Bloedwater
Douwleen Bredenhann
Human & Rousseau
Vir Steph, wie se bloed met myne gemeng het
1
Adriana Coetzer gryp na die selfoon wat op maat van “Für Elise” begin vibreer. Sy tas eers mis en skrik toe sy die gloeiende wysers van die wekker raaksien.
Dis al ná middernag! Wie bel nou? Sy is op die punt om in Nederlands te antwoord, maar sien dan dat die oproep van Woudstra Bosman is. Woud? Uit Suid-Afrika? Haar laaste telefoongesprek met hom was ná haar pa se dood meer as tien jaar gelede. Dit kan net oor haar ma wees wat hy bel.
“En as jy nou dié tyd bel, Woudstra, het jy slegte nuus oor my ma?”
“Goeienaand, Adriana, ek is jammer om nou te pla. Ek weet dis baie laat en die oproep is inderdaad nie oor iets onbenulligs nie.” Hy bly stil asof sy moed hom wil begewe.
Sy kan nie besluit of dit senuweeagtigheid of uitputting is wat sy woorde so versigtig afgeweeg laat klink nie. Of voel hy bloot ongemaklik om met haar te praat? Die hemel weet, hy het genoeg rede om so te voel. Hy ís seker moeg. In Kaapstad behoort dit omtrent halftwee in die oggend te wees. Was hy tot so laat by die hospitaal vir ’n pasiënt, by haar ma dalk?
“Dit moet ernstig wees as dit nie tot môreoggend toe kan wag nie. Wat het gebeur? Is sy oorlede?” Sy vermoed dat dit wel die geval is omdat hy ’n ruk aarsel.
“Nee, sy is nie oorlede nie, maar dit gaan nie goed met haar nie. Ek was vroeër vanaand daar en sy het na jou gevra, Adriana. Die eerste keer in ’n lang tyd. Ek het gewonder of jy nie dalk binnekort ’n draai hier kan kom maak nie.”
“As jy sê binnekort, bedoel jy Kersfees?”
“Nie noodwendig nie, ek het eintlik vroeër in gedagte gehad.”
“Kersfees is dan al op ons, Woudstra, ek dink daar is nog agt weke oor. Daar gebeur te veel dinge hierdie tyd van die jaar om voor Kersfees enige besoek te reël, wat nog te sê ’n oorsese een. My tyd is nie my eie nie, ek gee klas en is betrokke by die praktiese eksamen. Ek sal nie kan kom voor dit verby is nie.”
“Dis jammer, ek het gehoop jy sal ’n plan kan maak.”
“Hoe gaan dit regtig met haar; is sy kritiek? Ek weet dit klink seker gevoelloos en onbetrokke, maar ek kan ongelukkig nie vertedering – as dit die regte woord is – voorgee wat nooit eintlik bestaan het nie.”
“Ek is versigtig om te sê sy’s kritiek, want sy is dit nog nie regtig nie. Maar sy eet feitlik niks en dis nie ’n goeie teken nie. Dis stadige verhongering wat begin intree, en dit kan nog ’n ruk aanhou of baie skielik tot ’n einde kom. Dit sal beter wees as jy haar so gou as moontlik kan sien, terwyl sy darem nog kan praat. Haar praatdae word min.”
“Soos ek gesê het, dit gaan moeilik wees vir my om hier weg te kom voor Kersfees. En wees nou realisties. Ek sal nie van praktiese nut wees of veel te sê hê vir haar nie, so ek dink nie dit gaan soveel saak maak as sy nie meer praat teen die tyd dat ek daar kom nie.” Daar is nie veel meer om te sê nie; haar verduideliking klink afgewater en die pratery met hom begin haar irriteer. “Hierdie gesprek kon regtig maar gewag het tot môre toe. Oftewel later vandag. Ek dink nie dit was genoeg rede om my wakker te bel nie. Gee my kans om te kyk hoe lyk die vlugte in Desember. Ek sal jou binne twee weke laat weet.”
“Moenie so vinnig besluit oor iets waaroor jy later dalk spyt gaan wees nie. Dis maklik om so ’n besluit te neem wanneer jy daar ver is.”
Sy vererg haar vir sy aanmatiging. “O ja? En moet jy net nie vergeet dat ek hier ver beland het nadat my lewe op sy kop gekeer is deur julle nie. Ek het môre ’n lang dag voor en moet terug in die bed kom. Dis laat, en vir jou nog later …”
“Adriana, asseblief,” val hy haar in die rede. “Daar is nog iets, nog ’n rede waarom ek vra dat jy hierheen moet kom.”
“Nou hoekom vra jy dan nie? Het my ma nog iets nodig of is daar van haar sake wat uitgesorteer moet word?”
“Nee, die ander rede het nie iets met haar te doene nie. Dis … Marlinda.”
