Katvoet. Riana Scheepers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Riana Scheepers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798154857
Скачать книгу
>

      Riana Scheepers se lewe is dramaties en opwindend, avontuurlik en romanties. Sy is ’n produktiewe en veelsydige skrywer. Haar boeke is topverkopers, in Suid-Afrika en in vertaling in die buiteland.

      Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk, onder meer die ATKV-Prosaprys, FAK-prys, Eugène Marais-prys en die ATKV-Kinderboekprys. Die Nederlandse vertaling van Blinde sambok – Scorpioenkind – was op die kortlys van die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004). In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk: Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk en kry die Patrick Petersen-gedenkprys vir haar hele oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat haar bundel plaasverhale Die melkweg het ’n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het, kry sy ’n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap). In 2008 kry sy die gesogte Rapport/City Press Prestige-toekenning as een van die Top Tien Vroue van die Jaar.

      Sy is nie net skrywer nie, maar ook plaaswerker, geleentheidspreker, motiveerder, wynboer, restoureerder en panteïs. Sy is passievol verlief op vervalle huise en beeldskone historiese strukture. Saam met haar man, Johann Loubser, is sy steeds besig om te restoureer: aan ’n verlate volkshuis, ’n hartbeeshuis, klipkrale, stalle, skure en ’n spookhuis.

      Sy woon op ’n wynplaas in die Wamakersvallei, op Paternoster in ’n vissershuis, in die Tankwa-Karoo in ’n Karoohuis, en in die suide van Namibië in ’n spookhuis.

      Ek is die vrou wat die nag opsoek. Ek is die vrou wat snags uit my bed opstaan en loop. Ek is die vrou wat my klere uittrek en opkyk na die maan. Ek is die vrou wat katvoet loop.

      Riana Scheepers se verhale is driftig en elegant. Moeiteloos, soos fantome, beweeg haar karakters oor eeue heen; sy bly steeds betower deur die mistiek van Afrika, die liefde, die aarde, die aardse mens. Skigtig soos ’n kat laat hierdie verhale ’n spoor van wonderwerke en verwondering na.

      Katvoet is Scheepers se eerste kortverhaalbundel in tien jaar, ’n boek wat haar vertroudheid met dié genre bevestig en op uitdagende wyse verruim.

      Amulet teen die koue

      En omdat die vrou so eensaam is, so oorstelpend eensaam en verlate, besluit sy om nié die vakansie by haar familie deur te bring nie. Sy het buitendien nog nooit van familiebyeenkomste gehou nie. Veral nie van Kersfeeste nie. Selfs nie eens toe sy ’n kind was, het sy van Kersfees gehou nie, persente of te nie.

      In haar kindertyd was Kersfeeste dié dae waarop sy nie kon gaan Swem nie (donker gediertes sou juis op dié dag stadig uit die slap modder tussen die palmiete opwelf en haar Gryp); waarop sy haar oom op sy slopperige mond moes Soen (koes of nie, hy het van die geleentheid gebruik gemaak en almal Beslobber); waarop sy ’n Rok moes dra (kort voor lank was dit onherstelbaar Vuil); is sy aangesê om manierlik met ’n swetterjoel niggies neefs tantes en hul talle en vele vervelige aanhangsels te Gesels (sy het dit nooit gedoen nie en altyd stilletjies en alleen en ongeskik in die koel, stil rietbos Verdwyn).

      Toe sy later uit die huis is, was Kersfeeste ewe onaardig. Sy het nie gehou van families wat saamtros nie. Jong moeders, die geil vroue van haar drie vooruitstrewende broers, wat borsvoedend en koerend om huilende kinders die huishouding ontwrig om hul werpsels gelukkig te hou, het haar nog nooit aangestaan nie. En hoe groter die familie, hoe groter die ontwrigting: jillende kinders, so onstuitbaar soos ’n trop wolwe, op ’n spoor van avontuur en verwoesting deur hul ouma se huis. Kortom, sy sorg al jare lank dat sy tydens Kersfees weg is van die gelukkige familie, hulle kan gerus maar haar slaapkamer in gebruik neem en bevolk met doeke en stootwaentjies en speelgoed en melkbottels en slapende kinnertjies, sy is weg. Maar terselfdertyd sit sy dan daardie hele goddelike dag, waar sy ook al is, haarself en verknies. Sy verláng na die gelag van ’n swetterjoel kinnertjies en die familie en die geur van skaapboud en doekpoeding.

      Wanneer tróú jy? treiter die familie haar, hopende dat sy sal inskakel by die familierumoer as sy ook ’n man en kinders het.

      Nee, sy trou nie.

      Nie meer nie.

      Kersfees in ’n verre en vreemde land is die beste plek vir haar.

