“But he’s nice, Daddy.”
“Go home immediately!”
Saul het geweet MacDonald raas met haar oor hom. Hy’t gehoor MacDonald sê hy is wild; hy weet wat wild beteken …
Toe hulle wegstap, het MacDonald omgedraai en die groot boek oopgemaak. “Ek sien hier staan nog taamlik skuld op julle boek en julle wil al weer kom koop?”
“Ons werk sware hout.” Hy het grond toe gekyk.
“Wat wou jou pa gehad het?”
“Koffie en suiker en meel … en ’n bietjie twak ook, asseblief.”
MacDonald het die goodfor uitgeskryf en daarmee in sy hand bly staan. “Hoe oud is jy?”
“Veertien gewees, mister.” Wat wil almal skielik weet hoe oud hy is?
“Mm … jy is groot vir veertien. Is jy seker jy is nie dalk sestien nie? Ek is nie so seker dat julle altyd weet hoe oud julle is nie.”
“Ek is veertien.”
“Ek soek ’n sterk jong seun om hier by die skuur met die hout te help. Slaapplek en kos en twee sjielings ’n week.”
“Bedoel mister nou dat ek vir mister moet kom werk?” Hy was nie seker of hy reg gehoor het nie.
“Ja. Maar ek wil jou nie hê as jy onnosel is nie.”
“Ek sal vir my pa sê.”
’n Week later het hulle begin uitsleep. Sy pa het vier osse by Diepwalle gaan byleen en hulle het die slee met sestien voor uitgesleep tot by die wa anderkant Kwê-se-Draai. Dit was nie speel nie! Die meeste van die tyd moes hulle rolhoute onder die slee insit om die vrag deur die klowe te kry, en vir meer as die helfte van die afstand moes hulle sleeppad uitkap.
“As dit net wou reën,” het hulle elke dag gehoop; sware hout sleep makliker uit in natweer. Maar dit wou nie reën nie, net ’n boomtopreëntjie een nag, en die hele tyd het Saul met die pad wat nog vir die wa voorgelê het, in sy kop geloop.
Oor die werk by MacDonald het hy niks vir sy pa gesê nie. As die groot moeg in ’n man sit, moet jy nie met ander dinge by hom kom peuter nie. Die groot moeg was in hulle almal, die kalander had hulle klaar.
Die uitsleep tot by die wa het ’n volle week geduur. Die Sondag het hulle soos dooigoed gelê en gerus en die Maandag, voordag, het hulle met die oorlaai van die sestig kalander-dwarslêers van die slee na die wa begin.
Driekwartdag, Dinsdag, toe hulle die osse bokant die eerste nekbreekafdraand, Witkop-se-Hoogte, laat rus, het Saul gesorg dat hy agter by die briek en oom Anneries kom. Daar sou nie plek wees om verby te kom as die wa eers begin afgaan nie, en as jy lastig is, kom Joram Barnard jou sommer met die voorslag agter die blaaie by.
Daar was ’n hol kol op sy maag toe sy pa die sweep oor die osse klap en oom Anneries die briek laat skiet.
“Hiep! Vat hom, my mooies!” skree sy pa en sy stem slaan onder teen die bloukranse vas. Die wa het kreunend begin beweeg. “Dam die osse op as ons die afgaan vat, Jozef!”
Sestien osse, drywer, briekdraaier, touleier, tesame had hulle net die één ding om te doen: om die swaargelaaide wa daar af te kry. Sy pa het die osse soos mense aangepraat; oom Anneries het die briekslinger nie ’n oomblik gelos nie: skietgee, aandraai, skietgee, aandraai. Aandraai tot die agterwiele deur die stof sleep soos bene wat vasgeskop het en dit lyk asof die vrag uit die woelrieme wil breek.
“Ek het vir jou pa gesê ons moet met die slee uitsleep tot oorkant, nie met die wa nie!” het oom Anneries gebrom terwyl hy sy waak oor die briek en die vrag hou, “maar ’n Barnard het mos ’n annerster soort eiewysheid in hom!”
“Pa sê ons sal deurkom, oom.”
“Ja, Koos Piets het ook so gereken. Sy osse se geraamtes en sy wa se stukke lê nog iewers daar onder in Keurkloof se ruigtes. Dis sleeppad dié, nie wapad nie!”
