Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Bettie Naudé
Издательство: Ingram
Серия: Saartjie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798163910
Скачать книгу
sê mevrou Baumann.

      “Ons wil nie tee hê nie, dankie, Ma. Net koek.”

      Mevrou Baumann gee vir hulle elkeen ’n stuk roomkoek. Hulle kyk afwagtend na haar. Dan sê Apie: “Sy’t twéé stukke gehad, Ma!”

      Hy wys met sy vuil voorvinger na Saartjie.

      Nog ’n stuk koek word op elke leë hand gesit. Die twee seuns sê dankie en stap versigtig by die vertrek uit met ’n groot stuk roomkoek op elke hand.

      Saartjie en haar ma lag toe hulle Apie by die deur hoor sê: “Ek hoop nie hierdie koek bederf ons eetlus vir mensvleis nie, Pantoboggem.”

      “Ek glo darem nie dit sal nie, Chingachook,” sê Bennie.

      Pantoboggem en Chingachook is hul Rooihuidname. Saartjie dink Chingachook klink nogal goed, maar waar op aarde kom hulle aan ’n naam soos Pantoboggem!

      Sy kyk op haar horlosie. Sy moet nou aanstaltes maak.

      Met haar musiekboeke onder die arm en ’n groot stuk koek waaraan sy loop en kou, stap Saartjie musiekles toe.

      Haar ma kyk by die venster uit en sien hoe traag sy by die tuinpaadjie afstap. Sy is so talentvol, maar ook so ’n maltrap en rabbedoe.

      Saartjie dra Hoërskool Saamwerk se blou uniform, met wit sokkies en swart plathakskoene. Sy het donker krulhare en helderblou oë – ’n rare kombinasie. Op die brug van haar neus is daar ’n paar bekoorlike sproete.

      By die hekkie hap sy die laaste stuk koek. Sy gebruik haar wit sakdoekie om ’n paar krummels van haar mond en hande af te vee.

      Saartjie kyk mismoedig na die sypaadjie wat met betonblokke uitgelê is. Sy voel tog nie nou lus om te spring nie.

      Sy het vir haarself ’n reël neergelê – sy loop nooit op die betonblokke nie, maar spring altyd van die een na die ander. Sy moet boonop só spring dat geen gedeelte van haar voete aan een van die gleuwe tussen die blokke raak nie. As sy op ’n gleuf te lande kom, moet sy weer van voor af begin. Dit is vir haar ’n saak van eer.

      Saartjie hou haar boeke stywer onder haar arm vas en begin vasberade spring. Sy doen dit vinnig, maar ook versigtig. Sy wil tog nie nou in hierdie hitte weer van voor af moet begin nie.

      Skielik gaan staan sy botstil en kyk af. Die skoenpunt is ámper op ’n gleuf. Sy gee ’n sug van verligting. Dit is amper, maar darem nie! Sy hoef nie weer oor te begin nie.

      Die meisie spring versigtig verder en kom by die einde van die beton-plaveisel sonder om aan ’n gleuf te raak.

      Sy stap nou vinnig aan. As sy te lank draai, gaan sy laat wees en dan sal juffrou Marks, haar musiekonderwyseres, moeilik raak.

      Saartjie se beste maat, Anna Strydom, woon in die huis langsaan hare. Die twee ken mekaar al van die dae toe hulle as babas agterdogtig uit hul stootwaentjies na mekaar geloer het.

      Anna en Saartjie se ander groot vriendin is Lina Rens. Die drie meisies is gedurig bymekaar en staan in Lynnekom bekend as die Drie Muskiete.

      Saartjie maak die tuinhekkie vinnig oop. Sy wil darem net eers gou gaan hallo sê en kyk wat Anna doen.

      In die skadu van ’n groot boom op die grasperk sien sy Anna se sesjarige sussie, Johanna Catherina, of soos sy beter bekend is, Muggie.

      Muggie is altyd ’n oorlas vir die Drie Muskiete. Sy is ’n koddige en astrante klein skepseltjie. Oral waar Saartjie, Anna en Lina heen gaan, moet Muggie en haar pop, Trienkie, saamgekarwei word. As hulle weier om haar saam te neem, sit sy gewoonlik só ’n keel op dat almal se oordromme tuit. Daar is dan maar net een oplossing: hulle moet Muggie teen wil en dank saamvat.

      Muggie het op die oomblik twee maatjies by haar. Die maatjies en Muggie se pop sit op stoeltjies en sy staan voor hulle. Sy is besig om hulle sleg te sê. Sy sê hulle is dommer as klippe. Sy sê enige kind wat al in sy tweede skooljaar is en nie weet daar woon ’n man in die maan nie, moet terug kleuterskool toe gaan.

