Andries antwoord nie, maar sy gesig is strak en ongelukkig.
“Nou ja,” vervolg sy uiteindelik, “dit help seker nie om nou met jóú rusie te maak nie. En as jy nie meer in my kleindogter belang stel nie, is dit ook tot daarnatoe. Ken jy dié Jos de Lange?”
Hy aarsel, onseker wat nou kom. Dan sê hy versigtig: “Ek ken hom maar sleg. Ons paaie het nie dikwels gekruis nie.”
“Tog het jy toegelaat dat Cathy saam met hom uitgaan?”
“Hy het haar ’n paar keer na konserte en opvoerings toe geneem toe ek dit self nie kon doen nie. Maar ek weet sy het hom dikwels gesien. Hulle is albei geïnteresseerd in kuns en musiek en het saam in komitees gedien. Maar Cathy het ander vriende ook – en sy het in elk geval mos die reg om haar eie vriende te kies.”
“In ons dae het ons anders oor die saak gedink. Maar genoeg daarvan. Dink jy sy is verlief op hom?”
Weer aarsel Andries, dan sê hy styf: “Ek dink dis ’n vraag wat Cathy beter as ek kan beantwoord.”
Ouma Joubert knik ingedagte.
“Ek verstaan hy is ’n knap en talentvolle jong man, maar dat hy as jong student taamlik wild en onverantwoordelik was.”
Andries kyk haar reguit aan. “Ek het ook as jong student dinge gedoen waarop ek vandag nie baie trots is nie.”
’n Onverwagte glimlaggie versag haar streng gesig.
“Niemand hou van ’n dooierige perd nie – veral nie ’n jong dooierige perd nie! En ’n student word baie dinge vergewe, solank dit onskuldige studentepret is.”
Sy kyk ’n paar oomblikke voor haar uit, haar gedagtes baie ver weg, dan sê sy: “Nou ja, as my kleindogter daarop aandring, moet ons haar seker maar vrye teuels gee. Ek het dikwels gevoel dat sy miskien ’n bietjie jonk en onvoorbereid is vir die verantwoordelikhede van ’n huwelik. Maar omdat niemand na my sou geluister het nie, en omdat ons almal so tevrede met haar keuse was, het ek maar stilgebly. Dit was nie baie bedagsaam van haar om so tot op die tippie te wag nie, maar dit kon erger gewees het. ’n Kleinniggie van my moes eenkeer by die kerkdeur omdraai omdat die bruidegom nooit opgedaag het nie. In ieder geval, ek is baie bly julle is nog goeie vriende en ek hoop en vertrou jy sal help om ’n ogie oor Cathy te hou.”
“Ek maak liewer geen beloftes nie,” sê Andries versigtig.
“Nie eens om ’n bekommerde ou vrou ’n bietjie gemoedsrus te gee nie? Ek weet ek is ’n selfsugtige, bemoeisieke oumens – die kinders vertel dit heeldag vir my. Maar Cathy is my lieflingskleindogter en ek sal baie meer gerus voel as ek weet jy sal af en toe by haar inloer, net om seker te maak dit gaan goed met haar. Of vra ek te veel?”
“As u dit so stel, doen ek dit graag. Maar as ek uitvind dat sy my nie nodig het nie, of dat ek net in die pad is . . .”
“Natuurlik. Dit sal dan al wees, dankie – tensy ek jou ’n koppie tee kan aanbied?”
“Nee dankie,” sê Andries. “Ek gaan môre met vakansie en ek het nog heelwat om te doen.”
Hy neem die hand wat sy hom aanbied en kyk ’n oomblik af na haar. Dan buig hy sy kop, soen vlugtig die hand wat in syne rus, en draai om en stap uit. Roerloos kyk Ouma Joubert hom agterna, haar gesig stil en uitdrukkingloos. Sy het gedoen wat sy kon. Die res is in die hande van die gode.
’n Bietjie bedruk en ongelukkig ry Andries daar weg. Die gesprek met Cathy se ouma het hom opnuut ontstel. Die vae hoop wat hy gehad het dat Cathy miskien tog van plan sal verander, is vinnig besig om te verdwyn. Sy is glad nie van plan om weer terug te kom na hom toe nie. En volgens haar ouma het hy dit alles net aan sy eie lamlendigheid te danke.
Dokter Andries de Wet! Agt lange jare het hy gewerk om dié ideaal te bereik. Eers die b.sc.-graad, daarna die veeleisende jare aan die mediese skool en in die hospitaal. Maar hoe anders is dit vandag as wat hy hom dit voorgestel het. Hy is verlig dat alles so goed afgeloop het, maar sy blydskap en opwinding sou groter gewees het as Cathy daarin kon deel. Sy was so lank deel van sy drome dat hy hom kwalik ’n toekoms sonder haar kan voorstel.
