Vroeg op Oukersaand, maar reeds donker, klop sy ietwat verleë aan by die adres wat sy gekry het. Dit is ’n grys, vervalle woonstelblok, een van dié waar honderde families ’n leefhokkie het, ’n struktuur wat spreek van kommunisme en armoede en menslike ontreddering.
Sou sý kon leef in so ’n plek?
Beate maak die deur oop en trek haar laggend by die voordeur in. Sy stap in, en besef oombliklik waarom sy nie genooi is om hier oor te slaap nie. Beate se broer slaap in die klein voorportaal, sy slaapruimte agter ’n gordyn verskans. Hulle skuur verby sy bed, verby nóg ’n slaapkamer, na die woongedeelte. Beate deel die kamer met haar ouers, ook haar bed is agter ’n gordyn toegetrek. Die woonvertrek is klein, en oorvol met meubels. Daar is nie ’n badkamer nie, dié is ’n vertrek ’n paar deure verder af in die woonstelgang en word gedeel deur vyf gesinne.
Beate laat haar aansit by die gedekte tafel waar die res van die familie, by gebrek aan ’n sitvertrek, reeds plaasgeneem het.
Dit is my dosent, en dit is my ma, my pa, my broer Andreij, my tante Louisa . . . In Pools glimlag hulle haar toe, heet haar hartlik welkom.
Hulle sit op pragtige, antieke stoele van rooshout. Kyk, wys Beate se pa trots na die stoele, dit is tydens ’n bomaanval in die oorlog flenters geskiet, maar ek het dit weer reggemaak.
Sy kyk verstom na die fyn krakeel van die hout. Meubelstukke wat tot mosaïekstukkies en splinters roos en hout verniel is, maar met pynlike noukeurigheid weer aanmekaargelym en gelas is.
Dit moes jare geduur het om dit só te herstel!
Ja, sê hy deur Beate wat die gesprek al tolkend lei, dit hét. Daar was oorspronklik ’n tafel, die een waarby hulle nou sit, en sestien stoele, alles in trotse, glimmende hout, maar van alles kon hy net die tafel en die helfte van die stoele red. Die res was onherstelbaar verpulp en versplinter.
Was hulle in die gebou toe die bomaanval gebeur het? vra sy angstig. Hoe het hul familie dit oorleef?
Beate hoor die vraag, maar sy antwoord nie, vertaal ook nie die vraag aan haar familie nie. Is sy gereed om te eet? Dan gaan sy gou haar moeder help om die eerste gereg in te bring.
Dit is ’n Kersmaal wat reeds weke gelede beplan en voorberei is, kom sy tydens die ete agter. ’n Maaltyd met tien gange wat begin met borsjt, bloedrooi genade van Christus in die Kerstyd, en opgevolg word deur klein geregte vleis en slaai. Die hoofgereg is karp. Dit het dieselfde oggend nog rondgeswem, verseker tante Louisa haar trots. Die lang maaltyd word afgesluit met koffie en szernik, ’n kaaskoek so veerlig en geurig dat sy doodseker is dit het met engelevlerke uit die hemel neergedaal.
Ná die ete deel hulle geskenke uit. Andreij kry ’n pynappel, o, eksotiese verrukking uit ’n warm suiderland; Beate ’n serp die kleur van haar oë; haar ma ’n potlood; haar pa ’n paar sokkies. Tante Louise kry ’n koppie en ’n piering waaruit sy voortaan haar tee gaan drink. Die duurste geskenk van die aand gaan na haar, die besoeker wat nie kan praat nie, maar met verwondering na alles luister: ’n CD van Marek Grechuta, ’n Poolse sanger met ’n stem waarin amber gloei. Die klein geskenkies wat sy aan hulle gee, hoofsaaklik kralewerk uit Afrika wat sy saamgebring het, boekmerke en armbande en halsversierings, word met bewondering na die lig gehou en bestudeer. Só iets het hulle nog nooit gesien nie, dis wonderlik.
Maar dit is nie al wat hulle as geskenk kry nie. Net voordat hulle in die vallende sneeu na die katedraal vir die Middernagmis loop, gee tante Louisa vir elkeen om die tafel nóg ’n geskenkie. Die vrou kyk verwonderd na dit wat in haar handpalm toegevou word, ’n skub van die karp wat hulle vroeër die aand so feestelik verorber het.
“Dit moet jy in jou beursie dra,” verduidelik Beate aan haar, “solank as wat jy dié skub by jou het, sal jy nooit geld nodig hê nie.”
Die vrou besluit om haar besoek aan Pole vroeër af te sluit. Oukersaand was ’n hoogtepunt, sy wil nie langer op ’n plek wees waar almal behalwe sy aan mekaar behoort nie. Sy is stom van te veel dae wat sy met niemand kon praat nie, nie ’n koerant gelees het nie, nie menslike kontak gehad het nie. Sy gaan terug Nederland toe, waar sy kan práát, en ten minste op die trein kan luister na wat die Hollandse mevroue vir mekaar sê.
