Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Bettie Naudé
Издательство: Ingram
Серия: Saartjie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798163910
Скачать книгу
kyk met verlangende oë na Anna en Lina. “Ek moet musiekles toe gaan!”

      Haar maats het albei swembroeke aan. Hulle het die kraan oopgedraai en spuit mekaar met die tuinslang nat. Saartjie moet net koes.

      Anna draai die kraan toe en sy en Lina kom gou met Saartjie gesels.

      “Dis heerlik,” sê Anna. “Jy weet nie wat jy mis nie!”

      “Ek weet,” sê Saartjie met ’n swaar sug, “maar juffrou Marks sal my nooit vergewe as ek net wegbly nie …”

      “Hoe vorder die stuk?” vra Anna en sy en Lina kyk simpatiek na hul maat.

      Saartjie vertel hulle hoe sleg dit gaan en hoe sy aanhoudend op dieselfde plek foute maak.

      “Toemaar,” sê Lina, “jy sal nog steeds wen. Ek wed jou enigiets jy gaan eerste kom en ’n goue medalje kry.”

      “Ek sê ook so,” probeer Anna Saartjie opbeur. “Jy is die beste in ons provinsie … en jy gaan die beste in Suid-Afrika wees, nè, Lina?”

      Anna is effens kort en geset. Sy het ’n vrolike, ronde gesig en volg Saartjie altyd blindelings. Lina is lank en skraal met twee blonde vlegsels. Sy is die nugter een wat altyd die haakplekke uitwys wanneer Saartjie een of ander avontuur in gedagte het, terwyl Anna dit met entoesiasme begroet. Maar nadat Lina eers op die probleme gewys het, is sy gewoonlik ook vuur en vlam vir Saartjie se planne. Sy glo dat sy dan haar plig gedoen het en as hulle twee nie vir haar wil luister nie, moet sy by hulle staan. Lina is gewoonlik in die geheim maar net te bly Saartjie en Anna luister nie na haar nie!

      “Ek moet waai, ouens,” sê Saartjie en sug weer swaar. “Ek is al klaar laat.”

      Traag gaan sy by die hek uit. Anna en Lina hardloop weer terug kraan toe en Saartjie hoor hulle lag en gil soos hulle mekaar weer met die water natspuit.

      Die son brand op Saartjie neer.

      Naby die musiekonderwyseres se huis staan ’n groot ou akkerboom op ’n oop erf. Onder die boom groei heerlike groen gras en daar sit drie seuns van ongeveer Saartjie se ouderdom.

      Hulle groet haar en waai lui met hul hande.

      “Haai, Galpil – en Gert en Piet,” sê Saartjie. “Wat doen julle?”

      “Ons drink kondensmelk,” sê Galpil en staan op. “Ons wou eers in Lindfort gaan fliek, maar dis te warm om selfs bushalte toe te stap. Toe besluit ons pêrre om kondensmelk te koop.”

      “Moet lekker wees om so in die koelte te sit en niksdoen …”

      “Ek sê vir jou, ou perd, dit is. As ons so doodstil sit en hierdie twee pêrre,” en Galpil wys na Gert en Piet, “suig nie te hard aan hul blikkies nie, kan ons die sonbesies duidelik hoor sing.”

      Sy twee maats besluit hulle het nou lank genoeg stil gesit en begin summier weer aan hul kondensmelk suig. Galpil gaan sit weer en sê: “Oefen maar lekker klavier, Saartjie. Ons pêrre sal op die groot aand daar wees om vir jou duim vas te hou …”

      Galpil begin ook weer sy kondensmelk drink.

      Saartjie stap maar traag verder.

      Galpil, of eintlik Lodewyk le Fras de Waal, en Gert en Piet is groot maats en ook gedurig bymekaar. Hulle is taamlike goeie vriende met die Drie Muskiete. Op laerskool was hulle altyd in die meisies se klas en op hoërskool is hulle weer saam in dieselfde graadagt-klas. Die drie ouens het die drie meisies selfs al na een van die skoolfunksies toe gevat.

      Saartjie-hulle hou nogal van die ouens. Saartjie meen Galpil se voorkoms het baie verbeter vandat hy in die hoërskool is. Sy hemp hang nie meer agter by sy broek uit nie en sy kouse lê ook nie meer so baie op sy skoene nie. Dit lyk of hy sy hare deesdae baie meer kam as in hul laerskooldae.

