Barry en Kosie is in Kosie se kamer besig om die kaste vol boeke en ander goed wat gestoor moet word toe te spyker en naderhand gaan sy na hulle toe. Sy gaan sit tussen die boeke op die grond by hulle. Sonder baadjie en met sy hempsmoue opgerol, is Barry besig om die laaste spykers in ’n groot kis te slaan. Glimlaggend sê hy vir haar: “Kry ’n mens dan nie tee hier nie? Nee, sit jy doodstil, Kosie kan vir ons gaan maak.”
“Ek sal nou gaan,” sê Kosie met sy mond vol spykers. “Nog net drie spykers.”
’n Lang tydjie kyk sy in stilte hoe hulle werk, toe sê sy: “Barry.” Nou gaan dit darem makliker om sy naam te gebruik.
“Ja?”
“Sien ons dikwels mense op jou plaas?”
Hy kyk skuins af na haar, toe sê hy, sy gesig doodernstig: “So af en toe, Magrieta. Waarom?”
“Ek … ek wil klere koop vir my en Kosie, maar as ons nie dikwels mense sien nie, dan kan ek die geld bêre vir Kosie se universiteitsbehoeftes.”
Barry is ’n rukkie stil en sekuur slaan hy die een spyker na die ander in, toe sê hy: “Magrieta, wat is nou eintlik jou indruk van ’n Karoo-plaas? Ek weet nou al wat jy van ’n Karoo-boer dink …”
“Ek weet,” spot Kosie, “en ek sal vir jou sê: ’n kaal, uitgedroogde stuk wêreld waar daar net klippers en vaal bossies en ’n rooibaksteenhuisie en ’n paar maer skape te siene is …”
“Jy dink verniet jy’s snaaks, Kosie …”
“Jy het self vir my gesê dat die mense daar nie eens was nie omdat daar nie water is nie; dat Eendekuil ’n lugspieëling is wat ’n ou boer, seker Oupa, een skreeuwarm dag bo van ’n windpomp af gesien het …”
“Koos!” sê sy kwaad en onthuts, maar Kosie lag terwyl hy opstaan om tee te gaan maak.
“Koos is sommer snaaks,” sê sy half verontskuldigend, maar Barry antwoord nie. Met ’n vroom gesig slaan hy die laaste spyker in die kis, sit die hamer neer en toe kom hy langs haar sit met sy rug teen die kis. Iets spottends in die blik wat hy op haar vestig, verplig haar om aan te gaan: “My pa het my somtyds vertel van sy lewe as boerseun, van die verskriklike droogtes wat die Karoo teister. Was hy dan verkeerd?”
Sy gesig word stil en ernstig, asof hy in sy gedagtes weer so ’n droogte beleef.
“Nee, hy was reg, nooientjie. As die droogte regtig kom, is die Karoo ’n plek van smart en verdriet.”
En daar wil Kosie gaan bly, Kosie met sy jong geesdrif. Daar wil hy sy mooi droomwêreld gaan opbou, om dit dan weer net so voor sy oë vernietig te sien word terwyl hy magteloos toekyk! ’n Afsku van die wêreld wat ’n man met mooi beloftes lok en roep en hom dan, as hy eers eenmaal magteloos in sy greep is, vernietig, pak haar beet. Haar pa was reg! Hy kon die hartseer en verdriet nie verduur nie. O, doen sy die regte ding om Kosie weer daarheen terug te neem?
Barry se koel, effens spottende stem dring meteens deur haar mymeringe.
“Toe maar, jy’s verniet so ontsteld. Die jare van hartseer en droogte is eers weer agter die rug. Ons sal probeer om vir ons stadsvlinder die blink kant bo te hou sodat sy lekker kan speel die ses maande van haar gedwonge verblyf tussen ons.”
Magrieta se wange word rooi, die groen oë skitter.
“En dink jy dis al hartseer wat daar is, om tevergeefs te wag op die reën wat nie wil kom nie en jou skape om jou te sien doodgaan? ’n Stadsvlinder!” begin sy driftig, toe byt sy skielik haar onderlip vas. Wanneer sal sy tog leer om koel en kalm teenoor hom te bly, nie op loop te raak as hy haar so moedswillig soek nie?
“Watter hartseer is daar dan nog, Magrieta?” vra hy sag, en toe sy nie antwoord nie, sit hy sy hand ’n oomblik op hare. “Toe maar, ek weet jy is nie net vlinder nie. Ek het jou maar net geterg. Ek wil jou ook net laat besef dat hartseer en verdriet nie tot die Karoo en sy mense beperk is nie. En eendag sal jy nog vir my van joune vertel, nè? Maar moenie jou verder oor Kosie bekommer nie, en moet hom nie een oomblik van sy erfenis probeer terughou nie … al is ’n groot deel van daardie erfenis ook hartseer en verdriet.”
