Brink se blik bly vasgenael op haar gesig en Liana draai weg om die bed op te ruim.
“Hoe gaan dit met Johnnie?” vra hy agter haar.
“Baie goed.” Sy lê ’n skoon, gevoude handdoek op die bed se voetenent neer en kyk na hom. “Mandla hou vakansie daar tussen die donkie en ganse, en Martha – dis my opsigter se vrou – sorg dat hulle elke dag hulle groente en vleis inkry.”
Hy vou sy sterk, bruingebrande arms voor sy bors. Sy armhare is dieselfde kleur as sy wenkbroue, merk Liana op.
“Hoekom loop die kleintjie so kruppel?” vra hy.
Liana plaas ’n klomp botteltjies in gelid en skuif die instrumente reg op die rakkie.
“Sy ma se kêrel het hom aangerand toe hy jonger was,” sê sy toe sy terugdraai, “terwyl Johnnie by sy ouma in Natal skoolgegaan het. Toe Johnnie terugkom, was dit te laat, die bene het reeds begin aangroei. Mandla is nooit na ’n dokter geneem nie. Hulle het nie ander familie nie, dis waarom Johnnie hom strate toe gebring het ná hulle ouma se dood.”
Sy kyk na haar polshorlosie. “Ek dink dit was die laaste pasiënt, ek gaan nou maar die deure toemaak. Die volgende skof begin eers seweuur vanaand.”
“Waarom het jy nie vir my gesê jy verpleeg nie?” keer Brink haar toe sy wil uitstap. “Daar was genoeg geleentheid terwyl ons Johnnie toegewerk het, en as ek reg onthou, het ek nog gevra ook.”
Sy trek haar skouers op en glimlag effens. “Ek het nie gedink dis belangrik nie. Buitendien het ek die indruk gekry dat jy my reeds geklassifiseer het. Hier in die stad laat ’n mens maar mense dink wat hulle wil. Waar het jy gehoor dat ek ’n suster is?”
Hy draai weg lessenaar toe, waar hy gaan sit en ’n inskrywing op ’n lêer maak. “Raai,” sê hy. “Dan kan jy maar dink wat jy wil – soos julle mense hier in die middestad maak.”
Liana pers haar lippe saam en gluur na sy geboë hoof terwyl hy verder skryf. Moedswillig!
Sy swaai weg en gaan sluit die kliniek se deure toe. Toe sy uitstap, sluit Brink by haar aan.
“Gaan jy nou terug huis toe?” vra hy.
Sy kyk hom agterdogtig aan. “Waarom vra jy?”
Hy glimlag en dit laat sy gesig onverwags seunsagtig lyk. “Ek het gehoop ons kan gou ’n draai by jou winkel gaan maak. Jy kan sommer saam met my ry.”
“Mý winkel?” Sy vroetel met haar skouersak se band. “Jy bedoel seker die winkel waar ek werk. Waarom vra jy?”
“Ek wil weer na daardie kassie gaan kyk.” Hy beduie na sy motor. “Dan vat ek jou sommer daarna huis toe.”
Liana skud haar kop beslis. “Dankie, maar nee dankie. Ek stap eerder, ek het die oefening nodig. Dag, dokter.”
“Bang?” tart hy.
Sy gaan staan en draai terug. Sy bekyk hom op en af met ’n meewarige glimlag. “Beslis nie vir jou nie.”
Hy maak die motordeur oop. “Nou ry dan saam.”
Liana kan so ’n uitdaging nie weier nie en sy klim in. Sy hou hom onderlangs dop terwyl hy bestuur. Wat ’n vreemde mansmens. Hy het sterk, mooigevormde hande en ’n ferm kakebeen en ken wat die direktheid waarmee hy alles doen, weerspieël. Dit lyk ook nie of hy veel erg aan mense se opinie het nie.
“En?” vra hy toe hy ’n ent van die winkel af in ’n oop parkeerplek intrek.
“En wat?” Liana maak die deur oop en klim uit.
“Wat is die slotsom?” vra hy terwyl hulle winkel toe stap. “Die waarneming was taamlik intens.”
“Ek het net gewonder wat jy eintlik hier in die middestad soek. Tussen hakies, dankie vir die saamry.”
“Jy’s welkom, suster Louw,” sê hy en hou gemaklik tred met haar haastige treë. “Maar ek beoog om jou ook nog veilig by die huis te besorg.”
Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar die vasberade trek op sy gesig laat haar swyg. Nutteloos om te argumenteer, besluit sy. Sy sal slim taktiek moet gebruik om hom van haar voorstoep af weg te hou.
By die winkel kyk hy teleurgesteld om hom rond. “Ek kon sweer die kassie was gister nog hier.”
Liana help hom kyk en toe hulle soektog vrugteloos is, roep sy die assistent nader.
Die middeljarige vrou kyk na haar en dan na die teleurgestelde Brink. “Iemand het dit vanoggend kom haal,” sê sy dan. “Juffrou Liana, kan ek jou sommer iets van daardie fakture vra?”
“Ek is jammer,” maak Liana teenoor Brink verskoning. “Ek sal nie nou kan huis toe gaan nie, ek het nog werk hier. Maar ons sal vir jou ’n ander kassie probeer kry.”
Brink skud sy kop. Daar is ’n momentele weerloosheid in sy oë wat Liana se hart pynlik ineen laat krimp. Die meubelstuk moes vir hom een of ander sentimentele waarde ingehou het, besef sy meteens.
“Los eerder,” sê hy met ’n skewe glimlag, “ek moes dit die eerste dag geneem het. Ek twyfel of jy weer presies so een sal kry. Dan gaan ek maar, totsiens.”
Toe hy wegstap, kyk die assistent na Liana. “Hoe het jy geweet hy wil dit so graag hê?”
Liana kyk Brink verwonderd agterna. “Ek het nie. Ek wou net vir hom dankie sê vir sy hulp met Johnnie. Het jy die stoele en tafeltjie saamgestuur?”
“Ja.” Die vrou glimlag. “Dit sal in sy spreekkamer staan wanneer hy daar aankom, ek het met dokter Buys gereël soos jy gevra het. Ek het maar net van die fakture gesê om jou te vertel dat alles afgelewer is.”
“Dankie.” Liana maak die kluis in haar kantoortjie oop. “Ek sal sommer gaan bank. Sal jy asseblief vanmiddag toesluit?”
Liana maak eers ’n draai by die bank in die middestad en stap dan flink terug woonstel toe. Sy kan voel hoe die oefening die stres en spinnerakke laat uitwaai.
’n Glimlag speel om haar mond toe sy later haar woonsteldeur oopsluit. Sy sou graag by wou gewees het om Brink Fouche se gesig te sien toe hy sy spreekkamer oopsluit.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.