Die uitry van daardie dwarslêers was hel. Moeë osse, moeë mense, moeë wa, die hotagterwiel keer op keer ’n handbreedte van afstort oor die afgrond en net die agterosse wat elke keer die wa moet teëhou sodat die voorosse eers weer kan wegkom voor.
“Kortkwas! Meelkop! Diklies, Varkoor!” Asof hy ’n uitgerekte rympie opsê, het sy pa die osse van voor tot agter aangespreek terwyl die sweepslae soos geweerskote oor hul koppe klap. Nooit het Saul ’n man teengekom wat met ’n span kon werk soos Joram Barnard nie. Onder sý jukke het ’n span nooit gaan lê nie. “Bring hom, Bontlap! Help hom, Witman!” Met die agterosse het hy anders gepraat as met die voorstes, soos wanneer ’n mens met grootmanne praat. “Vat hom nog ’n klein bietjie! Kus lê voor, my mooies!” Nooit is ’n os se stert in sý span gedraai nie, of ’n lies of ’n boud stukkend geslaan nie. Hy het hulle die klowe deur gepráát.
Laatmiddag, die Woensdag, was die dwarslêers op MacDonald se werf afgelaai. Toe dit klaar was, het hulle sommer teen die wal bokant die wa gaan lê en gewag dat MacDonald met die boeke kom.
“Pa … laas, toe ek die goodfor kom vra het, het mister MacDonald gevra of ek nie vir hom wil kom werk nie.” Sy pa het nie geantwoord nie, net dieper aan sy leë pyp gesuig. Die kos en die twak was op. “Hy praat van slaapplek en kos en twee sjielings ’n week, Pa.”
“Ons werk vir onsselwers.”
“Ek het gedink, miskien …”
“Ons belang aan onsselwers en ons werk vir onsselwers!” het sy pa met trots gekeer en iets in Saul laat goed voel. “Ons werk nie vir MacDonald nie!”
“Ja, Pa.”
Eenkant teen die wal het oom Anneries regop gekom en ’n laaste speek reggekap. Dit was al sterk skemer toe MacDonald oor die werf kom.
“Naam?”
“Joram Barnard.”
Die blaaie van die groot boek het deur sy vingers gegly. “Mm … taamlik skuld. Wat het julle gebring?”
“Dwarslêers.”
“Dwarslêers? Die hele wêreld lê vol dwarslêers. Kyk hoe lyk dit hier op my werf van al die goed!”
“Mister MacDonald,” Joram Barnard se stem was stroef, “jy’t ons gesê om dwarslêers te gaan werk, ons is anderkant gedaan verby en …”
“Dis nes julle is!” het MacDonald hom doodgepraat. “Julle het geen verstand nie. Sê ’n mens ‘dwarslêers’ is dit al wat in julle koppe vassteek en julle sal dwarslêers uitsleep tot oordeelsdag toe! Watter hoop is julle s’n?”
“Langs die wa,” het sy pa stilweg gesê en hulle is saam tot by die hout.
“Ek het nie gesê julle moet ’n berg dwarslêers aanry nie! En kyk hoe treurig is die hout! Is dit vuurmaakhout?”
“Nee, mister MacDonald, dis eersteklas kalander.”
MacDonald se lag het soos ’n hond se blaf geklink. “Jy moet kom dat ek eendag vir jou wys hoe eersteklas kalander lyk! En wat dink jy moet ek met die klomp goed maak?”
“As mister MacDonald onseker is van die klas, sal ons wag tot ligdag toe sodat mister MacDonald beter kan sien. Dis mooie hout en mooi gewerk.”
MacDonald was kwaad. “Moenie met my kom staan en stories hou nie, Barnard! Ek het nie tyd vir bospraatjies nie. Die Goewerment soek stinkhout, die skeepsbase soek stinkhout, die hele wêreld soek stinkhout en my werf lê oorstok van dwarslêers en ek moet net goodfors uitdeel!”
Jozef het eenkant gehurk en met ’n stok in die grond gekarring. Oom Anneries het sy speke in ’n riem begin vaswoel … In Saul het ’n woede opgestaan wat sy hande langs sy sye laat vuis het en hom bloed uit sy binnewang laat byt het. MacDonald had hulle vas. Die boek in sy hand wat die skuld op die blaaie dra, is