Hy neem sy hand weg en op heeltemal ’n ander toon vervolg hy: “Maar ek wil graag hê dat jy op Wag ’n Bietjie moet kom vlinder speel, en daarvoor het ’n mens darem ’n paar mooi rokkies nodig. Ek is bly julle speel tennis, dan sal jy darem nie maklik verveeld raak nie. Koop vir jou genoeg tennisrokkies, ’n aandrok, die mooiste wat jy kan kry – ’n groene om by jou oë te pas – en ’n baie mooi trourok. Verder sal jy tog self weet wat ’n vlinder nodig het.”
“Dankie,” sê Magrieta styf, want sy is al weer verleë. “Ek sal probeer om te voldoen aan jou begrip van ’n stadsvlinder.”
Tergend sê hy: “Ek hou niks van die dreigement wat in daardie woorde opgesluit is nie. Maar wag maar. Ons sal sien of jy nog so groot sal praat en so parmantig is as jy alleen daar op die eensame Karoo-plaas is en dit word donker en die jakkalse en wolwe begin huil en kom nader huis toe.”
Sy kyk hom agterdogtig aan en Barry vervolg glimlaggend: “Wag maar … wag maar, jou parmantige rooikop. Op Wag ’n Bietjie sal ons jou mak maak.”
Sy kyk hom uitdagend aan en sê spottend: “So! ’n Groot sterk boer en dan maak hy klein stadsmeisietjies bang! Foei tog!”
Barry Retief staan op, buk vooroor, neem Magrieta aan haar elmboë en gemaklik, asof sy ’n kindjie is, tel hy haar op en laat haar op haar voete staan. Dan vra hy: “Is daar darem iets, Magrieta Niemeyer, waarvoor jy bang is?”
“Wel … ek is nie vir jou bang nie.”
“Ek is bly,” sê hy glimlaggend. “Kom ons gaan kyk waar Kosie met die tee bly.”
Kosie was in Magrieta se kamer besig om ’n snaar aan sy raket reg te maak. Toe hy dit neersit om die tee te maak tel Barry dit op.
“Maar dié raket is mos heeltemal te swaar vir jou, Kosie.” Hy bekyk die raket noukeurig, toe sê hy weer: “Waar is Magrieta se raket?”
“Laat staan my raket, asseblief. Ek laat nie vreemde mense daaraan vat nie.”
“Ek is nie vreemde mense nie. Ek is jou aanstaande man,” antwoord hy ongeërg terwyl hy opstaan en die raket wat teen die muur hang, afhaal en bekyk.
“Ek wil ook ’n nuwe raket koop. Ons sal môre vir ons elkeen een uitsoek en dan wil ek sien hoe julle tennis speel.” Hy bly stil, toe sit hy die raket neer, wend hom tot Magriet en sê beslis: “Ons het nog nie geldsake bespreek nie. Ek wil ook nie heeldag daaroor gesels nie. Saam met my erfporsie van tant Katrien het ek vir ses maande die verantwoordelikheid vir julle twee gekry, en dit beteken finansiële verantwoordelikheid ook. En ek wil geen teëpratery hoor nie. Ek sal vir Kosie se universiteitskoste sorg, vir alles wat hy nodig het. Ek het julle losies reeds vereffen. Het jy nog geld nodig? Rekenings? Doktersgeld?”
“Nee, dankie.”
Die koel stem, die trotse beweging van die rooi kop, was hy te wagte. Maar hoe moeilik dit ook al is, die saak moet afgehandel word. Skielik draai sy na hom en sê onseker: “Dis … baie gaaf van jou, dankie. Ons sal alles weer terugbetaal.”
Barry kyk na haar, na die sierlike kop so hoog in die lug terwyl sy met moeite die bewing van haar lippe stil, en sag sê hy: “Natuurlik. Bekommer jou nou nie verder daaroor nie.”
Magrieta en Barry is in die Pretoria-Oos-kerk getroud in die teenwoordigheid van Kosie en meneer Steyn en Magrieta se ander kantoorvriende. Op die tafel voor die preekstoel het ’n groot bak vol pragtige wit lelies gestaan en Magrieta het ’n ruiker van rose en angeliere gehad. Barry het die blomme vir haar gebring toe hy haar kom haal het om kerk toe