Cathy kyk verras op in Andries se gesig. Sy het nie verwag om hom hier te sien nie. Hy het ’n mooi grys pak aan en onder sy arm dra hy ’n pakkie wat in veelkleurige papier toegedraai is. Sy bruin oë is helder en sy gesig is ’n bietjie voller en bruin getint deur die son en wind. Dis nie nodig om te vra of hy sy vakansie geniet het nie.
“Ek besef nou vir die eerste keer dat my ma-hulle regtig weggaan en dat ek stoksielalleen agterbly.”
“Dit is tog wat jy wou gehad het, is dit nie?” vra hy. “Om op jou eie voete te staan en vry te wees om jou eie lewe te lei?”
Sy stem is lig, maar sy glimlaggie is begrypend, en daar is skielik ’n warm, gelukkige gevoel om haar hart. Dit is gaaf van Andries om ten spyte van wat gebeur het, haar ouers te kom groet.
“Kom sê hallo vir my ma en pa,” sê sy. “Hulle sal bly wees om jou te sien.”
Die professor en sy vrou is albei verras om hom te sien en groet hom vriendelik. Hy wissel ’n paar woordjies met Ouma, dan sak June en Sophie op hom toe. Hulle vra hom uit oor sy vakansie en Cathy hoor hoe June vra of hy vanjaar Hermanus toe kom. As sy ma-hulle nie kom nie, kan hy gerus vir hulle kom kuier. Haar pa het ’n nuwe boot gekoop en hy sal na hartelus kan hengel.
“Dit klink baie aanloklik, dankie,” glimlag Andries. “Ongelukkig het ek reeds my vakansie gehad.”
“Jy is darem seker af en toe ’n naweek los,” sê June. “Ons verwag jou, hoor.”
Cathy se ma het haar stilletjies nader getrek en sy het digby hulle bly staan totdat dit tyd was om te begin groet. Sy het by die oomblik meer miserabel gevoel, en sy hoop maar net dat sy nie nog soos ’n skoolmeisie gaan huil nie.
“Waar kan ek die pakkie sit?” vra Andries weer langs haar. Sy kyk op na hom en hy sien die skielike glinstering van trane op haar donker wimpers.
“Kom, ek sal jou gou hulle kajuit gaan wys,” sê sy en gryp hom aan die hand. Saam stap hulle na die kajuit wat nie ver daarvandaan is nie. Hy sit sy pakkie neer, dan kyk hy na Cathy wat by die patryspoort staan met haar rug na hom gekeer. Hy gaan nader en soos hy verwag, is haar oë vol trane, maar sy veg moedig om haar selfbeheersing te herwin.
“Moenie verspot wees nie,” sê hy sag. “Jy wil nie jou ma ontstel nie, wil jy?”
Hy neem sy sakdoek en droog haar trane af. Ongeërg sê hy: “June stel voor dat ons vier vanaand êrens gaan eet. Wat dink jy van die plan?”
“June weet baie goed dat ek saam met Ouma terug Stellenbosch toe moet gaan,” sê Cathy koud. Sy vererg haar sommer vir June se agterbaksheid. “Maar daar is geen rede waarom jy nie kan gaan nie.”
“Het jy lus om te bly? Ek is vanaand af en kan jou later terugneem Stellenbosch toe.”
Cathy kyk onseker na hom. Sy wil baie graag bly. Ouma gaan altyd vroeg slaap en sy is nie vanaand lus vir haar eie geselskap nie. Andries sien die weifeling in haar oë en glimlag.
“Wel?”
“Ek twyfel of Ouma ja sal sê.”
Die glimlaggie is nog daar.
“Sal ek haar vra?”
“Sal dit nie te veel moeite wees om my die hele ent terug Stellenbosch toe te neem nie?” vra sy skamerig.
“Ek sal my ma bel en sê ek kom vanaand daar slaap. Ek is eers môreoggend weer aan diens.”
“Dankie, ek sal dan graag bly. Mits Ouma ja sê.”
Tot haar verbasing het Ouma blykbaar sonder teëstribbeling haar toestemming gegee, en June het gemaak of sy baie bly is dat Cathy saam met hulle kon gaan. Die familie is almal saam na tannie Mona se huis toe, waar Cathy gehelp het om tee en koffie te skink. Andries sou hulle seweuur daar kom haal.
Nadat Ouma Joubert en June se ouers weg is, is die drie meisies na June se slaapkamer om gereed te maak. Terwyl hulle besig is, vra June terloops vir Cathy of sy al enige losiesreëlings vir die volgende jaar getref het.
