Hart vir 'n heler. Hetta Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hetta Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051909
Скачать книгу
manier soms een.

      Sy maak haar Bybel toe toe sy klaar gelees het en skakel die lig af voor sy die gordyne wyd ooptrek om die maanlig binne te laat. Toe sy die beddegoed onder haar ken saambondel, glimlag sy effens. Brink Fouche … sy voel op ’n manier aangetrokke tot hierdie ongeslypte diamant van ’n mansmens, seker omdat hy haar liefde vir die middestad deel. En om een of ander onverklaarbare rede is sy bly dat sy nie vanaand ’n verloofring van dokter Pierre Bosman aan haar vinger het nie.

      3

      “Môre.” Dokter Ellen Dupisanie glimlag vir Brink toe hy hulle voorstedelike praktyk binnestap. “Ons het ’n vergadering in Beer se kantoor. Ek maak vir ons koffie, wil jy ook hê?”

      “Asseblief.” Hy groet die ontvangsdame en trek die afspraakboek nader. “Ek’s nou by julle,” sê hy sonder om op te kyk.

      “Sterk, swart en soet … soos altyd eerste ding in die oggend?”

      Ellen se stemintonasie laat Brink opkyk en die boodskap in die persblou oë tussen die digte swart wimpers is onmiskenbaar.

      “Ja, dankie.” Hy stoot die boek terug. “Ek gaan sit net my aktetas neer.”

      Hy frons toe hy wegstap. Ná Irma weg is, het hy hom in ’n hele paar verhoudings begewe en vergetelheid gesoek, maar alles was smaakloos, soos kos sonder sout. Nog steeds. Hy wonder of hy ooit die verlange en seer wat Irma nagelaat het, sal kan afskud. Dokter Ellen Dupisanie, hulle vennoot, was een van sy ontvlugtings.

      Hy sit sy tas in die hoek neer en hang sy baadjie oor die kapstok. Ellen is ’n pragtige vrou, met ’n liggaam soos wit marmer en welige swart hare tot amper by haar middel, maar hy het ná die eerste soen reeds geweet dit sal vir hom niks meer as ’n vlietende aantrekking wees nie. Vir haar is dit anders.

      Hy gooi sy bos sleutels op sy lessenaar neer. Hy was onnosel. So iets hoort nie tussen vennote nie, maar hy was nuut in die praktyk, en alleen, en sy het geen geheim gemaak van haar aangetrokkenheid tot hom nie.

      Toe hy in Beer se kantoor kom, staan hulle koffie op sy lessenaar, maar daar is geen teken van Ellen nie.

      “Ja, sit!” bulder dokter Bennie Buys. Sy stoelleuning raak omtrent weg toe die enorme paar skouers daarin terugsak. Hy beduie met die voorspelerarms wat hom die bynaam “Beer” besorg het.

      “Ellen het net gou haar motorligte gaan afskakel,” sê hy. “Dis maar goed sy is nie so verstrooid in die teater met ’n skalpel in die hand nie. Ja, en mens sien ook deesdae niks van jou vandat jy daai plek in die middestad gaan oopmaak het nie. Ek raak nou moeg van al jou pasiënte se gekerm. As ek my sonde nie ontsien nie, stuur ek hulle algar middestad toe.”

      Brink grinnik en gaan sit oorkant Beer met sy beker koffie in sy hand. “Hulle sal nie daar aard nie,” waarsku hy, “my ontvangslokaal is nog taamlik primitief. Dink net hoeveel skade sal jou praktyk ly as hulle na ons kompetisie toe oorloop.”

      Beer grom iets onhoorbaars en begin slurp aan sy koffie.

      “Ek is jammer,” maak Brink verskoning, “dit was maar ’n deurmekaarspul om alles reg te kry. Van hierdie week af sal dinge weer normaal loop. Ek sal voortaan net sekere tye daar werk, soos ons ooreengekom het.”

      “En wanneer die spesialiste by Kemkliniek jou vra om uit te help?” Beer tuur na hom met sy oë op skrefies getrek. “Oppas vir te veel ysters in die vuur, my maat.”

      Brink knik. “Die aflos-sjirurgie moet vir eers oorstaan, ek wil die praktyk hier volhou so lank ek kan.”

      “Geen kans nie.” Ellen kom binne en lig haar beker van die skinkbord af op. “Ek dink nie Kemkliniek sal jou dit toelaat nie. Thys Spannenberg sê daar is reeds pasiënte wat spesifiek na jou vra.”

      Brink roer sy skouers ongeduldig. “My diensbeurte is vrywillig; hulle kan my nie verplig nie.”

