Die Reuk van koffie. Koos Kombuis. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Koos Kombuis
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798153133
Скачать книгу

      Dan Roodt: Al Gore

      Die joernalis wie Steve gemoer het: Tom Hanks

      Steve se kinders: die Weense Seunskoor.

      24.com blogs

      help! daar’s ’n bonsai by my braai!

      Vandeesmaand, so word dit my vertel, gaan die NG Kerk besluit of die Duiwel bestaan of nie.

      Dis die belangrikste besluit wat hulle moet neem sedert hulle besluit het dat gays wel bestaan, al het God hulle per ongeluk gemaak.

      Wat ’n verskriklike verantwoordelikheid gaan dit wees! Een groepie dominees aan die suidpunt van Afrika moet vir die hele wêreld besluit wat presies die aard van die Boosheid is!

      Newwermaaind al die filosowe deur die eeue! Newwermaaind Kierkegaard, newwermaaind Paulus, newwermaaind Nietzsche! Die besluit berus by die NG Kerk, en die NG Kerk alleen!

      Dit laat my wonder: WEET DIE DUIWEL WAT OP HOM WAG? WEET DIE DUIWEL DAT SY BESTAAN AFHANG VAN DIE BESLUIT VAN DIE NG KERK-SINODE VAN JUNIE 2007?

      ’n Interessante artikel deur Johannes de Villiers in By van 19 Mei gee my genoeg agtergrond om te besef hierdie dominees het meer eerstehandse kennis van die Boosheid as wat ek, gewone sterfling, ooit in my wildste drome kon versamel.

      Hy haal aan uit ’n preek deur ene dominee Bennie Mostert van die NG gemeente – waar anders? – Moreletapark, Pretoria:

      “Karate, judo, joga, transendentale meditasie, heavy metal-musiek, gruwelrolprente en allerlei ongeoorloofde seksuele praktyke stel ’n mens oop vir duiwels. So ook die kweek van bonsaiboompies.”

      Ekskuus? Het ek reg gehoor?

      DIE KWEEK VAN …

      DAGGAPLANTE?

      OPIUM?

      DIE MESKALIENVORMENDE KAKTUS VAN MEXIKO?

      STINKAFRIKANERS?

      Nee, BONSAIBOOMPIES!!!

      Nie die rook van, die eet van, die aanbid van BONSAIBOOMPIES kan van jou ’n duiwelbesete, prewelende woestaard maak nie, maar bloot die KWEEK DAARVAN.

      Toe ek hierdie sin lees, het ’n doodsangs my beetgepak. Ek het in my tuin ingevaar om seker te maak, DOODSEKER, dat ek nie dalk PER ONGELUK die niksvermoedende kweker van ’n bonsaiboompie is nie.

      En kan jy dit glo, daar ontdek ek toe een. Nie eens weggesteek iewers in ’n donker hoekie agter die strelitzias nie, maar oop en bloot, in ’n pot, al hangende in ’n gietyster-muurgedoente teen die baksteenmuur van my braaiplek! ’N BONSAIBOOMPIE! DIE SATAN SELF!

      Woedend konfronteer ek my vrou met my vonds. “En al die jare dog ek jy is Katoliek,” beskuldig ek haar. “Nou moet ek agterkom jy het jou siel aan die Duiwel verkoop! Hoe lank hang daai b- … daai blerrie plantjie al daar by my braaiplek?”

      “O, dit? Ons nuwe malva?”

      “M- … Malva?” vra ek verbouereerd.

      “Ja. Jy het self verlede week die gate geboor sodat ons hom daar kon ophang. Onthou jy nie?”

      “Malvas is amper so erg soos bonsaiboompies,” brom ek. “Breyten het eenkeer ’n gedig geskryf oor ‘malvas op balkonne’, en hy was ’n volksverraaier, dan nie?”

      “Die enigste volksverraaier wat ek ken,” sê my vrou terwyl sy haar arms om my slaan, “is jy. En jy’s nie baie gevaarlik nie, want ek woon al meer as tien jaar saam met jou sonder om iets oor te kom.”

      Dis asof daar ’n lig vir my opgaan. Uit die bloute onthou ek ’n versie wat Paulus of iemand geskryf het, ek is nie seker wie nie, maar anyway, ek kan sweer dit staan iewers in die Bybel of ten minste in een van Izak de Villiers se digbundels:

      “Alles is rein vir dié wat rein van hart is.”

