•Vriende: Jou blydskap word nie sodanig beïnvloed deur hoeveel vriende jy het nie, maar deur hoe gelukkig die vriende is wat jy wel het. As jy byvoorbeeld 20 vriende het, maar hulle is almal mislik, is die kans goed dat jy self mislik gaan wees. As jy daarenteen net twee vriende het, maar hulle is albei vrolik en vol glimlagte, is die kans goed dat jy self vreugdevol gaan wees. Sanderson berig as jy ’n gelukkige vriend het wat binne 1 myl van jou huis woon, verhoog dit jou kans om vreugdevol te wees met ’n allemintige 25%. So moenie so hard probeer om baie vriende te maak nie; wees eerder kieskeurig en sorg dat die vriende wat jy wel het ’n opbeurende invloed op jou gemoed het.
•Godsdienstigheid: Pew Research, ’n maatskappy in Amerika wat veral godsdienstige fenomene ondersoek, het bevind mense wat godsdienstige byeenkomste bywoon, neig om meer gelukkig te wees. Let wel, jy moet godsdiensbyeenkomste bywoon sodat dit werk. Mense wat by die huis sit en op hul eie gelowig is, raak nie veel meer vreugdevol as gevolg daarvan nie. Dit gaan hier moontlik oor die sosiale steun wat mense by die kerk kry. En dan is daar ’n fassinerende studie deur Sheena Sethi Iyengar van die Universiteit van Pennsilvanië wat bevind het mense wat aan fundamentalistiese gelowe behoort (die soort wat hul heilige geskrifte baie letterlik opneem), is gelukkiger as mense wat aan gematigde gelowe behoort. Sy het hoër vlakke van blydskap onder Ortodokse Jode en fundamentalistiese Christene gevind as onder liberale Jode en Christene met ’n minder letterlike Skrifbeskouing. Dit sal interessant wees as iemand eendag kan uitvind hoekom dit die geval is.
•Om aantreklik of sexy te wees: Seligman het bevind mens se voorkoms het zero impak op hoe gelukkig jy is en sy bevinding is lank wyd as die waarheid aanvaar. Maar Haidt berig sy kollegas het onlangs verder gekrap en op ’n interessante bevinding afgekom: Ja, die voorkoms waarmee jy gebore is, het wel weinig impak op jou blydskapvlakke. Maar vroue (nie juis mans nie) kan hulself later in hul lewe effens gelukkiger maak deur hul voorkoms te laat aanpas. En ja, dit verwys na plastiese chirurgie. Spesifiek vroue wat aan hul borste laat werk, is ná die tyd volhoubaar gelukkiger. Dit geld vir sowel vroue wat hul borste laat vergroot as vroue wat hul borste laat verklein.
Dié goed is als lekker om te weet en kan jou help om ’n baie gemaklike lewe vir jouself te skep. Maar dis net een deel van die storie van blydskap.
In die res van hierdie boek gaan ons eers ’n paar hoofstukke aan die blydskap van die hart wy en kyk hoe die mindfulness, dankbaarheid, eenvoud en omgee waarvan Bente praat, ons kan leer om in ons eie lewe tuis te kom. Daarna gaan ons ’n paar hoofstukke lank oor die blydskap van die maag gesels en kyk hoe ons ons lewe kan inrig sodat ons maksimaal vreugdevol kan wees.
Dié onderskeid tussen ons interne en eksterne lewe is nogal kunsmatig en die twee afdelings sal gereeld oorvleuel. Ek tref bloot die onderskeid omdat dit bietjie struktuur aan die gesprek verleen.
Voordat ons wegtrek, is daar ’n belangrike vraag waarby ons eers moet stilstaan. Mense wat hoor jy doen navorsing oor blydskap, het dikwels dieselfde vraag: Word party mense nie maar net gelukkig gebore nie?
Dit is nogal interessant dat een van die Afrikaanse woorde vir vreugdevol die woord “gelukkig” is, dieselfde woord wat mens gebruik vir iemand wat die Lotto gewen of ’n motorongeluk skraps vermy het. Dit insinueer ’n voorspoed wat oor mens se pad kom sonder dat jy veel beheer daaroor het. Is dit hoe blydskap werk? Is blydskap iets wat deur die lewe aan party mense uitgedeel word sonder dat hulle self veel doen om dit te laat gebeur?
