“Al was dit ’n bietjie koffie waarvoor oom self moes betaal,” herinner Berna, “en sommer vir Rebekka s’n ook.”
Dis ook waar die ooreenkoms ophou, want sy, Berna Joubert, het nie ewe gedwee ’n kameel bestyg om haar in Isak se verre tente te gaan tuismaak nie. Rensdal se Isak oftewel Roux, sal maar vir homself moet sorg. Dat hy koppig en moedswillig is, het sy reeds afgelei.
Omdat alles in die winkel nou so omgedolwe is, vind daar ’n paar dae lank geen verkope plaas nie. Met elke teleurgestelde koper gesels Berna hieroor, en so leer sy stadig maar seker ook die mense van Rensdal ken. Die meeste is opreg belangstellend en gee selfs wenke vir die breek-en-bouery wat aan die gang is.
So tussendeur probeer sy van die boekhouding red wat daar te redde is, want die finansiële jaar sluit binnekort. Dit lyk of Dawie en Lammie sommer geld uit die kasregister gevat het wanneer en waarvoor hulle dit ook al nodig gehad het.
“Wat het julle ander jare met die state gedoen?” vra Berna redelik verslae.
“Roux het toe nog reggevat,” sê Lammie. “Maar daarna het hy so besig geraak met daardie …” Sy wou sekerlik weer sê “daardie Nel-merrie” maar bedink haar en sê bloot: “… daardie vriendin van hom. Ek hoop net nie Skuinsklip gaan agteruit nie. ’n Boer wat vry in plaas van boer, dink nog hy boer, dan sit hy op die vlakte.”
“Maar is die plaas nie op jou naam nie, tannie Lammie?”
“Nee, my oorle’ man het geglo die kinders moet erwe, anders kry hulle dalk ’n stiefpa wat alles uitroei.”
Arme Dawie, foei tog. Hy kan baie dinge wees, maar beslis g’n uitroeier nie. Hy is die een wat altyd rondlêgoedjies loop en optel: ’n rekkie, skuifspeld, spyker, draad, skroefie. “Mens weet nooit,” sê hy dan met ’n verskonende laggie.
“Kinders? Het jy dan nog kinders, tannie Lammie?”
“Gehad,” sê Lammie kort. En nou dink Berna vir die eerste keer werklik daaraan dat daar in Dawie en Lammie se dorpshuis geen familiefoto’s hang nie. Sy het mos al gesoek na ’n gelykenis van die heer Roux le Roux, en niks gevind nie. Daar is afdrukke van watervalle en bergklowe, van piramides en kamele, hondjies met strikke om die nek en seilskepe op stormagtige oseane, maar daar is niks oor die verlede van hierdie mense nie.
Berna se gemoed is so vol planne en bedinksels en skemas en verwondering oor haar nuwe lewe, dat sy snags moeilik aan die slaap raak. Dis egter ’n lekker wakkerlê, met die geblaf van dorpshonde in jou ore, ’n seringboomtak wat teen die sinkdak krap, die tweeling se rustige asemhaling. Hulle is saans so moeg gespeel dat hulle soos klein varkies bed toe trippel as iemand hulle maar net naastenby soontoe aanjaag. Af en toe in die nag help sy een van hulle met die potjie wat Lammie gebring het, “want die bloedjies kan mos nie so in die nag uit agterstoep toe nie”.
Dan lê sy maar weer loom en dink: oor Julia se brief waarin sy skryf dat “ons dit maar oorweeg om jou te vergewe vir die wegvat van die kinders uit ons sorg en beskerming uit”, en oor Christiaan Hartogh se beeld wat so genadiglik gou vervaag het, oor wat sy alles vir Annalien moet vertel as hulle weer oor die telefoon praat, oor die geheimsinnige heer Roux wat vry terwyl hy moet boer, oor Dawie en Lammie se onbekende romanse van die verlede, en oor Johan Jonker wat laas Sondag haar lidmaatsertifikaat in die kerk afgelees en haar en haar kindertjies inniglik van die kansel af verwelkom het, tot haar groot verleentheid.
Want terwyl hy dit doen, het hy direk na haar gekyk, en ander koppe het sy voorbeeld gevolg. ’n Nuwe intrekker op Rensdal, veral ’n vrou met kinders maar sonder man, is omtrent so skaars soos ’n verkeersboete … en almal het toe reeds in die Rensdal-Nuus van genoemde boete gelees. En so tussen al hierdie naggedagtes deur, skiet daar nuwe planne vir Koskas soos kurkproppe uit water op.