      Ek gaan stap met my hond om die blok. Oral om my pryk die pragtigste blomme in tuine. Stadig maar seker kom daar vrede in my gemoed, en besef ek:

      Bonsaiboompies is ONPARTYDIG. Bonsaiboompies is so onskuldig soos FOKSTERRIËRS.

      Die Boosheid bestaan, ja. Geen mens wat op hierdie aardse tranedal woon, kan dit ontken nie. En juis omdat daar wel iets soos die Boosheid bestaan, is dit geweldig kontraproduktief om hom te gaan soek op plekke waar hy nié is nie. Deur só oor hom te dink, maak jy hom sterker, maak jy hom soos God – alomteenwoordig. Later word jou hele wêreld donker, en kort voor lank begin jy, soos Luther, selfs in jou gebedskamer deur Satan bedreig voel.

      Is daar waarlik mense wat rein van hart is? Wat dink hulle van bonsaiboompies? Het hulle ’n humorsin?

      Erger nog: Wat dink sulke mense van mense soos dominee Bennie Mostert?

      Of van die Kerk?

      Ek is bang om te vra …

      rapport

      en as rugbykykers besluit hulle wil ook staak?

      Volgens sielkundiges dink volwasse mans gemiddeld een keer elke ses minute aan seks.

      Dis gelukkig nie waar van Afrikaanse mans nie. Afrikaanse mans dink elke ses minute aan rugby.

      Ek is bereid om dit ruiterlik te erken: ja, rugby is vir my ’n afgod.

      As enige dominee ’n probleem daarmee het dat rugby vir my ’n afgod is, sal ek hom kort en kragtig antwoord: Wil jy dan nou hê ek moet liewer aan seks dink?

      Wanneer ek rugby kyk, moet niemand my steur nie. Wanneer ek rugby kyk, het ek nie meer fantasieë dat ek ’n tronksel deel met Paris Hilton nie. Wanneer ek rugby kyk, verander alles. Selfs my waardesisteem verskuif. Deur die week mag ek verskil van Steve Hofmeyr se politieke sienings, maar hy kan maar “Liefling” sing op Loftus; ek is ’n absolute fan.

      Wanneer ek rugby kyk, wil ek nie in die tuin werk, Lego-kastele bou saam met my kinders of bekgevegte lees tussen Jaco Botha en die hoof van die FAK nie.

      Wanneer ek rugby kyk, kyk ek net rugby. En selfs wanneer ek nie rugby kyk nie, dink ek – soos ek reeds gesê het – ten minste elke ses minute aan rugby.

      Ek vra myself af wat van Meyer Bosman geword het. Ek wonder wie die genie was wat Pierre Spies verskuif het van vleuel na losvoorspeler. Ek spekuleer: waarom begin ons nou eers besef John Smith is eintlik ’n goeie kaptein? Dis die dinge waaraan ek dink wanneer ek nie rugby kyk nie.

      My vrou is ook lief vir rugby, maar uit die aard van die saak is sy ’n vrou. Sy dink nie elke ses minute aan rugby nie.

      Sy dink aan goed soos watter kleur ons die nuwe kamer se plafon moet verf. Sy werk resepte uit vir die aand wanneer Kerneels Breytenbach kom kuier.

      Nietemin is ek nie kwaad vir my vrou dat sy nie soos ek is nie. Ons gesin sal ten gronde gaan as sy soos ek moet wees.

      Maar ek is wel kwaad vir iemand anders. Let op, hier kom ek nou eers by die punt van hierdie rubriek uit! Ek is woedend, woedend, woedend!

      Ek is woedend vir die rugby-administrateurs en sportministers en die hele kaboedel mense wat nie self rugby speel nie, maar hulle aanhoudend bemoei met rugby en sodoende ons rugbykyk-ervaring bederf!

      Keer op keer het dit die laaste ruk gebeur dat ’n Suid-Afrikaanse provinsiale span of ons nasionale span ’n fantastiese, roemryke oorwinning behaal, maar waaroor gaan die volgende dag se koerantopskrifte? Oor onbekende burokrate wat kwaad is vir Jake White om al die verkeerde redes. Oor kwotas, en rassisme, en allerhande herries. Dis amper asof hulle jaloers is op die publisiteit wat ons spanne kry.

      Hoekom?

      Die enigste kleure wat vir ons rugbyliefhebbers tel, is groen en goud. Nie bruin, wit of swart nie. Ons het vrede met watter kleur Luke Watson is, ons worry net of Luke Watson inpas in ons wedstrydplan. Wanneer Ashwin Willemse ’n drie druk, sê ons nie: “Hoera vir die bruin mense!” nie, ons sê: “Hoera vir die Springbokke!”