Navorsing het jare lank die indruk geskep dit is inderdaad hoe blydskap werk. In ’n beroemde studie deur die sielkundige Philip Brickman is ’n groep loterywenners in die Amerikaanse deelstaat Illinois bestudeer. Brickman het vasgestel al die wenners was direk ná hul wenslag baie gelukkig, maar het binne ’n maand of twee na hul ou vlak van blydskap teruggesak. Soortgelyke studies van parapleë het getoon hoewel mense baie hartseer is direk nadat hulle die gebruik van hul bene in ’n ongeluk of weens ’n siekte verloor het, is hulle binne ’n jaar of wat weer by dieselfde vlak van blydskap as toe hulle nog kon loop.
Die gevolgtrekking wat lank wyd aanvaar is, was dat mense ’n ingebore “standaardvlak van geluk” het. Sommige mense se standaardvlak van geluk is hoog – hulle bly glimlag al gebeur wat ook al. Ander se standaardvlak van geluk is laag en hulle is maar moeilik om ooit op te kikker. Soms gebeur iets wat jou ’n bietjie van jou standaardvlak van geluk laat afwyk, maar kort voor lank neig jy maar net weer terug na hoe jy vooraf was. So gemaak, so laat staan.
In die laaste twee dekades is dié prentjie van blydskap egter op sy kop gekeer. Sedert die eeuwending is ons kennis van die menslike brein radikaal verbreed – en dit het ook beïnvloed hoe kenners deesdae oor blydskap dink.
Aanvanklik het studies op ape getoon dié diere se breine verander letterlik van vorm as hulle dieselfde taak oor en oor verrig. Die afgelope 20 jaar stel toenemend slim masjiene breinkenners in staat om ook te kyk hoe mense se breine verander as hulle sekere vaardighede of kennis inoefen.
In 2006 is ’n beroemde studie van die breine van Londense taxibestuurders gedoen. Dit het geblyk taxibestuurders, wat elke dag hul weg deur Londen se ingewikkelde stelsel van omtrent 15 000 kronkelstrate moet baan, het veel meer sinapse in die deel van hul brein wat ruimte en navigasie beheer. Deur oor en oor die doolhof van Londen se strate te navigeer, het hulle die deel van hul brein versterk wat roetes moet memoriseer.
Wetenskaplikes noem dit neuroplastisiteit, die vermoë van die volwasse brein om te verander en te ontwikkel na gelang van take of gedagtes wat mense oor en oor herhaal. Violiste het meer breinsinapse in die dele van hul grysstof wat die vingers beheer waarmee hulle die viool se snare manipuleer. Blindes het meer sinapse in die deel van hul brein wat die vingerpunte in staat stel om braille te lees. Deur dieselfde dinge oor en oor te doen of te dink, kan jy letterlik die fisieke werking van jou brein verander.
Mens sou meen indien ons blydskapvlakke dan in ons brein vasgelê is, beteken breinplastisiteit dit moet moontlik wees om daardie vlak ook te skuif. En wraggies, toe breinkenners soos Francisco Varela en Richard Davidson studies doen van Oosterse monnike wat gereeld mediteer, het hulle bevind dié mense se breine lyk en funksioneer anders as die res van ons s’n. Hulle kan byvoorbeeld deur jare se meditasie hul breine leer om gammagolwe te genereer wat van so ’n omvang is dat hulle meer vreedsaam en gelukkig voel as enige ander mense wat al gemeet is.
Die gevolgtrekking vir ons boek: Nie almal word ewe gelukkig gebore nie, maar ons almal kan ons brein oefen om gelukkiger te word.
Dis bemoedigend. Miskien vertrek jy op hierdie reis vanaf ’n plek waar blydskap vir jou vreemd voel. Miskien is dit ’n vaardigheid waarmee jy nog altyd sukkel. Jy is nie alleen nie. Baie van die mense wat ons in die volgende hoofstukke gaan ontmoet, het met ’n groot agterstand begin werk en stadig die vermoë aangekweek om vreugdevol te wees.
Johan was ’n gevangene in een van Suid-Afrika se mees berugte tronke toe hy die reis begin het. Bronwen was ’n kwaai vrou wie se lewe haar so gefrustreer het dat sy letterlik in ’n oerwoud gaan wegkruip het. Michal het blydskap begin soek toe hy in die middel van ’n gruwelike en hatige egskeiding was. Belinda het mense vertel sy “is hartseer gebore”.
Vandag is hulle almal nes Franciskus my ikone van blydskap.
Selfs al is jou omstandighede uitsigloos, kan jy dit verander.
Hier’s hoe:
DEEL 2
’N BLYE HART
HOOFSTUK 1
LUISTER
DIE CHAOS IN JOU SKEDEL
Dit moes ’n bloedbad gewees het.
Die lyk van ’n Chinese