“Ons kan ’n taxi kry om ons huis toe te vat.” Bennie het rondgekyk asof hy ’n taxi op die stasieplatform verwag.
“Maar ons weet nie waar sy bly nie,” het Theuns geïrriteerd gesê.
“Die taxi kan ons na my pa se huis toe vat,” het Bennie geantwoord. “Hy sal weet waar Ma bly.”
“Hoekom het jy nie al gisteraand daaraan gedink nie?” het Theuns uitgeroep.
Alfie het wakker geword en verbaas om hom rondgekyk. “Ek’s honger,” het hy gesê.
“Wag hier, ek gaan ’n taxi kry,” het Bennie gesê en om die hoek verdwyn.
“Het ons op die stásie geslaap?” het Alfie ongelowig gevra.
“Ja, genius. Staan op. Bennie het ’n taxi gaan soek,” het Theuns geantwoord.
“Het Ma ons dan nie kom haal nie?” Alfie het weer oor sy oë gevryf.
“Lyk dit vir jou of sy het?”
“Ek vra maar net, asshole,” het Alfie gemompel en opgestaan.
Bennie het ná ’n paar minute verskyn. “Kom, julle! Die taxi staan hier voor.”
Ons het ons tasse agter ons aangesleep tot by die wagtende taxi. Bennie het voor langs die taxibestuurder ingeklim en vir hom Koos se adres gegee. Ek, Theuns en Alfie het agter gesit. Toe ons voor Koos se huis stop, het Bennie alleen uitgeklim en die voetpaadjie opgedraf.
“Wil jy nie ook jou pa gaan groet nie?” het Theuns oor my kop vir Alfie gevra.
“Nee.”
“Hoekom nie?”
“Ek kry te koud om uit te klim.”
Bennie het na ’n paar minute teruggekom met die adres – my ma het weer in ’n woonstel oorkant die Boksburgmeer gewoon.
By die woonstelblok het ons die trappe twee-twee opgehardloop tot by nommer 23 op die tweede vloer en hard aan die deur geklop. My ma moes nog geslaap het, want ons moes ’n tweede en ’n derde keer klop. Sy was nog in haar pajamas en deur die slaap toe sy die deur oopmaak. Sy het geskrik en aan haar hart gevat toe sy ons sien.
“Haai! Bennie? Wat maak julle hier?” het sy opreg verbaas gevra.
“Dis vakansie, Ma! Die skool het gister gesluit en ons het heelnag op die stasie gesit en wag, maar Ma het ons nie kom haal nie!” Bennie se stem was vol verwyt.
“Ag my Here, nee! Ek dog die skool sluit eers vandag,” het sy geskok gesê.
“Toemaar, Ma,” het ons almal gelyk probeer troos toe dit lyk asof sy gaan huil.
“Hoe het julle hier gekom? Waar is julle tasse?”
“Met ’n taxi,” het Bennie geantwoord. “Die ou soek eers sy geld voor hy ons tasse gee.”
Ek het gehoop my ma sou so skuldig voel oor sy ons op die stasie vergeet het dat sy my hare sou oorsien. Maar sy het óf nie skuldig gevoel nie, óf sy was nog heiliger op my hare as wat ek gedink het, want sy het my tog geslaan. Met haar belt. Hard, ritmies en aanhoudend. Dit was die eerste ordentlike pak slae wat ek in my lewe gekry het.
Ek het deur daardie pak slae van lettergrepe geleer. “Hoe,” eerste hou. “Kom,” nog ’n hou. “Het,” nog ’n hou. “Jy,” nog ’n hou. “Jou,” nog ’n hou. “Fok,” nog ’n hou. “Ken,” nog ’n hou. “Ha,” nog ’n hou. “Re,” nog ’n hou. “Af,” nog ’n hou. “Ge,” nog ’n hou. “Sný?” nog ’n hou.
“Ek is jammer, Ma! Ek is jammer, Ma!”
Ek het soos ’n maer vark geskree, maar sy was genadeloos.
“Jam,” die hoeveelste hou. “Mer,” nog ’n hou. “Se,” nog ’n hou. “Moer,” nog ’n hou. “Jy,” nog ’n hou. “Lyk,” nog ’n hou. “Nou,” nog ’n hou. “Soos,” nog ’n hou. “ ’n,” nog ’n hou. “Fok,” nog ’n hou. “Ken,” nog ’n hou. “Seun!” nog ’n hou.
