Piet Scholtz stap na haar toe en sê: “Jy kon darem vir my gesê het, Magrieta. Maar ek trek alles terug wat ek gesê het en ek wens jou van harte geluk. En eendag as julle my nooi, kom kuier ek vir julle op julle plaas.”
Toe Piet by die kamer uit is, kom Barry ook op haar lessenaar sit. Ondersoekend gaan sy blik oor haar gesig in ’n poging om haar gemoed te peil. Hy kan raai waarom die lippe so ferm opmekaar gedruk is en die groengrys oë hom so koel aankyk. Dis Piet Scholtz se werk. Maar sy lyk darem meer uitgerus as gister, dink hy, en sê: “En toe? Van plan verander?”
“Wat bedoel jy?” vra sy koel, hoewel sy goed weet waarvan hy praat. Sy was baie beslis toe hy saam met haar kantoor toe wou kom.
“Jy was dan so vasberade om jou boer weg te steek.”
“Moenie onsin praat nie!” sê sy vinnig en toe, kwaad dat sy haar al weer deur sy tergery van stryk laat bring het, vervolg sy koel: “Kom, dat ek jou na meneer Steyn toe neem. Dit was sy voorstel dat jy moes kom.”
“Ek het gedink dis nie joune nie,” sê hy, maar wend geen poging aan om op te staan nie. “Wat het meneer Steyn gesê?”
“Wat kon hy sê? Ek dink hy glo maar nie heeltemal my storie nie.”
“Dan sal ons hom gou oortuig. Magrieta, moet ek nie eers vir jou ’n verloofring gaan koop nie?”
“Nee,” sê sy haastig en beslis. “Ek hou nie van verloofringe nie. Kom!”
Meneer Steyn ontvang Barry hartlik en een vir een kom die ander in en word hulle aan Barry voorgestel.
Millie en Susie het tegelyk ingekom. Millie gaan ’n oomblik botstil staan, haar blou oë vol verbasing op die aantreklike, welgeklede jong man wat so op sy gemak met meneer Steyn gesels, toe kom sy glimlaggend nader.
“Magrieta, jou swernoot … en ek het nogal ’n stukkie pruimtabak laat koop.”
Die klomp lag heerlik en dit is nie Barry wat verleë is nie.
Die teeparty was ’n sukses en toe Millie vir Magrieta ’n oomblik alleen kry, fluister sy vir haar: “In hemelsnaam, ou dier, as daar nog van sy soort is, laat my tog dadelik weet. Dit hoef nie eens so ’n nuwe uitgawe te wees nie.”
Meneer Steyn het ’n kort toesprakie afgesteek om hulle alle geluk en voorspoed toe te wens en’n koevert aan Magrieta oorhandig: ’n ietsie vir haar uitrusting, het hy gesê. Magrieta was totaal verslae en het ’n knop in haar keel gekry, en dit was Barry wat namens hulle albei ’n paar woordjies van dank aan meneer Steyn gerig het en hulle almal genooi het om ná die plegtigheid ’n heildronk op hul gesondheid te kom drink.
Dit was al ná halfeen toe hulle klaar is en Barry saam met Magrieta na haar kantoor toe gaan. Sy skeur die koevert oop en neem twee kleiner koeverte daaruit. In die eerste een is ’n volle maand se salaris. Ongelukkig kyk Magrieta daarna. Dit is maar die twaalfde vandag en sy het die vorige dag eers weer begin werk nadat sy meer as drie weke van die kantoor afwesig was weens haar siekte. ’n Hele maand se salaris waarvoor sy nie gewerk het nie! In die tweede koevert was twee vyfpondnote vir haar uitset.
“Maar ek kan dit nie aanneem nie,” sê sy ongelukkig.
Barry kom langs haar staan, kyk na die tjek en die geld en sê: “Waarom nie?”
“Ek het dit nie verdien nie. ’n Volle maand se salaris en ek het nie eens twee dae gewerk nie! Boonop nog tien pond present.”
“Ek is seker jy het dit oor en oor verdien. Jy kan in elk geval tog nie weier om dit te neem nie, kan jy?”
“Nee-e, maar …”
“Vergeet dit maar. Meneer Steyn weet wat hy doen. Kom jy vanmiddag saam met my eet?”
Moeg en warm en deurmekaar sê sy aarselend: “Ek … ek glo nie, dankie. Kosie … is alleen.”