Dawie ry knaend bourommel weg terwyl die muur uitgebreek word, en Lammie bly gerieflik tuis, wat nogal help, want die kinders bly dan by haar en spring (tot hulle spyt, natuurlik) die groot gemors vry. As hulle net nie permanent klandisie verloor as gevolg van hierdie onderbreking nie, bekommer Berna haar. Sy hou haar nou reeds besig met adverteer sodat dinge kan vlot sodra hulle weer die deur vir sake oopsit.
Intussen is daar oorgenoeg administrasie, skakeling en reëlings om haar aan die gang te hou. As sy haar kom kry, staan sy egter maar weer na die werkery en kyk. As daar iets soos reïnkarnasie was, sou sy graag as ’n bouer wou terugkom. Wonderlik, die geur van die vars messelklei, die gedaanteverandering van ’n beknopte plekkie tot ’n ruim lokaal.
Sy was so geïnteresseerd dat sy niemand sien inkom het nie, en sy skrik nou toe ’n manstem onverwags agter haar praat: “Hopelik laat u darem die buitemure staan, juffrou.”
Sy swaai om, ietwat vererg oor die neerbuigende trant. Die man staan daar, goed gebou en songebruin, met ’n loom, ietwat smalende glimlag om sy lippe.
“Dit spyt my dat ons nie op die oomblik oop is vir verkope nie,” verberg sy haar gramskap onder vakpratery. “Ek hoop u woon hier, dan kan u wel binnekort weer kom koop.”
“Ek weet nie of ek buitendien hier sal koop nie.” Hy trek ’n vertwyfelde gesig. Aan die oë onder die digte, welgevormde wenkbroue kan sy nie aflei of hy ernstig is en of dit sommer ’n ledige tipe gekskeerdery is nie. “Hoe higiënies is dit? Ek het nog altyd my bedenkinge gehad oor hierdie hooltjie. Sien, ek ken die dame wat bak, en ek weet sy ken nie die basiese beginsels van netheid nie.”
“Snaaks, ek ken ook die dame, en ek het net die teenoorgestelde bevind.” Berna vind dat sy innerlik begin stoom. Goeiste, daardie kombuis van Lammie, met die spierwit vadoeke en die blinkgeskuurde panne wat so op ’n ry hang … Wie verbeel hy hom is hy?
“Miskien ken u dan ook nie die basiese beginsels van higiëne nie,” merk hy ewe ongeërg op. Hy staan daar met sy duime liggies in sy broeksakke gehaak, so selfgenoegsaam soos die koning se hond se vlooiknipper … ’n uitdrukking van Annalien wat haar te binne skiet.
“U is welkom om monsters te kom neem en in ’n laboratorium te laat ontleed,” raai sy hom aan. Danksy dure ondervinding, het sy haar persoonlike gegriefdheid onder beheer kon kry en spreek sy hom aan asof hulle met ’n gesprek van diepte en gehalte besig is.
“Dit sal nie nodig wees nie, ek ruik sommer daaraan.” Sy kuif, ’n donker heuningkleur, hang sorgeloos oor sy voorkop. Hoewel sy dralende blik haar kamtig nie werklik raaksien nie, het sy tog die gevoel dat hy haar uiters deeglik opsom en dophou. “Eintlik verstryk my kontrak vir oorskietkos binnekort by die skoolkoshuis, en ek is op soek na ’n nuwe kontrak. Dis nou vir my varke, natuurlik.”
“Dankie vir die inligting. Ek sou kon dink dis vir u self,” sê Berna in haar beste sakestem. Sy is nou oortuig daarvan dat hy gekskeer, en sien kans vir hom.
“Wrange humor,” reken hy.
“Dankie. Dieselfde vir u. Wat my betref, is die kliënt altyd reg.”
“Van humor gepraat, ek wonder nou wat is die snaaksste: om op straat oorskietkos raak te loop vir jou varke, of om op straat ’n vrou raak te loop vir jou seun.”
Berna voel hoe sy wesenloos word van skok en verontwaardiging, en hoop maar dat dit nie op haar gesig wys nie. “Dan is dit nou eindelik Roux le Roux,” sê sy en doen haar bes om nie haar kake vas te klem nie.
“Juistement, en aangename kennis. Verskoon tog dat ek nog nie self die jawoord kom vra het nie, maar dit is mos reeds namens my gedoen deur my geagte stiefpa. As jy nie omgee nie, sal ek nietemin graag na jou stamboek wil kyk. ’n Stoetboer is maar altyd agterdogtig oor ’n toevoeging wat so gratis en pasella is.”
“Meneer,” sê sy, “ontspan. Ek het hierdie werk kom vat omdat ek dit nodig het, omdat ek wou wegkom van ’n wellustige baas af. Ek het ook maar hier kom hoor dat ek vir jou bestem is, maar ek het jou ma en pa … jou stiefpa, daaruit gepraat. Wees verseker, al was ek en jy alleen saam