Wel, hy sal maar net moet leer om sonder haar klaar te kom. As hy eers begin werk, sal daar nuwe gesigte en belangstellings wees, en mettertyd sal die gevoel van gemis seker ook verdwyn. Daar is baie oulike meisies in die wêreld, en hy is beslis nie van plan om hom lewenslank te verknies oor iemand wat hom nie wil hê nie!
Van ver af sien hy die wit gewelhuis met die ringmuur wat so rustig in die lenteson droom, en hy dink weer aan sy en Cathy se gesprek ’n paar oggende gelede. Hy onthou nog goed hoe sy gestraal het toe hulle aan die begin van die jaar verloof geraak het. Toe wou sy niks meer hê as om die res van haar lewe by hom te wees nie. ’n Oomblik is die versoeking groot om by Mon Désir aan te ry, om nog een keer met Cathy te praat en haar weer van sy liefde te verseker. Maar toe hy by sy eie indraaipad kom, neem hy dit sonder aarseling.
Hy en sy vriend het nog dieselfde middag vertrek. Toe Cathy later die middag bel om hom geluk te wens, was hy reeds weg. Tannie Magda kon of wou haar ook nie sy adres gee sodat sy vir hom ’n telegram kon stuur nie, en ’n bietjie bekaf het Cathy die telefoon neergesit. Sy dink darem Andries kon self vir haar kom vertel het hoe goed hy gedoen het. Al is hulle nie meer verloof nie, is hulle mos darem nog vriende!
Die paar weke voor Cathy se ouers sou vertrek, het verbygevlieg. Cathy was nog besig met eksamen en haar ma en die huishulpe het die huis, wat vir die jaar verhuur is, van vloer tot solder skoon- en reggemaak. Cathy en haar ma en Wilna was ’n paar keer Kaap toe om na ’n woonstel te soek, en uiteindelik het hulle gekry net wat hulle gesoek het: ’n eenkamerwoonstel met ’n balkonnetjie, nie te ver uit die stad nie en gerieflik naby ’n bushalte. Hulle kon die berg deur die kombuisvenster sien en ’n stukkie van die hawe was van die balkon af sigbaar.
Dit was ’n bietjie beknop vir twee mense en Elsabé Joubert het gewonder hoe Cathy, wat gewoond was aan haar eie kamer en Mon Désir se ruim vertrekke, haar by die nuwe omstandighede sou aanpas. Te oordeel aan die sterre in haar dogter se oë, sou sy Mon Désir met al sy geriewe egter ge-redelik verruil vir die voorreg om hier te bak en te brou soos sy wil.
Cathy moes intussen ook haar eie klere, boeke en besittings sorteer en inpak, en met al die bedrywigheid was daar skaars tyd om te dink. Dit was egter met ’n vreemde gewaarwording dat sy een oggend haar oë oopmaak en besef dat dit haar troudag sou gewees het. Haar ma het ook later daarvan melding gemaak, gelukkig sonder bitterheid of verwyt.
Laat die middag het Cathy vir ou Boel geneem en ’n ent gaan stap. Die wit gewelhuis met die persblou berge daaragter het in die skaduwees van die groot ou eike gedroom, die vroeë skemering het ’n sagte gloed oor die aarde gesprei en daar het nie ’n windjie geroer nie. Met ’n skielike knop in haar keel dink sy dat dit ’n volmaakte troudag sou gewees het. Wat doen Andries? wonder sy. Het hy ook daaraan gedink dat dit vandag hulle troudag sou gewees het?
Terwyl sy en Boel deur die wingerd stap, neem sy in haar hart afskeid van Mon Désir. Vreemdes sal ’n jaar lank hier woon, en hoewel sy later seker dikwels na die huis sal terugkom, sal dit nooit weer dieselfde wees nie. Haar lewe wag daar buite die wit ringmuur.
Met steeds versnellende tempo het die laaste dae gekom en gegaan en Cathy het effens uitasem gevoel toe sy die middag saam met haar ouers by die skip aankom.
Daar was ’n menigte familie en vriende om hulle af te sien en die kajuit was vol telegramme, blomme en geskenke. Ouma was daar, deftig en regop in ’n grys rok en ’n pers hoed met blommetjies, tannie Blanche-hulle het spesiaal van die Paarl af gekom, en June het soos ’n model gelyk in ’n splinternuwe uitrusting. Sophie het ook die middag verlof gevra by die hospitaal waar sy haar opleiding as verpleegster kry om vir haar oom en tannie tot siens te sê. Almal het gelyk gesels, en tussen al die baie mense en opwinding wat op die skip heers, het Cathy skielik ’n bietjie eensaam en alleen gevoel. Vir