“Die arme klein Kosie wat so aan homself oorgelaat word! Maar ek het jou beswaar dié keer voorgespring. Ek het Kosie al vanmôre gevra om saam met ons te kom eet.”
“Jy was baie seker dat ek ja sou sê,” sê sy koel.
“Wragtie, meisiekind! Dit lyk of die wind jou enige tyd kan wegwaai, maar soveel gedetermineerde, opsetlike, astrante parmantigheid het ek nog nooit teëgekom nie.”
“Ek is nie astrant nie.”
“Wel, my idee van ’n lieftallige bruidjie is jy sekerlik ook nie.”
“Dis die laaste ding ter wêreld wat ek wil wees.”
“Dit mag wees. Jy kan ook maar aanvaar dat ons dit roerend eens is. Maar as jy Maandag met my gaan trou, verwag ek dat jy jou, in die openbaar altans, soos ’n bruid gaan gedra. En as jy nie daarvoor kans sien nie – om hoflik en vriendelik en aangenaam teenoor my te wees nie – is dit nog nie te laat om so te sê nie.”
Magriet word yskoud. Dit het sy nooit verwag nie. Sy vou die koevert met hande wat meteens bewe en sit dit in haar handsak. ’n Ultimatum? Ja. En ’n uitdaging wat sy nie durf aanvaar nie. Kosie se stralende geluk weer vernietig nadat sy dit reeds vir hom verseker het? Sy neem haar hoed en sit dit voor die spieël teen die muur op, merk werktuiglik hoe bleek sy is, neem dan haar handsak en kyk na hom. Sy gesig is streng en onsimpatiek, die bruin oë ongelooflik koel, en met moeite bedwing sy die bewing van haar lippe.
Maar met haar kop omhoog sê sy trots: “Ek was nie onhoflik nie.”
“Dis meer as onhoflik. Dis beledigend. Aan die een kant skroom jy nie om met my te trou vir wat jy uit die transaksie kry nie, maar aan die ander kant is jy skaam om saam met my in die openbaar te verskyn.”
“Dis nie waar nie,” sê sy ontsteld.
“Dit is waar. Kom ons loop!”
Saam is hulle uit, die trappe af en toe hulle buite kom, staan Magrieta stil en kyk onseker na hom.
“Waar gaan ons eet?”
“Ons sal maar die etery laat staan. Ek sou dit nooit voorgestel het as ek geweet het jy voel so oor die saak nie.”
Magrieta, kwaad en ongelukkig, nie ver van die skande van trane nie, stap stilswyend langs hom in die rigting van die bushalte. Ná ’n sydelingse blik na die meisie langs hom gaan staan Barry skielik botstil in die straat.
“Ek is jammer, Magrieta. Ek is sommer ’n renostervelboer. Maar jy moet ook nie vir my so kwaad maak nie. Kom ons gaan eet.”
Hy neem haar arm en draai om en hulle stap terug in die rigting van waar hulle gekom het.
“Moet nou nie huil nie.”
“Ek huil nie.”
“Ja, jy is op die punt van trane. Ek het gesê ek is jammer. Ek weet jy is moeg en honger en prikkelbaar, en ek moes geen notisie van jou buierigheid geneem het nie.”
“Ek is nie buierig nie …”
“Toe maar, toe maar, ons sal nie verder stry nie. Ek sal mettertyd ook seker leer om my rooikopnooientjie se humeur nie so ernstig op te neem nie.”
Sy stem is tergend en Magriet sê nie ’n woord verder nie. So ’n man het sy nog nooit teëgekom nie. En dan sê hy sy is moedswillig! Maar wag maar ’n bietjie. Haar beurt sal ook seker kom. Sy sal maar stadig oor die klippe, eers die wêreld ’n bietjie bespied … en dan sal hy sy rieme styfloop.
Hoofstuk 5
Hoofstuk 5
Sondag pak hulle heeldag in. Barry bring die dag by hulle deur en help hulle. Die koffers wat vier jaar weggepak was, is uit die pakkamer gehaal, afgestof en skoongemaak: goeie leerkoffers wat nog van hul dae van welvaart getuig.
Die koffers is goed, ja, dink Magrieta, maar, o vader, wat pak ek daarin? Kosie, wat in die laaste jare so vreeslik gegroei het, sonder die minste konsiderasie vir hul skraal inkomste, en wat tog altyd netjies