      Ja-nee, dink Saartjie, Galpil het mooi reggekom en hy is glad nie ’n onaardige ou nie. Hy moet net ophou om vir almal “perd” of “ou perd” te noem.

      Saartjie klop aan juffrou Marks se voordeur. Sy kyk op haar horlosie. Sy het só by al haar maats gedraai dat sy nou ’n kwartier laat is.

      Die juffrou maak die deur oop.

      “Jy’s laat,” sê sy en loer oor haar bril na die meisie.

      “Net ’n paar minuutjies, Juffrou,” sê Saartjie. “Dit was só warm dat ek nie vinnig kon loop nie.”

      “Nou kom, laat ons begin. Jy moet hard oefen.”

      Saartjie sug. Sy wonder wat doen sy nou eintlik die afgelope tyd as dit nie “hard oefen” is nie.

      Sy gaan sit voor die klavier.

      “Ek gaan jou vanmiddag help met daardie moeilike deel totdat jy dit foutloos kan speel,” sê juffrou Marks. “Jy móét eenvoudig wen!”

      Saartjie byt haar onderlip. Sy is al so vies vir almal wat alewig vir haar sê: “Jy móét wen!”

      “Hoekom?” sê sy en vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.

      “Hoekom wat?” vra die musiekjuffrou verbaas.

      “Hoekom moet ek wen, Juffrou?”

      “Omdat dit nie net ’n groot eer vir jou én vir my as jou onderwyseres sal wees nie, maar ook vir jou familie, jou maats, vir die hele Lynnekom …”

      “Gauteng, Suid-Afrika, die wêreld,” sê Saartjie sarkasties en voeg dan vinnig by: “Juffrou …”

      Die onderwyseres lig haar bril en laat dit op die punt van haar neus rus sodat sy makliker daaroor kan kyk. “Probeer jy snaaks wees, Saartjie?”

      “Ekskuus, Juffrou,” sê die meisie gedwee. “Ek het dit nie só bedoel nie. Ek is net al moeg vir …”

      “Ek weet,” sê die juffrou en sy klink simpatiek, “maar dis nog net ’n paar dae, dan is die musiekfees agter die rug. Kom ons begin nou, toe.”

      Saartjie oefen lank en hard. Sy kom geleidelik reg, totdat sy die moeilike gedeelte vinnig en hard kan speel – soos dit hoort.

      “Dis uitstekend,” sê juffrou Marks. “Kom ons gee nou weer ’n bietjie aandag aan jou hande.”

      Fronsend kyk Saartjie na haar hande. Sy kan niks met hulle verkeerd sien nie.

      “Só, Saartjie,” sê die onderwyseres. “Só moet jy hulle oplig … swierig en elegant. Doen dit oor en oor.” Juffrou Marks gaan by die vertrek uit.

      Saartjie oefen en lig haar hande baie hoër op as wat nodig is. “Dit lyk simpel,” brom sy.

      Dan rus sy ’n bietjie. Sy kyk ingedagte by die venster uit. Al my vriende geniet die lewe, dink sy mismoedig, maar ek moet hier sit en klavier oefen.

      “Saartjie!”

      “Ja, Juffrou!”

      “Hoekom oefen jy nie? Begin weer voor.”

      “Ja, Juffrou,” sê sy gedwee.

      Sy sal seker maar haar bes moet doen. Sy hoop net sy wen daardie kastige wonderlike medalje!

      Saartjie begin speel. Sy sien die toneeltjie voor haar: die swaar doem-doem-doem soos die gevaar naderkom en dan die spanning soos die woud se diertjies met gespitste ore wag terwyl die onheil meedoënloos nader en nader kom … harder … harder … en dan spat die diertjies in alle rigtings weg – liggies … en sagter en sagter.

      Saartjie vergeet van Muggie wat skool speel, van die tuinslang se heerlike koel water, van die twee woeste Rooihuide, van die kondensmelk en die sonbesies … sy vergeet van al haar moedeloosheid. Sy lewe haar ten volle in die stuk in. Haar hande vlieg oor die klawers. Sy speel die moeilike komposisie foutloos.

      Juffrou Marks kyk met ’n breë glimlag na die meisie. Haar oë blink. Sy het nog nooit ’n musiekstudent soos Saartjie Baumann