“Dis Lorraine se skuld, Ma! Sy wou nie my hare vasmaak nie en sy het dit elke oggend aspris getrek en geruk,” het ek gehuil.
Ek het die waarheid gepraat en sy moes my geglo het, want sy het haar belt laat sak. Of miskien het haar arms net moeg geword van al die geslanery.
Toe die hare-worry eers agter die rug was, het ek die res van die vakansie geniet. Paul was nie meer daar nie en ek was eindeloos verlig. My ma het weer by die poskantoor begin werk en dit het goed gegaan met haar, wat tot my verligting bygedra het.
Aan die einde van die vakansie het my ma ons stasie toe gevat vir die rit terug na Lagerspoort. Ek was baie opgewonde om terug te gaan, maar my moed het in my skoene gesak toe Lorraine naderkom om vir Bennie te groet. Ek het geweet wat gaan kom.
My ma het op haar afgepyl en haar aan haar rooi poniestert nadergepluk.
“Kom hier, jou klein tert! Kyk hoe lyk my kind se hare. En dis jou skuld! Omdat jy te fokken lui was om dit vas te maak!”
“Ma, moenie,” het Bennie benoud probeer keer. “Asseblief, moenie ’n scene maak nie!”
Sy het hom geïgnoreer en haar vinger omtrent in Lorraine se oog gedruk. “Jý! Dis jóú skuld!” het sy gegil soos Siena op haar beste.
“Ek is jammer, tannie!” het Lorraine verskrik uitgeroep.
Verbygangers en koshuiskinders het stil gaan staan en die petalje oopmond aanskou. Theuns en Alfie het ongemaklik eenkant gestaan en anderpad gekyk.
“Jammer gaan nie haar hare terugbring nie, man!” het my ma gesnou en Lorraine só skielik gelos dat sy amper haar balans verloor het.
Ek kon aan haar en Bennie se gesigte sien ek gaan nie die treinrit óf die res van die jaar in die koshuis geniet nie.
In September het ek my sesde verjaarsdag in die koshuis gevier. Ek het hierdie keer darem geweet dis my verjaarsdag. Die hele koshuis het die oggend in die eetsaal vir my “Lekker verjaar” gesing, en al my klasmaats weer ’n keer in die klas.
Ons koshuismoeder, tannie Marie, het vir my ’n koek gebak met ses kersies op, en juffrou Van Zyl het vir my ’n dik storieboek met al Grimm se sprokies gegee. Carla het vir my ’n pienk handsakkie met ’n spieëltjie en lipstiffie in gegee, en Bokdrol het pouse vir my sy peanutbotterbroodjie aangebied. Net ’n koshuiskind van Lagerspoort sal verstaan watse groot gebaar dít was.
Die res van die jaar het sonder enige drama verloop. Ek het uit Lorraine se pad gebly en gesorg dat ek altyd skoon en netjies by die skool opdaag. Ek het nog steeds naweke om die beurt by juffrou Van Zyl en Carla gaan kuier.
By Carla het ons geswem en video’s gekyk. By juffrou Van Zyl het ons gelees en gelees. Meestal Grimm se sprokies, Huisgenoot se artikels, en Trompie en Saartjie. Juffrou Van Zyl het nie van Danielle Steel se boeke gehou soos my ma nie. Sy het gesê dis te soetsappig en sy hou ook nie van Engelse boeke nie.
Toe ons vir die Oktobervakansie in Boksburg van die trein afklim, het my ma reeds vir ons op die platform gewag. Ek was bly om haar te sien en sy het bly gelyk om ons ook te sien.
In daardie kort vakansie het Bennie ons geleer shoplift – hy was toe al ’n pro. Ons het meestal tjoklits en ander lekkergoed uit verskillende kafees gesteel. Hou een tjoklit met jou regterhand in die lug en maak of jy die prys bekyk, terwyl jy met jou linkerhand ’n ander tjoklit onderlangs in jou hemp of broek indruk, het Bennie ons geleer.
Partykeer is ons gevang, partykeer nie. Die kere wat ons gevang is, het die eienaar ons gedreig met die polisie en ons sy kafee in die toekoms belet. Ons het twee goue reëls gehad: ons mag nie dieselfde kafee twee keer raid nie, en as jy gevang word, is jy op jou eie.
Teen die einde van die vakansie was daar al ’n groterige hoop lekkergoed onder Bennie se bed, en ek was seker die polisie soek al na ons. Ek was so ongelooflik dik