“As al die dinge wat julle sê waar is, dan het Jos juis sy vriende nou nodiger as ooit vantevore. Wat beteken ’n vriend as hy sy rug op jou draai juis wanneer jy hom die nodigste het?”
“Ek sê nie jy moet jou rug op hom draai nie. Ek sê net jy moenie uit jammerte vir hom dinge doen wat jou eie lewe kan verongeluk nie.”
“Ek is nie jammer vir Jos nie,” sê sy koud. “Ek bewonder hom en ek dink hy is ’n besonder interessante en stimulerende mens.”
“Wel,” sê hy spottend, “ek hoop hy deurstaan die toets van die tyd beter as ek!”
Sy stap saam met hom binnetoe, kwaad en ontsteld. Voor die kaggel staan hy ’n oomblik stil en tot haar verbasing en verdere ontsteltenis neem hy die geraamde foto van hulle twee van die kaggelrak af en steek dit in sy sak. “Ek verkies om nie hier op jou kaggel te pryk nie. Kry liewer ’n foto van Jos.”
Sy gluur hom vererg aan.
“Dis my foto, gee dit asseblief terug. Ek sal dit nou hier voor jou oë stukkend skeur.”
Hy glimlag geamuseerd.
“Ek sal dit in die familie-argief bewaar! Dankie vir die koffie en moenie so kwaad wees nie. ’n Dame moet leer om haar humeur te alle tye te beteuel.” Dan sê hy op heeltemal ’n ander toon: “Ek sal weer kom. Ek het jou ouma belowe ek sal af en toe by jou inloer om seker te maak dit gaan goed met jou.”
Haar gesig val en sy kan nie haar teleurstelling verberg nie.
“Is dit waarom jy vanaand gekom het? Omdat jy vir Ouma belowe het?”
“Waarom anders dink jy het ek gekom?”
Sy haal haar skouers op en sê gesteurd: “In daardie geval hoef jy nie weer te kom nie.”
“As ’n mens vir jou ouma ’n ding belowe, sorg jy dat jy daardie belofte nakom. Maar jy hoef nie bang te wees nie. Ek is nie van plan om jou onnodig lastig te val of my in jou privaat sake in te meng nie.”
Daarmee sê hy tot siens en stap uit.
Kwaad en ontsteld bly staan sy daar in die middel van die vloer.
Sy kyk na die kaggelrak waar sy die foto’s gerangskik het, maar selfs met die rooi angeliere lyk dit skielik leeg en oninteressant. Wat verbeel Andries de Wet hom! Net omdat hulle eenmaal verloof was en hy ’n simpel belofte aan haar ouma gemaak het, gee dit hom nog nie die reg om vir haar te wil voorskryf wat om te doen nie. Sy is oud genoeg om op haar eie voete te staan en haar eie besluite te neem. En hoe gouer hy dit besef, hoe beter.
Vermetele, baasspelerige man! Sy voel of sy hom kan braai. Hy het nou haar hele bui bederf. En sy was nogal so bly om hom vanaand te sien.
Die Sondag was ’n helderblou dag. Nie ’n windjie het geroer nie. Cathy het vroeg opgestaan, vir haarself ontbyt gemaak, die woonstel aan die kant gemaak, en toe met ’n boek op die balkon gaan sit. Sy het Jos nie voor elfuur op die vroegste verwag nie. Hy was ’n regte nagwolf en het vroeë oggende gehaat. Tot haar verbasing klop hy net na tienuur aan haar deur.
“Jy is vroeg,” sê sy verras.
“Ek het gedink miskien waai die wind later, so kom ons geniet maar die mooi dag terwyl ons kan.” Hy het haar woonstel deurgekyk en goedkeurend geknik. “Dit lyk baie gesellig, maar ek sal maar voorlopig in die hotel bly. As ek vir myself moet kos maak, vergaan ek seker van ellende. Maar kom, die blou dag roep en dit raak laat.”
Opgewonde het Cathy saam met hom by die trap afgehardloop. Hulle het die pad na Somerset-Wes en die Strand gekies, maar dit het daar reeds gewemel van die mense en hulle het besluit om verder met die kuspad aan te ry. Op een plek, waar die grond skerp wegval van die pad, het hulle uitgeklim en ’n lang ruk sit en kyk hoe die hoë golwe hulleself skuimend te pletter loop teen die donker rotse daar onder.
