“Nee wat, ek glo nie ek gee om nie. Verfilm maar,” sê ek droogweg en voor die videokamera vertel ek my storie.
Ons sit langs die pad en wag vir motors om verby te kom. Die pad is stil en ek wonder of ek ooit ’n geleentheid gaan kry saam met iemand wat soos ’n nar aangetrek is. Hy lyk egter na ’n heel aangename ou en hy vertel my watter wonderlike land Suid-Afrika is. Dis ook nie te lank nie voordat ’n meubelwa stop. Die bestuurder is op pad Lüderitz toe. Anthony sê ja, hy wil soontoe. Ek besluit Lüderitz is te ver uit my pad. Ek sal saamry tot op Keetmanshoop en van daar koers kry Windhoek toe.
Die meubelwa is gelaai met bale seewier. Ek maak my tuis op ’n baal naby die oop skuifdeur. Anthony kruip agterin die trok, strek hom uit, haal ’n draagbare kassetspeler uit, sit die oorfone aan, maak sy oë toe en raak verlore in sy musiek. Die trok ry baie stadig en ek kyk uit na die Richtersveld wat verbyskuif.
By Noordoewer verlaat ons Suid-Afrika. Ons steek die Gariep oor. By Vioolsdrif toon ons ons paspoorte aan die Namibiese doeaneowerhede. Daar is ’n winkel en ons koop kos. Die bestuurder vertel my dat die bale op pad is na ’n fabriek in Lüderitz vir die maak van jellie. Die trok verlaat Vioolsdrif. Die Namibiese landskap is hier net so dor en verlate as suid van die Gariep. Anthony leen my sy kassetspeler en ek luister na die klankbaan van die bekroonde film Pulp Fiction terwyl Anthony ’n woordeboek bestudeer. Later haal ek die oorfone af en ons begin gesels.
Anthony Breslin is ’n akteur. Hy het al kleiner rolle vir Australiese televisie vertolk, maar hy sê hy verkies teater. En al is Shakespeare-dramas sy voorkeur, is die geleentheid daarvoor in Australië beperk. Om geld te verdien, tree hy op as manlike ontkleedanser in nagklubs. Sy arms wat by sy helder T-hempie uitsteek, is gespierd en sy skouers is breed. Dit betaal goed, sê hy. Maar, laggend – hy sou eerder die hoofrol in ’n Hamlet-produksie wou vertolk!
“Ek bied my ontkleevertoning so tong in die kies aan soos moontlik. Ek dryf die spot met die ontkleebedryf, die gehoor en myself. Ek was nogal besig in Kaapstad. Daar is blykbaar aanvraag voor.”
Die trok ry teen ’n slakkepas oor die verlate klipwoestyn van Namibië. ’n Laatmiddag-donderstorm trek oor en dit reën by die skuifdeur van die transportwa in. Ek vind Anthony goeie geselskap. Ons praat oor films, musiek en boeke. Ten spyte van sy uitspattige kleredrag is hy hoogs intelligent. Onder normale omstandighede sou ons seker nooit aanklank gevind het nie.
Dis skielik lekker om nie alleen te wees nie. Anthony sê hy is ook dankbaar om saam met iemand te reis. Hy was eensaam en verlore langs ’n verlate pad in ’n vreemde land. Dis donker toe die trok in Keetmanshoop aankom. Ek besluit om saam te ry Lüderitz toe. Ek geniet die rit in die trok en ek is buitendien nie haastig nie.
Die vragwa draai wes na Lüderitz. Die maan kom op oor die veld en alles om ons is verlig tot ’n dowwe grys. Ek begin om “And the band played Waltzing Matilda” te sing. Dis die enigste Australiese lied wat ek ken. Dis ’n lang en tragiese ballade oor ’n jong man wat tydens die Eerste Wêreldoorlog vanuit Australië na Turkye gestuur word. Hy neem deel aan die rampspoedige landing aan Suvlabaai tydens die aanval op Gallipoli. Sy makkers word om hom afgemaai. Hy verloor sy bene in ’n bomaanval en word saam met die ander verwondes en verminktes teruggestuur Australië toe, waar hy nooit weer met sy rugsak deur die wildernis kan loop nie.
In die donker transportwa kan ek aan Anthony se stem hoor dat hy skielik huis toe verlang. Hy kan nie glo hy hoor ’n eg Australiese volkslied uit ’n Afrikaner se mond nie.