      Deur die bemiddeling van ’n buitelandse kollega kry sy ’n uitnodiging om ’n reeks lesings te gee by ’n Poolse universiteit. Voor en ná haar klasse kan sy reis, dit ís immers ’n fassinerende land, ’n opwindende wêreld van oudheid en misterie waar soveel dinge verander het, en steeds dieselfde bly.

      In ’n blakende somer pak sy haar warmste winterklere, ’n jas wat Siberiese temperature moet trotseer, wolkouse en stewels, musse en handskoene en serpe, klim op die vliegtuig en reis oornag die winter in, via Amsterdam, van daar per trein na Frankfurt. En verder oos, na Warskou.

      Dit is verblindend koud.

      Of miskien is dit net omdat sy alleen is dat die koue so meedoënloos deur haar sny?

      Sy reis deur ’n asemrowend mooi sneeuland. Sy ken niemand nie en kan nie die mense se taal van slepende, soepel klanke praat óf verstaan nie. Met handgebare en ’n paar woorde Duits, wat die Pole met argwaan na haar laat kyk, en haar selfs eendag op ’n stasie ’n venynige skouerstamp laat kry, vuil Duitser!, kom sy oor die weg. Sy word gereduseer tot die klanke en gebare van ’n doofstom mens, ’n idioot op ’n markplein. Met niemand kan sy ’n gesofistikeerde gesprek voer nie.

      Behalwe met haarself.

      Sy leer om in haarself te kruip vir warmte en geselskap.

      Maar ek is te min vir myself, dink sy in ’n kelderrestaurantjie in Wroçlav, haar hande bibberend om ’n koppie koffie, ’n mens wat met ’n stukkende hart rondloop, is te min om warm te word.

      Buite is die temperatuur minus twintig grade, en steeds word dit kouer.

      Vir twee weke lank gee sy lesings vir ’n klas van elf studente in ’n taal wat hul derde taal is. Hulle is ’n vrolike klompie jongmense, die lewe lê voor, die wêreld is oop, wat is wonderliker as ’n Poolse sneeuwinter in ’n tyd van politieke bevryding en dekadensie?

      Pas voor die kort Kersvakansie het hulle ’n raserige klasparty om die jaar mee af te sluit. Hulle deel lekkergoed aan mekaar uit en drink Coke. Een van die studente bring szernik, ’n boerse kaaskoek wat haar ouma gebak het, en sy sny groot stukke heerlikheid en deel uit aan almal wat bakhand nader staan. ’n Meisie met helderblou oë soos yswater vra haar: en wat doen jý vir Kersfees?

      Niks, niks spesifieks nie, sy sal miskien na ’n hotel êrens in die berge gaan en ’n wroegende Poolse roman in Engelse vertaling lees.

      Maar kom na ons, nooi Beate gul, haar oë skitterend en vriendelik en sonder ’n enkele greintjie van jammerte. Ongelukkig kan jy nie by ons oorslaap nie, sê sy, maar as jy in die stad is en nie ander planne het nie, moet jy beslis Oukersaand saam met ons gesin deurbring. Die Kersete, lag Beate, is ’n uitgebreide gedoente met die hele familie om die tafel, en daarna die Middernagmis in die katedraal. Kom!

      Is dit nie inbreuk op ’n private familiebyeenkoms nie?

      Nee, natuurlik nie!

      En eers baie later leer die vrou dat daar in Pole gesê word dat dit geluk bring – die innooi van die vreemdeling, of die idioot van die dorp – na jou huis en jou etenstafel op Oukersaand.

      Wat was sý? wonder sy toe sy daarvan hoor. Die vreemdeling? Of die idioot? Of albei?

      En het die vreemdeling-idioot vir hulle geluk gebring? Soos hulle vir haar?

      Vir nog ’n week reis sy deur die land met sy afgetrokke berge en geslote dorpe. Die son skyn nooit nie. Met goeie weer bly die dae mistig en grys, teen vieruur die middag is dit reeds donker. Met slegte weer skif die sneeu onophoudelik neer, soos ’n tafereel uit ’n Russiese roman van droefnis en romantiek. Sy reis per trein van Krakau in die suide na Gdansk in die noorde en kyk uit oor ’n landskap van wit – in hoeveel skakerings daarvan kan die wêreld gebleik word? Sy sien sigeuners in die sneeu, ploeterend met ’n wa en perde deur die dik, krakende ys. Sy sien die sneeubedekte vorms van berge en dennebome en boerderye en kerke, alles, alles in wit. Hier en daar die dak van ’n ou skuur tussen bome, onverwags, die kleur van bitter lemoene.

      Sy lees, sy skryf.