“Roux, ek sou haar al self gevat het as ek oortuig was dat sy iets makeer,” protesteer Mynie in haar welluidende brystem terwyl hulle almal in die kombuis verkeer waar sy vars koffie maak. “Maar ons dokter is nie onnosel nie. Hy is bekend vir sy raak diagnoses, en hy reken dis alles bloot sielkundig. ’n Manier om aandag te kry.”
“En ek sê dis bog,” weerlê Roux. “As ’n kind op haar lekkerste aan ’t speel is met haar beste maatjie en sy kry onverwags ’n pynaanval, is dit nie sielkundig nie. Hoor nou wat ek vir jou sê.”
“Ag toe, ou slimme,” probeer Mynie die erns maar met ligtheid besweer, “ek het al drie kinders grootgemaak. Hulle kan wonderlike streke uithaal, glo my, en dit self ook glo.” Dan kyk sy reguit na Berna. “Vergewe dat ek vra, maar is jy die nuutste belangstelling? Laas was dit glo nog daardie onderwyseressie wat toe kunstenares geword het en vir Rensdal uit sy onkunde probeer ophef.”
“Nee, o nee, ek ry maar net saam met Roux omdat my kar stukkend is en ek dringend by my ma se begrafnis moet uitkom.”
“Jammer om te hoor. Onsensitief van my.”
“Buitendien,” sê Berna betekenisvol en asof Roux nie lyflik langs hulle staan nie, “een blik in sy onweersgesig behoort jou te oortuig dat hy net so min soos ek van die raaiskoot hou.”
“Skei uit,” sê Roux, “en kry klaar met die koffie, dat ons kan ry. Ek wil nie laat vir die afspraak wees nie. En, nig Mynie, ek dink dis hoog tyd dat julle almal julle monde van Nerida af begin hou. Julle wat so maklik oordeel, hoe goed ken julle haar eintlik? Net omdat sy nie presies is soos wat julle wil hê sy moet wees nie … Sy is eintlik ’n baie afhanklike en onseker entjie mens. Sy het seerkrye waarvan die wêreld nie weet nie.”
“En jy help haar om haarself te vind?” snip Mynie. “Nee kyk, my ou neef, ek glo mos nie daaraan dat man en vrou daar moet wees vir mekaar se selfbevestiging nie. As iemand nie sy eie mens kan wees nie, verdien hy nie ’n maat nie.”
Roux trek net sy lippe stywer, duidelik nie begerig om die dreigende rusie te laat ontwikkel nie. “Sê groete vir Cas. Is hy al op die lande?”
“Ja, Cas glo mos hy moet voor al sy werksmense op die been wees; hy is douvoordag al uit. Waar slaap jy en Bambie vanaand?”
“Sommer in ’n hotel. Ek weet nog nie hoe ons bewegings sal wees en wanneer ons terugkom nie, dit hang af van Berna se ma se begrafnis op Tierhoek.”
“Bambie kan vanaand saam met my in my woonstel slaap,” bied Berna aan. “Ek huur nog daar tot die einde van hierdie maand. Eintlik kan jy ook maar daar slaap, Roux. Dit sal heel veilig en fatsoenlik wees, my vriendin Annalien bewoon dit op die oomblik.”
“Dankie, ons sal sien,” sê hy bloot. Maar Berna wou haar tog verbeel dat daar ’n glimming van dankbaarheid in sy oë kom. Dalk sien hy op teen die onpersoonlikheid of die onnodige uitgawe van ’n hotelverblyf.
“Sit jy maar van hier af voor,” los hy haar probleem op toe hulle motor se kant toe staan. “Bambie kan nou weer agter lê en slaap. Soos ek haar ken, was sy so opgewonde dat sy vroeg al op is. Reg, ounooi?” Liefderik druk hy haar teen hom vas en sy reageer deur hom terug te druk, asof hulle mekaar nou weer begin ontdek.
“Dis maar ’n kwaai ding om van jou kind af te sien,” sê Roux toe hulle weer goed op pad is en Bambie inderdaad onder die bokhaarkombers aan die slaap geraak het.
“Hoekom het jy dan?” vra Berna reguit. “Sy kon op Rensdal gebly het, by jou ma. Jy sien liewers af van jou kind as van jou familievete, lyk dit vir my.”
Sy verwag ’n afjak, maar kry dit nogal nie. Hy glimlag net suur. “As jy alles weet, kan jy praat,” sê hy kort.
“Nee, ek hoef nie alles te weet nie. Daar is niks wat so onvergeeflik is dat dit jou jou kind hoef te kos nie.”
“Hoeveel weet jy van my ma en stiefpa af? Goed, ek noem hom maar my stiefpa, maar ek dink eerder aan hom as my skoonpa. Ek verkies dit so.”
