Die Reuk van koffie. Koos Kombuis. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Koos Kombuis
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798153133
Скачать книгу
sy wrewel jeens die stam van sy herkoms uit te kots. Eintlik wou hy ’n skilder word. Sy gedigte het hy – so vertel Etienne van Heerden my – onder sy matras weggesteek en daar vergeet, totdat ouens van die uitgewery dit stuk-stuk daar uitgesnuffel het vir amptelike boekstawing in die Republiek.

      Toe ghwêrts die hele besigheid in ons gesigte, ’n barsende bom kouevuur, en ons Letterkunde word skielik Lekkerkunde.

      Meteens was alles moontlik. Dit het ek as jong skoolkind besef toe ek Breyten begin lees het, skelm onder die skoolbank, terwyl ons onderwyser genaamd Klaas Vakie ons probeer wysmaak het van A.G. Visser.

      Breyten was my bekering tot die reddende krag van woorde.

      Gered het hy my van die verveling van Kadette, die walging van Jeugweerbaarheidsperiodes, die knetterende hellevuur van Calvinisme, die angs van Seksuele Skuldgevoelens, die oorgeërfde vrees vir die Kaffer, die hele boel Kak en Kulkuns en Kroekery van die Koninkryk van die Kalkoene. Want ’n foksterriër moet ook sy weekend kry, demmit.

      Vandag bêre ek steeds daardie eerste liefde, daardie Breytenbefoktheid van my prille jeug, kosbaar in ’n kissie in ’n kamer van my hart.

      En daar sou my Breytenbefoktheid gelê en eindelik gemuf het, vergete, onderdruk, vir altyd wég, as hy my nie hierdie moerse guns bewys het en eindelik weer ’n boek gemaak het soos daai eerstes nie.

      “Voorstudies vir gedigte.” Is dit waar? Nee, seker nie van sy gedigte nie. Maar die idee van “voorstudie” is wel van toepassing as mens kyk na Breyten se totale output: sy lewe, die idioom van sy bestaan, die larger-than-life-skaduwee wat hy altyd sal gooi teen die mure van die kamers waar ons sy werk probeer ontsyfer.

      Dink maar aan katastrofes. Dit sou ’n wonderlike moewie kon wees as die plot effens meer samehangend was. Dink aan sy toneelstukke by Oudtshoorn. Ek het nie een gesien nie, so ek mag seker nie kritiseer nie, maar Breyten het self aan my erken dat groot dele daarvan oorhaastig saamgeflans is. Volgens die akteurs was dit meesal samestellings van e-mails wat Breyten van tyd tot tyd, knorrig en impulsief, deurgeblits het Suid-Afrika toe. Dit was soos assegaaie wat hy blindelings oor ’n muur gooi. Die enkele kere dat hy ’n teiken getref het, was die effek fenomenaal; maar daar was altyd meer debris as duidelikheid. ’n Slaai van metafore, sleg omgeroer. Toe ’n resensent hom van “literêre draadtrekkery” beskuldig, is Breyten vir die soveelste maal woedend oorsee.

      Vir my om hom nou te loof vir die windvanger, terwyl ek my al soveel maal gedistansieer het van sy openbare geredekawel, is seker ’n bietjie soos die girl op LitNet wat eenkeer gesê het Koos moet maar net so nou en dan “Lisa se klavier” sing en verder sy bek hou. Ek vermoed Breyten sal hierdie resensie, as dit is wat dit is, ervaar as patronising. Dit sal hom wond, al is dit nie my intensie nie.

      Dit is egter ’n feit: Breyten se totale loopbaan tot dusver is soos ’n onvoltooide sirkel. Hy kom selde of ooit by die punt uit. Die meeste van sy openbare redes en essays verval in enumerasie. Hy is gewoonlik verstaanbaar slegs wanneer hy iemand anders aanhaal.

      Maar dan is daar sy gedigte.

      Dan is daar, hier in die windvanger, oomblikke waarin hy hierdie einste onvoltooidheid erken, oopbieg, asof hy al die tyd geweet het hy is eintlik ’n troebadoer sonder wysie:

      ek was ’n soepel singende stryder

      om die horison binne te haal:

      in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou

      ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart

      met sang en vervoering om kon praat

      maar my enkele lesers is ou wrakke

      En eindelik besef ek, vermufte ou leser, ook: die waarde van ’n onvoltooide sirkel is die feit dat so ’n sirkel eindeloos is. So ’n sirkel kom nooit by die punt uit nie juis omdat dit nie die doel van die sirkel is nie.

