Hart vir 'n heler. Hetta Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hetta Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051909
Скачать книгу
dink hy. Hy wonder of dit sag teen sy vingers sal wees.

      “Dit klink of julle goeie besigheid doen?” probeer hy die gesprek aan die lewe hou.

      “Ons kla nie. Verskoon my, asseblief, my foon lui. Goeiedag.”

      Hy blaas geamuseerd die aftog. Sy is glad nie beïndruk met hom nie, dis duidelik. Hy wonder waarom sy haar in dié winkeltjie tussen ou meubels begrawe. Haar taalgebruik is die taal van die voorstede en haar klere is skoon, maar nie van die duurste nie. Om die waarheid te sê, daardie stywe denim wat sy aanhet, lyk al ietwat gehawend. Tog is haar gesig en hare netjies versorg.

      Brink diep die droplekkers uit sy sak. Hy sal weer ’n draai by die winkel kom maak, besluit hy, en intussen sal hy vir Jorgie bietjie pols as hy by die kafee kom. In die middestad het elkeen sy storie.

      Dis nie eintlik sy besigheid nie, dink hy, maar iets aan haar trek hom aan. Miskien die spot in haar oë, asof sy aan sy motiewe twyfel. Hy gaan beslis meer uitvind oor hierdie meisie met die verslete denim, wie se ma glo skougehalte gemmerkonfyt maak.

      2

      Pierre Bosman draai weg van sy swembadlapa se kroeg en hou Liana se martini met limonade na haar uit. “Soos jy daarvan hou,” glimlag hy en leun vorentoe om die glas op die tafeltjie langs haar stoel neer te sit, “met ys en ’n stukkie suurlemoen in.”

      Hy kom nie weer regop nie, maar soen haar langsaam en gaan sit dan langs haar. “Ek het jou gemis. Jy antwoord nooit jou selfoon as jy daar in die middestad rondloop nie. Beter ook, netnou gryp iemand dit by jou.”

      Liana versluier haar oë en wonder hoekom sy liefkosing nie vanaand die gewone opwinding in haar wakker maak nie.

      “Dis darem nie só erg nie, Pierre,” maak sy kapsie. “Ek dra in elk geval altyd iets bo-oor as ek my foon aan my gordel knip, so dis heel veilig daar. My selfoonbattery het die gees gegee, ek moes ’n nuwe een koop. Jammer vir die ongerief.”

      Sy lig haar glas en proe aan die drankie. “Hm, dis heerlik, dankie.”

      Hy knik en frons. “Dis nie die ongerief wat my pla nie, Liana.” Hy bestudeer haar en skud dan sy kop. “Kyk net na jou vanaand … jy lyk pragtig. Goed versorg en gesofistikeerd, soos die loopbaangerigte vrou wat jy is. Jy is my droomvrou, en ek sal nooit skaam wees om jou en jou mense as my familie voor te stel nie … Ek kan net nie jou beheptheid met die middestad en sy armsaliges begryp nie! Wat hou jou daar?”

      “Eintlik is jy ’n snob, dokter Pierre Bosman,” beskuldig sy en tik hom speels op die bors. “Miskien is my prioriteite as ervare verpleegkundige net ’n bietjie anders as dié van die droomverlore skooldogter met wie jy destyds gekys geraak het.”

      Sy mond trek in ’n grimas en hy lig haar hand na sy lippe. “Dit kan jy weer sê! Dis veral vandat jy in die gemeenskapskliniek begin uithelp het dat jy so van koers af geraak het. As ons eers getroud is, sal jy nie meer tyd vir sulke lawwighede hê nie.” Hy beduie na die luuksgemeubileerde huis en die asemrowende tuin. “Hierdie plek het ’n vrou se voltydse aandag nodig.”

      Liana lag. “Het dit? Met ’n huishoudster en inwonende tuinier betwyfel ek dit sterk.”

      Hy trek haar in sy arms in. “Jy weet wat ek bedoel.”

      Sy keer hom met haar hand teen sy bors toe hy haar weer wil soen. “Pierre …” Sy kyk pleitend op na hom. “Probeer asseblief verstaan … Miskien het dit begin toe ek as selfversekerde stadsmens vir die eerste keer raakgesien het hoe mense in die skemer tussen die geboue, en in die lang gras langs besige paaie, ’n bestaan probeer maak. Hulle bly in gate en bou skuilings van karton. Toe ek besef het daar ís mense wat geen ander heenkome het nie. Hoe veroordeel jy ’n kind omdat hy die straatlewe bo erge mishandeling tuis verkies?”