      “Ek dink jy’s laf,” sê Ellen toe sy gaan sit en haar bene kruis sodat die romp se spleet haar mooi knieë vertoon. “Jy kan soveel meer geld maak as jy jou op sjirurgie toelê, en jy kan steeds hier werk as jy graag wil. Daai middestadspreekkamer van jou beduiwel alles.”

      Behalwe dat voltydse sjirurgie my te veel aan my lewe saam met Irma sal herinner, kon Brink geantwoord het, en hierdie praktyk sit die konfyt by my brood en botter. Maar hy swyg eerder en drink sy koffie.

      “Hoe het dit met die straatkind afgeloop?” verander Beer die onderwerp.

      “Lelike meswonde,” sê Brink, “hy loop met ’n hele paar steke rond.”

      Hy leun vorentoe en plaas sy leë beker terug op die skinkbord. Beer se spreekkamer is gesellig en die stoel gemaklik. Sonlig val agter hom deur die venster en maak ’n warm kolletjie op sy rug. Hy wonder hoe Johnnie se rug vandag voel.

      “Interessante vroumens ontmoet gisteraand.” Hy kyk na Beer. “Ek het haar al in die middestad by ’n kafee gesien en toe by ’n tweedehandsemeubelwinkel. Sy het om die straatkind gekloek soos ’n moeder hen. My in die spreekkamer ook gehelp toe ek steke ingesit het, en die kinders daarna na haar woonstel geneem. Ene Liana Louw.”

      “Seker suster Louw.” Ellen trek ’n gesig. “Bietjie snaakserig, as jy my vra. Sy is in beheer van die sjirurgiese saal by Kemkliniek. Gawie hier by die apteek ken haar goed, hulle het saam gestudeer. Haar pa is een van dié sakemanne in die stad, en ek het nou die dag aan haar ma se tafel by die Vroue-Landbou-unie se funksie gesit. Hulle is gesiene mense en ons almal wonder wat sy daar in die middestad soek.”

      “Manus en Anri Louw,” knik Beer. “Ordentlike ou, speel ’n goeie pot gholf ook.”

      Brink staar na hulle. “Vir wat bly sy dan daar?”

      “Goeie vraag. Sommige mense het maar daardie streep weg, lyk dit my.” Beer vee sy glimlag met sy hand af. “Sy het tot ’n winkel en ’n woonstel daar gekoop, vertel Manus my. Vreemd, nè? Kom,” hy trek ’n vel papier nader, “ons moet begin, die pasiënte is netnou hier.”

      Toe Brink die middag na die gemeenskapskliniek toe ry, word hy by ’n padblokkade voorgekeer. Geen motor word ontsien nie en sy kattebak word deursoek. Daar word tot onder sy enjin gelig en gekyk.

      “Ry maar,” beduie die polisieman dan en staan terug. Brink kyk verwonderd na die samedromming van mense in klein groepies in die strate toe hy verder ry. Hy sien Jorgie buite voor sy kafee staan en draai op die ingewing van die oomblik by die sentrum in om sy voorraad droplekkers aan te vul.

      “Wat gaan in die middestad aan?” vra hy toe hy uitklim.

      Jorgie glimlag breed. “Die polisie het so elfuur vanoggend hier toegeslaan, dok, en ’n hele spul van die belhamels geboei weggevat. Daar is ook ’n klomp sakke goed gekonfiskeer. ’n Straatkind is gisteraand in ’n dwelmvoorval beseer, hoor ek.”

      “Ek sien.”

      Brink betaal vir sy lekkers en stap ingedagte terug motor toe. Lyk of suster Liana Louw toe haar appeltjie met ene Luiz geskil het. Hy draai weer terug na Jorgie, wat hom staan en dophou.

      “Waar bly suster Louw?” vra hy. “Ek het gisteraand vir die straatkind steke ingesit en wil gaan hoor hoe hy vorder.”

      Jorgie skud sy kop. “Jy moet haar maar self vra, dok, sy kan vir jou die adres gee as sy wil. Vandag sal jy haar in elk geval nie daar kry nie, sy het vroegoggend vir Johnnie en Mandla kom eetgoed koop toe hulle gery het.”

      “Dankie.”

      Brink voel ’n gek toe hy sy motor aanskakel. Hy het hom deeglik misgis met die vroumens. ’n Hoëklasprostituut!

      Hy lag hardop toe hy spreekkamer toe ry. Suster Liana Louw het lekker vir hom in haar mou gelag, maar twee kan hierdie speletjie speel. Hy begin fluit.

      In Modimolle op haar kleinhoewe steek Liana die vars verband netjies met ’n speldjie vas en skuif die kussings agter Johnnie se kop gemaklik. “Beter?” vra sy.

      Hy knik. “Siyabonga. Waar is Mandla?”