Hart vir 'n heler. Hetta Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hetta Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051909
Скачать книгу
sug sy, “laat ek net gou daar gaan hoor. Dis nou weer die voggies wat daar praat; hy kom elke aand in en ontstig my pasiënte.”

      Liana knik. “Ja, dis hy.”

      Sy hou die man met die deurmekaar bruin kuif dop toe hy met Johnnie begin werk. Hy vra iets in Zoeloe en Johnnie skud sy kop. Hier langs Liana antwoord Mandla met sy skril stemmetjie. Liana se blik gaan oor die man se informele drag en dan na die sterk bruingebrande hande wat behendig die seun ondersoek.

      Sy snak na asem toe hy Johnnie omdraai en sy die rugwond sien.

      Die man kom regop en kyk haar ondersoekend aan. “Hoe ken jy hulle?” vra hy en beduie na die seuns.

      Die groen van sy oë val haar weer op, en dat die baardstoppels wat op sy wange en sy bolip deurslaan, dieselfde kleur as sy ruie wenkbroue is.

      “Ek woon in die middestad,” antwoord sy. “Johnnie en Mandla is vriende van my.”

      Sy wenkbroue lig. Dan steek hy sy hand na haar uit. “Ons het nog nie amptelik ontmoet nie, ek is Brink Fouche. Ek dink ons neem hom na my praktyk toe, dis net ’n paar strate weg. Ek hoop jy sal kan staande bly terwyl ek steke insit, want iemand moet my help.”

      “Liana Louw.” Haar hand raak verlore in sy ferm warm een.

      Die verligting slaan deur in haar stem toe sy sê: “Dit sal wonderlik wees as hy nie staatshospitaal toe hoef te gaan nie, dankie, dokter. Ons kan hom sommer in my motor vervoer, dit staan reg voor die deur. En ek help graag, ek sal maar diep asemhaal as ek bewerig voel,” sê sy vroom.

      Die sekuriteitswag by Brink se spreekkamer kom flink uit die houthuisie en maak die hek vir hulle oop. Brink stap deur toe om oop te sluit en die wag help Liana om Johnnie na binne te neem. Mandla kom agterna met Johnnie se bebloede en geskeurde trui vasgeklem in sy hande.

      Dis ’n goed toegeruste spreekkamer, sien Liana toe sy binne is, maar hy kort beslis nog meubels in sy ontvangskamer. In die teater maak sy Mandla tuis op ’n stoel met ’n suiglekker. Dan trek sy plastiekhandskoene aan en begin Johnnie se wonde ontsmet.

      “Luiz is bad news,” sê sy ontsteld. “I’m going to do something about him, he can’t do this and get away with it!”

      “Wat kan jý doen, mama?” vra Johnnie en kreun toe sy aan die wond op sy rug begin werk.

      Liana laat die bloeddeurdrenkte watte in die vullissak val. “Ek sal aan iets dink.”

      Brink kom binne en was sy hande by die wasbak voor hy ook handskoene aantrek en sy gereedskap begin bymekaarmaak om die steke in te sit. “Wil jy iets hê om jou klere te beskerm?” vra hy.

      “Ek is reg, dankie, dokter.”

      Hy druk die metaalbakkie in haar hand. “Nou hou dan hier vas.”

      Sy wenkbroue lig toe hy sien dat sy reeds handskoene aanhet en die wond ontsmet het. “Nie sleg nie, juffrou Louw,” komplimenteer hy haar en glimlag dan gerusstellend vir Johnnie. “Ek gaan jou eers ’n paar inspuitings gee om die pyn te verdoof,” sê hy op Engels.

      Johnnie knik. Op die stoel langs die bed rek Mandla se oë.

      Liana lê haar hand op sy skouer en hou die man waaksaam dop terwyl hy Johnnie se wonde toewerk. Hy werk met ’n rustige doelgerigtheid wat van ervaring spreek en wat haar dadelik gerusstel. Daarby praat hy heeltyd met Johnnie en verduidelik wat hy doen en waarom hy dit doen. Sy neem altans so aan, want ’n groot deel daarvan is in Zoeloe. Sy kan sien dat Mandla ook aandagtig luister, sy vrees vergete.

      “So, ja.” Brink Fouche kom ná ’n ruk regop en roer sy skouers. “As hy hom nou ’n paar dae stil sal gedra, behoort alles goed te genees.” Hy trek sy handskoene uit en gooi dit in die asblikkie onder die tafel. “Ek moet eintlik ’n kamer of twee hier inrig vir sulke gevalle.”

      “Johnnie kom na my woonstel toe,” sê Liana beslis en laat haar handskoene bo-op syne val. “Ek het ’n spaarkamer waar hy en Mandla kan oornag. Ek sal hulle môre deurvat na my kleinhoewe in Modimolle, daar is iemand wat na hulle kan omsien. Dis buitendien beter dat hulle ’n bietjie van die strate afkom, dink ek. As ek my sin kan kry, gaan dit die volgende paar dae nogal warm word in die strate vir Johnnie se aanvallers.”