Na ’n ruk se stilte in die trok vra ek vir Anthony om vir my ’n stuk uit Hamlet voor te dra. Hy dink vir ’n ruk en begin met die gesprek tussen Hamlet en sy moeder. Gertrude het pas met Claudius getrou. Hamlet wil by sy moeder weet hoe op aarde sy so kort na sy vader se dood met Claudius, Hamlet se oom en die nuwe koning van Denemarke, kon trou.
Anthony vra my om Afrikaanse liedjies te sing. Ek begin met “Jantjie van die Berge” van Koos du Plessis en daarna sing ek “Sprokie van ’n Stadskind”. Anthony volg met ’n stuk uit King Lear. Ek sing “Groete aan Mannetjies Roux”. Anthony doen Julius Caesar.
So gaan ons deur die nag voort. My Afrikaanse liedjies raak na ’n ruk op en ek sing Ierse liedjies, Neil Young en Tom Waits. Anthony doen Macbeth, Cymbeline en Othello.
En dan vra ek Anthony daarna. Sonder om lank te dink, doen hy wat ek vra, die Saint Crispian’s Day-toespraak – ’n stuk wat my ten diepste raak.
“What’s he that wishes so?
My Cousin Westmoreland? – No, my fair cousin:
If we are marked to die, we are enough
To do our country loss; and if to live,
The fewer men, the greater share of honour
God’s will! I pray thee, wish not one man more.”
Ek lê terug teen die seegrasbaal en maak my oë toe. Ek voel hoendervleis op my arms en bene. Anthony se stem rol en styg dramaties soos Koning Hendrik V sy gedemoraliseerde handjievol soldate moed inpraat op die vooraand van die slag van Agincourt teen die Franse oormag. Ek berei my voor vir die klimaks en val in saam met Anthony.
“And Crispian, Crispian shall ne’er go by
From this day to the ending of the world,
But we in it shall be remembered
We few, we happy few, we band of brothers.
For he to-day that sheds his blood with we
Shall be my brother; be he ne’er so vile,
This day shall gentle his condition:
And gentlemen in England, now a-bed,
Shall think themselves accursed they were not here,
And hold their manhoods cheap, whiles any speaks
That fought with us upon Saint Crispian’s Day.”
Dis stil in die trok. Buite skyn die maan oor die woestyn. “We few, we happy few, we band of brothers”, herhaal ek vir myself. Daar was ’n tyd, nie te lank gelede nie, toe ek ook lid was van so ’n dapper klein broederskap.
4
Die Bel Jet Ranger word sigbaar bokant die boomtoppe. Sy motore sing en sy skroewe kletter. Vir sekondes hang dit in die lug voordat dit weer agter die boomtoppe verdwyn. Dan verskyn dit weer en vlieg in die rigting waar ons in die skadu van ’n sekelbosruigte staan. Louw ontvang ’n boodskap oor die tweerigtingradio en knik.
“Maak reg. Hy kom.”
Deur ’n gaping in die ry vaalbome, so veertig meter voor ons, bars ’n olifantbul deur die bosse, voortvlugtend vir die helikopter wat hom van bo af karring. Ek verlaat die skadu van die sekelbos en stap hom tegemoet. Die vlieënier sien my en breek weg. Die olifantbul peil reg op my af. Hy ken die klank van die helikopter en weet wat dit beteken. Mis en urine loop in ’n ononderbroke stroom agter by hom uit soos die vrees hom beetpak. Hy het my nog nie gesien nie. Die afstand tussen ons verminder snel. Koel en berekend skat ek die afstand soos hy nader kom. Dertig meter, vyf-en-twintig meter. Ek raak bewus van Louw en Mick wat agter my posisie inneem. Die helikopter sirkel nou links agter die olifant. Ek haal my geweer oor. Twintig meter. Ek lig die geweerkolf teen my skouer en druk dit vas. My wangbeen rus gemaklik op die hout. In die visier toring die olifant nou voor my. Die korrel rus op die plooi net onder sy oë, amper op die brug van sy neus. Vyftien meter. Die olifant kom wiegend nader. Sy ore wapper soos vlae agter hom. My hand sluit om die pistoolgreep van die geweer. My wysvinger druk die sneller af.
In sy poging om van die helikopter te ontvlug, het die olifant met sy beperkte sig nie ons drie wat voor hom ingetree het, gewaar nie. Toe my geweer knal, is dit te laat. Die 500-grein monolitiese geelkoper-458-koeël dring deur sy skedel en vernietig sy brein.
Die olifant tuimel aarde toe soos ’n reuse-nat