By die huis het sy vir hulle ’n omelet en roosterbrood en koffie gemaak Tot haar blydskap het hy net so smaaklik soos sy geëet.
“Dit was heerlik, dankie,” sê Jos toe hy klaar geëet het. “Ek het nie geweet koskook is een van jou talente nie.”
“Dit is nie eintlik nie,” glimlag sy. “Maar my ouma het daarop aangedring dat haar kleindogters darem die elementêre beginsels van koskook ken.”
“Jou ouma? Die een wat stoksielalleen daar in die oudorp bly?”
Sy knik. “Jy moet eendag saam met my gaan dat jy haar kan ontmoet. Ons is almal maar in ons pasoppens vir haar, maar ons is ook lief vir haar en baie trots op ons mooi ouma. Sy is volgende jaar tagtig, maar jy sal dit nie sê as jy haar sien werk in haar huis en tuin nie. Haar verstand is ook nog besonder helder, en sy stel belang in alles wat gebeur – in familiesake sowel as die wêreld daar buite.”
“Ek sal haar graag wil leer ken. Dit klink vir my of jy so ’n bietjie na jou ouma kan aard. Wat het sy van die verbreekte verlowing gesê?”
“Sy was ontevrede en ek dink ’n bietjie teleurgesteld – Andries is een van haar gunstelinge en die Louws was al die jare hulle bure en goeie vriende gewees. Sy het ook die tafeldoek teruggeneem wat sy spesiaal vir my uitset gehekel het. Maar sy het later vir my gesê dis miskien ’n goeie ding dat ek ’n bietjie meer ervaring van die lewe kry voor ek trou.”
“Bedoel sy daarmee dat jy nog nie volwasse genoeg is nie?” vra hy glimlaggend.
“Dis moontlik,” sê sy skouerophalend. “Moet jy nou gaan?” vra sy toe hy opstaan.
“Dis al laat en ek het nog baie werk om te doen.” Onverwags sit hy sy arm om haar – die eerste keer dat hy so iets doen – en trek haar ’n oomblik saggies teen hom aan. “Nogmaals dankie vir alles – dit was ’n volmaakte dag, in alle opsigte. Jy is ’n baie spesiale meisie, Cathy, en ek sien uit na die jaar wat voorlê. Ek hoop dit gaan vir jou en my albei ’n baie interessante en produktiewe jaar wees.”
Hy laat sak sy kop en soen haar liggies op die mond, en soos een in ’n droom stap sy saam met hom deur toe.
Net die volgende dag het sy werk begin soek. Haar deeltydse aanstelling by die tegniese kollege sou haar bedags net ’n paar uur besig hou, en die salaris was nie genoeg om van te leef nie. Sy het ’n bietjie geld in die spaarbank in geval van nood, maar sy was vasbeslote om nie daaraan te raak nie. Sy wil vir haar ouers en almal wys dat sy na haarself kan kyk en op haar eie voete kan staan.
Sy het gehoop om ook by die uitsaaikorporasie werk te kry – Jos het belowe om ’n goeie woordjie vir haar te doen – maar tot haar teleurstelling was daar nie op die oomblik enige vakatures nie. Haar stemtoetse was egter geslaagd en sy is daar weg met die belofte dat hulle haar in gedagte sal hou. Maar sy het gewonder vir hoeveel meisies voor en ná haar hulle dieselfde belofte maak en het ’n bietjie bedruk gevoel.
Sy het die hele middag lank sommetjies gemaak en nadat sy die saak goed oorweeg het, het sy – ten spyte van wat Jos gesê het – besluit om ’n paar privaat leerlinge te probeer kry. Sy gee liewer taalles as om in ’n kantoor tikwerk te doen of die hele dag met droë, oninteressante lêers te werk.
Sy het dadelik ’n paar advertensies in die koerante laat plaas en ongeduldig gewag om te sien of dit enige resultate sal oplewer. Die eerste week het egter verbygegaan sonder dat iets gebeur, en haar hart het in haar keel gesit. Sy het so grootgepraat, sy was so seker dat sy op haar eie voete kan staan – wat ’n vernedering sal dit nie wees as sy weer by die familie moet gaan aanklop om hulp nie. Nee, daarvoor sien sy nie kans nie. Dan liewer in ’n kantoor gaan werk!
Sy sal volgende week weer advertensies laat plaas. Miskien sal dit dié keer beter gaan. Mense begin stadigaan van hulle vakansies af terugkeer en die skole heropen oor ’n week of twee. Dinge sal eers dan weer hulle normale gang gaan.