In Nederland is dit ook bitter koud, die mense skaats vir die eerste keer in jare weer op veryste vywers en mere. Sy is nog steeds bitter eensaam, en aan die einde van haar reis ook bitter arm. Sy bekyk die note in haar beursie, maak ’n paar desperate somme. Impulsief besluit sy om die laaste drie dae voor haar vertrek huis toe na die stad van haar hart, Brugge, te gaan.
Brugge in die sneeu is mooier as wat sy haar kan herinner. Sy onthou ’n brief van ’n vriend, ’n skilder, wat vir haar uit hierdie einste stad geskryf het: Hier is het heel erg koud en ’s morgens ligt Brugge onder een dun laagje ijskristallen, net Brugse kant. Met vriendelijke groeten, Robert. Nee, sy gaan nie moeite doen om hom op te soek nie, sy is slegte geselskap. Deur die straatjies en stegies loop sy, ontdek nuwe aangesigte, bekyk ou Vlaamse skilderye, luister na die katedrale se klokkespel, verswelg haarself in Middeleeuse skoonheid en verdriet. Bedags eet sy brood en sop by growwe houttafels in klein boerse restaurantjies, gesels met kelners en die kundige assistente in boekwinkels, maar sy het te min geld oor om selfs ’n enkele boek te koop. Snags slaap sy in ’n trappiesgewelhuis in ’n bed sag soos veredons.
Haar hart klop vinniger, haar oë is soggens as sy in die spieël kyk nie meer heeltemal so verwese nie.
My lief, my lief, waer bestu bleven . . .
Met die laaste geld in haar beursie koop sy ’n treinkaartjie na Schiphol, na die vliegtuig wat haar huis toe sal neem, na Kaapstad waar die son in ’n gloed oor die see en die wingerde brand.
Sy verlang huis toe, besef sy, rillend van die koue, sy wil in haar eie huis wees, haar eie plek, al is dit ’n leë plek, ’n huis sonder die asem van ’n ander mens.
Op Brugge se stasie daal die temperatuur stadig, maar met mening. Teen die tyd dat haar trein moet vertrek, is dit stikdonker, sy sit bibberend en wag. Toe die luidsprekers krakerig aankondig dat die trein na Amsterdam weens die een of ander tegniese fout met ’n uur vertraag is, vlug sy na die klein stasierestaurant. Warm koffie, om die koue uit haar hande te kry. Sy staan voor die toonbank om haar bestelling te plaas, gooi die laaste paar geldstukke wat in haar beursie is op haar handpalm uit. Die karpskub lê gryserig tussen die paar munte. Sy het nie genoeg geld nie, besef sy tot haar ontsteltenis, nie eens vir één koppie stasiekoffie nie.
Het sy so gewoond geraak om met haarself te praat dat sy hardop iets gesê het? Het sy dalk ’n woord gesê wat nét in Afrikaans gesê kan word? ’n Verwensing? ’n Vrou wat ’n entjie van haar af alleen by ’n tafeltjie sit, praat met haar: “Komt u uit Zuid-Afrika?”
Sy kyk verras op.
“Wilt u een muntje van mij?”
Sy is vuurrooi van verleentheid, maar aanvaar die vriendelike aanbod. Die vrou nooi haar om by haar aan te sluit. Agnes. Sy is ’n Nederlander, sy beplan om ’n paar dae in Brugge oor te bly.
Reis u alleen? vra sy aan haar weldoener.
Daar trek ’n sluier oor die vrou se gesig. Ja, sy reis alleen. Dit is nou ’n tyd in haar lewe waar sy die behoefte het om op haar eie te wees. Maar sy moet nog verblyf gaan soek, nou, as sy klaar koffie gedrink het. Sy sien op daarteen, dit is reeds donker, en koud . . . sy sit hier en skraap moed bymekaar . . .
Sy kyk skerper na die vrou voor haar. Sy sien die hartseer, grys oë.
U kan dalk tuisgaan in die hotel waar ek gebly het? Stap net voor die stasie oor die kanaalbrug, ’n entjie verder af na links is die Breughel-herberg. Vyf minute se stap? Dit is klein en beskeie, maar skoon en netjies . . . Nie ver daarvandaan nie is ’n restaurantjie met nét vyf tafels wat ’n heerlike stoofpot bedien . . .
Dit is ’n hele paar uur daarna, die gejaag om betyds in te weeg, vliegkaartjie, paspoort, doeane agter die rug, dat sy agterkom haar karpskub is weg. Het sy dit op Brugge se stasie verloor? Het sy dit saam met haar handvol munte, en Agnes se bykomende geld, as betaling vir die koppie koffie gegee?