      Hy skud sy kop. “Jy romantiseer hulle.”

      Haar selfoon begin lui en Pierre verstewig sy greep. “Los dit,” prewel hy by haar oor, “vanaand is ons s’n.”

      Sy druk hom verskonend weg. “Laat ek net kyk wie dit is.”

      Sy haal die foon uit haar sak. “Dis Kemkliniek se noodgevalle,” sê sy dan. “Hulle sal my nie pla as dit nie dringend is nie, die gemeenskapskliniek is nie vanaand oop nie.”

      Pierre kom regop toe sy die oproep beantwoord en draai weg swembad toe.

      “Ek is jammer,” maak Liana verskoning toe sy klaar gepraat het. “Daar was ’n bakleiery in die dorp. Johnnie is met ’n mes gesteek en hy vra na my.” Sy druk die selfoon terug in haar sak. “Ek moet gaan help, Pierre.” Sy kyk smekend na hom. “Suster Roux sê hy sal moet steke kry en ek wil saamgaan hospitaal toe. Jy weet hoe dit by die staatshospitale gaan.”

      Hy swaai met ’n donderweergesig terug. “Wat sal jý daaraan kan doen?”

      Ergerlikheid bou in Liana op. Sy trek haar motorsleutels uit haar handsak. “Ek kan seker maak hy kry goeie sorg,” sê sy gelykmatig, “jy weet hoe besig hulle is. As dit nodig is, moet ek maar ’n privaatdokter inkry. Wil jy nie saamkom nie?”

      Hy lag kortaf. “Nee, dankie.” Hy skud sy kop weer en vee oor sy donker hare. “Dis waarheen al jou geld gaan,” sê hy afgemete, “en vir wat? Oor ’n week is al die goeie werk deur nóg ’n messteek ongedaan gemaak. Ek het jou vir ete genooi, en daar is baie moeite gedoen.”

      “Ek is werklik jammer.” Liana plaas haar hand versoenend op sy arm. “Wees regverdig, Pierre, as dit een van jou pasiënte was, sou jy ook gegaan het.”

      “My pasiënte betaal my vir my werk,” sê hy kil.

      Hy stap nie saam motor toe nie.

      Toe Liana voor Kemkliniek stilhou en uitklim, kom ’n stowwerige seuntjie mank-mank uit die skadu’s nader.

      “Miss Liana?” Die vuil bruin handjie gryp hare vas. “They’ve got Johnboy inside. He bleeds too much.”

      Sy hurk langs hom en druk hom teen haar vas. Sy kan die snikke deur hom voel ruk.

      “There was a man in a car …” kom dit hortend, “he gave them drugs … he wanted me to go with him … Johnboy stopped them … and the bad one, he pull a knife …”

      “It’s okay.” Sy kom regop en neem sy hand in hare. “Kom saam, Mandla, dan gaan kyk ons wat aangaan.”

      Binne sit daar heelwat pasiënte in die wagkamer. Hulle staar Liana en die vuil straatkind nuuskierig aan. Mandla se handjie klem stywer om hare.

      “Naand.” Suster Roux kom vorentoe toe sy Liana sien. “Ons het hom sommer in die agterste kamer gesit, bietjie uit die oog uit.”

      Liana en Mandla stap daarheen.

      Johnnie Tshiloane sit met geslote oë op die smal wit bed met sy kop teen die muur. Hy klem sy skouer wat verbind is vas. Bloed syfer al klaar deur die verband. Toe hulle die gordyn oopskuif, vlieg sy oë oop en hy glimlag skeef vir Liana.

      Sy skud haar kop. “Johnnie …”

      “What?” sê hy kwaai. “You want me to let my brother go with that Luiz?”

      “Natuurlik nie,” sê Liana en begin die verband losdraai. “I just don’t want you to get hurt. Look, Mandla, he’s okay.”

      “Messteek,” sê suster Roux agter Liana. “Diep ook, daar is nog een agter sy rug. Hy sal ’n dokter moet sien. Ek het gereël vir die ambulans om hom staatshospitaal toe te vat.”

      Liana gryp haastig na ’n bakkie om voor Johnnie se mond te hou toe hy naar word.

      “When last did you eat?” vra sy toe sy na die dun mengsel in die bakkie kyk.

      “I ate,” sê klein Mandla, “but Johnnie wasn’t hungry.”

      “Naand, suster Roux.”

      Die man van die kafee staan meteens agter hulle. Sy blik gaan vlugtig oor Liana, die kind langs haar en dan na die ouer seun op die bed.