Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christiaan Mathys Bakkes
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798165969
Скачать книгу
Fonteintjie donkerrooi bloed spuit uit die koeëlgat en ek weet dat die tweede skoot net ’n formaliteit was.

      “Die tweede een is op pad! Kom!” waarsku Louw. Hy gryp my aan die skouer en druk my voor hom en Mick uit in die rigting van waar die helikopter ’n tweede olifant, nog verskuil in die bosse, aankeer.

      “Staan net hier vas. Hy kom!” beveel Louw en sy woorde is skaars uit toe ’n jong vaalboom knak en die olifant voor ons verskyn. Hy moet ons verwag het, want hy stuit en swenk weg om tussen ons en die helikopter uit te glip. My koeël deurdring sy kop net onder die oog. Sy ontsnappingspoging word verydel en hy bring ’n paar vaalbome saam met hom grond toe. Ek hardloop nader, doen die dril van die tweede skoot, druk my vinger in sy oog om te toets vir reflekse. Tevrede staan ek terug en ontlaai my geweer.

      Die helikopter vlieg weg om landingsplek te gaan soek. Louw en Mick stap nader. Deur die bosse hoor ek die trokke van die grondspan wat nader ry om die olifante te kom afslag. Louw en Mick klop my op die skouer en skud my hand. Ek het die toets geslaag.

      Dit het egter nie van die begin af so goed gegaan nie. Die vorige dag is ek vir die eerste keer getoets. My skoot op die eerste olifant was te hoog. Hy het gestop en soos ’n vuisvoos bokser gesteier. My volgende twee skote het geensins indruk gemaak nie en die olifant het net kop onderstebo daar gestaan totdat Mick en Louw elkeen nog ’n skoot gevuur en hy inmekaar gesak het.

      Met die tweede olifant het ek weer te hoog geskiet. ’n Frontale kopskoot op ’n olifant is moeilik. Sy brein is omtrent dieselfde grootte en vorm as dié van ’n rugbybal en lê in lyn met die nekwerwels aan die agterkant van die skedel. Die hoë voorkop van ’n olifant bestaan uit poreuse skedel wat dien as ’n verkoelingsisteem vir die brein. Onervare ouens maak gereeld die fout om ’n olifant te hoog te skiet. Met die tweede olifant het die koeël darem nader aan die olifant se brein verbygegaan om hom sy ewewig te laat verloor en hy het geval. Ek het nader gehardloop om hom die doodskoot te gee, toe hy voor my begin opstaan. Ek het nog drie skote kort na mekaar geskiet en toe was hy stil.

      My baas Mick was nie tevrede nie en het gesê ek moet vandag weer skiet. Dit was ’n lang nag, alleen in my grasdakrondawel. Ek het olifantkoppe vanuit elke aansig uit fotoboeke bestudeer. Ek het met ’n ongelaaide geweer droë rondtes gevuur en geoefen om snel te herlaai. In die nanagure het ek op my bed rondgerol. Vanoggend was ek moeg en gespanne. Ek sou eers die middag skiet en het my die oggend met papierwerk probeer besig hou. Die rit deur die veld met Mick en Louw was uitgerek en niemand het veel gepraat nie. By die afgespreekte plek, op ’n voorbrand, het die grondspan gewag. Die helikopter was klaar in die lug op soek na olifante. Die vlieënier het vir Louw geradio en ons drie is te voet die veld in. My hart het in my borskas gehamer. Louw het deurentyd met die helikopter kontak gemaak. By ’n ruigte sekelbosse het hy my beveel om reg te staan. Die helikopter het heen en weer voor ons bo die boomtoppe gevlieg. En ineens was ek kalm en ek het geweet: hierdie keer sal dit slaag.

      Hierdie bloedige ritueel maak deel uit van die jaarlikse olifantuitdunningsprogram. Dit is die finale toets voordat ’n nuutaangestelde staptoerveldwagter toegelaat word om wildernisstaptoere te lei. Hy moet kan toon hoe hy onder druk reageer.

      “Dit was baie goed,” sê Mick.

      Louw kyk op sy horlosie. “Ek dink ons moet terugkom by die kamp. Die vure brand seker al.”

      Om ’n rooibosvuur, met ’n bier in die hand, staan ek tussen Mick en Louw en ander veldwagters. Ons bespreek die dag se gebeure. ’n Ent weg braai twee Shangaan-veldwagters rooibok oor die kole. Staptoerveldwagters wat nie op staptoer is nie, is hier om die nuweling te verwelkom. Sommige het hul Shangaan-assistentveldwagters saamgebring en het ver gery om die geleentheid by te woon. Van hulle het saam met my studeer en ander het ek op ander wildreservate leer ken. Die meeste is egter vreemdelinge. Jong manne geklee in verbleikte kakie-uniforms. Hulle stel hulself voor en verwelkom my, wens my geluk met my olifante. ’n Groot Shangaan met ’n breë bors en ’n wolkop staan nader.

      “Laat ek jou voorstel,” sê Mick. “Dit is Filliosse Mula. Hy is jou assistent. Hy werk al twintig jaar in die Wildtuin en is totaal vreesloos. Hy is baie hardkoppig en soms moeilik om te beheer.”