      G’n wonder dis al eeue lank die simbool van Zen-Boeddhisme nie: ’n onvoltooide sirkel. Waar ander godsdienste strak en volledig simmetriese kentekens het – kruis, Dawidster, swastika, reghoek – is Zen-Boeddhisme ’n ewige reis sonder bestemming. ’n Vakansie sonder budget. ’n Dinsdag in die middel van die week. ’n Vryheid sonder vaandels of Krismisbonus.

      Dalk is dít juis Breyten se bydrae tot Afrikaans: die ewige onvoltooidheid van sy soeke na

      hoesê?

      litnet

      môre gaan ons hartenbos toe

      ’n Retrospektiewe artikel

      Dis net ’n huisie langs die spoorlyn, maar dis ons huisie.

      Ons gaan môre weer soontoe, want skool is klaar, en dis die begin van die Desembervakansie.

      Dis net ’n huisie met vier vertrekke, sonder ’n toilet of badkamer, maar dis ons strandhuis wat my pa vir ons gekoop het. Nooit weer hoef ons Desembervakansies in die gehuurde rondehuisies onder by die strand te bly nie.

      Goed, die rondehuisies was lekker naby die see, maar hulle was net een kamer, en daar was spinnekoppe bo in die rietdakke. Die spinnekoppe het snags afgesak aan draadjies as ons slaap. Almal was bang een van hulle sak by my pa se oop mond in, want my pa lê op sy rug as hy snork.

      Ons eie strandhuisie langs die spoorlyn het ’n kombuis, ’n eetkamer en twee slaapkamers. Dis die jaar 1967, en ons weet nog nie asbes is sleg vir jou nie. Af in die straat met die grondpad tussen die ander asbeshuisies deur is die gemeenskaplike storte en toilette. Die ander asbeshuisies is almal vrolike kleure geverf, maar ons s’n is nog die oorspronklike asbeskleur.

      Ek kan nie wag om môre in die kar te klim nie. Goed, dis ’n hele ent van Stellenbosch af soontoe, dis ure se ry, mens moet verby Riversdal en Albertinia gaan en dan eers as jy die see sien by Mosselbaai weet jy jy’s amper daar, en as jy die see sien, weet jy die vakansie het begin.

      Ek droom al weke lank van ons strandhuisie langs die spoor, en ek tel die dae af totdat ons in ons Volvo kan klim en kan ry tot by daardie asbeshuisie langs die spoor!

      Aan die voorkant van die huisie is ’n groot grasperk vol duwweltjies – dis nie ons grasperk nie, dis sommer net ’n grasperk – en aan die oorkant van die grasperk loop die spoorlyn verby. Elke aand met sononder kom daar ’n fluitende trein verby, en partykeer deur die dag ook.

      Ek dink dis sommer baie ghrênd om so naby aan die spoorlyn te bly. Dan kan ’n mens al langs die spoor hardloop en waai vir die mense agter die vensters. Hulle waai altyd terug. Die wit mense ry in die voorste trokke, en hulle glimlag net so half en half. Maar in die agterste trokke kerjoel dit van die bruin mense. Hulle lag met oop tande en waai en fluit, want hulle is meer jollie as die wit mense.

      Af in die pad, aan die ander kant as die toilette en storte, is daar ’n snoepwinkeltjie wat lekkergoed verkoop. Vir net twintig sent kan jy ’n hele handvol niekerbols en drop en ’n paar toffies koop.

      Agter die snoepwinkeltjie is die Groot Amfiteater. Die Groot Amfiteater is net vir Ernstige Kuns. Dis groter as ’n rugbyveld, en elke aand wanneer hulle ’n toneelstuk daar gaan opvoer, ry daar voor die tyd twee ooms in ’n kar met ’n megafoon deur die dorp. Hulle verduidelik vir die mense oor die megafoon waaroor die toneelstuk gaan, hoe laat dit is, en hoeveel dit kos om te gaan. ’n Mens kan glad nie hoor wat die ooms sê nie, want die megafoon eggo te erg. So niemand weet ooit voor die tyd wat presies daai aand gaan gebeur by die Amfiteater nie, maar almal gaan anyway. Dis gewoonlik toneelstukke oor die Boereoorlog of die Groot Trek.

      Die laaste toneelstuk wat ek daar gesien het, was baie hartseer. Dit was van ’n man wat terugkeer nadat hy die Kakies gejaag het en toe hy by sy eie opstal kom, is dit afgebrand tot op die grond en sy vrou en kinders is weg. Dit was seker minder moeite so, om te sê die opstal het afgebrand, want anders moes hulle ’n hele opstal bou. Maar al wat hulle toe nodig gehad het, was ’n paar stukkies steenkool en die akteur met sy breërandhoed en sy bandolier. Die akteur het snikkend uitgeroep: “Hulle het alles gevat … alles.” Later het dieselfde akteur gevra: “Besef Pa hoe lank is ’n slapelose nag?”

      Ek