“Marlinda?” Gods, dit voel asof sy stem in haar oor boor. Die selfoon val byna uit haar hand. “Van haar wil ek niks weet nie, dit weet jy mos baie goed!”
“Ek weet, ek weet. Maar sal jy nie net luister dat ek iets aan jou probeer verduidelik nie? Asseblief, dis dringend.”
“Is sy dood?”
“Nee, maar sy …”
“Dan luister ek nie verder nie.” Sy moet die gesprek so gou as moontlik beëindig, weet sy. “Ek kan net nie … Ek weet nie eens of ek gekontak wil word as sy die dag doodgaan nie. Jy moet my nou regtig verskoon.”
Terwyl wrewel in haar opwel, druk sy soos ’n outomaat eers die foon dood en skakel dit dan heeltemal af. Die wekker sal moet instaan vir die selfoon se wakkermaakwysie. Dis vir haar ontstellend dat net die noem van Marlinda se naam haar nog so kan omkrap. Mens sal sweer sy het so pas ’n doodstyding ontvang. Sy is die ene bewerasie en hartkloppings. En woedend vir Woudstra en haarself omdat hy haar ná al die jare in ’n onbewaakte oomblik steeds so kan ontstig. As sy hoop om weer aan die slaap te raak, sal sy eers moet kalmeer, maar op die medisynerak vind sy niks wat sal help vir skok nie. Vir suikerwater sien sy nie kans nie. Haar beste opsie is dan seker die groentee met peperment wat nog onoopgemaak in die koskas staan.
Sy probeer om slegs op die teemakery te konsentreer, maar haar gedagtes laat hulle nie voorsê nie. Dit dwing haar terug na 1985 toe sy drie en twintig jaar oud was en die toekoms so blink soos die verloofring aan haar vinger voor haar uitgestrek het.
In die leefkamer voel die moderne leerbank wat sy en Stijn ses jaar gelede saam uitgesoek het, hard en koud. Sy mis hom skielik. Hy is die soort man wat mens by jou wil hê in ’n nagtelike krisis. Hy sou terselfdertyd geduldig en ferm gewees het en nie enige nonsens van Woudstra gevat het nie. Maar sy is vyf jaar gelede van Stijn geskei en maak lankal nie meer op hom staat om haar oor die hobbels van haar bestaan te help nie.
Sy voel gekul, asof Woudstra haar figuurlik ook aan die slaap betrap het. Waaroor het hy eintlik gebel – oor haar ma of oor Marlinda? Was die pratery oor haar ma net die sagmaker, die voorkonsert vir nog ’n Marlinda-drama? Darem seker nie. Die oproep oor drastiese agteruitgang in haar ma se lyding aan Alzheimer’s, of haar dood, moet die een of ander tyd kom. Maar sy weet uit dure ondervinding ook niks is vergesog wat hom en Marlinda betref nie. Op die gebied van lieg en bedrieg is albei van hulle, maar veral Marlinda, deskundig. Om haar in mens se lewe toe te laat, is so goed as om vir ’n pofadder skuilplek onder jou kopkussing aan te bied.
Vier en twintig jaar gelede was sy wat Adriana is verloof aan Woudstra en oortuig daarvan dat hy haar sielsgenoot is. Feitlik alles was gereël vir hul troue. Marlinda sou haar strooimeisie wees en die bruidsruiker vashou terwyl die bruid en bruidegom ringe aansteek en trou aan mekaar beloof. Maar daarvan het toe niks gekom nie, want kleinsus Marlinda het haar eie agenda gehad. Woudstra Bosman het toe daardie Desember deel geword van die Coetzer-familie, maar nie as Adriana se man nie.
Hy het haar swaer geword en Marlinda sy bruid.
Voor haar slaapkamervenster vind Adriana in die deurgesitte ou stoel beskutting vir haar styfgespanne lyf. Deur die venster is die uitsig op die straat op enige gegewe tydstip ’n wisselende poskaartprent; of dit nou mooi- of stormweer is, reën of sneeu. Vannag vorm dit ’n stillewe waarin die grag glim tussen die twee parallelle van die straat. Dis eintlik net die helder weerkaatsing van die straatligte al in die middel van die kanaal langs wat die watervlak verraai. Sy is dankbaar dat die wind ten minste nie waai soos gisteraand toe dit naderhand geklink het asof die boomtakke permanent kraak nie. Naïef soos dit seker is, hoop sy die vredige nagstilte hou ’n boodskap in vir haar verfomfaaide gemoed. ’n Gerusstelling wat sê toemaar, daar buite het niks verander nie, in die daglig sal jou wêreld nog dieselfde wees. Hierdie gedagte bring, saam met die slukke soet tee, ’n mate van bedaring.
Die eerste uur van die voordag word aangekondig met ’n enkele slag wat deur die naglug galm.