      Hy droog sy hande af en kyk haar ondersoekend aan. “Watse werk doen jy presies?” vra hy dan reguit. “Ek kan nie insien hoe jy net met jou werk by die winkeltjie ’n woonstel en ’n kleinhoewe kan onderhou nie.” Sy blik gaan weer oor haar klere. “En sulke klere kan bekostig nie.”

      Die implikasie van sy woorde laat Liana verkleur. Sy wil eers verduidelik – van die beleggings wat sy deur die jare met haar pa se besigheidsvernuf kon maak en haar goeie salaris as senior verpleegkundige. Van die kleinhoewe, ’n erflating van oupa Abel, omdat sy net so lief soos hy vir daardie deel van die land is. Maar dan onthou sy sy ongeërgde houding by die winkel en herinner haarself dat sy eintlik maar bitter min van hierdie man weet, behalwe dat hy wel ’n dokter is.

      “Ek het my kontakte,” sê sy ligweg en draai om na Mandla toe. “You are going to stay with me for a bit,” glimlag sy. “Kom, Johnnie, jy lyk half aan die slaap soos dit is, en jy moet nog aandete kry.”

      Brink kyk die motor agterna toe sy uitry en draai dan terug om te gaan opruim. ’n Prostituut dus, een met ’n hart van goud. Hy onderdruk die teleurstelling wat in hom opwel. Haar kliënte sal heel waarskynlik ryk sakemanne wees – mans wat goed betaal vir diskresie en ’n gesofistikeerde gesellin.

      Wel, wel, wel. Hy hou meer van die meisie in die winkel met haar stywe denim. Hy wonder wat sy gedoen het voor sy haar tot prostitusie gewend het. Sy is heel handig met ontsmettingsmiddel en ook glad nie grillerig vir bloed nie.

      Haar liefde vir die kinders is eg, dis duidelik, tob hy terwyl hy die teater netjies maak en sy sterilisator aanskakel. Ook maar goed dat hy vir Beer Buys, sy vennoot in die privaatpraktyk, in die saal raakgeloop het terwyl hy by sy pasiënt was, anders was daai mannetjie nou nog in die wagkamer by die staatshospitaal. Beer is al een wat Brink se agtergrond ken en weet van sy passie vir die straatmense.

      Toe hy ’n rukkie later in sy motor klim, besluit hy om tog meer van Liana Louw te wete te probeer kom. Op ’n vreemde manier fassineer sy hom. Hy moet in elk geval seker maak dat sy wel die kinders goed versorg.

      Hy begin saggies fluit en laat sy voet op die versneller sak. Nou roep daardie bed van hom darem erg.

      By haar woonstel stap Liana uit op die balkon en vou haar arms teen die koel nagluggie wat die blare van die lukwartboom laat roer. Johnnie en Mandla slaap, albei skoon ná ’n bad en met vol mae.

      Johnnie sal sy kragte gou op die kleinhoewe herwin, dink sy. Die vars lug en plaaslewe sal hom en Mandla beslis goed doen. Probleem is net: hulle sal weer moet terugkom stad toe, sy kan nie almal onbepaald versorg nie. En hulle moet ’n opvoeding kry, hulle daarna vir ’n ambag of loopbaan bekwaam en selfstandig raak.

      Die lukwartboom se blare roer weer en sy vryf oor haar boarms.

      Vreemd dat sy haar – ná Pierre se negatiewe reaksie – moes vasloop in ’n man wat skynbaar sy tyd, geld én hart vir die straatmense gegee het. Hoe op aarde het hy geweet van Johnnie se besering?

      Die windjie begin onplesierig raak en sy draai terug sitkamer toe. Sy sluit die balkondeur agter haar voor sy die staalskuifdeur ook sluit en die gordyne dig trek.

      Toe sy in haar kamer gereed maak om te gaan slaap, besef sy opnuut hoe diep die twee kinders in haar hart gekruip het. Vanaand se episode het haar hewig ontstel. Sy sit haar haarborsel op die spieëltafel neer en pers haar lippe opmekaar. Dis tyd dat die middestad weer ’n bietjie skoongemaak word.

      Sy versamel baie inligting wanneer sy so in die middestad rondbeweeg, maar hier meng ’n mens nie maklik in nie. Tog gaan sy ’n bietjie die pot roer en môre, voor sy die kinders Modimolle toe neem, ’n gesprekkie voer met die betroubare polisiekaptein saam met wie sy al voorheen gewerk het. Dis tyd dat Luiz en sy trawante ’n rukkie gaan afkoel in ’n sel.

      “Jy speel met jou