      Filliosse kyk my stip aan terwyl Mick praat. Toe Mick stilbly, steek Filliosse sy hand uit. Ek kan verstaan toe hy op Shangaan met my praat.

      “Ons sal saamstap, jong man.”

      Dis die droom van baie avontuurlustige jong mans om veldwagter te wees. Vir my was die elite van hierdie veldwagterskorps altyd die staptoerveldwagters. Hulle was die vergestalting van vryheid en avontuurlikheid, van gevaarlik lewe. Om te kon stap oor die wye vlaktes en boswêreld van die Laeveld en telkens gevaarlike diersoorte teen te kom; om jou boskennis uit te brei en mense van die natuur te vertel. Van vroeg af het ek myself voorgeneem dis wat ek wil wees: ’n staptoerveldwagter.

      Na skool het ek vir ’n jaar rondgeval en toe ingeskryf vir ’n diploma in natuurbewaring. Vir ’n stadseun soos ek het dit ’n nuwe wêreld oopgemaak. My ouers was skepties oor my studievermoë. Was my ganse skoolloopbaan nie ’n stryd nie? Hulle het asem opgehou toe ek handboeke huis toe bring oor vakke waarin ek absoluut hopeloos was op skool. Maar anders as die vervelige biologie- en wetenskaphandboeke van my skooldae het hierdie nuwe plantkunde-, dierkunde- en ekologiehandboeke ’n onderliggende boodskap gehad: avontuur. Ek het dus skouer aan die wiel gesit en al my vakke in die vereiste tyd voltooi.

      My derde jaar was ’n praktiese indiensopleidingsjaar. Ek was leerlingveldwagter. Aanvanklik kon ek nie werk kry nie. Dat ek nog nie diensplig voltooi het nie, het my gepootjie. Uiteindelik het ’n organisasie met ’n reeks wildplase in die Noord-Transvaal my aangestel.

      Dit was ’n wonderlike tyd. My oë het oopgegaan vir die natuur om my. Dit was harde werk. Padbou, draad span, patrollie loop, probleemplante uitkap. Jag en jagters vergesel. Ek het al beter geleer skiet – sebras, wildebeeste, koedoes, rooibokke, vlakvarke. Ek het die bome en grasse en voëls van Noord-Transvaal leer ken.

      Die hoogtepunt van daardie jaar was toe ek gestuur word om ’n luiperd te gaan vastrek wat beeste op nabygeleë plase vang. Ek het ’n vanghok gaan stel, dit goed gekamoefleer en ’n ent daarvandaan kamp opgeslaan. Drie dae later het ek ’n luiperdwyfie in die hok gehad. Ek het haar ver weggevat na ’n wildplaas en daar vrygelaat. Die prag van die dier het my diep beïndruk. Ek het teruggekeer en die hok vir ’n tweede keer gestel. Nog drie dae later het ek ’n bruin hiëna gevang. Dié het ek ook op die wildplaas gaan loslaat.

      Aan die einde van daardie jaar moes ek vir twee jaar weermag toe. Eers was ek teensinnig. Maar wat kon ek doen? Almal moes gaan. Bo almal se verwagting is ek na my basiese opleiding gekeur vir die junior leierskursus. Na ’n jaar se opleiding is ek as tweede luitenant na die operasionele gebied gestuur. Toe my dienstydperk verstryk, was ek lief vir die soldatelewe. Om na ’n lang en uitputtende patrollie terug te kom na die geselskap van makkers in die offisiersmenasie was altyd vir my spesiaal.

      Na ons militêre diens het ek en ’n medeoffisier in die Wes-Caprivi agtergebly. Ons het aangesluit by Namibië se Departement van Natuurbewaring en met teenstroper-operasies begin. Ons het Boesman-oudsoldate gewerf, opgelei en as teenstropereenhede aangewend. Vir ’n jaar lank het ons oorlog gemaak teen mense wat onwettig olifante jag vir hulle ivoor. Die opwinding van rivier- en voetpatrollies op die spoor van stroperbendes was groot en die uiteindelike sukses wanneer ons hulle in die bos in ’n hinderlaag betrap.

      Maar ek wou Krugerwildtuin toe. In hierdie tyd het ek aansoeke gerig, maar ek is elke keer afgekeur. Ek het besluit om terug te gaan na Suid-Afrika. Na ’n jaar in die Caprivi het ek my vriende gegroet en weer begin werk op wildplase in die Noord-Transvaal. Dit was egter nie meer dieselfde nie. Die wildernis van die Caprivi met sy vloedvlaktes en sy groot troppe wild het in my lyf kom lê. Ek het verlang en toe ek na ’n onderhoud weer eens ’n pos in die Wildtuin misloop, het die frustrasie hoog geloop. Maar daarmee saam die vasberadenheid.

      Ek het uiteindelik aansoek gedoen as gids en veldwagter in ’n groot wildreservaat wat aan die Wildtuin gegrens het. Hier moes ek ryk, verveelde buitelandse toeriste te voet of met ’n Land Rover grootwild wys. Dit was nie vir my die ideale situasie nie, maar nou was ek nader aan die vuur en ek het bly aansoek doen. En uiteindelik het