Cathy was een middag laterig alleen by die woonstel, besig om haar lesings agtermekaar te kry, toe daar aan haar deur geklop word. Effens ongeduldig staan sy op. Dis seker maar weer een van die talle straatverkopers wat heeldag by die woonstel aanklop.
Sy maak die deur oop. Dis haar broer Charl wat glimlaggend buite wag. ’n Oomblik staar sy haar besoeker aan asof sy haar eie oë nie kan glo nie, dan val sy hom om die nek.
“Charl! Waar kom jy vandaan? Wat maak jy hier?”
Charl vou sy sussie in sy lang arms toe en ’n oomblik druk sy haar gesig teen sy bors. Dan stoot sy hom liggies weg, vee die trane met die agterkant van haar hand af en nooi hom binne.
“Dis wonderlik om jou te sien, ouboet. Wanneer het jy gekom? En hoe lank bly jy?”
“Ek is net ’n dag of twee hier en hoop om môre weer terug te vlieg as hulle vir my plek kry. Dit het alles baie vinnig gebeur. Maar ek wou jou in elk geval kom verras.”
Sy wys die woonstel vir hom, maar hou die hele tyd aan sy arm vas, bang dat hy sal verdwyn as sy hom laat los. Eers noudat sy hom sien en aanraak, besef sy hoe baie sy die hele vakansie na haar familie verlang het.
“Nou toe,” sê hy terwyl hulle van die balkon af kyk na die stukkie hawe wat silwerblou in die laatmiddagson vertoon. “Geniet jy jou vryheid, of is dit nie heeltemal so wonderlik as wat jy jou dit voorgestel het nie?”
“Natuurlik is dit wonderlik, maar ek verlang darem baie na julle almal en partymaal vang die eensaamheid my so ’n bietjie. Maar sodra Wilna kom en dinge aan die gang kom, sal dit seker weer te besig raak.”
Hy vra wat sy alles gaan doen en ’n bietjie onwillig vertel sy hom hoe sake staan.
“Jy sal maklik genoeg werk kry,” sê hy. “Daaraan twyfel ek nie. Maar Jeanne en ek het gewonder of jy nie lus het om ’n rukkie Pretoria toe te kom nie. Ek sal dadelik vir jou werk kry en die verandering sal jou goed doen. As jy bang is daar is nie oulike mans in die Transvaal nie – kom kyk gerus. Jy sal ’n verbasende aantal Maties onder hulle vind! Jy kan aan die begin by ons inwoon – finansieel sal dit vir jou baie makliker wees – en ek belowe jou ons sal ons glad nie met jou sake bemoei nie.”
Cathy kyk na haar broer, geraak deur die vriendelike aanbod, maar dan skud sy haar kop.
“Dankie, ouboet, dis lief van jou en Jeanne, maar voorlopig wil ek liewer hier bly. Ek wil op my eie voete leer staan.”
“Ek verstaan. Maar die aanbod staan, so as jy van plan verander, laat weet maar net. Jou kamer sal reg wees vir jou. Jy kom in elk geval Juliemaand by ons kuier. Terloops, sien jy ooit vir Andries? Of het julle alle diplomatieke betrekkinge verbreek?”
Sy lag. “Ons is nog goeie vriende – behalwe wanneer hy my kwaad maak. Hy het by my kom kuier die eerste dag wat ek hier ingetrek het en my die aand vir ete uitgeneem – hy het glo vir Ouma belowe om ’n ogie oor my te hou.”
“Wel, sus,” sê Charl, “jy ken natuurlik jou eie hart beter as enigiemand anders, maar Jeanne en ek was albei teleurgesteld toe ons hoor dat die troue nie net uitgestel is nie, maar dat jy ook die verlowing verbreek het. Wat het gebeur? Julle was dan albei so halsoorkop verlief.”
“Verlief, ja, maar dit was al. By Andries sal sy werk altyd eerste kom – en ek is nie bereid om ’n meubelstuk in enige man se huis te wees nie.”
Charl kyk sy sussie skerp aan en daar is ’n fyn glimlag op sy gesig. Maar hy sê niks.
Hulle gesels heerlik totdat sy later besef dat dit seker tyd is om te dink wat sy vir aandete gaan maak. Charl los egter die probleem op deur haar vir ete te nooi.
“Dit sal wonderlik wees. Maar ek wou jou darem graag gewys het ek kan kos maak – al is dit ook net spek en eiers.”
“Jy kan my volgende keer wys. Sal ons Andries nooi om saam te gaan?”
Cathy dink ’n oomblik na. Dit sal lekker wees om Andries weer te sien – al is