      “En jy, Trienkie, wat met so ’n onnosel uitdrukking op jou bakkies sit …”

      Saartjie val haar glimlaggend in die rede: “Waar’s Anna, Muggie?”

      Die kleintjie kyk kwaai na haar. Dan sê sy: “Ek’s nie Muggie nie.”

      “Wie’s jy dan?”

      “Ek’s Juffrou.” Muggie wys met ’n handjie na die twee meisies en die pop voor haar. “En dis my klas – die domste klas in die wêreld!”

      Die twee meisies giggel.

      “Al wat hulle kan doen, is om te sit en giggel,” sê Muggie en voeg dan kwaai by: “Stil! As julle nie dadelik stilbly nie vat ek julle kantoor toe.”

      “Waar is Anna, Juffrou?” vra Saartjie grinnikend. Daar is twee kuiltjies in haar wange.

      “Sy en Lina is hier uit na Lina se huis toe. Ek het gehoor hulle sê dit help nie om jou te gaan haal nie, want jy sit seker weer voor die klavier. Hulle sê jy gaan jou nog besimpeld oefen.”

      Saartjie loop weer met die tuinpaadjie af hek toe. Sy hoor Muggie se skril stemmetjie soos sy die drie voor haar weer roskam. Hulle is nou selfs nog dommer as klippe. Sy voel lus om hulle na die skoolhoof se kantoor toe te vat en vir Meneer te vertel hoe dom hulle is.

      Dis darem lekker om nog klein te wees en so sonder sorge met jou maatjies en ’n pop skool te speel, dink Saartjie weemoedig. Sy, Anna en Lina het ook só gespeel toe sy nog jonk was, voor sy geweet het van kunswedstryde en musiekfeeste en sulke soort goed.

      “Ja,” sug die dertienjarige Saartjie by haarself, “dis lekker om jonk te wees.”

      Traag stap sy verder in die warm son met haar musiekboeke onder haar arm.

      By ’n oop erf langs Anna se huis wil sy kortpad vat na juffrou Marks toe.

      Voor sy ver oor die oop stuk grond gestap het, sien sy gelukkig vir Apie en Bennie tussen ’n klomp bome en bosse. Die voetpaadjie gaan vlak by hulle verby. Saartjie steek dadelik vas toe sy sien hoe die twee ’n klomp hout opmekaar pak om vuur te maak en met breë glimlagte op hul gesigte na haar kyk.

      “O, nee,” sê sy hardop vir haarself, “julle vang my nie so maklik nie.” Sy begin voetjie vir voetjie agteruit stap sonder om haar oë van hulle af te neem. Sy vertrou hulle nie. Hulle het gesê hulle is Rooihuide – mensvretende Rooihuide – en hier is hulle besig om ’n vuur aan te pak!

      Die twee seuns stap kastig ongeërg na haar toe. Apie roep: “Kom gou hier, Saartjie. Ons wil vir jou iets wys!”

      Saartjie antwoord nie. Sy retireer vinniger. Hulle het haar vantevore al gepak en die slegste daarvan afgekom. Maar dit lyk vir haar of die twee agtjariges by die dag sterker word. En sy het ook mos nie nou tyd om met hulle te staan en argumenteer en miskien handgemeen te raak nie. Sy moet gou maak, anders is sy laat.

      Die meisie draai om en stap haastig weg. Sy sal maar moet vergeet van die voetpaadjie wat naby Apie en Bennie se brandstapel verbygaan.

      Sy loop vinnig en loer vlugtig oor haar skouer. Apie en Bennie stap nou ook vinnig. Sy begin draf – die twee bloeddorstige Rooihuide draf ook. Sy hardloop – hulle hardloop ook.

      Saartjie is ’n skitterende atleet. Sy is ver voor. Toe Apie en Bennie op die sypaadjie kom, gaan staan hulle stil. Hulle sal haar nooit kan vang nie.

      “Jy’s bang, nè?” skree Apie teleurgesteld en maak sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande oorspronklik was.

      Sy antwoord nie. Sy loop net vinnig verder. Apie en Bennie gaan terug na die oop werf toe om hul vuur verder te stook. Die twee hoop maar die vleisskaarste sal nie lank aanhou nie en dat ’n maat van hulle wat nie weet hulle is Rooihuide nie, daar sal opdaag. Hulle sal hom sommer vinnig bydam!

      Saartjie stap gou by Lina se huis aan om haar twee vriendinne te sien. Wanneer sy naby die hoë heining om Lina-hulle se roostuin