Voor Cathy kan antwoord, vervolg sy: “Ek het met tannie Mona gepraat en sy het geen beswaar dat jy ook hier kom bly nie. Jy kan dié kamer met my deel, maar as jy liewer alleen wil wees, kan jy die klein kamertjie onder in die gang kry.”
Cathy kyk na die ou kaserne van ’n kamer – die hoë plafon, die gordyne met die pienk rose, die outydse wasbeker en kom, alles so styf en ongesellig. Dan dink sy aan tannie Mona, bemoeisiek en eng, en sy ril effens.
“Dankie, June,” sê sy sag. “Dis baie gaaf van jou, maar Wilna Durand en ek gaan ’n woonstel deel.”
“’n Woonstel?” June kyk haar ongelowig aan. “Jou ma sal dit nooit toelaat nie.”
“My ma het ons gehelp om die woonstel uit te soek.”
June se blik is skerp, agterdogtig.
“Wat sê Ouma?”
“Ek het Ouma nie gevra nie,” sê Cathy koel. “Ek is mondig en oud genoeg om na myself te kyk.”
June tel haar poeierkwas op met ’n hand wat effens bewe, en Cathy weet wat sy dink. Sy is ouer as Cathy, maar ’n woonstel was nog altyd vir haar taboe. Sy moet hier bly waar tannie Mona ’n ogie oor haar kan hou. Arme June! Ook sy het agter die ringmuur grootgeword, maar sy het nooit die moed gehad om weg te breek nie. Sy het dus nooit geleer het om vir haarself te dink nie en kan vandag nog geen besluit neem sonder om haar ma te raadpleeg nie.
Sophie is anders. Sophie het altyd geweet wat sy wil hê en ten spyte van haar onskuldige gesiggie het sy geweet hoe om dit te kry. Toe sy weier om universiteit toe te gaan en volhou dat verpleging al is wat sy wil doen, het almal geweet dat dit net ’n kwessie van tyd is voor sy haar sin sal kry. Aan die begin van verlede jaar het sy met haar opleiding by die Volkshospitaal begin – dieselfde hospitaal waar Andries sy aanstelling gekry het.
Toe Andries seweuur daar aankom, was hulle gereed. Cathy en Sophie het natuurlik nie verklee nie, maar June het ’n blou kantrok aangetrek waarin sy baie elegant gelyk het. June was lief vir mooi klere en het goeie smaak gehad, maar haar trotse, effens harde gesig het mense afgestoot.
Hulle het seekos by die hawekafee gaan eet en Andries het ’n bottel witwyn saamgebring. Hulle het op die reisigers se goeie gesondheid gedrink en gesels oor die lekker vakansies wat hulle saam op Hermanus gehou het, en die aand het gesellig verloop. June het voorgestel dat Cathy die aand by haar slaap en die volgende oggend met die trein Stellenbosch toe gaan, maar Cathy en haar ouma sou reeds die volgende dag Hermanus toe gaan en sy was bly toe Andries sê dat sy ma hom verwag en hy in elk geval nog die aand Stellenbosch toe gaan.
Hulle het June en Sophie by tannie Mona se huis afgelaai, maar in plaas daarvan om die pad Stellenbosch toe te kies, het Andries teen Vlaeberg opgery. Daar het Cathy ’n lang ruk stil langs hom gesit terwyl sy in bewondering na Kaapstad se see van liggies kyk.
“Hoe wonderlik,” sug sy later saggies. “Ek kan nie dink dat daar in die hele wêreld iets mooiers kan wees nie. Dis heerlik om te dink dat ek hier in Kaapstad kom woon en werk – daar is so baie dinge wat ek wil doen en plekke waarnatoe ek wil gaan.”
“Ek hoop jy sal gelukkig wees hier,” sê hy sag.
Onverwags sê Cathy: “Ek moet jou nog gelukwens met jou uitslae, Andries. Ek het darem gedink jy sal self vir my kom vertel dat jy deur is – met twee onderskeidings daarby! Toe ek later die middag bel om jou geluk te wens, was jy reeds weg.”
“Ek wou eers by Mon Désir aanry, maar . . . Wel, dinge het ’n bietjie anders uitgedraai as wat ek my voorgestel het en toe het ek maar nie. Dankie in elk geval. Ek is verlig dit het so goed gegaan.”
Hulle ry in die koelte van die somernag Stellenbosch toe. Cathy vra hom uit na sy werk by die hospitaal en hulle gesels gemaklik, sonder stremming. Amper soos in die ou dae, dink sy. Maar in die ou dae sou hy haar hand in syne vasgehou het en sou sy digter teen hom vasgekruip het. Sy sou