“Dan dink ek Nerida Nel is die logiese een om jou te vergesel,” sê Berna afsydig.
“Jy verstaan nie,” gebaar hy hulpeloos.
“Nee, ek is bevrees ek verstaan nie. Dink jy hoegenaamd juffrou Nel sal tevrede wees as ek saam met jou rondrits? En dink jy ek sal my kop in so ’n byenes steek?”
“Sy hoef nie te weet nie. Asseblief. Ek het vanaand my trots in my sak gesteek en kom hoor of my ma maar sal saamry. Toe vertel sy my van jou probleem met die kar. Gelukkig het ek haar toe nog nie van die kind se siekte vertel nie. Ek wil liewers nie hê hulle moet weet nie.”
“In die geheim saamry, sonder dat jou meisie uitvind? Ek is nie onwillig om te help nie, maar ek was in die verlede al ’n twisappel hier tussen julle, sonder dat ek wou. Ek wil nie nog dieper betrokke raak nie. Vra haar saam. Ek sal regkom, al moet ek ’n motor huur.”
“Dis ’n ope verstandhouding tussen my en Nerida dat sy nie instaan vir my kind nie. Sy wil nie gebonde wees nie en ek respekteer dit so. Bambie is in goeie sorg en daar is geen rede om dit te beëindig nie. Ek sien haar eintlik selde, maar nou is dit nodig.”
“Aag, wat de hek,” sê Berna, meteens sat vir die kleinsieligheid waaraan sy self haar ook skuldig maak. “Ek sal saamry, as jy dink ons sal die reëlings uitgestryk kry. Maar vertel vir Nerida openlik die waarheid, anders lyk dit juis verdag.”
“Dit sal ek oorweeg as ek netnou na haar toe gaan. Hoe laat kan ons môre ry?” Hy klink verlig, dog saaklik.
“So laat soos jy sê.”
“Ek is maar bekommerd, en wil so gou moontlik by die dokter uitkom.”
“Vroeg sal reg wees. Gee ’n tyd dat ek gereed kan wees.”
“Vieruur?” vra hy twyfelend.
“Goed so. Sal ek voor die huis wag?”
“Nee, nie daardie tyd van die oggend nie. Ek sal by jou kamers klop.”
Gemeensaam, asof hy presies sal weet waar om te klop. Sy kyk hom stip aan. Dan kruis ’n ander gedagte haar gemoed: Annalien het gesê dat Christiaan Hartogh haar adres hier wou weet. Om wat mee te maak? Dis al weke en hy het niks aangestuur, soos hy voorgehou het nie.
Sy skud die twyfelvrae af en probeer prakties beplan. “Dalk is dit beter dat ek maar in die huis slaap,” sê sy, “dan is die kinders veilig tot opstaantyd toe. En dan kan ek deur die voorvenster sien as jy stilhou.”
Sy vra liefs nie waar hy die nag gaan deurbring nie, hier op die dorp, of op die plaas. Dit gaan haar nie aan nie. Laat hy maak soos hy wil, sy sal hom bloot ’n guns bewys in ruil vir ’n guns aan haar, en verder het sy niks met hom uit te waai nie.
Lammie en Dawie draai om haar soos motte om ’n kers. Wat Roux eintlik kom doen het, dit is wat hulle bitter graag sou wou weet. Berna wend haar tot ’n veilige uitleg: “Ek skat hy het seker maar brandstof ingetap en toe by die garage van my kar gehoor. Gaaf van hom dat hy kom aanbied het.”
“Roux het nie ’n slegte hart nie,” sê Lammie, waarmee sy dalk te kenne wil gee dat hy wel ’n paar ondeugde iewers het.
Stiptelik om vieruur die volgende oggend kom motorligte aangery. Nie vanuit die dorp nie, maar vanaf die buitepad, besluit Berna met ’n soort verligting. Beslis nie van Nerida se plek af nie, tensy hy draaie gery het om ’n vals indruk te wek.
Dis ’n ongewone, vereensamende tyd van die dag vir iemand wat nie in die gewoonte is om voor dagbreek op te staan nie. Selde in haar lewe nog het Berna so verlate gevoel soos toe sy voor die kildonker venster staan en uitkyk. Iewers was daar die skor gekraai van ’n haan en die yl, verlore geblaf van dorpshonde. Sy verlang heftig na haar kinders wat naby haar lê en slaap, verlang asof sy hulle lank laas gesien het, in ’n vorige lewe. En na haar ma, vir wie sy werklik in ’n vorige lewe laas gesien het. Sy gun Roux geen kans om uit te klim en haar te kom haal voordat sy uitstap, toesluit, en die sleutel volgens afspraak in die malvapot sit nie. Sy het ’n enkele tas by haar, benewens haar handsak en ’n kospakkie wat Lammie gegee het.