“Ek weet dat jou vrou sy dogter was, en jy het dit so pas bevestig.”
“En dat hy en my ma ’n vryery aangehad het voor sy vrou … ’n invalide … nog dood is?”
“Dit gaan my nie aan nie,” sê Berna, innerlik wel siek van ontsteltenis oor sy woorde wat haar tog diep skok.
“O, dit gaan jou nie aan nie? Maar oor my en Nerida, wat ’n fatsoenlike verhouding het, word die monde gerek. Maar daar sit hulle twee, Dawie en Lammie de Vries, wat die hele Rensdal aan die brand gehad het met hulle agteraf vryery, en dit gaan niemand aan nie.”
“As dit waar is, dan het Rensdal hulle vergewe. Ek kan agterkom dat hulle met respek behandel word. Hoekom sal jy dan nie vergewe nie?”
“Hoekom? Ek sal jou sê hoekom. Omdat my vrou nog kon gelewe het. Sy was op pad na haar ouers se plaas toe sy verongeluk het. Sy het haar ma gaan versorg, en by haar pa gaan pleit om sy skelm vryery te los. My ma het daardie tyd in die tuishuis op die dorp ingetrek, en daar het die twee duifies mekaar ontmoet.”
“Dat jou vrou verongeluk het … dit kan met enigeen gebeur.”
“Sy was ’n goeie bestuurder, maar sy was daardie dag te ontsteld om te ry, te betraand. Ek lê haar dood voor die deur van my ma en van Dawie de Vries.”
Die tuishuis wat nou Koskas heet … g’n wonder Roux kom nie graag daar nie, dink Berna met ’n gevoel van oorweldigende droefheid.
“Sy vrou was ook kwalik onder die grond, toe trou die twee,” vervolg Roux grimmig. “Gelukkig het hulle stemmig en stil voor die landdros getrou. Want as ek in die kerk moes wees, sou ek dalk opvlieg en beswaar maak … sê dat hulle my vrou en my dogtertjie se moeder vermoor het.”
’n Rukkie lank is daar net die geluid van die suisende motorwiele op die teer. Die son het nou reeds hoog begin opskuiwe, en daar is ’n vars blinkerigheid oor die veld wat die swaar atmosfeer in die motor loënstraf. “Nou lewe Lammie le Roux en Dawie de Vries ewe gelukkig saam. Wie sê dat feëverhale nie meer plaasvind nie?”
“Hoekom het jy dit vir my vertel?” vra Berna. “Grief dit jou dat ek met hulle klaarkom, dat ek by hulle bly, dat ek vriende in hulle vind, ouers eintlik? Wat ek nooit juis gehad het nie, en nou glad nie meer nie? Wat weet jy van mý lewenstragiek, en hoekom probeer jy my verhinder om daarvan weg te kom?” Sy stuif so op dat sy hom op hierdie oomblik behoorlik haat. Oor wat hy haar vertel het, ja. Omdat hy een van haar min vashouplekke vernietig het; omdat hy dit vir haar swaar maak om terug te gaan na daardie huis in Langstraat in Rensdal.
“Ek het niks probeer vernietig wat nie al klaar vernietig is nie,” sê Roux met strak lippe. Hy het ’n mooi profiel, sterk. Hy is ’n baie aantreklike man. Maar hard en onbuigsaam. As Nerida Nel hom sag kan maak, kan sy hom maar kry. Met liefde en met grote komplimente.
“Wat wou jy dan doen?” eis sy. “My teen hulle opstook?”
“Opstook? Hoekom sou ek jou wou opstook? Kom dit nie dalk by jou op dat ek doodgewoon iemand soek aan wie ek daardie stuk pyn kan meedeel nie? Omdat dit so lank al in my is dat dit my gestel vergiftig?”
“Ek is so jammer om dit te sê, maar jy het die verkeerde een gekies. Ek beskou myself as ’n lojale mens. Jou skoonpa of stiefpa of wat hy ook al van jou is, het my so te sê op die straat opgetel, op ’n dag toe ek totaal moedverlore en alleen was. Hulle het my in die huis gevat soos ’n weggooikat. Jammer as dit dramaties klink, maar dis die waarheid. Wat kan ek of jy baat as ek hulle begin veroordeel oor dinge wat verby en versoen is?”
“Maar is dit?” hou hy vol. “Verby, ja, maar ver van versoen af.”
“Dis net in jou hart wat dit nie versoen is nie. Laat die gras daaroor groei.”
“Nou kry ek nog ’n preek ook,” mompel hy. “Gedink jy en die doompie is te veel ingeklits. Ek hoor dan glad jy kuier vir hom by die pastorie.”
“Ek