vir Julia hoor sê het. “Of ja, sê maar dit is.”
“Is wat?”
“’n Saak van dood of lewe.”
“Kan ek met Ron praat?”
Maar Julia het of nie gehoor nie, of sy ignoreer die versoek, want sy sit die gehoorbuis neer sonder om te groet. Dit is nou ’n mooi grap, besluit Berna. So ’n oproep is genoeg om ’n mens die bloue harnas in te jaag. En hier by die winkel kan sy beslis nie nou weg nie. Wat aan ’t gebeur is, is byna soos die oopskiet van ’n volryp saad. Noudat al die boekwerk in orde is en dinge kan begin loop, is daar ineens geen keer nie. Berna bevind haar midde-in ’n florerende saak waarvan sy die absolute spil is. Ja, want Lammie geniet dit deesdae meer om pop te speel. Die tweeling is soos hanslammers op haar hakke.
“Herinner hulle jou aan jou kleindogter?” het Berna haar een aand, na haar besoek aan Johan Jonker, onverwags gevra.
Lammie het nie gevra hoe sy weet nie en na ’n tydjie net peinsend gesê: “Ek het ’n foto’tjie van haar in my Bybel. Wil jy sien?”
“Natuurlik. En jou ander kinders, tannie Lammie? Jy het in die begin vir my gesê jy het ander kinders gehad.”
“Ja, maar ek het hulle nie meer nie, want hulle ken my nie meer nie. As hulle hier kom, gaan hulle by Roux op die plaas kuier; by hulle broer, ja, maar nie by hulle ma nie.”
Daar was soveel bitterheid onder die oppervlakte, dat Berna die ondervraging wyslik gestaak en in plaas daarvan die foto van die kleinkind bestudeer het. “Bambie le Roux,” staan agterop geskryf, en die blonde meisietjie lyk te onskuldig om ’n twisappel te wees. Wat is die lewe tog ingewikkeld. Ja, ook hier op Rensdal. Is dit nie wat Johan Jonker die eerste aand gesuggereer het, toe hy vir Uys Krige aangehaal het nie?
Enkele ure na Julia bel Berna se ou stiefpa. Hy huil ook, maar sy eien dit onmiddellik as krokodiltrane. “Is my ma siek, oom Japie?” Sy het hom nooit “Pa” kon noem nie.
“Nee, erger,” sê hy in ’n gebroke stem. “Sy het die tydelike met die ewige verwissel.”
“Dood?” Berna voel die bloed uit haar gesig wegsyg. Haar ma, die enigste band met haar andersins familielose verlede. Die enigste een wat geweet het hoeveel eindelose middae die klein Berna op die koshuisstoepie gesit en drome droom het, die een wat uit powere middele ’n bruilof gegee het, “want ek smeer nie my eie kind aan ander af nie, en jy is ook nie slegter as ander mense se dogters wie se ma’s vir hulle instaan nie”. Gevolglik was daar, tot Julia Joubert se opperste ongeloof en teleurstelling, ’n klein maar behoorlike bruilof waarvoor haar raad en ondersteuning geensins gevra is nie.
Ek moet gaan, dink Berna oorbluf. Om te gaan wát, weet sy nie. Vir die begrafnis, natuurlik, maar daarvoor en daarna? Daar is nie eens wafferse besittings om uit te sorteer nie. ’n Testament sal niks beteken nie, want ’n erfporsie is daar nie. Die ou man (wat nie eens so baie oud is nie, maar Berna dink altyd aan hom as “ou stiefpa”) sal seker aanbly in die huisie wat met haar ma se spaargeld gekoop is. Moontlik is daar nie eens geld vir ’n begrafnis nie.
Die laaste gedagte is ontstellend. ’n Begrafnis kos vandag baie geld, en sy as dogter het dit nie. Goed en wel, sy beweeg in die rigting van sukses, geregtig op die helfte van die skoon wins van Koskas. Maar dis geld wat nog moet inkom. Sy was ’n maand lank sonder salaris, wou niks vat van Dawie en Lammie wat soveel vir haar oorhet nie. Sy het van die geld wat Hartogh aan haar uitbetaal het, gebruik. Die pensioengeld het ook gekom, dit probeer sy werklik spaar.
Toe sy ’n bietjie gehuil het, ook ’n bietjie gebieg het teenoor Dawie en Lammie, voel sy beter. Sy sal aan praktiese reëlings moet dink. Lammie en die res van die komitee kan waarneem solank sy weg is. Met dank aanvaar sy die aanbod om die tweeling hier te los. Op die pad is hulle net blootgestel aan ongerief en gevaar, en daar anderkant aan ’n verdriet wat vir hulle verstandjies onvatbaar is omdat hulle hierdie ouma kwalik geken het.
Sy gee haar motor wat so lui en slukkerig is, vroegmôre in om versien te word, en hoor dat sy dit teen laatmiddag weer sal kan kry. Dit pas; dan kan sy môreoggend vroeg ry. Die ou stiefpa het skynbaar nog niks begin reël nie. Sy sal moet gaan instaan. Die nikswerd ou ding. As dit van hom afhang, sou hy sy gedienstige vrou balsem indien sy hom so nog langer van diens kon wees, koffie aandra en leë medisynebottels weggooi.
Na die begrafnis, maak Berna planne, kan sy dan stadlangs terugkom en by Julia-hulle aangaan. Die draai sal nie meer as tweehonderd kilometer wees nie, en sy sal geen rus vir haar siel hê alvorens sy weet wat daar by die Jouberts aan die gang is nie. Want wat hulle raak, raak ook haar en haar kinders. So onvernietigbaar, ja, is die bande tussen haar en Ronald aan wie sy deesdae met soveel meer deernis as voorheen begin terugdink.
Sy bel skuins voor vyfuur die middag vir Annalien. Dan is sy gewoonlik by die woonstel. Dis darem ten minste een ligpunt: om met hierdie goeie vriendin te praat, en vir haar te vertel dat hulle mekaar binne enkele dae dalk sal sien. Indien Annalien weer aanbied om die twee maande se huurgeld te gee, sal sy dit met dank aanvaar. Daar sal nou, rondom haar ma se dood en begrafnis, baie gaatjies wees wat toegestop moet word.
Annalien is wel tuis, maar dit is byna asof sy nie registreer wie dit is wat met haar praat nie. Haar stem klink ver, swewend, afgetrokke.
“Annalien!