Hy neem die tas en sit dit in die kattebak terwyl sy voor langs hom inklim. “Ek het eintlik gedink jy kan verder slaap terwyl ons ry,” sê hy, “so ek het vir jou ’n kussing agterin gesit. En ’n kombers, dis koel so vroeg in die môre.”
“Soos jy verkies,” sê sy, en gaan agter inklim. Net so of sy weer aan die slaap sal raak. Sy kan nie help om effens gesteurd te voel nie. Was hy dalk bang dat hy een strook deur sal moet gesels as sy langs hom sit? Dan ken hy haar nog maar sleg. Of wou hy haar plat agter in die motor hê, sodat iemand nie per abuis haar gestalte voor langs hom herken nie?
En hoekom sal sy haar hoegenaamd bekommer oor wat sy motief is? Die kombers is heerlik sag; bokhaar, stel sy vas toe sy daaraan voel, en dit ruik na linnekas en sigaretrook. Syne, besef sy toe hy ’n ent buite die dorp ’n sigaret uit die pakkie haal en omkyk om te sien of sy wakker is.
“Jy kan maar,” gee sy toestemming. Daar is ’n loom gevoel in haar, asof niks werklik saak maak nie, asof sy nie op pad is na haar enigste moeder se begrafnis nie. Dat hy ’n roker is, en die een kan wees wat in haar donker kamer gestaan het terwyl die kinders slaap, kan later ontleed word, nie nou nie.
Dis ’n gevoel van ontspanning soos wat sy lank laas geken het. Daar is immers iemand anders agter die stuur, iemand wat bekwaam is om haar veilig te bring waar sy moet wees. Dis dit wat haar laat besluit, week en byna tranerig: sy wil weer trou. Sy is jonk en sy het ’n behoefte aan liefde en beskerming. Sy moet haar nie so toesluit vir attensies nie. Sy moet haar oë oophou, en haar gemoed.
Vir wie, is vir haar nie mooi duidelik nie. Sy moet net wag, wag en geduldig wees, en intussen doen wat haar hand vind om te doen. Onverwags dink sy daaraan dat sy ten minste vir Johan Jonker moes vertel het van haar ma se dood en dat sy weggaan vir die begrafnis. Hy weet natuurlik nie, anders sou hy haar dadelik besoek het. Hy sal haar verkwalik. Maar alles het so dol gegaan.
Dalk sou hy haar weggebring het Tierhoek toe as sy hom gevra het. Vir seker sou hy geïnteresseerd gewees het in die dorpie se naam, en die geskiedenis probeer uitpluis het. Of sou hy bang gewees het vir wat die mense kan sê?
’n Tikkie meegevoel met die onbekende Riana flits deur Berna terwyl sy lê en kyk na Roux se profiel in die dowwe lig van die paneelbord. Hy het net een sigaret gerook; gelukkig is hy dus nie ’n kettingroker nie.
Buite begin die dag roosgrys verkleur.
8
Roux se dogtertjie lyk so gesond soos ’n vis in die water toe hulle haar sowat ’n uur later oplaai. Die familie by wie sy grootword moet skatryk wees, te oordeel na die indrukwekkende hek wat soos ’n poort die weg na die opstal toe aandui.
Hy het vir my gejok, besluit Berna toe die dogtertjie, fraai soos ’n pop aangetrek, saam met haar pleegmoeder na buite kom en skugter haar armpies om haar pa se nek sit. Die kind makeer niks wat die oog kan waarneem nie. Wou hy my werklik net aan ’n geleentheid help, tob Berna, en het hy onder die voorwendsel van ’n denkbeeldige siekte ’n onnodige rit aangepak?
Sy word voorgestel en Roux weier die aanbod om ontbyt te nuttig, gee net die koffiefles om weer volgemaak te word. Die daaropvolgende gesprek tussen Roux en Mynie Rode oortuig vir Berna dat sy verkeerd geoordeel het. Die kind het wel ’n verborge ongesteldheid.
“Wanneer laas het sy die aanval gehad?” vra Roux gedemp sodat Bambie nie kan hoor nie.
“Nou die aand, terwyl die bure hier gekuier het. Sy en hulle dogtertjie, haar beste maatjie, was aan ’t speel toe sy weer kom kla van die pyn in haar regtersy. Sy het later so lê en krul op die bed dat ’n knoop van haar rokkie afgeskiet het.”
“En dan weier jy nog dat ek haar na ’n kinderarts