“Wat ’n volmaakte plek,” sê Jos later saggies en daar is ’n peinsende uitdrukking op sy gesig. “Ek is seker ’n mens sal hier altyd inspirasie vind, al is jy ook hoe moeg en sat vir die lewe.”
Cathy, wat die afgrond heimlik so ’n bietjie vreesaanjaend vind, sê liggies: “Wie raak nou moeg en sat van die lewe as daar nog so baie interessante dinge is om te doen? Kom ons ry.”
Hand aan hand stap hulle terug na die motor. Later hou hulle stil by ’n strandjie en gaan stap ’n ent. Die somerson brand op hulle neer en hulle is verplig om in die skadu van ’n groot oorhangende rots skuiling te soek. Die vars seelug en oefening het Cathy se eetlus geprikkel en sy begin wonder wanneer en waar hulle gaan eet. Asof in antwoord staan Jos op en stap na die motor. Hy kom terug met ’n kardoesie appels en ’n stuk sjokolade wat hy vir haar aanbied.
“Is dit ons middagete?” vra sy laggend.
“Hier is nog ’n halwe pakkie beskuitjies ook,” sê hy en bring dit ook te voorskyn. “Ons kan later as ons by ’n kafee kom ’n koppie tee of ’n koeldrank gaan drink. Ek hoop dis genoeg,” voeg hy effens bekommerd by.
“Heeltemal genoeg,” sê sy. Sy vryf ’n appel met haar sakdoek blink en begin smaaklik daaraan eet. As sy geweet het, kon sy ten minste vir hulle ’n paar lekker hamtoebroodjies ingepak het. Maar sy is so gewoond aan Andries se deeglikheid dat sy nooit daaraan gedink het nie. Volgende keer sal sy beter weet.
Vir Jos is kos natuurlik van minder belang as die dinge van die gees. Sy is seker hy eet nie genoeg nie, daarom lyk hy soos hy lyk. Hy het iemand nodig om na hom te kyk, iemand wat sal sorg dat hy genoeg eet en rus.
“Haai,” sê Jos saggies langs haar. “Kom terug. Ek is besig om vir jou iets belangriks te vertel.”
“Ek was nooit weg nie,” sê sy. “Vertel maar, ek luister.”
Hulle het oor alles en nog wat gesels. Oor boeke en oor mense, oor die lewe en hulle planne en ideale. Later het hy ’n digbundel uit sy sak gehaal en met die gedreun van die see in die agtergrond vir haar daaruit voorgelees. Hulle het saam met die digter gedroom, gefilosofeer, gejuig en gepeins – hulle was een met die volmaakte dag en die son en die see. Heerlike gedigte, ewig en onverganklik, en sy sanik oor ’n hamtoebroodjie?
Heelwat later, toe dit so ’n bietjie koeler was, het hulle ge-swem en ’n rukkie in die son lê en bak. Jos se byna pynlike skraalheid het Cathy weer opgeval. Hy is heeltemal te maer, dink sy, maar sy het dit nie gewaag om iets te sê nie.
“Jy het my nog nie van jou vakansie vertel nie,” sê Jos onverwags.
“Dit was heeltemal lekker en daar was meer as genoeg om te doen, maar ek was nogal eensaam – ek het seker maar na my ouers en my broers verlang. Maar ek het lekker gerus en baie gelees, en ek is gereed vir alles wat voorlê.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek het Annette ook daar gesien.”
“Annette? Het sy daar gekuier?”
“Sy het een naweek saam met Andries gekom – sy ouers het ook daar vakansie gehou.”
“Andries? Ek het nie geweet sy en Andries is so goed bevriend nie.”
“Hulle werk by dieselfde hospitaal en sien mekaar glo dikwels.”
Jos antwoord nie. Daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue en Cathy wonder wat hy dink. Sy moes seker nooit gesê het dat sy vir Annette gesien het nie.
“Wel,” sê Jos eindelik. “Andries en Annette! Wie het dit nou kon dink? Kom, dis tyd dat ons huis toe gaan.”
In die laatmiddag ry hulle huis toe. By die plek met die gevaarlike afgrond vertoef hulle weer ’n lang ruk, terwyl Jos stilswyend voor hom uitstaar. Dit is byna asof hy hom nie daar kan wegskeur nie. Die see is nou vol goud en silwer, en Cathy sit roerloos langs Jos, bang om die vreedsaamheid van die oomblik te versteur.
Jos hou van haar, dink sy toe hulle verder ry. Hulle is goeie vriende, maar tog bly hy in baie opsigte vir haar ’n